NOO(R)DBESTAAN III

Hoog en droog op die Heilige Heuwels

Edna Deudney

Vir enkele oomblikke bly die reaksie op Gavin se storie uit. Disclaimer Toe bars dit los: skerts, ongeloof waardering... Breë Bêrend skud net sy kop: "Magtig ou Gavin! Sê, is dit 'n bielie van 'n bok wat jy daar geskiet het, of kan ons die ou toppie nog gaan opsoek; sy horing vir hom stomp afsny?."

Om jou geheue te verfris....

In 'n vorige aflewering het die verteller en 'n groep vriende 'n rit deur Pole onderneem, onder meer om Auschwitz te besoek. Op pad terug na Olomouc moes hulle 'n ompad volg as gevolg van oorstromings wat Noord-Europa getref het. Die groep kon Olomouc nie bereik nie en moes oornag in die klooster van Svati Kopicek (Heilige Heuwel). Om die tyd om te kry, besluit die groep elkeen moet 'n storie vertel. Die laaste storie wat vertel word, handel oor 'n ouer man wat 'n magiese uitwerking op vrouens het. Aan die einde van die vertelling word openbaar dat hy bokpote het en 'n "horing van oorvloed".

Kry die vorige aflewerings hier:

1. Noo(r)dbestaan):
Die jag van die ová's

2. As duisende der duisende vinke vlug....



Iets meer oor die Outeur


En Jakkals: "Ja stomp-stomp soos dié van 'sant Dinges destyds deur die draad tussen die Tempe Tigers en die Army kamp..."

Thereby hangs a tale. Dit raai almal en 'n koor van vrae volg. Slegs Baas Willem bly stil en grimmig sit, sy blik takserend gerig op kolonel Jakkals. Dié hou in antwoord op die vrae sy lootjie omhoog sodat die vyf daarop duidelik gesien kan word. Hy sal vertel wanneer dit sy beurt is... Bokant sy spits neus en ken glim sy geelbruin ogies skelm tevrede. "Die man met die klein koppie", so het Baas Willem altyd kleinerend in die kolonel se afwesigheid na hom verwys, en nou wonder ek vir die soveelste maal, waarom is hy, wat Baas Willem is, hier in die geselskap van 'n man wat hy eintlik nie onder sy oë kan verdra nie. Weer eens bekruip 'n vae gevoel van onrus my: what if it comes to a showdown? Sal ek die shit uit die fan kan hou? Slegs as ek in beheer kan bly, dus, 'n vlugtige proefneming: Stip vestig ek my blik op Jakkals; stip, stip, stip en ja, daar begin hy geleidelik verdwyn. Voorlopig is ek dus in beheer; ek kán my personages na willekeur laat verdwyn of verskyn! Geen wonder dat ek die aand in 'n salige roes van grootheidswaan aan die slaap raak nie.

But truth is stranger than fiction

Die voorafgaande invoegsel oor personages wat verskyn en verdwyn, was soos elkeen sal begryp, slegs 'n brokstuk fiksie; so'n verteltegniese foefie van iemand wat haar begin verbeel sy kan skryf. Goeie medisyne vir sulke verbeeldingsvlugte is natuurlik 'n stywe dop nare rare werklikheid. Dié is my vroeg die volgende oggend deur donkerkop Sarah ingegee.

Ek het van die begin af van die vrou gehou; 'n soort verwantskap met haar gevoel, so asof ek haar vroeër geken het, in 'n ander lewe miskien. Toe moet sy nou dié oggend daar by my aangesit kom met 'n dik pak papier onder die arm en een van daardie versoeke wat my, soos gewoonlik, vreeslik inkompetent laat voel: Sal ek asseblief daarna kyk. Dis skryfsels wat sy produseer het so 'n paar maande tevore, terwyl sy vir behandeling in 'n inrigting was. Nou't sy gewonder, is iets daarvan miskien publiseerbaar of, in die slegste geval, bruikbaar vir Onse Eige Dikke Moron?

Ai my, die vermoëns wat aan 'n mens toegedig word as jy oor 'n ou literêre graadjie beskik, daardie klatergoud deksel op 'n ou pot met 'n bodem van klei! En die ergste van alles is die besef dat jy en die een wat die versoek rig, in dieselfde lekbootjie sit en droom oor 'n novel of 'n digbundel of wat ook al. Op die koop toe het die bootjie 'n lading wat groter is as die Titanic. Volgens 'n berig in die 22ste jaargang van Poëziekrant blyk dit byvoorbeeld dat "liefst 1 miljoen Nederlanders zich in hun vrije tijd met literaire schrijven bezighoudt. Er zijn 620,000 dichters, 372,000 verhalenschrijvers, 280,000 schrijvers van lied-en toneelteksten en maar liefst 60,000 mensen die aan een roman werken. Bijna 300,000 vrijtijdschrijvers zouden graag publiceren. De 10,000 manuscripten die jaarlijks tussen kandidaatschrijvers en uitgevers circuleren zijn dus maar het topje van een gigantische ijsberg." Dis nou almal Hollanders but make no mistake, hulle bloedeie neefs en niggies in die Reënboog Republiek, sy dié bleek of blas of blou, is nie minder aspirerend nie.

Nie alleen in ons romantiese of erotiese liefdesavontuurtjies nie, maar ook en veral in ons idealistiese wensdenkery, is en bly ons wat mense is, steeds dikke morone; dik in die sin van die Ingelse thick soos in "You are thick man, thick in the head; just plain thickheaded". Behoorlik teruggedwing tot die besef dat ek maar net na die beste van my vermoë kan vertel en geen jota of titel kan verander aan wat met ons en om ons gebeur, of nog sal gebeur nie, neem ek haar pakkie skryfsels aan; nie dat ek van plan is om dadelik te begin lees nie; daarvoor is die dag buite te stralend mooi en sonnig. As ek dit gelukkig tref, kry ek dit nog reg om ongesiens weg te glip en op my eentjie 'n ondekkingstog deur die dennewoude hier tussen die heuwels te maak.

Theo en Corneille het te kenne gegee dat hulle van plan is om terug te ry Olomouc toe. Moontlik het die waters al sodanig gesak dat hulle die woonstel in Lace kan bereik, desnoods met 'n bootjie. Theo se groot bekommernis is sy laptop en harde skyfies waarin sy hele proefskrif opgeberg is. Dié het hy, op versoek van die eienares eenkant op die vloer van die woonkamer staangemaak; die vloer van 'n gebou wat, soos al die ander daar, in drie meter water staan!

