Vrolike olikheid

Edna Deudney

"Ja, net soos ek gedink het!" Driftig hyg sy orent, in haar regterhand die dwyl, in die linker die emmer seepsop. Dit was mos te wagte! Disclaimer Drie dae voor Kersfees; Nuwejaar net om die draai en nou, juis nou, moet die ellende weer begin.
"Ek kom, ek kom!"
Gister nog kon hy tot hier in die kombuis skuifel, haar kom vra om sy kommetjie sop weer op te warm. Hy had honger. Sy het hom soos gewoonlik by die trappie gestut dat hy sy balans behou, die tafel effens weggetrek, hom soos elke ander dag gehelp om met sy groot ou liggaam op die bankie teen die muur in te skuif. Dis sy veilige sitplek, so in die hoek, die tafel voor hom, ‘n soliede muur agter om teen te leun en die venster regs, sodat hy ‘n uitsig het op die straat. Hy het lustig geëet, sop, en brood ook; geen teken van ‘n moontlike terugval in die pynlike hulpeloosheid na die laaste operasie nie.
En nou, vandag, is dit skielik die ou storie. Hy is swak en klaerig. Kon vanoggend selfs nie eers met haar hulp die toilet bereik nie. Sy kop skielik draaierig en alles swart voor sy oë, het hy beduie, toe teen die kussings teruggesak. Daarna telkens en telkens weer sy klokkie wat lui om haar na sy bedkant toe te dwing; dan hiervoor, dan daarvoor. Sy kan net sowel alles laat lê. Die hele dag is daarmee heen.
Terwyl sy haar hande vinnig afdroog, bekruip die agterdog haar. Is dit nie maar net blote aanstellery nie? Voel hy afgeskeep noudat sy, met die nuwe jaar in sig, die huis van hoek tot kant wil skoonmaak? Soek hy ‘n bietjie meer aandag as gewoonlik? Teen sin en wil verteder haar hart. Haar groot ou baba, soveel jare al; haar lief lastige baba wat haar nietemin nog steeds soos die besorgde bruidegom van hulle eerste huweliksnag teer in sy arms kan toevou; haar koesterend nadertrek om in sy skoot te lê, haar rug en boude knus teen sy warm lyf.
Aanstellery? Moontlik. Tog is sy onrustig en ook bekommerd. Hy leef op geleende tyd. Dit het die dokters tien jaar gelede reeds gesê. Dit was na die eerste aarvervanging. Tien jaar dat sy hom behoorlik hand en voet bedien en versorg. Maar nou ja, so was dit in ‘n groot mate ook voor dié tyd. Sy het hom van die begin af uit pure liefde soos ‘n kind bederf; oorlogsbruid wat sy was, en hy die jong soldaat wat geknak van die front af teruggestuur is huis toe.
Ja, hy soek slegs ‘n bietjie meer aandag, maar kan sy seker wees? Nee, die risiko is te groot. Hy is so volkome uitgelewer aan die toenemende swakheid van dié groot ou lyf. Hoeveel maande nou al dat hy nie op sy eie bene uit die huis uit was nie? Reeds in die herfs verlede jaar kon sy hom nie meer vir die gereëlde kort wandeling wat die dokter voorgeskryf het, neem nie. Die pyn was te erg. Die vonnis: weer eens ‘n aarvervanging mits sy hart dit sou verduur.
Nòg hy, nòg sy het aanvanklik daarvoor kans gesien. Dag na dag het hy daar op die rusbank voor die televisie bly lê, of met moeite tot by sy sitplek langs die venster geskuifel, gekyk hoe die blare die straat af warrel, hoe die dae al korter en gryser word. Begin Desember verlede jaar, met die winter reeds in volle swang, is hy uiteindelik hospitaal toe vir die operasie. Hy’t daarna wonderbaarlik aangesterk, maar Kersfees en Nuwejaar het hy op eie versoek in die hospitaal deurgebring. Die dokters was dit met hom eens. Ingeval van ‘n terugslag is, sou hulp byderhand wees.
Met sorg skik sy vir die soveelste keer sy kussings, laat haar koel hand vir enkele oomblikke op sy warm sweterige voorhoof rus. Arme groot baba. "Hoe voel jy my lief?"
“Ek, ek weet nie. Dis asof iets hier op my bors druk, asof ek nie behoorlik asem kan kry nie.”
Paniek slaan om haar hart. Dis iets nuuts, dié klag van benoudheid. Dis iets wat totaal buite haar kundigheid lê! “Ou Grote, moet ek nie maar die siekehuis se nooddiens bel nie? Miskien is dit beter dat hulle jou kom haal.” Haar troetelnaam vir hom wek ‘n sweempie van ‘n glimlag. “Doen soos jy die beste dink, Kleintjie. Doen soos jy die beste dink. Ek voel regtig nie goed nie.”
