Die huis van die swart hings
Edna Deudney
Die verduiwelde hings kry die geur van die mooie merrie in sy neus, hou hom
eers heel rustig, runnik nie en laat ook alle ander liefdesverklaringe wat by
perde gebruiklik is, agterweë. Maar hy lê op loer (Honoré De Balzac).
Daantjie, erg nuuskierig om meer van Olomouc te sien, dog versigtig bedag
daarop om steeds vaste en relatief droë grond onder sy voete te voel, was op
stap in die oudste gedeelte van die stad. Daar waar die paleise, onder andere
dié van die biskop en die imposante huise van eertydse edelliede veilig
bokant die waters troon, kom hy af op ‘n uiters vreemde verskynsel. Hoog bo
uit ‘n klein koepelvenstertjie in die derde verdieping van die oudste der oue
huise peul waaragtig ’n lewensgrote swart perd, bek runnikend gesper en oë
wat wit in hulle kaste rol; maar die runnik het blykbaar verstil, die perd is
versteen. Lank het hy glo na die skouspel staan en kyk, later uit
nuuskierigheid gaan aanklop.
Die keer was taal nie soos hy verwag het, ‘n
versperring nie. Die baas des huises, ingestel op nuuskierige toeriste, het
op Engels met ‘n swaar Duitse aksent, ‘n som van sestig krone (plus minus
tien rand) gevra, die geld in sy sak gestop en Daantjie met die styl
wenteltrap opgevoer na ‘n klein vertrekkie op die derde verdieping van die
huis. So klein is die kamertjie, het Daantjie daardie aand met ‘n vonkel in
sy oog aan die tapkas van pani Boccaciová vertel, dat die agterstewe van die
hings feitlik die helfte van die ruimte vul. Orent op sy agterpote met sy
adellike kop, voorpote en bors reeds deur die venster gepers, staan hy daar
asof skielik in beweging gestol, elke spier nog saamgetrek vir die
uiteindelike sprong, die manjefieke geslag bronstig gestrek, gereed vir
paring. Eenkant in die hoek, so skuins agter die hings is ‘n enkele
meubelstuk sigbaar, ‘n hemelbed, die geborduurde behangsels daarvan, geel van
die ouderdom.
Weer af met die trap en buite het Daantjie nogmaals verwonderd na die
versteende perd in die raam gekyk. Toe het ‘n datum teen die sykant van die
venster hom opgeval. Hy het die huisbaas daarna gevra.
Teen die betaling van ‘n verdere 60 krone het hy toe glo die ware en en
onvervalste geskiedenis van die erbarmlike swart hings en die huis wat na hom
vernoem is, agterhaal. So het hy dit daardie aand woordeliks herhaal:
"Ja, die pragtige hings se wonderlike geskiedenis dateer uit die jaar van
Onse Liewe Heer 1478 toe die Vrede van Olomouc tussen Ladislas Jagellon,
koning van Pole en Mathais Corvin, koning van Hongarye daar in die ou
stadshuis op Horni Namnjesti onderteken is; dit na sewe lange jare van oorlog
wat op aandrang van die Tsjeggiese partisane ontketen is. Hulle het mos na
die dood van hulle verkose koning, die Hussietiese edelman, Jirzji van
Podiébrady, daarvoor gestem dat Boheme onder Koning Ladislas val en dat hy
hulle moet lei in ‘n oorlog teen die vege vlegel van ‘n Corvin. Dié was
immers toe al jare lank gedienstige pion van Paus Paul die Tweede in sy
kruistog teen die Hussiete wat sy weg versper het by die inpalming van die
hele Sentraal-Europa vir sy Heilige Roomse Ryk, daardie magsblok waarvan
Voltaire tong in die kies gesê het dat die naam so besonder gepas was: dit
was immers nie Rooms nie en allermins heilig."
Dis alles min of meer so in geskiedenisboekies opgeteken, maar wie steur hulle
vandag nog aan wat in boeke staan? Oor en oor deur skrywers vervals; papier
is mos geduldig. Maar die geskiedenis van die stomme dier daar in die raam,
dié kry jy vandag as’t ware uit die perd se bek.
Met dié het die huisbaas hom voorgestel as pan Tsjerny Konjits, meneer Swart
Perd dus, en verre familielid van die vroegste bewoners van die huis.