Die woonstel is wel op die tweede verdieping van die huis wat die jong medikus, Jirszjina Stepanová, volgens ons vriend, Ivo Starek, vyf jaar gelede van haar oorlede man ge-erf het. Dié, 'n voormalige kollega van Ivo aan die mediese fakulteit van die Univerzita Palackého, was glo al diep in sy jare toe hy met haar getroud is. Nou woon sy en haar haar enigste, 'n tweejarige dogtertjie, alleen in die ou kasarm; eintlik 'n elegante bousel as sy genoeg geld sou kan bymekaarskraap vir die restourasie daarvan. Dis reeds vanweë herstelwerk wat tydens ons afwesigheid verrig moes word, dat Theo se laptop op die grond tereggekom het.

Nou, wat Jirszjina betref, sy is een van die vele skoonhede, aan wie 'n mens jou hier in Tsjeggië wil verkyk. 'n Vriendin het die verskynsel mooi raakgevat toe sy sê: "As my twee seuns eendag uit Suid-Afrika op besoek kom, loop hulle sowaar elke twee minute in 'n boom vas!" Boonop is die verskeidenheid opvallend: Slawies, Pruisies, Kelties, Skandinawies, noem maar op; Tsjeggië is wat meisies in hulle hoë graad van vrybaarheid betref, 'n ware smeltkroes van genetiese afkoms! Voeg daarby dat hulle ongekunsteld is, skynbaar totaal onbewus van hulle intens seksuele uitstraling.

Jirszjina is Slawies, donker hare en intelligent-smeulende donker oë bokant hoë jukbeendere, lank en lenig met stewige, dog, gulle borste en 'n gladde olyfkleurige vel wat om aanraking smeek. Onskuldig is sy nie. Haar kundige eggenoot van vroeër het haar beslis 'n paar onweerstaanbare truuks geleer.

Dit was iets om te aanskou, die elegant ou-wêreldse flirtasie tussen haar en Ivo die aand toe hy opgetree het as voorspraak en onderhandelaar vir ons huur van die woonstel; subtiele seksualiteit onder 'n dekmantel van Oud-Weense hoflikheid. Haar jong buurman, ek skat hom sowat negentien of twintig jaar oud, het intussen op sy fiets van sy werk af arriveer; sy moeder by wie hy glo nog inwoon in die huis reg teenoor die van Jirszjina met 'n armswaai gegroet en dadelik begin speel met die tweejarige dogtertjie wat sprekend op hom lyk...

Maar nou ja, hier in Tsjeggië pols dit behoorlik van vrugbaarheid en erotiek. Vryasies tussen paartjies op straat, by bushaltes, in die parke en selfs in die trems is intens en openlik. Gewoonlik is dit die meisies wat nogal dringend, haas aggressief die inisiatief neem. By aanskoue van so'n oorrompeling was Corneille se opmerking: "Goeie genugtig, daardie ou het nie 'n kat se kans teen die meisiekind nie!"

Dié hitsigheid word nog simbolies aangehits ook. Soos die Bybelse Jakob van ouds sy vee met latte gepiets het, so piets die manne hier in Tsjeggië tydens die fekundasierituele van Pase hulle nooientjies, minaresse en vroue al om die bene en op die boude. Spesiale latte word daarvoor deur ou-ou vroutjies op straat verkwansel!

Dog, die verwekking van kinders is nie hoofsaak nie. Toe een van ons vriende, 'n Belg en self die vader van vyf "kindjes" tussen die ouderdomme van twee en agt jaar, sy verwondering uitspreek oor die kinderloosheid van egpare in Praag, was sy Tsjeggiese sekretaresse erg verontwaardig. Haar oortuigende verweer: mense wat soveel ellende meegemaak het, dink vyfmaal eer hulle kinders aan dieselfde lot blootstel. Jirszjina moes dus, glo ek, 'n spesiale plan voor oë gehad het. Dink nou maar self daaroor na: op watter wyse anders as die gawe van 'n pragtige kleinkind sou sy haar buurvrou en moeder van die melkbaard- kêreltjie, kon pasifiseer ten opsigte van haar romanse met die jongeling?

Dis met hierdie gedagtes dat ek, nadat ek goed weggelê het aan 'n smaaklike ontbytgereg van sampioene, my op die lommerryke voetpaadjies tussen Svati Kopicek en Radikov begewe. Ai, die geur van 'n dennewoud! Noembaar, dog onbeskryflik. Herfstyd word hier mandjiesvol sampioene versamel. Sommige kosbare soorte is glo selfs in die somer te vinde; mens moet net weet waar om te soek. Hier in Tsjeggië het ek vir die eerste keer met die inheemse plantegroei van Europa, die wilde blomme kruie en sampioene kennis gemaak. Theo, vroeër in België taalonderwyser by 'n tuinbouskool, ken sowel die wetenskaplike as die volkse benaminge. Ek leer gretig, sorg altyd dat ek 'n sakboekie by my het vir aantekeninge en ook my verkyker om die voëls te bekyk

Ek nader 'n opening waar 'n klompie kinders hulle bevind; dogtertjies van so tussen tien tot twaalf jaar oud, beweeg eenkant in 'n kring om 'n baar van groen, ernstig verdiep in een of ander ritueel. Ek hoor hulle inkanteer:

Mrtvá, mrtvá je nase Kostrubonko (Dood, dood is onse Kostrubonko).
Mrtvá, mrtvá je nase milá (Dood, dood is onse liefste).

Met dié dat hulle my gewaar, raak hulle skaam-verleë stil; slegs een yl stemmetjie sit die inkantasie voort, een yl stemmetjie diep begrawe onder die lower. My nuuskierigheid geprikkel, sluip ek met 'n wye draai om hulle heen en hoër op tussen die dennebome in; hier van agter een van die boomstamme kan ek sonder dat hulle van my bewus is, die verloop van die ritueel bekyk. Ek stel die verkyker in; kry die groepie mooi in my gesigsveld, so duidelik dat ek selfs kan uitmaak van watter plante hulle die takkies afbreek wat hulle nou al inkanterend op die "graf" werp: dis twyge van die Japanese Duisendknoop, die plant wat stengel op knot, stengel op knot en nog weer stengel op knot met 'n ruigheid van blaregroei omhoog beur langs die waterlope van dié heilige heuwels.

Wat sou die kinders tog in hulle onskuld vier of beswerend naboots; die dood en begrafnis van 'n maatjie en watter begrip het hulle van die dood? Daardie stemmetjie uit die "graf" laat my dink hulle glo aan lewe in 'n ander dimensie. Die hiernamaals, herrysenis, herhaling geslag op geslag? Geslagtelike verknoping op geslagtelike verknoping; geboorte, dood; dood op geboorte; geboorte op dood? "Die duisendknoopdood", prewel ek nadenkend; "die duisendknoopdood: ineengestrengelde dimensies van verlede, hede en toekoms?"

