| |
As duisende der duisende vinke vlug. deur Edna Deudney Na nog 'n onrustige droom waarin boomtakke, blare en stompe, donker dreigende wolke en gapende afgronde om my gewentel het, staan ek vir die soveelste keer vanaf twee uur daardie nag voor ons kamervenster in die Dom Turisty. Verwonderd kyk ek op na die lug oor die middestad van Krakov. Anders as 'n halfuur vroeër, toe dit al goed lig was, is dit skielik skemerdonker. En dis nie van wolke nie, dis van duisende der duisende vinke wat in swerm op fladderende swerm noord-oos in die rigting van Rusland koers. Enkele van die voëls sak op die hoogste boomtoppe in die park langs die stadsmuur neer, klaarblyklik uitgeput. Die rus is van korte duur want al gou is Krakov se kraaie by om dié lamvlerkiges krassend te verwilder.Ek ervaar 'n angstige beklemming. Die voëlvlug lyk nie na 'n gewone uittog op soek na voedsel nie. In die rigting vanwaar die swerms beweeg, lê immers die uitgestrekte Poolse en Tsjeggiese koringvelde. Waarvoor vlug hulle? 'n Onvoorstelbare natuur- of mensgemaakte ramp? Die beeld van die lendelam tenkwa wat ons op pad deur Hongarye verbygesteek het en wat, volgens aanduiding, 'n vrag radio-aktiewe materiaal aan't vervoer was, skiet my te binne. Iets soortgelyks aan Chernobyl! Maar nee daaraan durf 'n mens nie eers dink nie. Koel verstandelik bring ek my onrus in bedwang, maak ek myself wys dat my verbeelding met my op loop gaan. Elke gesoute inwoner van Krakov sal waarskynlik kan getuig dat die voëlvlug 'n daaglikse verskynsel is. Buitendien, dis die verhale oor Auschwitz wat in die nag by my gespook het en my aan aaklighede laat dink. Doelbewus draai ek van die venster af weg, nietemin met die voorneme om nie die oggend se uitstappie na die moordkamp mee te maak nie. Ek kyk op my horlosie. Ses uur. Sal maar weer probeer slaap. Ons reisgenote het gesê hulle wil om sewe uur gewek word. Nog tyd dus, maar die slaap ontwyk my want dit het al weer begin reën, nie sag en sussend nie. Nee, emmersvol water spoel oor die ruite en druis 'n jong riviertjie oor die asfalt. Soveel water! Dis reeds ons derde dag hier in Pole en slegs tydens die vorige oggend se besoek aan die soutmyn het die son effens deurgebreek Reën, reën en nogmaals reën vanaf die oomblik toe die wolkbreuk ons so onverwags oorval het Dit was net buite Levoca op pad deur Slowakye na Pole. Een oomblik het die son nog glinsterend geskyn oor die stad en die burg en die imposante katedraal; 'n ideale feesdag met vlae en wimpels en die een prossessie na die ander in aantog uit alle windrigtings. Toe skielik 'n swaar swart wolkemassa wat oor die Hoë Tatra-gebergte spoel en binne 'n oogwink strome water op al wat leef en beef uitgiet. En dit het aangehou, behoorlik 'n muur van reën waardeur ons moes ry ... Ek ruk verskrik orent toe die telefoon op my bedkassie skielik lui. "Wie de drommel?" Corneille se stem val bedaard, dog dringend op my oor. Ja, hy is al lankal wakker. Die reën hinder hom ook en laat hom wonder, hoe graag wil ek en die ander Auschwitz sien. Is dit nie miskien beter as ons oppak en vroeër terugkeer Olomouc toe nie? Dit het nie veel gekos om die ander te oorreed nie. Ons was almal moeg vir die reën. En om eers in die middag die pad Olomouc toe aan te durf en dit na 'n moeilike rit Auschwitz toe en terug ... Nee, Corneille was verstandig. Toe ons motor sowat 'n anderhalfuur later mooi begin rigting kry uit Krakov uit, reën dit nog steeds. By die laaste groot brug oor die Wiesla-rivier, sien ons hoe mense langs die uitermate breë vloei begin saamdrom. Dit lyk asof hulle onrustig is. Daar word heen en weer gehardloop, gewys en geskreeu. Dis vreemd om te aanskou maar nou steur ons ons nie meer veel nie. Buitendien, daar voor in die rigting waarheen ons koers, begin die wolke opklaar. Daar is selfs 'n skynsel van son. En hoe verder ons ry, hoe beter. Dit word 'n sagte sonskyndag met net enkele flarderige wolke. Ons gemoedere raak verlig en ons begin die rit geniet. Wel is daar by die grenspos weer iets ontstellends. Tientalle, nee meer, seker tussen honderd tot twee honderd van die groot voertuie wat slagvee vervoer, staan daar drie- tot vierdubbel geparkeer. Ons is bly om die gebulk en ander kermende diergeluide agter te laat. Waarom sou daar so'n opeenhoping wees? Die antwoord, of wat ons Suid-Afrikaners sonder kennis van die taal gemeen het is die antwoord, kry ons sowat twintig kilometer verder. Daar is 'n padversperring. Die militêre wag bied geen verduideliking nie; hou slegs vol dat ons nie met die grootpad na Olomouc kan ry nie. Hy toon op die padkaart 'n omweg al met die hoogland langs. Die pad is redelik smal; beslis nie geskik vir swaar vervoer nie. Dis nietemin redelik goed onderhou en nogal toeristies mooi. Ons verkyk ons aan die bosryke landskap en talle waterstroompies en -strome wat sommer so teen die kant van die berge uitborrel om dan ver onder in die valleie te verdwyn. Dit ˇs nietemin 'n omweg en ons word honger. In 'n dal