"Maar om by die eintlike verhaal uit te kom" , het hy vervolg, "in die jaar
1478 het dié huis aan ene Sletsjno Konicová, ‘n prag van ‘n frisse
meisiekind behoort; ‘n weeskind van so veertien, vyftien jaar; raafswart hare
wat tot op haar bolle boudjies gehang het, styl soos perdestert, donkerogig,
die mooiste stewigste klein volbloed wat jy jou kan bedink, en danksy haar
eie vrygewigheid en die van edel ridders wat hulleself in oorlogstyd vrye
toegang tot alle poorte in die stad veroorloof het, al lank nie meer ‘n panic
nie. Stoksielalleen het sy en haar wyse ou hoedster in dié grote paleis van
‘n huis gewoon. Waarvan hulle geleef het? Wie weet, moontlik van haar
aansienlike erfgeld, moontlik slegs van die kamers wat hulle aan bepaalde
kavaliers en betroubare vriendinne vir oornagting verhuur het. Hoe dit ook al
sy, aan voedsel, mooi klere, ja selfs aan lekkernye en juwele het dit die
avontuurlike Konicová nooit ontbreek nie; alles waarskynlik steeds te danke
aan veelgeroemde en vrygewige ridderlike sorg. Bygesê, die kind het ‘n
pragtige sangstem gehad, daardie soort klokhelder koloratuur wat kenmerkend
is van ‘n passievolle natuur. Heel bedrewe het sy gereeld in die plaaslike
tavernes met een of twee skunnige liedjies bultende geld- en broekbuidels
ontsluit.
Toe, soos die menslike natuur dit nou maar eenmaal bepaal, gaan staan sy en
verlief raak. Soos ‘n hewige siekte het dit haar oorval en heeltemal
onverwags soos reën uit ‘n helder hemel. Die objek van haar passie? ‘n
Vreemde kavalier en sy manjefieke swart hings wat op die dag van die
vredesluiting voor in die optog van Koning Corvin ‘n eerste verskyning in die
stad gemaak het. Soos die sappige lote van die duisendknoop in ‘n onnutsige
lentebries ril, so het Konicová se eie sappige ledemate begin ril by die
blote aanskoue van die prinslike man te perd. Dit was liefdespassie met die
eerste oogopslag, ‘n hewige koors wat sy ten alle koste in innige
gemeensaamheid met die vreemdeling moes verkoel. Sy het haar donker oë
swymelsoet en belofteryk op hom gerig gehou, maar aikona, nie eenkeer het hy
in haar rigting gekyk nie.
Geensins van stryk gebring nie, het sy in die dae wat gevolg het, doelgerig
begin optree om haar hartstog en bereidwilligheid tot hom te laat deurdring.
Aand vir aand wis sy in watter taveerne sy hom sou vind. Uitgedos in haar
mees uitdagende jurk het sy haar daarheen gehaas, haar geensins gesteur aan
die luidrugtige begroeting van haar talryke bewonderaars nie, maar haar
regstreeks tot die vreemdeling gerig met die gebruiklike liedjie waarmee die
Morawiese meisiekinders deur die jare heen die aandag en lustige attensies
van pronkerige kavaliers uitgelok het:
(Kyk na my
my vreugde
kyk na my
my lief:
doen waarin jy sin het,
saal dié perdjie op,
doen waarin jy sin het
A, my man!)
|
"Podívej se na me,
potesení moje,
podívej se na me,
moje mila.
Jak jsou udelali,
kone rosedlali
jak jsou udelali
ze mne pána!"
In haar oë het lus en verlange gesmeul, haar trillende keel en vroulike
welwinge was verwondbaar sigbaar. Hoe inniger die klanke van haar lied, hoe
dringender het tepeltoppies teen die sagte stof van die jurk gestoot, maar
aan die einde van die lied het die kavalier haar slegs ‘n gemoedelike kloppie
op die boud gegee en sy volle aandag verder by sy luidrugtige makkers bepaal.