"Time past, time present, point to one end which is always present."

Met dié dat ek die woorde uiter, oorval 'n vreemde gewaarwording my. Sinsbedrog of realiteit? 'n Ligte waas het soos 'n sluier voor die lense van my kyker ingeskuif. Ek voel my gehul in newel; daar ver voor waar die kinders was, iets soos 'n enkele kersvlam wat stadig uitdein tot 'n tonnel van vreemde lig. Soos in 'n film op slow motion, vleg daar stadig dansend in 'n kring, nie dogtertjies nie, maar opgeskote meisies geklee in maagdelike wit. Dis hoogsomer op oorgang na herfs en die paardeblomme wat in die lente die velde hier oordek, is lank reeds uitgebloei, dit weet ek so seker as wat ek hier sit, die verkyker in my bewende hand. Tog dra een en elk van die eteriese danseresse 'n ruwe kroontjie van ineengestrengelde paardeblomme !

Vir 'n korte oomblik meen ek dat ek die heksvroutjie en haar hond aan die buitenste rand van die ligtonnel gewaar. Dis 'n hond ja, maar voor my oë verander die dierasie geleidelik van swart na wit, die ore en neus rooi, asof met bloed bedruip, die leiband glinsterende goud in die roomblanke hand van 'n rysige vorstin in stralende wit! 'n Rosse haarwrong verberg haar gesig want sy staan skuins gedraai, haar volle aandag by die dans. Die hond se oë is egter op my gerig; oë so groot soos gholfballe, oë so groot soos pierings, oë wat groter en groter word, my in 'n blou tregter omsluit, my onweerstaanbaar die ligkring intrek...

Met die uiterte wilsinspanning kom ek los uit die ban. My hande bewe, my hart klop teen 'n beangstigende tempo en my enigste gedagte is om weg te kom, weg uit die dennewoud, weg in die rigting van die teerpad tussen Radikov en Svati Kopicek.

Opdraande teen die heuwel uit; die bome dig en donker, die naaldebed glad en nat onder my voete; ek kan nie vinniger nie en dis al asof iets of iemand skuins agter my beweeg! Daar kraak weer 'n tak! Dan sien ek die hert wat verskrik tussen die bome verdwyn. Het ek hom op hol gejaag of is daar iemand anders? Nie omkyk nie; net vorentoe beur!

Eindelik bo. Nou gly-gly heuwel af. Nie meer ver nie, gelukkig nie meer ver nie!

'n Skerp pyn bo teen my dy en ek voel hoe die warm bloed teen my been afstroom. Iets waarteen ek geskuur het, het my verwond, wat weet ek nie en ek gee ook nie om nie. Nie omkyk nie; net vorentoe beur!

Al strompelend kom ek aan die uiterste rand van die bos, loop my in die braambosse op die padskouer vas; doringarms ruk my tot stilstand en net betyds, want 'n tree verder gaap 'n rou rooi nat skeur in die aarde.

Vir enkele oomblikke bly ek botstil staan, bang vir die weerhaak van doring op doring wat in my vel sny en nog banger dat die nat grond onder my voete gaan meegee. Dis toe dat sy skadu oor my val. 'n Gil stol in my keel want die hand op my skouer is gerusstellend. Dis Franticek Kazan se gebroke Engels wat in my ore klink:

"Edna, what you do here?"

Ek dink nie eers daaraan dat ek hom diesefde vraag kan vra nie; voel hoe sy hand van my skouer af teen my nek op gly totdat duim en vingers bo, waar die skedel begin, aan weerskante van die nekwerwels tot ruste kom. Gerustellend begin hy die gespanne senings daar masseer. Soos daardie sneeuwit winterdag met Franticek se onverwagte besoek aan ons dosenteverblyf, oorval my nou weer 'n vreemde bewerigheid; die keer nie aangenaam sensueel nie maar aaklig, 'n vaal floute waarin ek wegsink.

Ek herwin my bewussyn in 'n onbekende kamer gestut teen 'n ellelange wit silindriese kussing op 'n enorme wit bed, onder my 'n bebloede rubberseiltjie. Ek hoor mense praat, 'n vrouestem en die van 'n man: Tjeggiese spraakklanke waarvan ek geen woord kan uitmaak nie. Die vrou klink ergerlik, beskuldigend, die man verdedigend. Hulle kom nader. Die deur bars oop en 'n taamlik stewige babicka, rooi henna- hare met minstens vyf tot tien centimeters grys aan die wortels, stoom die vertrek binne; agter haar 'n man wat ek tot my groot verligting herken. Dis ons goeie vriend Ivo, neus- en keel- spesialis. Vinnig beweeg hy voor die vrou in en tot by die bed. Rustig professioneel lig hy my hand, duim op die pols en oë aandagtig gevestig op die wysters van die sakhorlosie in sy linkerhand. Ek laat hom begaan, te verwonderd om iets te sê.

Glimlaggend verbreek hy na enkele minute die stilte: "Ah, that's much better! I was worried about your remaining unconscious so long. Your pulse was so weak!"

"What happened,? Tell me Ivo, where am I?"

"As to what happened, that I do not know. As to your second question, you are in my mother's house and I've sown up your wound quite nicely, I think."

Eers toe ons sowat 'n halfuur later in Ivo se ou skedonk van 'n motortjie op pad is na paní Boccaciová se losieshuis, kry ek so min of meer 'n idee van die verloop van sake.

Franticec Kazan het glo met my, bewusteloos in sy arms, daar by paní Vera Starková opgedaag en dringend versoek dat sy Ivo ontbied. Volgens haar was daar 'n gapende wond maar feitlik geen bloed nie. Eers toe hy opdaag, het die bloed behoorlik uit die wond in my dy begin spuit, vertel Ivo; hy sal sy moeder nog moet gaan help lakens en handoeke was.

Nog begryp ek nie; die floute wat oor my gekom het net toe Franticek bo teen my nek begin masseer? Ek noem dit vir Ivo.

"So that's how he put you out of action. Quite a dangerous thing to do unless one has expert knowledge of the right pressure points... Somehow he temporarily stopped the bleeding as well."

Ek luister grootoog, nog gladnie gerusgestel nie. Ivo merk dit.

"Never to worry, dear girl. Franticek is an adept at many things. He did the right thing. Nevertheless, you are very lucky that my mother lives right there where the main road in Svati Kopicek splits, leading to Radikov and also that I was available. But tell me, how come you know Franticek?"