kom ons af op 'n plekkie met enkele huise en 'n geboutjie wat belowend lyk. Restauratsje is voor teen die muur geverf. Op 'n houtbank langs die deur sit 'n man iets en drink. Maar dis ook al. In die restaurace is die rakke leeg en die man lyk verbaas toe ons na voedsel en drank verneem. Hy glimlag lakonies; verduidelik met heftige gebare maar sy Tsjeggiese dialek kan selfs die beste onder ons nie verstaan nie. Met 'n laaste moedelose gebaar vestig hy ons aandag op 'n ander gebou, so effens in 'n holte. "Daar was water in", sê iemand gedemp. En ja, nou kan ons dit duidelik sien: die moddervuil mure nog behoorlik nat tot bokant die vensterbanke. In die hele omgewing is verdermeer geen enkele lewende siel te bepeur nie, selfs nie 'n hoender of 'n bok nie. Effens verdwaas sit ons die rit in stilte voort. Ek skakel die radio aan. Miskien kry ons iets te hore, 'n verduideliking van die toedrag van sake. Daar is op elke sender veel dringende Tsjeggiese gewauwel, dog al wat ons min of meer kan uitmaak is die woord voda wat telkens voorkom. Die onrus in die stemklank van die omroepers kruip beklemmend in ons gemoedere in. Ons geïsoleerdheid en onkunde is self reeds 'n bedreiging. Ons beweeg in 'n dimensie van onwerklikheid. En nog wentel en draai die pad al op die heuwels langs. Yl dein daar eindelik 'n imposante barokkerk en -klooster uit die mistige hoogtes links van ons op. 'n Blye uitroep van herkennig ontval my: "Svaty Kopicek! Die Heilige Heuwel!" Verligting. Die stilte is verbreek. Ek verduidelik entoesiasties dat Olomouc nou naby is: "Slegs sowat vyf kilometer van dié heuwel af weswaarts op 'n vlakte waardeur die Morawa stroom". En inderdaad na sowat 'n verdere twintig minute se ry, kom Olomouc self in sig, dog met 'n voorkoms so onverwags dat ons behoorlik na asem snak. In totale ongeloof kyk ons na die Middeleeuse hart van die stad. Soos 'n opgeefsel sweef en weerkaats die torings, die ou geboue, selfs 'n deel van die stadsmuur in 'n watervlak wat deinend vergly in die verskiet. Enkele droë landengtes, een waarop ons pad loop, strek vanaf die heuwels tot by die voorstedelike panalaks; verdwyn dan agter dié grimmige woonstelblokke. Pilare van ellende het ek al dikwels in my enigheid die monsteragtige bousels van die kommunisme genoem maar nog nooit het die besef van ontbering en armoede my so diep getref as toe ons stadig die begaanbare deel van die stad binnery nie. Meedoënloos weerspieël die strak vensters in die eenselwige grys beton van die panalaks die vloedskade. Opdrifsels van plastiek en rommel,'n popwaentjie sonder wiele, 'n pantoffel, 'n bemodderde kussing, 'n verwronge rottangstoel en laer af, waar die bruin water gutsend kolk en borrel, net die dakke van enkele voertuie. Eenkant staan 'n ambulans geparkeer, twee jong mans, 'n kind en 'n toegebondelde figuur, 'n oumens van wie slegs slierte grys hare en 'n doodsbleek wang sigbaar is, is op die vlot wat aan toue nadergetrek word. Ons ry stadig verby, pynlik bewus van die aggressie waarmee die enkelinge op straat ons bejeën. 'n Opgeskote tiener dring tot teenaan die motor, bal sy vuis teen die ruit. "Rampa turista!" (Ramptoeriste) skreeu hy tussen trane deur. Ons koers in die rigting van die woongebied waar ek, voor ons vertrek na Wenen om ons Suid-Afrikaanse gaste te gaan haal, 'n woonstel te huur gekry het. Ons vorder tot skuins bokant die Russiese Ortodokse Kerk, dog slegs om deur 'n kordon militˆre polisie voorgekeer te word. "Latcé? Nee, onmoontlik, die hele voorstad staan drie meter diep onder water!" Dat die woongebied ontoegankik is, kan ons self ook sien. Van die brug wat daarheen oor die Morawa strek, steek slegs die bopunte van die kantrelings uit. Verder is alles een golwende watermassa. Selfs die kerk wat darem effens hoër geleë is, staan minstens 'n halfmeter diep in die kabbelende stroom. Vreemd wanstaltig weerkaats sy sierlike geel en blou gewelfde mure en goue Zwiebeldachtoring daarin. Ons wil nog uitklim en 'n bietjie rondkyk maar word summier deur die polisie weggewys. Vort! In die teenoorgestelde rigting vanwaar ons gekom het. Heeltemal uit die veld geslaan ry ons doelloos aan tot in die hoogliggende Dolni Namesti, die klein markplein waar daar soos in feitlik elke ander Morawiese stad of stadjie 'n barokke pessuil staan. Versier met allerlei religieuse motiewe: heiliges, engele, noem maar op, toring dié gedenkteken vir die slagoffers van die Swart Dood somber omhoog. 'n Vergeefse gebed om genade! Tog staan aan die voet van die suil 'n hele horde mense. Daar is ook 'n goeie vyftigtaltal motors en ander voertuie, sommige met vreemde nommerplate; toeriste dus wat, net soos ons, onverhoeds deur die ramp oorval is. My oë val op op 'n vreemd bekende khaki-groen voertuig. Daar tussen die motors lyk dit na 'n reuse insek omring deur hardedopbesies. "Nee, dit kan nie wees nie! Ek hallusineer..." "Maar dit is!" Dit is inderdaad 'n buffel, van dié wat die Suid- Afrikaanse weermag in die grensoorlog gebruik het en hoog voor op die neus daarvan wapper ewe parmantig ons nou reeds bekende "nuwe" landsvlag! Ons ry nader, kry parkeerplek net langs die buffel, klim uit die motor uit. Ek luister bly verwonderd na die bekende spraakklanke: "Ja boet, nêrens 'n rusplek vir die holte van ons voet nie, wat nog van gat of kop of lyf." "Ag nee dêmmit man, dit beteken natuurlik...?" "Ja, ou pêl, dit beteken nog 'n nag in die blerrie buffel." 