Ten einde raad het onse mooie meisiekind haar tot haar wyse ou hoedster
gewend. Dié het op haar beurt die saak oorgedra aan ‘n nog ouer en wyser
vriendin, wat op haar beurt die raad van ‘n derde bygeroep het. Saam-saam het
die drie liewe ou heksies die saak oorweeg en uiteindelik huiwerig besluit om
die volgende resep van ‘n onfeilbare magiese mengsel aan die ore van die
jonge dogter toe te vertrou:
‘Skraap rojaal van die vog uit jou eie mees geheime sweetvoue, voeg daarby
minstens drie mondjiesvol kavalierskloot - jy weet mos daardie witterige slym
van die stewige stengels wat in sommige skuilhoekies langs die rivier gedy -
nou, dié moet jy happie vir happie by volmaan versamel; dan sewe lekseltjies
melk uit die tepels van een van ons jong en kuise kloostersusters, vyf
verpoeierde skerfies van ‘n ongeskonde barnsteen wat jy drie dae lank teenaan
jou vel gedra het en ten slotte ‘n snuifie watsenaam of ‘n blertsie dinges
van ‘n bronstige Morawiese merrie. Meng alles goed, plaas ‘n klein bietjie
opsy, om sodra dit nodig is, aan jou polse en oksels te smeer. Die res gooi jy
by die gewone bestanddele vir ‘n bakkie suikerlekkers. Al wat jou dan verder
te doen staan, is om die lekkers te berei en aan te bied aan die ridder op
wie jy verlief is. Sorg egter dat jy een of twee daarvan uithou om self te
eet, maar versigtig moenie eet voordat die ander hulle bestemming bereik het
nie. En, belangrikste van alles, sorg dat julle so gou moontlik na inname
saam in die bed kom. So nie sal die gevolge vir jou minnaar onvoorstelbaar
wees.’
Die liewe kind het dadelik aan die werk gespring. Gelukkig was dit volmaan en
was daar, danksy die Vrede, gewillige kavaliers te kus en te keur. Hulle het
haar ywerig bygestaan in haar soektog na skuiltes waar die pesige stengels op
hul geilste sou kon rank. Vir dié besondere bestanddeel was dus slegs enkele
kundige knippies nodig. Met die dinges en die watsenaam was dit egter anders
gesteld. Daarmee had sy nogal moeite . ‘Elke blerrie bronstige Morawiese
merrie is blykbaar reeds gedek’ het sy by haar hoedster gekla. Die liewe ou
heksie het roggelend begin kekkel, die lagtrane uit haar varkogies gevee, en
haar gekromde wysvinger op die klaagster gerig: ‘En, wat dan van jou?’ Dis
toe dat daar ‘n lig vir Sletsjno Konicová opgaan. Sonder enige verdere
oponthoud het sy so’n vinnige sjirtsie van haar eie gebruik.
Toe het die magiese mengsel gruwelik begin gis en borrel, eers groen, toe
geel, toe glansende goud; vandaar die pragtige goue kleur van die
towertoffies toe die uiteindelik gereed was.
Die Hongaarse kavalierskorps het elke oggend aan ‘n strawwe oefensessie
deelgeneem. Klokslag daarna het die prins van ‘n kavalier sy pragperd op
Dolni Namnjesti gaan koudlei. Reeds goed bekend met die daaglikse roetine van
haar onbereikbare held, het Konicová hom dus op die klein pleintjie gaan
inwag. Daar was ‘n lieflike blos op haar wange en haar hart het onstuimig
geklop. Hoe kon dit anders? Die gerugte dat die vreemdeling ‘n werklike egte
prins uit ‘n verre Oosterse land was, het sy vir geen oomblik betwyfel nie en
hier was sy nou gereed om die werklike egte prins van ‘n man in haar strikke
te vang.
Om die oorkantste hoek van die plein het perd en ruiter skielik verskyn. Die
daaglikse ritueel het begin. Kruis en dwars, kruis en dwars het die prins sy
perd oor die keie gelei; kruis en dwars tot uiteindelik vlak voor die voete
van Konicová. Met haar mooiste onskuldigste glimlaggie en ‘n gedienstige
kniebuiging het sy hom die behekste suikertjies in ‘n klein gevlegte mandjie
aangebied.
Effens onthuts deur haar volgehoue attensies en eintlik bang dat sy moontlik
skielik sal lostrek met ‘n liefdeslied wat ongetwyfeld sy edele strydros op
loop sal jaag, het die prins sonder meer haar offergawe aanvaar. Anders as
wat sy gehoop het, het hy egter nie daar en dan van die soetgoed begin eet
nie. Hy het wel erkentlik gebuig, dog onmiddellik skigtig begin rondkyk, asof
hy ‘n wegkomkans soek. Nog eens verontskuldigend gebuig, toe op sy hiele
omgedraai en vinnig begin aanstryk in die rigting vanwaar hy gekom het, sy
perd skommelend agterna.