"Oh that's quite a story but one to be told at some other more convenient moment. You say he has gone to inform my son and Theo that I am safe. How does he know where we are staying?"

"Well news travel in small communities and also, Franticek knows things without being told. He is a warlock."

"A warlock! Ivo you are a professional doctor, a man of science and this is the twentieth century; surely you don't believe...? Ek hou my asem op vir sy antwoord. Geen woord gaan ek rep oor my hallusinasie nie, tog wonder ek.

Ivo snuiflag so effens deur sy neus.

"My dear girl, no matter whether I believe or not. It may be the twentieth century, but this is the Czech Republic. Even as communism could not eradicate Catholicism, so Christianity could not eradicate the old ways and beliefs. I must give you a history of Olomouc and the surrounding area to read. The urn people lived here centuries ago and the Celts".

Ek wil nog verder uitvra maar Ivo lei die gesprek in 'n ander rigting; vertel dat dit hy was wat Franticek se neus so netjies opereer het, vra of ek weet wat daarmee gebeur het.

Ek knik bevestigend, voeg nietemin by dat wat ek gehoor het uiters onwaarskynlik klink; òf die man òf die perd òf albei moes dronk gewees het!

Ivo skater dit uit. "It was the horse not Franticek, but that too is a story to be told at a more convenient time."

Blye verwelkoming toe ek kreupel-kreupel en versigtig gesteun deur Ivo die Boccaciová- hofhouding binnestap. Theo en Corneille is so besorgd soos twee ou moederhenne. Ivo stel hulle gou gerus, gee te kenne dat hy 'n lekker koue bier sal waardeer. Eers na sy vertrek sluit die res van die geselskap by ons aan; veral die dames brand van nuuskierigheid.

Ilona kry soos gewoonlik die eerste woord in: "Edna, hoe doen jy dit? Two of the most handsome men that I've ever seen en dit alles op een dag!"

Rooikop Rosie Matrosie beaam entoesiasties. Al die dames is dit egter eens dat die vreemde donkerkopkêrel die aantreklikste was, die een wat volgens Rosie gekleed was soos een of ander held of heilige uit die Ou Testament of die Ierse sages.

"Wat bedoel jy ?"wil ek weet. "Wat was so anders aan hom?"

Nou eers besef ek dat ek Franticek se stem gehoor het, sy hande en arms gevoel het, maar bewusteloos was voordat ek hom eg kon sien. Ek word gou ingelig. Elkeen van die vroue het 'n bydrae te lewer, almal teenstrydig. Ilona het dit oor sy netjiese snyerspak. Sarah meen dit was 'n uniform, groenerig, miskien die van 'n boswagter? Maar Rosie Matrosie het iets anders te vertel. Lieg sy aspris, bloot om aandag te trek?

"Daardie kleed van hom, so'n moulose soort driekwart rok van grofgeweefde stof... Aan sy voete, jesus-sandale. En het julle sy arms gesien, daardie slangagtige gehoringde drake wat soos lewende glinsterende goed van sy elmboë af na boontoe krul?"

"Ag nee Rosemary, begin jy nou ook al dinge sien! "

Dis weer Breë Bêrend wat ergerlik halt roep. Soos dit blyk het Franticek slegs die vroue betower en imponeer. Nie een van die mans het iets buitengewoons aan hom gemerk nie. Een en elk koester hulle nou uitgesproke die sterk vermoede dat die kolonel se katte, soos hulle die meisiekinders noem, besig is om die draak met hulle te steek.

Jaloerse beskuldigings en laggende protes. Die stemme begin om my ore suis, so asof 'n floute my weer gaan oorval. Ek kry Theo aan die arm beet, leun met my volle gewig teen hom aan. Die stemme raak yl en ver. Baas Willem is 'n bromvlieg wat knaend herhaal:"Dis daardie mushroom gemors wat julle vroumense vanoggend geëet het, dis dit wat julle parte speel, daardie sampioenebrousel." En Rosie se trillende heksestemmetjie soos die van 'n lastige muskietwyfie wat die noodlot tart: "Sampioene of de not, ek weet wat ek gesien het. En cross my heart, daardie ou kan maar met sy jesus-sandale en al in my bed kom klim."

Toe word dit swart voor my oë. Ek herwin my bewussyn in Theo se arms. Hy steun en kreun en blaas vermoeid. Die wenteltrap op na ons toringkamertjie is haas oneindig; driekwart van dié lydingsweg het hy reeds met my as vrag opgesukkel. Corneille stoom agter hom aan, maar help kan hy nie, die trap is te nou. Groot verligting dat ek nou eindelik, wel met hulp, dog min of meer op eie stoom, tot by my bed kan strompel.

Ek het lank en diep geslaap. Toe ek ure later wakker word, verwar die halflig wat deur die venster val, my sodanig dat ek meen dis reeds die volgende oggend. Corneille se binnekoms bring sekerheid. Dis tyd vir aandete en almal wag bekommerd op my. Hy toon my die reste van 'n sampioen wat hy in paní Boccaciová se kombuis gevind het. "Amanita muscaria," sê hy met 'n veelseggende glimlag en slaan 'n beduimelde plantegids, wat hy wie weet waar uitgekrap het, vir my oop om te lees. Die volgende inligting is onderstreep:

A Czech scholar Pokorny, has argued that plant hallucinogens are the key to understanding the stylisations and ornaments in the Palaeolithic art from Prodmasti, Avjejve, and Mazin in Czechoslovakia. Possibly one of the most important in Eurasia was the white-spotted, red-capped Amanita muscaria or Fly Agaric mushroom.
Dan iets oor newe-effekte, onder andere braking, met daarby die effens weersinwekkende toevoeging dat die urine van 'n persoon wat van die Amanita ingeneem het, sonder die onaangename newe-effekte is, vandaar sommige sjamane en moontlik ook die Keltiese druïdes se suinige bewaring van hulle eie urine; verder dat dit waarskynlik die hoofbestanddeel was van die 'soma'
Sampioen
Nee, dis 'n sampioen van die Phallales-groep
wat in die Rig Veda vermeld word. Die Indo-Europese rituele drank was ambrosia/nektar berei uit Amanita muscaria. Verband met die Keltiese 'marriage of kingship' word genoem. Die Yslandse benaming vir die Amanita is 'bersekjasveppur' wat duidelik te assosieer is met die Berserkers van die Noorse mites.