'n Vietse blondine het haar intussen by die twee gevoeg en skuins agter haar 'n donkerkop, ouer maar nog aantreklik. Die blondine reageer: "Oh come on colonel, you don't mean it. What about that little dorp close to the Austrian border the one with the hotel about which you told us, the Rohaty Krokodil, die Gehoringde Krokodil!" Soos iemand wat van woorde hou, koester sy die vreemde hotelnaam met 'n lag in haar stem. Daaraan herken ek haar: "Ilona!" "Edna!" "Wie is nog almal hier? Jy en Jakkals? En wie nog van die Brau-burg-broedsel? Wolf? Jemima Puddleduck? Midnight Hag...?" Maar Ilona kry nie kans om te antwoord nie. "Jissis julle! Kyk daar...!", val die kolonel ons in die rede. "Is dit 'n kalf of 'n hond?" "Wat? Waar?" wil sy metgesel weet en ook Ilona kyk nuuskierig rond. Ek, sien dadelik waaroor hy dit het: die reusagtige groot Deense hond, die swarte met die dik kop en puntore en die oë amper so groot soos gholfballe; agter hom sy troue hoedster, die ou verskrompelde sigeunervroutjie, haar ruggie so kort dat haar arms altyd skouerhoogte reguit trek aan die hond se leiband. Om die ronding van die pessuil kom hulle en stap doelgerig op ons af. Tydens my verblyf in Olomouc het ek hulle al meermale so skielik sien verskyn: Die eerste maal soos 'n skim uit die donker dieptes van 'n haas ongebruikte poort in die stadsmuur; toe weer in een van die doolgange langs die biskoppe-paleis; eenkeer by die Jesuite-seminarie waar 'n poortjie in die klipmuur oopgeskuif het om hond en hoedster deur te laat. Op straat het ek reeds een of twee maal 'n praatjie met haar probeer aanknoop, aangedui dat die hond vir my mooi is. Sy het nooit iets terug gesê nie maar in haar blik was daar altyd dankbaarheid. Die sigeuners word hier in Tsjeggië so erg met agterdog bejeën en verag dat my blote belangstelling waarskynlik haar waardering gewek het. Seker daarom dat sy haar nou tot my wend: "Potrebovat nocleh?" Snaaks ek hoor nie 'n stem nie. Ook beweeg haar lippe nie, tog registreer my brein die vraag. Werktuiglik en sonder dat ek verstaan wat ek sê, herhaal ek die woorde, wel aarselend maar blykbaar duidelik genoeg om die aandag van een van die omstanders, ook 'n sigeuner, te trek. Hy reageer vriendelik: "Prosim, paní, potrebovat nocleh?" Gelukkig is Theo nou by en verstaan hy die vraag. Gretig antwoord hy, "No, no mam potrebovat nocleh!" Aan ons die verduideliking: "Hy vra of ons oornagting soek." "Nou waarom sê jy nee!" wil iemand verontwaardig weet. "No is nie nee nie," verduidelik ek vlug."No is ja, dis 'n afkorting van anno ..." Maar niemand luister meer nie. Theo het sy antwoord herhaal en almal bevestig luidkeels: "No, no mam ptrebovat nocleh!" Hierop het die sigeuner 'n lang uitleg. Hy beduie ook met sy hande en arms, blykbaar besig om rigting aan te dui. Af en toe kyk hy vraend na die ou vroutjie. Sy knik telkens bevestigend. Theo luister aandagtig. "No? No? moedig hy die man aan. Enkele kere hoor ek die naam Svaty Kopicek, en verstaan ek minstens navlevo (links) en napravo (regs). Toe dit blyk dat Theo nog baie onseker voel, wys die vriendelike vreemdeling uiteindelik na die buffel en na homself. Dan steek hy sy regterhand na Theo uit, "Dioneo," stel hy homself voor en begin aanstap na die buffel toe. Dis duidelik dat hy besluit het saamry is die beste manier om die pad te wys. En so kom dit dat ons in 'n vreemde halussionêre optog Olomouc verlaat op koers na die Heilige Heuwel. Ons volg die buffel en kiertsregop, voor in die gevaarte sien ek ons boegbeeld: die ou-ou vroutjie en haar reuse swart hond. Die weg na Svaty Kopicek gaan deur 'n landbougebied. Water murmel in die vore langsaan. Van die appelbome op die padskouers is minstens drie of vier deur die vloed ontwortel. So ver as wat die oog kan sien, lê in die lande die ryp koring plat; 'n digte uitgestrekte nat strooibed, die are haas onsigbaar vanweë die modder. Hoër op teen die helling word dit gelukkig weer droër. Die liggeel klooster met sy sewe blou zwiebeldach-torings kom in sig. Sou hulle ons daarheen voer? Nee, ons volg 'n wentelpad al hoër teen die heuwel op, skuins by die klooster verby, tussen woonhuise deur, al nader aan die dennewoude van Radikov. Eindelik bereik ons die klaarblyklike bestemming. Dis 'n massiewe bouwerk wat lyk asof dit in die middeleeue begin en in die viktoriaanse tydperk voltooi is. Die vuil okergeel buitemure is sleg afgeskilfer, maar voor die talle vensters en venstertjies, selfs dié in die hoogste grillige torings hang vrolike gordyne. Waar ek nog agter in ons motortjie