Op ‘n veilige afstand het die liefdesgeteisterde meisiekind hom gevolg. Sy
moes immers weet wat gebeur, want sodra hy geëet het, moes sy haar gaan
insmeer. Hy het om die hoek verdwyn en blykbaar daar tot stilstand gekom. Dit
kon sy aflei, want die stert en agterstewe van die hings wat natuurlik ook
tot stilstand gekom het, was nog vir haar sigbaar. Toe, tot haar grote
verligting en blydskap het die mandjie skielik leeg om die hoek gerol. Alles
opgeëet! Blitsig het sy haar eie suikertjies gesluk, so ampertjies daaraan
verstik; toe vinnig weggespring huis toe. Die keiharde plein was immers geen
bed nie!
Met dat sy haar rokke gelig het en begin hardloop, kon sy hoor dat die prins
en sy perd ook reeds in aantog was. As sy haar toe die tyd gegun het om om te
kyk, sou die wyse van hulle aantog haar nietemin erg verbaas het. Die perd
was voor en tevergeefs het sy baas aan die teuels gerem om hom terug te hou.
Sy sou buitendien nie verstaan het wat die prins in sy eie taal en met
stygende ongeduld die weerbarstige dier toegevoeg het nie:
‘Ho nou Satan! Terug! Die Sweetie het nie meer sweeties nie!’
Waaruit af te lei was dat nie die baas nie, maar sy strydros die towertoffies
verorber het.
In alleryl het Konicová haar huis binnegestorm, die orige paar druppels van
die magiese mengsel gegryp en dit soos parfuum aan al die strategiese
plekkies van haar liggaam gesmeer. Buite het die prins daarin geslaag om
agter ‘n haag, sowat vyftig tree van die huis af vir Satan met ‘n ysere hand
tot stilstand te dwing, maar hoe hy ook al probeer het om die dier daar weg
te rem, van daardie plek af wou die verduiwelde steekse hings hom nie ‘n tree
versit nie.
Vol blye verwagting is Konicová intussen die trappe op na die een klein
kamertjie waar sy vir geleenthede soos die haar hemelbed gereed gehou het.
Daar op die bulsak het sy haar soos ‘n wie weet wafferse slapende skoonheid
neergevly en in spanning gewag vir die prins om op te daag. Toe die minute te
traag na haar sin verbysleep, het sy egter onrustig opgespring om deur die
venster te loer. So van bo uit die derde verdieping kon sy mooi sien waar
haar held, soos dit vir haar gelyk het, half verskuil agter sy perd en agter
die haag op loer was na haar.
‘Grote Griet, wat is die man tog onmoontlik skaam!’ Al genade was om maar
weer onder toe te gaan, die swaar brons deure van die huis wawyd oop te maak
en haar daar, in al haar naakte glorie uitdagend te vertoon.
Maar sy was verkeerd. Dit was nie die man nie, maar die perd wat op loer was.
Toe die deure oopswaai, het haar reuk so oorweldigend sterk by sy sensitiewe
neusvleuels ingedring dat hy hom met die gerunnik van tien getormenteerde
hingste van sy meester losgeruk het. In een geweldige sprong is hy oor die
hoë heining, toe met nog ‘n sprong al runnikend oor die twintig bloeiende
roosbome voor die huis van Konicová.
Haar gille terwyl sy boontoe vlug, was ewe bloedstollend as dié van die hings
wat kletterend agter haar aan die trappe aan’t klouter was. Wie ook al in die
ander kamers van die huis hulle bevind het, het vreesagtig al wat deur was
gesluit. Angsbevange het Konicová haar wagtende kamertjie ingevlug, maar die
hings was so kort agter haar dat sy die deur nie kon toe ruk of druk nie.
Haar enigste ontsnaproete was die klein venstertjie.
Onder voor die huis het die prins nog weifelend staan en wonder of hy die
beduiwelde Satan die huis in moes volg. Skielik het ‘n beweging by ‘n klein
venstertjie op die derde verdieping sy aandag getrek. Eers toe hy nader
staan, het hy gemerk hoe die frisgeboude meisiekind haar pens en pootjies na
buite probeer wring.
In stomme verbasing oor die blatante selfmoordpoging, het hy nog so staan en
gaap, toe val sy al; land wonder bo wonder ongedeerd bo-op hom. En hy? Asof
met ‘n bliksem van Thor in plaas van die pyl van Kupido neergevel, het hy
daar onder haar gelê, letterlik beenaf.