Berserkers, daardie benaming bly soos 'n dreiging en 'n waarskuwing in my gedagtes hang, vervul my met die vaste voorneme om oor my eie ervaringe van die oggend geen woord te rep nie. In my hand het ek my lootjie: nommer twee. Vanaand is dit my beurt om te vertel en vertel sal ek, van rustige normale sake, van 'n wêreld wat verdwyn het, van 'n tyd waarna ek met nostalgie verlang: kleinkindertyd in 'n vrugbare en waterryke paradys, noord van Kappailand en verskuil in 'n reusagtige kromming van die Draak se stert.

"Draak se stert?" Die naïewe vraag van Rosemary, maar ek raak nie ergerlik nie. Arme kind, haar voormense was van die laaste Boere wat nog aan die voet van berg Kilimanjaro 'n bestaan gemaak het. Sover ek weet woon haar ouers nou in Zambië; haar moedertaal het sy tydens haar laaste twee jaar op skool in Bloemfontein sodanig opgeknap dat slegs 'n sweempie van 'n aksent haar verraai, maar haar kennis van die Suid-Afrikaanse geografie is 'n ronde nul. Al reise wat sy nog onderneem het, was blykbaar per trein deur die Vrystaat en die Karoo tot in die Kaap en moontlik met die Flossie tussen Ysterplaat en Waterkloof.

Baas Willem ontferm hom oor haar: "Die Draak, ou Kinta, is wat algemeen bekend staan as die Drakensberge; in werklikheid 'n onvoorstelbaar enorme groot draak wat miljoene der miloene jare gelede met sy kop op sy voorpote gaan lê het in die huidige Mpumalanga, die vroeëre Oos-Transvaal. Die ou gedierte het netjies gaan lê, sy logge ou skurwe lyf al langs die Indiese Oseaan gestrek, seker om lekker te kon afkoel. Wat gebeur het, sal ons nooit weet nie, maar net daar waar hy gaan lê het, is hy dood en het hy blykbaar vinnig versteen; en soos die duisende der duisende jare verbygegaan het, het die land onder hom en langs hom van die seekant af opgestoot. Nou lê die Draak dieper land in, vorm sy lyf die grens tussen Lesotho en die streek wat vroeër bekend gestaan het as Griekwaland-Oos. Sy skubberige stert krul tot in die Noord-Oos Kaap, daar by Rhodes, Barkley-Oos, Ugie en Elliot verby. In Mpumalanga kyk toeriste deur 'n bars in sy oog; hulle noem dit "God's Window"; in Elliot kyk mense na die vreemde hoë stertsegmente wat deur wind- en watererosie gesplyt is; hulle noem dit die pilare."

Baas Willem is so goed op dreef dat ek geneë voel om hom te laat voortgaan. Hy het egter ander planne, veel meer konkreet as stories van drake en helde uit vergange sages. Sy vertederde blik rus op Rosie, sy wat so grootoog na hom sit en luister. Besitlik trek hy haar nader, "Kom kindjie, kom sit maar hier op jou goeie ou oom se skoot. Jy's gans te klein en weerloos om jou in te laat met barbare soos daardie Franticek."

Die toneeltjie laat my skielik onthou van Baas Willem se "vergaderings" daar in Simonstad, eerste ding elke oggend vroeg; sy persoonlike rituele verset teen die beroepsgerigte gesagsdraers van die vloot, die leër en die lugmag. Dit was tydens een van dié gesellige koffie-drink-en-grappe-vertel-uurtjies dat Rosemary se onskuld hom van pure pret uit sy stoel laat val het. Sal ek hom vra om te vertel? Maar nee, die twee duifies sit nou styf inmekaar gestrengel, albei effens aangeklam van die Bekerovka wat heel aand al vrylik vloei.

Dus begin ek weer, nie om my gehoor te entertain nie - hulle is buitendien al almal effens gekoring - maar terwille van myself; om in hierdie vreemde en vervreemdende wêreld weer 'n mate van vastigheid onder my voete te vind:

"Daar in die kromming van die Draak se stert, daar het my oorgrootjie oupa aan moederskant hom vroeg in die vorige eeu gevestig. Vir 'n wa en 'n span osse het my oupa se oupa Pieter Willem, 'n aansienlike gedeelte van wat vandag bekend staan as die dorp en die distrik van Elliot geruil van Ngubencuka die Tamboekiekaptein. Uit Swellendam se wêreld het hy gekom, oorgrootjie oupa; in die Vlekpoort is hy getroud met'n nooie Marais.

Ek dink enkele oomblikke na oor hoe om by my eintlike storie uit te kom; kry 'n idee en wou net weer begin, toe kolonel Jakkals honend lostrek. "Wat het ek julle gesê?" Sy's mos Edna van die Oupas en die Oumas; altyd 'n geteem oor die verlede!"

En Breë Bêrend: "Julle moes haar blyplek daar in Pretoria gesien het, 'n regte museum." Met dié voeg hy hom by die groepie Jakkals, Gavin, Ilona, Sarah en Corneille, wink die kelner nader en begin onderlangs een of ander skunnige grap vertel; so lei ek af uit die oproerige gelag wat hy ontlok.

En die enkele oorblywendes? Baas Willem en Rosemary sit eenkant in 'n hoekie met oë en aandag slegs vir mekaar; Theo, hier langs my, is vas aan die slaap. Ek sit alleen met my gedagtes, word mymerend weggevoer na daardie groen en vrugbare kontrei aan die voet van die berge; die klimaat nogal nie erg verskillend van groot dele van die Europese vasteland nie. Wintermaande gaan slaap die son reeds om vier uur in die middag agter die grys skubbe van die Draak om dan eers weer so teen elf uur se kant die volgende oggend floutjies wakker te word. So was dit op die plaas van my oupa, daar waar ek op die klein riempiestoeltjie voor die kaggelvuur kon sit en luister na sy stories.

Al langs die vensterruite verby, die aanhoudende warreling van van kapok; sneeu, sê die meeste mense, maar in daardie kontrei noem ons dit kapok. Eenkant langs die groot swart stoof is Ouma met 'n hanslam doenig. Die winter bly soms langer as te wagte; dan is dit dat die ooie te vroeg begin lam. Sy sit op 'n lae bankie en die lam klim in sy gretige gulsigheid behoorlik op haar skoot. Vir my is dit te mooi as die lam die tietiebottel so stamp en sy stertjie so vinnig laat wikkel. Vir Oupa is die toneeltjie die beginpunt van 'n herinnering.