sit, sien ek hoe die ou vroutjie met haar hond van die buffel af sukkel. Ek wonder waarom niemand haar help nie. Eindelik staan almal in die gewelfde ingangsportaal. Dioneo lui die groot koperklok, sê iets waarvan ek die woorde dum en vlastnictvy en Ital, dus huis, eiendom, Italianer kan uitmaak. "O mag" dink ek,"sou dit dieselfde spul wees as U-mafia in die stad, daar waar bedags en snags, bedmaats vir katoolses beskikbaar is!" Die innemende ou babitsjka (oumatjie) wat kom oopmaak, lyk egter geensins na 'n madame van U-mafia nie. Sy trek nogal op ons gids, dieselfde styl hare, wel met grys tussen die swart, olyfbruin vel en arendsneus. Haar naam klink egter taamlik Italiaans: paní, dit wil sê mevrou, Giovanna Boccaciova. Ja, rêrig, sonder om te lieg, Giovanna Bocacciova. Afgesien van Tsjeggies en Italiaans praat sy ook nog "Ein bischen Deutch". Voorwaar 'n vonds! Verdermeer blyk dit dat sy in haar gastehuis vir minstens tien mense plek kan inruim. Sommige kamers is wel baie klein, feitlik 'n soort sel met slegs 'n enkelbedjie, 'n boekrak en 'n klerekas en ook die ablusiegeriewe is beperk. Die bewoners van elke twee of drie kamers is aangewys op dieselfde badkamer en toilet. 'n Besondere bonus is egter die restaurant wat aan die gastehuis grens. Onderdak word daar afsonderlik gesellige ruimtes voorsien vir rokers en nie-rokers en in die mooi omheinde tuin buite is daar bonkige houttafels en -banke. Ook daar word tot laat in die nag etes en ander verversings bedien. En dit alles, etes en inwoning teen verbasend aanvaarbare pryse! Terwyl mevrou Giovanna ons so gasvry ontvang en al wandelende deur die losieshuis, van uitleg voorsien, merk ek op dat die vroutjie en haar hond verdwyn het. Ek noem dit vir die kolonel. Hy kyk my forsend aan.'n Skewe glimlaggie speel om sy mond. "Dus, jy het haar ook gesien," merk hy saggies, nadenkend op; toe luid teenoor almal: "Luister julle, ek en Edna..." en hy vertel wat ons gesien het. "Sy en die hond het saamgery tot hier, voor in die buffel het hulle gestaan". Toe por hy vir Theo, "Vra jy bietjie vir die Dion-kêrel en ons gasvrou." Die stil donkerkopvrou kom ook by, "Ja vra, want ek het hulle ook gesien." Theo is dadelik gewillig waaraan ek aflei dat hy ook bewus was van ons weldoenster. Terwyl hy praat, kyk Paní: Giovanna ondersoekend na Dioneo, so asof sy eers sy gedagtes wil peil voordat sy antwoord. Hy knik byna onmerkbaar en vir 'n oomblik lyk dit asof hulle in 'n sameswering betrokke is. Dan antwoord sy lighartig soos iemand wat lastige kinders wil paai: "'n Ou-ou vroutjie met 'n groot swart hond? Dit klink soos die biskop se hondehoedster. Maar sy was nie by toe julle aangeklop het nie; kon onmoontlik by gewees het, want sien, sy en die hond bestaan nie regtig nie. Hulle is maar van die sprokiesfigure of legendes van die omgewing. Daar is mense wat beweer dat sy soms verskyn, maar daaraan moet julle julle tog nie steur nie. Alles stories as julle my wil..." Dioneo het intussen blykbaar besluit dat hy hom nie langer, soos dit maar die gewoonte van die Tsjegge is, as ontalig gaan voordoen nie. Pront op Duits val hy Paní Giovanna in die rede: "Die waarheid is, die hondehoedster was jare der jare gelede die slagoffer van 'n groot misverstand. Die gepeupel het haar en die teefhond van heksery beskuldig; hulle in die Morava versuip. Maar die biskop was woedend..." "Ja," vul paní Giovanna aan - ook sy het haar nou bedink - "Ja, hy het hulle albei in die stadsmuur langs die katedraal laat begrawe. Nou met die vloed het die stormwaters hulle graf oopgespoel..." "En haar lyk en die teefhond se karkas was nog so ongerep asof hulle geen ure dood was nie." neem Dioneo die laaste woord. Sommer stories of...? Mevrou Giovanna en Dioneo se mededelinge oor die heksvroutjie en haar teefhond laat ons vir enkele oomblikke spraakloos. Diegene aan wie sy nie verskyn het nie, grinnik onbegrypend. Sarah, die donkerkop begin senuweeagtig giggel, prop dan vervaard haar vuis in haar mond. Stilswyend kyk ek en Theo en die kolonel na mekaar, min wetende dat met ons onverklaarbare ervaring die toon aangegee is vir die vertellinge en belewenisse wat sal volg tydens die dae van ons verblyf op Svaty Kopicek. Reeds die volgende aand toe ons klompie Suid-Afrikaners om een van die lang houttafels sit, begin die stories en verbeeldingsvlugte. Dis Breë Bertus wat afskop: "Ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar het julle in die rokersvertrek gesien, Oom Paul Kruger sit daar in lewende lywe?" "Nee, kom aan Bertus hou op guy!" "Wel, gaan kyk self as julle my nie wil glo nie." En sowaar, elkeen van ons wat tersluiks by die rokers gaan inloer, sien die oubaas, op die oog af 'n absolulte ewebeeld van die ou president. Bertus beweer dat hy vroeër die aand reeds 'n praatjie aangeknoop het. Nie moeilik vir 'n taalman nie, die oubaas praat Jiddish. Sy naam? Pavlo Kruger, hoe anders? "En wat het hy te vertel?" wil ons almal weet. "Hy is een van die enkelinge wat