Gelukkig dat alles so maklik kan, dat sy sy hospitaaltas met alles wat hy daar sal nodig kry, altyd gereed hou. Ook gelukkig dat die nooddiens van die siekehuis so effisiënt is.
Die ambulans daag met twee sterk verpleërs op. Dis nie die eerste keer dat hulle voor hierdie huis stilhou nie. Hulle ken al die gesukkel om hulle gewigtige pasiënt te laai, doen dit egter graag, want hulle vind hom ‘n aardige man. Harde werk dus, maar ook grappies: “Hoe lyk dit meneer Renders, weer so’n prettige Kersbesoek?” “Ja, jongens. Julle weet mos, dis weer sulke tyd.”
Sy kyk toe, verduidelik aan die nuwe bure wat simpatiek kom navraag doen, wat gaande is. Die man en sy vrou het maar ses weke gelede hier ingetrek.Vriendelike mense. Ja, sy sal so maak. Sy sal sê as daar iets is wat hulle kan doen. “Kersaand? Ja, dankie. Hoe bedagsaam van u. As hy dan nog nie tuis is nie, sal ek graag die feesmaal saam met u nuttig.”
In haar lomp ou motor volg sy die ambulans. Sy ken al die toelatingsprosedure so goed, weet presies wat gedoen moet word. As hy eindelik gemaklik in die hospitaalbed lê, maak sy aanstaltes om te groet. Hy sal darem geselskap hê. Die bed langs syne is leeg, maar teen die muur en in die drie beddens regoor hom is daar pasiënte, twee jonger mans, die een nogal ‘n verre familielid. Die ander twee is min of meer sy ouderdom.So skat sy.
Bekommernis, maar ook verligting. Nou sal sy al haar werkies voor die jaareinde gedoen kry en hy is in goeie hande. Toe sy netnou so wegstap in die hospitaalgang, kon sy hoor hoe die manne onderling korswel, die skamerige jong verpleegstertjie terg. Ou Grote se dreunstem en sy hees kekkellaggie was selfs hoorbaar bo die ander. ‘n Goeie teken. Hy voel reeds beter.
Tuis aangekom, spring sy dadelik weer aan die werk. Vanaand, goedkoop tyd, sal sy vir Peter bel. Nie dat dit dringend nodig is nie. Al die telefoongeklets! Dis blote geldmors. Peter is reeds so ongeërg. Hou hom al jare eenkant, besoek hulle skaars. Nie dat sy vreeslik omgee nie. Sy uitbarsting destyds sit nog vlak in haar klere. Dat haar eie kind haar van ongevoeligheid kon beskuldig, kon sê dat al wat ooit vir haar saak gemaak het, die huis was en sy pa. Altyd maar poets en kuis en draai om die selfsugtige stumperd. Dink net, selfsugtige stumperd, en dit sy eie pa!
Goed, sy weet, hy wat Peter is, moes dikwels aan die agterspeen drink. Ou Grote was van die geboorte af behoorlik jaloers op die kind. Sy kon dit begryp. Hy en sy had genoeg aan mekaar. ‘n Kind sou alles bederf. Dit was van die begin af sy redenasie. Die swangerskap was ‘n glipsie. Sy was bly en tog ook ontsteld, het geweet sy sou baie taktvol moes wees, nooit toelaat dat haar Ou Grote afgeskeep voel nie.
Tog is die kind ook lief vir sy pa. Toe hy begin man word, die eerste noientjie huis toe bring, het daar selfs ‘n soort kameraderie tussen hulle ontstaan. Veral as sy nie by was nie. Nee, sy sal maar bel.
Eers laat daardie aand kom sy so ver. Daar was net te veel om te doen. Die dag het behoorlik gevlieg, sy’t dan glad vergeet van besoektyd by die siekehuis. Vreeslik skuldig gevoel, toe maar gebel om te hoor hoe dit gaan. Die verpleegster aan diens het haar gerusgestel. Nee, hy is rustig aan die slaap. Hy’t buitendien besoek gehad. Twee ou vriende meen sy, ou drinkebroers, want hulle het probeer om vir hom bier in te smokkel.
Ou vriende? Seker Klaas en Hannes, twee ou lasposte wat sy nie kan verdra nie. Hulle seker, die oomblik dat sy weg is, gebel. Sy selfoon gebruik. Die is altyd in sy hospitaaltas. Hoe dan ook, daar is besliste beterskap. Sy hoef haar nie te bekommer nie, hoef nie skuldig te voel nie.Buitendien, die huis is skoon, die vloere, die vensters alles. Die gordyne het sy gister reeds in die was gegooi. Al die laaie en kaste is reggepak, die silwer is gepoets, môre nog ‘n bietjie strykwerk, dan kan sy rus. Totdat dit tyd is vir hospitaalbesoek sal sy rus.