"Ja my kind, so was jou ouma maar altyd; altyd 'n hanslam op die skoot of op die heup, of dit nou 'n skapie is of 'n kind. So het ek haar die eerste keer gesien..." Sy storie noem hy:

"Gee 'n appel vir 'n nooie en jy trou eendag met haar..."
Grootkerk en nagmaal in die distrik; ek so'n kannetjie van agt, nege jaar oud, het my reeds vroegoggend spoggerig uitgevat. In my nuwe fluweelbaadjie en -broek slenter ek, nie bietjie windmaker nie, tussen die waens en tente deur. Meeste van die ooms en tantes ken ek, en ook al ken ek hulle nie, groet ek beleefd, soos Tietser ons geleer het, net nie op Ingels nie. Ek lig my pet en buig so effentjies, eers in die rigting van die tante: "Goeie môre Tante"; dan in die rigting van die oom: "Goeie môre Oom". Ek is mos 'n gentleman, ek, klein Piet, van Oom Pieta en 'n gentleman is gesteld op 'etiquette', so ondersteun ons ma vir Tietser. Nog belangriker, sê ma, ons is bloedeie familie van die Franse adel. Dan wys sy ons haar erfenis van Hugenote, die ring met die flonkerende rooi steen.

Ma en Tietser stry oor 'etiquette'. Tietser sê dis die Ingelse se woord vir hulle mooi maniere. "Dis nou 'n strooi-en-stronk-storie!" sis Ma. "Die bietjie maniere wat die Ingelse het, het hulle by die Franse afgekyk; al hulle 'etiquette' het hulle by die Franse gesteel, ook die woord!"

Tietser is eintlik nig Louisa, die oudste dogter van Oom Dawid Marais. In die Kaap het sy, soos hulle sê, haar gelerentheid gaan kry. In die plaasskooltjie tiets sy ons troppie kinders, dit is nou haar eie jonger boeties en sussies, ek, my boeties, ons sus Fransie en nog 'n klompie buurkinders. Alles Ingels tiets sy ons: rieding, raaiting en ritmetiek.

"Oupa sê verkeerd!" onderbreek ek snipperig.

Wie vertel, ek of jy? In my storie is verkeerd sê, reg sê, soos ons dit aspris gedoen het om Tietser te treiter. En kon sy kwaad word! My agterwêreld moes dit meer as eenkeer ontgeld.

Daardie Saterdagoggend voor Grootkerk, terwyl ek so volgens die Frans 'etiquette' loop en groet, val dit my skielik by dat ek nog moet uitvind waarom die vorige week se Ingelse 'etiquette' my dan so'n afgedankste pak slae besorg het. Louisa het die kweperlat behoorlik laat swaai! Dit nogal nadat ek uiters beleefd probeer wees het...

Kyk, die ding het so gebeur. Ek en nefie Janneman Marais se werkie was om elke oggend voor skool die kallers in die onderste kampie te gaan injaag; dis nou sodat hulle nie die heeldag aan hulle ma's bly suip nie. Nou, die oggend het ons in die mielieland aan die speel geraak; gekyk wie kan vir homself die mooiste snor van droë mieliebaard maak. Toe ons ons kom kry, was dit hoeka al tyd vir skool. Dit kon nie anders nie, ons sou laat wees, nie net 'n bietjie laat nie, sommer baie laat.

Ai tog, siepsop en braaiboud is ons voorland! Maar Jannie lag reeds in sy mou. Die niksnuts het raad:

"Jy wat Klein Piet is, jy moet net mooi op Ingels die ding vir ons regpraat. Jy's mos die kleinste. As jy nou mooi met haar praat, vergeet sy skoon van my."
Ek, maar al te gretig om nie Tietser se humeurtjie te laat ontvlam nie, luister gedweë. Janneman loop die hele pad my en voorsê, op Ingels natuurlik, die beleefde towerwoorde wat die situasie sal ontlont. Ons is al vlak voor die deur van die skooltjie toe hy nog vir die soveelste keer herhaal:
"As Tietser met jou begin raas, kyk haar net reguit in die oë en dan sê jy mooi hard en duidelik..."
Wat ek moet sê, fluister hy vir ou laas vinnig in my oor; stoot my toe voor hom by die deur in.

Soos 'n springspinnekop 'n vlieg, so pak Tietser my beet; aan kraag en hare en oor lig-lig sy my tot voor die groot horlosie teen die muur agter haar desk.

"What iss de taaim?"

My oë traan van die knypdraai aan my oor en haar skril stemmetjie tuit die Ingels vir kwart oor nege skoon uit my kop uit. Al genade is Janneman se voorsê woorde:

"Aai doun kêr!"

"What joe sy?" en sy punktueer haar vraag met die kweperlat: "Woep!"
"Aai doun kêr"
Woep! Woep!
"What joe sy?"
"Aai doun kêr!" huil ek verward.
"Woep! Woep! Woep!

Vier, vyf keer, Tietser al hoe skriller en ek al hoe meer benoud en huilerig. Janneman het intussen ewe ongemerk by die deur ingeglip en sy sitplek gehaal. Hy het my darem agterna 'n tiekie en 'n mooi kleios gegee. Fransie, die klein snip, het vir Pa gaan vertel. Hy het net lekker gelag en later nog 'n tiekie in my hand gestop. Niemand het presies verduidelik waarom my mooi gepleit Tietser so ontstig het nie.

Al tobbend oor die onbegryplikheid van die lewe slenter ek dus tussen die waens en tente deur. Aan die kinders wat hier en daar speel of een of ander werkie doen, steur ek my maar min. Meeste van hulle ken ek buitendien gladnie. Ek loer nietemin tersluiks en kry alte lekker as ek sien dat hulle merk hoe spoggerig ek aangetrek is. Dit ís mos iets besonders, veral hierdie grênd broek van my met sy pofferige pype wat net onderkant die knieë vasgespe; net soos die van daardie Little Lord Fauntleroy op die prentjie in Tietser se boek.

Waar 'n paar groot seuns teen 'n wawiel bok-bok speel, bly ek staan en kyk. Die bok is al vierman diep. Aitsa, hoe spring daardie ou vetsak! Hy land sowaar stewig op die skouers van die tweede man. Triomfantlik roep hy: "Bok-bok-staan-styf, hoeveel vingers op jou lyf?" Maar, O gaats! Nog voor die antwoord kan kom, krummel die hele bok onder sy gewig.

"Kaa! Kaa! Kaa!" Ek kan my lag nie hou nie en dis die dat hulle my gewaar. Die seuns kom moeisaam uit die stof orent, staan dreigend nader: "En wie's jy nogal?"

Ek herken een van die stowwerige troep, Langjan Engelbrecht, die einste Langjan wat gedurig in die skooltjie briefies na sus Fransie aanstuur. Dis hy wat spottend begin jil: "Dis ou Aai-doun-kêr, ou Aai-doun-kêr!" Dan ter inligting van sy maats: "Hy's 'n regte hanswors, dié klein snotkop; kyk net sy kardoesbroek..."