die pogrom oorleef het. Hy kon sy Poolse bewaarders glo omkoop met goue ponde, goue krugerponde." "Wat hy waar gekry het?" "Geërf natuurlik." "En van wie nogal?" "Niemand minder as sy eie oupa nie, ene Paul of Pavlo Kruger wat tydens die vorige eeuwending in Switserland was. Ons begin die storie geniet, of ons nou vir Bertus glo of nie. Dus lok ons hom uit. "And how come that he's Jewish?" wil Ilona weet. "Maar gebruik dan so'n bietjie verbeelding meisiekind. Jy weet tog daar was hierdie waardige ou vriend van Oom Paul, in sy vroeër jare 'n gewone ou smous, maar later 'n gesiene besigheidsman. En ou Abraham het 'n pragtige dogter gehad, 'n ware jong Delihla maar nietemin 'n ernstige kind. Talle jonkmans was gek na haar maar sy het die meer bedaarde en waardige ooms verkies." "Ja, en?" "Wel daar in agtien ses en tagtig verdwyn sy soos 'n groot speld uit die ou Transvaal. Daar was allerhande skinderstories maar haar famiie het volgehou sy is oorsee om te gaan trou." "En was dit so?" "Hoe moet ek weet? In elk geval, toe sy en haar opgeskote seun, Pavlo, op 'n dag daar by die ou president in Switserland aankom, was sy sonder 'n man. Haar bedenklike situasie het Oom Paul so aangegryp dat hy hom oor hulle ontferm het. Hy het selfs 'n hele fortuin aan hulle bemaak maar op voorwaarde dat die jongeling voortaan as Paul of, goed dan Pavlo, Kruger bekend sou staan." "Luister Bertus, jy wil tog nie insinueer dat Oom Paul..." "My liewe mens, ek insinueer niks behalwe eerlike heldeverering nie. Gaan kyk weer mooi na die oubaas daar in rokers. Dis net sy hare en sy baard wat ons aan Oom Paul laat dink. Sy gesig is heeltemal anders. Ek sê mos, louter heldevering en nie ten onregte nie. Sy familie het immers 'n groot deel van die Kruger-miljoene geërf." "Waarmee hy sy bewaarders omgekoop het?" "Ja, maar net met 'n klein deeltjie daarvan. Die res is gekonfiskeer en lê waarskynlik saam met al die ander Joodse skatte nog êrens in 'n Switserse bank. Dis glo al waarvoor hy nog leef, die dag as sy regmatige eiendom aan hom terug besorg word." "A very tall story en alles uit jou duim gesuig," is Ilona se kommentaar. "Wel hartjie, dit staan jou vry om te glo wat jy wil. Maar sê my, wat dink julle van ons hospita en Dioneo se storie? Die sigeunervrou wat ek van die buffel afgehelp het, was 'n mens van vlees en bloed. Sy is 'n agent wat loseerders werf." Dis toe dat ek hom kortvat: "Hokaai Bertus Nou lieg jy regtig. Niemand het die ou vroutjie van die buffel afgehelp nie. Nie jy of enigiemand anders nie. Ek het self gesien..." Maar dis waarop Bertus gewag het: "Aha, daar sê jy dit nou! Jy het gesien! Julle vier wat haar kamtig gesien het, loop daar 'n streep deur julle families?" Sy woorde laat 'n koue straaltjie teen my ruggraat druppel. So naby aan die waarheid maak woorde nogal seer. Corneille kom by my staan slaan sy arm beskermend om my. Hy ken die bron van my verleentheid; is immers bloed van my bloed. Rustig temper hy Bertus se opmerking: "Streep of nie streep nie ou pêl, laat ons maar almal toegee: daar bestaan en gebeur op hierdie aarde vreemder dinge as wat 'n mens graag wil erken." "Ja," beaam Sarah, "al sou ons ook wens dat sekere sake sommer stories was." Sy kyk forsend na my. Wat ek in haar oë lees, is die erkenning van 'n intu‹tiewe aanvoeling tussen ons. Dog, skielik is dit asof sy daarvoor skrik. Opsetlik lighartig vervolg sy: "En wat die streep betref, dis so 'n algemene verskynsel, as't ware die grootste gemene deler in sommige Afrikaanse families. Moontlik selfs in joune, Bertus?" "Nee, ou girl, moet my nou nie agter die deur soek as jy self daar staan nie." "Okay, okay, no hard feelings! En ja, daar loop 'n streep deur my familie. Dis soms moers hartseer en partykeer donners snaaks. As ek moes vertel..." "Jis, suster Sarah, hoe laat jy nou 'n breinwyfie my bespring!" Dis die kolonel wat hier 'n 'gap' vat. Hy hou sy kop so half skuins en knip-knip sy oë laggerig-verontskuldigend. Sy bolip trek lank en hy snuif twee, drie keer. "Jakkals wat die spoor vat," dink ek in my enigheid, "maar wat probeer hy nou uitsnuffel?" "Bertus het reeds 'n begin gemaak," vervolg hy ewe onskuldig, "en tussen ons klomp lê daar seker heelwat te vertelle, dus, onse eige Dikkemoron." "Colonel, you're a genius! Just the right circumstances too. I sincerely hope though, that the flood won't keep us here for ten days ..." Die idee vind algemene byval. Hier en daar word 'n beswaar ge-opper of 'n bedenking uitgespreek soos dié van die aantreklike rooikop met die dromerige oë. Rosemary is haar naam. Sy kla dat sy nie stories ken nie. Baas Willem, voorheen vlootkaptein en hoof van die Brauburg-departement waarin sy 'n jong luitenantjie was, vee haar beswaar onder die mat: "My liewe Rosie Matrosie jou hele lewe is 'n storie. Al wat nodig is is een of twee grepe daaruit." En heel liefies soos dit 'n mat-rosie betaam, knik sy haar kop. Ek dink, "Ai tog, nog steeds so onderdanig!" Maar dan gewaar ek 'n uitdagende