Satan het intussen daarin geslaag om met ‘n laaste geweldige sprong sy
voorstewe tot by sy breë borskas deur die raam na buite te stu. Verder kon hy
nie. Sy angstige en pleitende gerunnik het algaande hees en flou geraak; dit
vanweë die afgryslike effek van die magiese mengsel by gebrek aan
konsumasie.
Uiteraard was die prins met albei bene op nie minder nie as drie plekke
gebreek, vir maandelank uitgelewer aan die sorg van Konicová. Dis selfs
moontlik dat daar in die are van die latere so talryke familie wat die van
Konic voer, enkele druppels prinslike bloed vloei. By gebrek aan ooggetuies
is die teorie egter nie bewysbaar nie. Oor die stomme Satan se lot
daarenteen, bestaan geen twyfel nie. Binne enkele ure was die praghings
totaal versteen, presies so soos hy vandag nog daar in Olomouc in die venster
van die huis van die swart perd te sien is."
Ewe selfvoldaan het Daantjie in sy stoel teruggesit, ons vraend betrag, want
anders as by vorige vertellings het die kommentaar uitgebly. Een en ander het
asof in gedagte versonke diep in sy of haar glas sit en tuur. Eindelik kon
Daantjie die stilte nie langer verduur nie. Hy het opgestaan, sy hande met
hangvingers so voor hom gelig en geskud asof hy van die laaste druppels van
die klewerige konkoksie in sy storie ontslae wou raak en met eerlike
bekommernis ons aangespreek:
"Ag nee, kyk, ek skud my bananas, maar check die worry in my oog. Het julle
van my storie gehou of nie?"
Dirk was eerste om die kritiese stilte te verbreek. "‘n Bulperd van ‘n
storie Daan, maar ek dink daar is enkele regstellings te maak. Om maar een te
noem, jou willekeurige vertaling van Konicová se liedjie. Erken minstens dat
jy dit so effens verwring het om in die omstandighede te pas."
En toe Suster Sarah: "Nee gits, nou weet ek nie meer wat om te glo en wat
nie. Soos ek dit gehoor het, is daar werklik so’n perd in een van die huise
se vensters, maar dis ‘n merrie, nie ‘n hings nie en dis die jonge dogter
self wat tydens ‘n inval van die plunderende vyand wou wegvlug van haar
verkragters. Een of ander goeie fee het haar glo in ‘n vlugvoetige perdjie
verander, dog net enkele oomblikke te laat. Daar in die venster het sy van
blote angs versteen."
Jakkals het nie op hom laat wag nie, met daardie beterweterige trek op sy
skelmagtige tronie tree hy toe vir Daantjie in die bres: "Alles ‘n kwessie
van perspektief, ou sussie, alles ‘n kwessie van perspektief. Julle
meisiekinders se koppe is buitendien nog steeds op hol oor die nuus dat
20,000 vroue en dogters in Kroasië deur die Serwiërs verkrag is. Kyk julle na
die perd, is dit ‘n rampspoedige jong vul, ‘n merrie in haar fleur; kyk ons
manne na die perd, sien ons ‘n praghings."
Dit was egter Baas Jannes wie se kommentaar die bedenkinge wat ek self oor
die skunnige verhale van Onse eige Dikkemoron begin koester het, effens kon
sus. Die grimmige ou brombeer het nog ‘n paar oomblikke nadenkend aan sy
dooie pyp gesuig, dit uit die spleet tussen bolip en baardjie verwyder,
tydsaam teen sy skoensool uitgeklop, toe betogend met die steelkant daarvan
in die lug beduie terwyl hy praat:
"Eerstens, namens ons almal dank aan Daantjie vir ‘n uiters onderhoudende
storie. Daarby ‘n bietjie raad vir watter kritiek daar ook al in ons
gemoedere mag ontstaan. Onthou, nie een van ons is daarop uit om die goeie
sedes van die mensdom te verkrag nie. Dis stories wat ons vertel, stories as
terapie vir die kwale en kwinte wat ons hier in ons gedwonge gevangeskap
teister."
Daarop nog ‘n laaste woord van Jakkals: "In die kol Jannes, in die einste
Freudiaanse kol waarom alles sogenaamd draai, sy dit slapilitis, nimfositis
of selfs een of ander psigiese -itis soos die pitpyn waaraan Katryntjie nou
al jarelank ly."
Terug na die HOOFBLADSY || INDEKS: Nommer 7