Die ander laat nie op hulle wag nie: "Hooi, hooi, ag hoe mooi. Die hanswors het sy kardoesbroek aan!" Die voorste een, so'n regte bullebak met 'n aapgesig, stoot skielik 'n nare brulgeluid uit en stamp my dat ek op my agterstel land. Dit lyk asof hy lus het om my goed op te frommel. Gelukkig kom Langjan tussenbeide, keer die brulaap met sy lang linkerarm; maar wys nietemin spottend met sy lang regtervoorvinger na my: "Hanswors dra 'n kardoesbroek; hy sit in die kattebak en speel op sy doedelsak; ja hanswors dra 'n kardoesbroek..."

"Wat's 'n doedelsak?" wil Brulaap weet. Oor sy skouer gryns 'n ondeunde sproetgesig: "En waar's die danige doedeldinges? Êrens in daardie wye broek...?"

Ek het intussen opgestaan en besluit nou om my so vinnig moontlik, dog sonder verlies van waardigheid, uit die voete te maak. "Dom goed", dink ek, "weet nie eens van die Skotte en hulle bagpipes nie!"

Nie te ver geloop nie, kom ek af op Tant Mieta van Groentefontein waar sy met ballasmandjies vol appels staan. Sy verkoop die lekker rooiwanggoed twee vir 'n tiekie. Selfvoldaan stap ek met my appels daar weg. Een begin ek dadelik eet; hou die ander een vir later.

Toe sien ek haar, die dogtertjie. Sy's 'n tingerige ou dingetjie, so ses of sewe jaar oud in 'n verbleikte blou blommetjiesrok. Donker hare golf glinsterend oor haar skouer tot op haar regterheup. Wydsbeen op haar linkerheup sit 'n pokkel van 'n baba wat sy met albei skraal armpies vashou; seker 'n boetie of 'n sussie wat sy, so klein as wat sy is, help grootmaak. Lieflike donker oë kyk treurig verlangend na die groot rooi appel in my hand. Net daar kry ek haar alte bitterlik jammer.

Oupa kyk tergerig op na Ouma, waar sy al weer met nog 'n hanslam doenig is. Sy maak of sy niks hoor nie. Hy knipoog vir my, hervat dan sy vertelling:

Al wat ek kon doen was om my bêre-appel woordeloos na haar toe uit te hou.

Het sy skaam en ordentlik dit eers nie wou aanvaar nie? Nee, nie sy nie. Sy't liefies gelimlag, goudvlek sterretjies diep in die bruin van haar oë; met 'n hup van die heup die pokkel versit, sodat sy hom met net een arm kon vashou, en gretig die appel by my geneem. 'n Paar jaar later het ons mekaar weer gesien, in die katkisasie by ou dominee. En glo my maar my kind, sowaar as wat ons nou hier sit, gee 'n appel vir 'n nooie en jy trou eendag met haar.

"Gee 'n appel vir 'n nooie en jy trou eendag met haar..." In my mymeringe versonke is dit of ek sy stem kan hoor, hom aan die kombuistafel van die hoewe in Bloemfontein sien sit, die laaste keer toe hy die verhaaltjie vir die soveelste keer vertel het. By die negentig jaar oud was hy toe; sy tydgenote, ook Ouma, lankal nie meer daar nie; die plaas in vreemde besit. Ek hoor weer die sug en die ver verlange in sy stem. Skuldgevoel en vergeefse verdriet wil my oorval; maar skielike opwinding sketter luid deur die lug, ruk my terug na die hede,terug tussen die groepie lewendes in die biertuin.

Op'n klein verhogie onderkant die koepelopening wat 'n wye raamlose venster in die muur aan die straatkant vorm, staan paní Boccaciová heftig en beduie dat ons na iets daar oorkant moet kom kyk. Haar stem is gedemp en dringend: "Protsh! Protsh!" Sy raak stuitig aan't giggel toe alle verligting in die biertuin, die barokagtige losieshuis, trouens in die hele omgewing, asof met 'n oogknip uitdoof; net op 'n vervalle trap wat dofweg sigbaar is aan die binnekant van die murasie oorkant die straat, skyn 'n effense lig, blykbaar dié van 'n flits.

Ja, dit is 'n flitslig. Dit word al helderder namate die man of vrou of wat ook al, stadig met die trappe na benede daal. 'n Paar yslike groot voete, sommer sulke knoetse, kom in sig.

"Jesussandale!", snak Rosemary skaars hoorbaar.

Ja, inderdaad, jesussandale maar daardie olifantspote behoort beslis nie aan Franticek nie. Tamaai broekspype raak sigbaar; trap vir trap na benede, maar die flits se ligtraal word nou anders gerig, gly met elke tree wat die gigantiese persoon gee, hoër teen sy gestalte op. Die verslete broek is deurgeskif op die knieë. Nog hoër gly die lig, Die gespierde kuite en dye wat die broek laat span, is beslis dié van 'n reuse man wat nou met slegs sy onderlyf sigbaar, op die trap tot stilstand kom. Een geweldige hand rig die flits, die ander geweldige hand streel een, twee keer oor die enorm bultende gulp; op boontoe, knoop los, rits af en...

"Ag nee magtig!" Baas Willem grom verontwaardig, draai van die venster af weg en gaan sit grimmig by die naaste houttafel. Nog een of twee van die mansmense volg sy voorbeeld. Die res van die geselskap, ek inkluis, hou geboeid die verdere aksie dop, die vingers wat daardie imposante orgaan omsluit, en heftig begin pomp; alles duidelik sigbaar in die ligkring van die flits. Ons hou behoorlik ons asems op ...

Nou, nou, nou... ja, dis naby... aaa daar plof dit...

Al vuurwerke gesien, Oujaarsnag of vyf November? Daardie lang, dik cracker wat soveel belofte inhou? Gevuur stuur dit 'n wye boog van stralende vonke en helder wriemelende spatsels die donker naglug in; 'n wye verspreiding van skitterende ligpunte wat stadig neersif op die aarde.

Dat semen so ver kan trek! 'n Uitermate groot blob tref my voorkop, dring as't ware die derde oog binne...

Paní Bocacciová klap vreugdevol haar hande.
Die Tsjeggiese ÿ word uitgespreek soos die ie in "siel".

"Pÿl! Pÿl!", juig sy.