glinstering in daardie groen oë en ek wonder. "Wie is eerste aan die beurt? wil Ilona intussen weet. Ek sien hoe sy behoorlik regsit om háár lotgevalle aan ons oor te dra en, o weë, as sy eers begin, kry sy mos nie end nie. Dit weet almal uit die tyd van die Brauburg, ons wat vir ure aaneen moes aanhoor hoe die Italiaanse edelman haar destyds in die steek gelaat het. Gelukkig kom Corneille met die voorstel dat ons lootjies trek met papiertjies genommer van een tot tien. So gesê, so gedaan. Eers word die genommerde papiertjies in 'n bruin papierkardoes rondgeskommel, toe kry elkeen die geleentheid om met afgewende gesig sy of haar hand deur die nou opening te steek, 'n lootjie raak te vat en dié dan in 'n diggevoude vuis te bewaar. Uiteindelik sit ons almal daar in 'n kring om die ronde houttafel, ons voorarms gestut op die blad, die gebalde vuiste met geheime inhoud in die lug. Vreemd hoe versklillend en tog konfrontasioneel eenders lyk vuiste, kom die gedagte by my op. Slegs die betekenis van aggressie wat ons daaraan heg, troos my logika. Nietemin oorval die beklemmende gevoel my, dat daar tussen ons onderling tog iets van 'n dreiging skuilgaan. Met ingehoue asem kyk ek hoe, asof in 'n afgesproke ritueel, die een na die ander vuis redelik hard op die donker glansende tafelvlak neerplons. My verbeelding neem met my die loop: Sade, dink ek, klipharde sade van eiesinnige individualiteit, dog in elkeen 'n vrugbare kern... Toe vou die hande oop: 'n eksotiese blom uit die Suide hier onder die Noordelike sterre! Eers as ek weer mooi kyk, besef ek hoe volkome Europees twee van die hande daar uitsien; melkwit en sag. Selfs na al die lange jare se verblyf in Afrika kan Ilona haar nog steeds beroem op haar pigment van "peaches and cream'; haar afkoms: Blue Blood British. Gelukkig is sy geen snob nie. En Theo? Vlaams-Boergondiese in voorkoms, maar van aard? Gavin, boorling van Namibië, se hand lê tussen dié van die twee Europeërs, sy sterk bruin vingers wyd gestrek en in die bleker handpalm die lootjie met die syfer een. "Kolskoot!" Ek ken sy vertelvermoë en die uitroep ontglip my spontaan. Nou is alle oë op hom gerig. Sy seunsagtige gelaat straal van ondeunde plesier. Moontlik merk slegs ek die effense uitdaging in sy mooi donker oë, ook die wyse waarop hy haas onbewus sy ken hoër lig sodat enkele van sy netjiese rastafan-lokke skuins oor die sagte neutbruin van sy linkerwang val. Ek onthou sy woorde aan my daardie dag by die eerste byeenkoms van Vriende van Afrikaans : "Ek voel goed in my vel!" Dit was nadat enkele van die deftige ouer here hulle ongemak én blye verrassing oor Gavin se teenwoordigheid onder oordrewe en uiteindelik patroniserende vriendelikheid probeer verberg het. Op sy vertelling moet ons egter wag. Die gewillige, dog ietwat stompsinnige kelner het ons eerste rondte bierglase opgeruim en die Tsjeggiese spyskaarte ter insae gegee. Sy mooi mollige meisiekind, die oudjie wat van soggens vroeg tot savonds laat met die bediening help, steeds geklee in dieselfde valerige miniskirtjie, haar welgevormde bene bedek deur 'n paar afsigtelike lyle broekieskouse en altyd voortsloffend op 'n paar uitgediende pantoffels, leun oor die tafel om ons, wat die geregte betref, van uitleg te voorsien. Ek som die les in die Tsjeggiese spyseniering op: Fazolkov polévka (boontjiesop);Ook die opmerkinge van verbasing of waardering en die enkele aanmerkinge van terloopse afkeer laat ek tersyde. Ons honger gestil en ons glase gevul, sit ons eindelik aandagtig op Gavin se vertelling en wag. Tydens die ete het hy reeds laat val dat sy storie oor engele sal handel; welliswaar ter ere van die engel van 'n ou sigeunervroutjie aan wie ons die luukse van die heuglike aand in 'n veilige oord te danke het. Nou stel hy 'n heildronk op haar in. Almal klink glasies of hulle haar nou gesien het of nie. So van engele gepraat. Gavin waarsku ons dat wat hy te vertel het, die loutere onverdunde waarheid is. Ons sal hom op die voet moet volg, van oomblik tot oomblik tydens een van sy talle ervaringe as tydelike toergids, 'n welkome vakansiejoppie vir 'n arm onderwysertjie. "Sy is 'n engel maar nie uit vrye wil nie," dink ek toe ek haar in die toergroep gewaar. Wat ek daarmee bedoel? Niks bonatuurliks nie hoor, dis slegs my persoonlike naam vir sekere vroue wat ek as toergids leer uitken het; aardse engele met weerlose gesigte, sagte oë en die onmiskenbare glans van blond-uit-'n-bottel wat oor die haredos huiwer. Highlights word dit glo genoem. Gewoonlik raak-raak hulle reeds aan hulle veertigerjare, vandaar die angsvalligheid waarmee hulle probeer om minstens tydens die toer in te haal op bepaalde verlore kanse in die lewe. Ek kry hulle nogal jammer dus probeer ek maar om n spesiale ogie oor hulle te hou. Soos dit sal blyk het hierdie besondere engel beskerming nodig gehad. Uiteraard tree ek altyd uiters sjarmant teenoor alle toerlede op. Dis goed vir sake en ook vir die sak. Blondie, want so sal ek haar maar