Maar sy moet darem iets vir hom saamneem. Blomme? Nee, sommer geldmors.Eerder iets nuttigs. Peter het eenkeer vir hom ‘n fles parfuum gegee, van die duur soort vir manne. Hy het dit graag gebruik, was altyd ‘n ou dandy. Nee, so iets sal sy nooit as te nimmer koop nie.
Peter! Ja sy moet hom maar bel. Hoop dis hy wat antwoord en nie Truida nie. Nie dat sy iets teen die flink vroutjie van hom het nie, maar... "Peter?" "O, jy’t my oproep verwag. Onse Pa het jou gebel, uit die siekehuis. Wat sê jy? Sy ou laai? Hoe so?" "Ag nee, my seun. Hoe kan jy so iets sê. Jy weet tog hoe treurig sy toestand is." "Verlede jaar se Kersfees? Maar Peter, toe was dit dringend nodig ingeval daar iets verkeerd loop."
"Goed, ek weet hy was die jaar daarvoor ook met Kersfees in die hospitaal. Nee, dis nie vreemd nie. Onthou, Onse Pa is nie ‘n gesonde man nie." "Ag nee my seun, moet tog nie weer ou koeie uit die sloot kom grawe nie. Ek onthou maar alte goed wat jy toe gesê het, van hoe ongesellig die huis is, en dat jy hom nie kwalik neem nie. Dat Kerstyd ‘n behoorlik straf was vir jou as kind. Maar jy vergeet hoe hard ek altyd gewerk het. Ek was huisvrou en melkboerin, soggens dou voor dag met die fiets uit die huis uit. Somer en winter op daardie ou driewiel ding met die kanne melk agterop. Ekstra melk vir die stomme feesdae in die bitterste koudste tyd van die jaar! As jy en jou pa versierings wou hê, ‘n Kersboom en geskenke, waarom het julle nie self ‘n handjie bygesit nie? Maar nee, ek was die dienende Martha. Ek moes vir alles sorg."
"Ja, ek weet jy is jammer, maar jou woorde maak seer." "Nee, ek het reeds ons nuwe bure belowe. Hulle was so vriendelik om my te nooi." "Nuwejaar? En as Onse Pa dan al by die huis is?" "O, hy bly tot na Nuwejaar? Is dit wat hy gesê het?"
Soos gewoonlik na ‘n gesprek met Peter is sy ligtelik onsteld. Ook ‘n moeilike besluit wat sy nou moet neem. Die Oujaar saam met hulle uitsien? Daaroor sal sy goed moet dink.
Sy gaan sit voor die televisie, maar die program verveel haar. Die radio? Ja, dan kan sy rustig sit en dink en haar breiwerk doen. Min kans vir die radio met Ou Grote voor die kassie.
Ai tog, wat ‘n salige verposing om uiteindelik so in die leunstoel te ontspan, haar gedagtes hulle koers te laat neem. Sy neem die dag in oënskou, stuit telkens teen haar telefoongesprek met Peter. Om te dink dat Ou Grote sowaar vir hom kon vra om spekculaas vir die verpleegsters te koop. Nou ja, nie vir almal nie, slegs dié wat Kersdag aan diens is. As dit so aangaan word hy sweerlik volgende jaar betyds olik om in die siekehuis Sint Nikolaas te speel!
Sy skrik vir haar eie gedagte. ‘n Erkenning dat vanoggend se duiseling blote aanstellery was? Nee, dit het sy vermoed, maar dat dit alles deel is van ‘n plan om dié ongesellige huis te ontvlug? Sy sug gelate. Nou ja, na al die olikheid verdien hulle tog albei ‘n bietjie vrolikheid. Sy het self die ontvlugting nodig, sien uit na die feesmaal by die bure, sal op besoek gaan by een of twee ou vriendinne. Hulle buitendien so lanklaas gesien. Miskien selfs Peter se uitnodiging aanneem. Na Nuwejaar, weet sy, sal haar en Ou Grote se verlange na mekaar hulle weer geleidelik bekruip. Blye hereniging om na uit te sien.

Noo(r)dbestaan:Vorige bydraes
1. Noo(r)d-bestaan (die jag van die -ová's)
...................................................... 2. As duisende der duisende vinke vlug.
3. Hoog en droog op die Heilige Heuwels
.............................................................. 4. Die gatkant van Fort Europa
5. Die huis van die swart hings
...................................................... 6. Cosa Nostra

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD








Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/olikheid.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 30 Junie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]