noem, het waarskynlik te veel waarde aan my glimlaggende aandag geheg; dit beskou as aanmoediging. Hoe dit ook al sy, toe ek voor ons vertrek oudergewoonte die passassiers aan die voet van die bustrappies inwag om die dames en soms ook die ouer mans persoonlik in te help, struikel sy aspris. Ek moes net gryp en vashou sodat sy nie val nie. En daar staan ons, ek met Blondie in my arms en sy wat vol sagte belofte teen my aanleun. Toe gee ek haar maar so'n ekstra drukkie, alles in die vreugdevolle vakansiegees van die toer. "Hotnot!" Breë Bêrend se tussenwerpsel laat my verskrik wonder: Is dit nou waardering of aggressie? Dog, Gavin reageer vol selfvertroue: "Wag maar Boeta, later sal jy my nog meer waardeer." Onverstoord en effens peinsend gaan hy voort met sy vertelling: Miskien het ek my met Blondie misreken, miskien nie. Ek wil nog steeds glo dat daar tog 'n mate van ongereptheid aan haar was. Ook wil ek my verstout om te sê dat ek die soort man is wat groot deernis het met die natuurlike drange en behoeftes van aardse engele. Ek was geensins teësinnig om Blondie so effens te verwen nie. In elk geval,laat agtermiddag bring ek die bus by ons bestemming in Swaziland tot stilstand. Daarna duur dit so'n uur of wat voordat ek al die toerlede se bagasie en elkeen se eiesoortige probleem of versoek uitgesorteer kry. Uiteindelik kan ek my eie kamer opsoek en met welverdiende genoegdoening my stram ledemate in die leunstoel rusmaak. Ek laat die televisie aanflits, dankbaar vir die gerief van afstandbeheer. Toe lui die telefoon. Dis Blondie met 'n heel normale versoek: "Gavin, hulle het hier mos 'n... 'n... hoe noem mens dit nou weer, die plek waar hulle geld verwed en wen?" Geredelik stem ek in. Dit versterk blykbaar haar waagmoed. "Ag, daar's nog iets wat ek wil vra...". Dié keer is dit Jakkals wat hom nie kan weerhou nie: "Aitsa! Toe gladnie 'n engeltjie nie, 'n kwaadkat as ek moet raai..." "Reg geraai," beaam Gavin. "En jy bloos nie eers nie," terg Rosemary guitig. Gavin het sy antwoord gereed: "Wel, as ek kon bloos sou ek. Ek kan ook baie verskonings uitdink vir my swakheid in die totale naakte teenwoordigheid van versoeking, maar dit sal tog geen verskil maak nie. Wat gebeur het, het gebeur." "Maar vertel kêrel, vertel! Dis die besonderhede wat ons interesseer..." Dis Baas Willem wat hom al by voortbaat op die details verlekker. Dog, Gavin hou voet by stuk: "Nee wat, Kaptein, "daaroor liefs 'n sluier. Ek's nou nie juis 'n kandidaat vir Loslyf nie." Maar om terug te kom by my storie, toegegee, die beskermingsdrang wat Blondie aanvanklik by my gewek het, word tydens my besoek nogal afgestomp, so asof ek twee persone is, die een ten volle bereid om haar die hel en die hemel in te lei, die ander totaal onbetrokke, 'n blote toeskouer by 'n vreemde drama. In die casino sou die drama homself verder voltrek. Telkens as ek uit die aard van my werk, so 'n casino binnestap, kan ek my verkyk aan die toneel. Die mees uitsonderlike en onverwagte situasies het ek al voor my sien afspeel, dog nie naastenby so boeiend en vreemd as dié van die aand toe ek Blondie vergesel nie. Met die intrapslag gewaar ons hom, die elegante ou heer. So asof hy heerskappy voer oor 'n eie domein, sit hy daar; effens eenkant, dog steeds midde in die maalkolk van dralende vakansiegangers en bedrywige dobbelaars. Sy hare en oë staalgrys; sy netjiese baardjie spits, byna so spits soos die lang goedversorgde naels van elke slanke vinger wat 'n mens duidelik kan sien as hy met 'n opvallende handgebaar 'n dik rol banknote in ontvangs neem. Asof aangetrek deur 'n magneet begin Blondie dadelik in sy rigting beweeg. Ek volg. Wat daar by hom aan die gang is, moet 'n mens eenvoudig van naderby beskou. So'n entjie weg bly ons staan; Blondie asof gehipnotiseer; ek met 'n mond wat van verbasing wil oopval. 'n Hele falanks jong manne in aandpakke geklee, almal effens bleek in die gesig en elkeen met 'n totaal vreugdelose uitdrukking in diep donker oë, ontvang die een na die ander 'n honderdrandnoot van die meesterdobbellaar. Daarby ook nog iets anders, 'n nota in duidelike sierskrif, waarskynlik voorskrifte om by die dobbelspel te volg. Een na die ander verdwyn die ontvangers dan tussen die tafels om te gaan speel. Maar nie te lank nie of hulle keer, een- een terug, elkeen met sulke dik rolle banknote in die hand, klaarblyke wins. Dié oorhandig hulle sonder seremonie aan die ou heer. En telkens trek hy maar net weer een enkele honderdrandnoot uit die dik rol, gee dit aan die jong dienaar terug, weer eens met 'n nota daarby. Die res rol hy in 'n uitsonderlike soort slangvelhouer toe. Weer en weer speel dieselfde toneeltjie hom af, elke keer met net nog 'n volgende jong man. Langs my snak Blondie hoorbaar na asem. Onder die ligte rooisel wat sy op die regte plekke aangewend het, is haar gesig doodsbleek maar in die hemelsblou poele van haar oë skyn 'n bonatuurlike glans. Toe kyk die dobbelaar skielik na ons toe op. So asof hy nog altyd van ons bewus was, glimlag hy fyntjies, vang my oog en beduie effens vraend met sy kop in die rigting van Blondie. Ek weet ek doen verkeerd maar dinge het buite my beheer geraak. Haas onwillekeurig knik ek instemmend terug. Daarop rig die elegante ou heer hom in sy volle imposante lengte op en wink ons nader. Met oordrewe seremonie maak hy 'n buiging in Blondie se rigting, neem haar hand en druk 'n ouwêreldse kus daarop. Toe spreek haar met 'n sonore vleistem aan: "A, skone dame, u stel belang in die spele hier? Met u wil ek 'n akkoord aangaan. Ek gee u honderd rand. Alles wat u wen, behoort aan u, dog onder een voorwaarde. Na dese dobbel u nooit weer nie, behalwe as ek my toestemming gee."Uit een van die tallose binnesakke van sy aandpak haal hy 'n honderdrandnoot, vou dit in Blondie se fyn handjie toe en fluister bepaalde bevele in haar oor. Sy kyk hom grootoog aan; stap dan ewe gewillig saam na die naaste dobbeltafel. Van die een na die ander spel en tafel hou ek so skuins agter hulle. Wat hy haar voorsê, kan ek nie hoor nie maar Blondie wen keer op keer. Dan slaan haar begeleier goedkeurend sy arm om haar, neem haar handsakkie en prop eiehandig die winste daarin. Na enkele rondtes beweeg die "mismatched couple" terug na die hoek waar die falanks lakeie in hierdie stadium doelloos aan't luier is. By die verskyning van hulle meester staan die groepie afwagtend nader, dog met 'n handgebaar en enkele woorde beduie hy aan hulle om te verdaag. Ek probeer myself nog wysmaak dat ek die weerlose dame moet red uit die verderwende geselskap van die slinkse ou heer, maar sien al gou dat dit verlore moeite sal wees. Sy is reeds onherroeplik in die ban van sy sjarme. Met matelose bewondering kyk sy na hom op. Vir sy vaardigheid, vernuf, slinksheid, wat ook al, sal sy heel duidelik voortaan óf willose speelding óf nuttige instrument wees. Die sjarmante ou heer gewaar my eerste. Weer eens glimlag hy fyntjies, vang my oog en knik effens met die kop in Blondie se rigting; 'n betekenisvolle gebaar waarmee hy my as't ware in 'n sameswering betrek. En weer speel ek willoos saam. Ek knik instemmend terug; hoor asof in 'n droom die sonore, dog eienaardig valse stem: "Baie dankie jongman. Dis reeds so'n pragtige romantiese nag!" Hand aan hand stap die twee na buite. Enkele dae daarna is Blondie weer stil op haar plek in die bus. Op my vriendelike verwelkoming reageer sy skaars. My indruk is dat sy my nie in die oë kan, of wil kyk nie. 'n Vae verwyt begin tydens die terugreis aan my knaag. Ek troos my egter daaraan dat ek by ons aankoms in Johannesburg sal probeer vergoed. By die terminus aangeland, volg egter eers weer die gewone rompslomp. En in die geharwar verdwyn die dame soos 'n groot speld. Een oomblik sien ek haar nog daar langs haar verslete tas staan; die volgende oomblik, altans so het dit vir my gevoel, is sy weg. Gavin bly lank stil; kyk peinsend in sy halvol glas, skynbaar onbewus van die vrae wat om hom losbars: "En...?" Nog so half in gedagte versonke knik hy bevestigend; hervat sy verhaal: Ek het navraag gedoen.'n Silwerkleurige mercedes, die nuutste model van die jaar, het die blonde vrou daar kom oplaai. Die bestuurder daarvan was 'n jong man met 'n opvallende bleek gelaat. "Nou ja, eind goed alles goed," het ek myself probeer gerusstel. Oor Blondie en wat moontlik met haar gebeur het, sou ek egter nog dikwels wonder. Toe gebeur dit dat ek 'n vriend in nood moes bystaan. Hy is een van die kêrels wat altyd kort van geld en diep in die skuld is. Die keer wou hy gaan aanklop by 'n sekere geldskieter met kantore in een van die nog ongeskonde ou herehuise in Parktown. Ek moes asseblief tog saam om hom moreel te ondersteun. Stel julle dus voor, 'n oprit tussen enkele hoë bome en verwilderde struike van 'n ietwat verwaarloosde tuin. 'n Sekuriteitswag lei ons, na identifikasie, deur massiewe eikedeure 'n weelderige wagkamer binne. Net betyds, omdat iets in haar oë my waarsku, onderdruk ek 'n uitroep van verbasing en blye herkenning. Die ontvangsdame daar by die glansende okerneuthoutlessenaar is Blondie. Sy is geklee in 'n elegante pakkie van die duurste snit en stof en nie alleen haar kleding nie, haar hele voorkoms getuig van ryke versorging. Aan feitlik elke vinger flits 'n reuse diamant. Tog is die bewegings van haar hande 'n senuweeagtige fladdering. Al laat sy dit nie blyk nie, kan ek sien dat ook sy my dadelik herken. Toe 'n bleek jong man my vriend na die aangrensende kantoor ontbied, neem sy die geleentheid waar om my dringend nader te wink. Sy plaas haar wysvinger waarskuwend op haar lippe en leun na my toe oor om te fluister: "Gavin, hy het bokvoete." Skaars is haar woorde uit, of die deur agter haar lessenaar swaai oop. En daar, in lewende lywe, staan hy, die enigmatiese ou heer. Met sy een ou klou gryp hy haar tenger skouer besitlik vas. 'n Smalende gryns plooi om sy mond maar sy oë is so kil soos sy stem: "Ja, my lief, bokvoete én 'n horing van oorvloed..." |
|