Ek probeeer met 'n snesie die gemors afvee, maar die vrou hou my teë. Haar regterhand op my skouer gestut, draai sy met haar linker my gesig na haar toe. Haar donker oë boor hipnoties in myne. Alles om my vervaag. Al waarvan ek nog bewus is, is dié vreemde vrou wat nou 'n beswerende beweging met haar verknotte hand maak. Ek voel hoe sy met haar wysvinger 'n halfmaan in die spatsel op my voorhoof trek, hoor hoe sy vir die derde keer die obsene spraakklanke uiter: "Pÿl...", maar dié keer sag en innig. Dit val nietemin nie minder kru op my oor nie.

In die ruïne oorkant die straat het die flitslig intussen uitgedoof. Die biertuin se kleurliggies skakel aan. Oral op die grond, in die blombeddings en op die klipmure is daar kolle swart en geel poeieragtige stof. Effens verdwaas en sodanig verleë dat elk die ander se oë vermy, beweeg ons terug na ons tafels. Dis net paní Bocacciová wat klaarblyklik opgewonde elke grillige spatsel inspekteer. Daar is dartelende lewenslus in haar gesette lyf. Sy is 'n bol van 'n ballerina wat vlinderfyn her en derwaarts trippel. Die kelner en sy dogter sluit lomperig by haar aan. Ook hulle kan hulle opwinding kwalik verberg.

"Pÿl!" kryt Paní, telkens as sy by een van die kolle rondtol.

"Pÿl!" dreun die kelner se lae basstem.

"Pÿl! die dogter se stem is sopraan en tril ekstaties.

"Maar word die goed nou stapelgek? So'n bohaai oor 'n pervert en sy bloeming dinges!" Baas Willem se baard wip van verontwaardiging.

Rosemary begin histeries giggel.

Ilona se helder stem verbreek die spanning. "Now wasn't that impressive Colonel! Much better than that exhibitionist in Windhoek, don't you agree?" Hierop volg enkele vertellinge oor ouens wat, ten spyte van, of selfs in die lig van die beskikbaarheid van veelrassige masseersallone, besluit het: êrens moet daar darem 'n lyn getrek word.

Heel gemoedelik gestem, soek ons laatnag ons onderskeie slaapplekke en slaapmaats op. Voor die badkamerspieël probeer ek tevergeefs die poeierige swart en geel halfmaantjie van my voorkop afvryf; dit sak sienderoë dieper onder vel en vleis en been in.

Ek droom heel nag van blomme:'n kersieboom in bruidswit getooi, die gerwe en gerwe narsings, ook die bossies viooltjies wat my ouma daar op Hundelee in sinkbaddens gereed gestapel het vir die mark; blomme en nogmaals blomme, maar almal intiem bekend uit my vorige lewens...

Heeltemal van 'n ander orde die blomme en plante wat my die volgende oggend in paní Boccaciová se biertuin en onmiddelike omgewing begroet. So asof oornag 'n bevrugtings- en groeiproses voltrek is, gedy in die vroëmôreson die mees eksotiese gewasse in volle bloei.Seker maar die ongewone weersomstandighede, probeer ek myself gerusstel. Ja, beslis die weersomstandighede as ek moet oordeel aan die welige versameling paddastoele wat tussen en onder die ander plante kop uitsteek.

Huiwerig sluit ek by Theo en Breë Bertus aan, waar hulle by een van die struike doenig is.

"Dictamnus albus, van die Ruta-familie, 'n inheemse plant van Suid- en Sentraal-Europa", verduidelik Theo. Hy laat my aan die blare ruik: pure suurlemoen, net nog skerper met iets soos balsem daarby. Mens hoef selfs nie baie naby te kom nie, die geur versprei ver in die warm stil lug.

"Ruik Bertus", maar dié draai net sy kop weg. Hy vroetel haastig in sy broeksak, kry 'n sakdoek beet en keer net betyds 'n niesontploffing wat oor ons sou gespat het.

Theo lyk ergerlik. "Gee jou vuurhoutjies vir Edna."

Dit doen Bertus so met die een hand, terwyl hy ronkend in die sakdoek blaas. Ek sien sy oë is rooi en effens toegeswel, maar dis Theo wat my aandag opeis.

"Kom staan nou net hier waar ek staan. Het jy die vuurhoutjies? Goed, trek een en hou dit naby die blare."

Ek doen wat hy beveel, maar tree vervaard agteruit en laat sommer die brandende vuurhoutjie val. Vir enkele sekondes is die hele bos omgewe deur 'n flikkerende vlam, te mooi om te aanskou.

"Kyk Bertus, daar het jy nou jou Brandende Braambos; niks bo- natuurliks nie, slegs die plant se eie hoogs ontvlambare oliedamp..."

"Orraait! Orraait, maar ek sweer, die ding het netnou sommer so vanself staan en ...aa-tsjoe!

Dis glo al die hele nag se ding, die genies van Bertus. Hooikoors in die ergste graad. Ek is dadelik die ene belangstelling en simpatie; maar net te bly om my volle aandag by iets so doodgewoon as hooikoors te bepaal.

Doodgewoon? Nie Bertus se hooikoors nie! Dit lyk selfs asof sy bors nou wil toetrek. Die mengeldrankie wat die kelner aanbeveel om die aandoening te zabijet, laat slegs die ellende toeneem. Bertus se hooikoors raak al hoe gevaarliker buite beheer. Dis duidelik 'n noodgeval wat mediese behandeling verg. Gelukkig is die Universiteitshospitaal slegs ten dele deur die vloedwaters getref. Wel moet ons van waar ons die motortjie op droë grond parkeer, sowat vyftig meter ver deur 'n sterk stroom van kniediep water waad, voordat ons by die hoogliggende afdeling allergologie uitkom.

Ons tweede struikelblok is 'n uiters afwerende verpleegster. Sy verkwalik ons dat ons haar kom steur. Dis immers ob-ed.

"Ne rozemite," (nie verstaan), maar sy herhaal net koppig: "ob-ed, ob-ed." Eindelik dring dit tot ons deur: middagetenstyd! Bertus se verontwaardiging oortref hare. Ob-ed of de not, hy het 'n dokter nodig! Eindelik willig sy in om minstens sy bloeddruk te neem.

"Alarm!" Sy bloeddruk is so hoog hy moet dadelik na internice.

Nou is Bertus eers benoud. "Asseblief ou Theo, hoe sê mens, ek is alergies. My seun kry asma."

Theo sê voor en hy herhaal: "Ne internice, jsem alericky a muy syn ma asma!"

Enkele minute later sit Bertus met 'n ontblote arm in die spreekkamer van Mudr Dana Pasteurová. Sy is lank en lenig met 'n blonde krullebol en die blouste blou oë waaruit klein ladinkies weerlig blits. Uit 'n twaalftal buisies drup sy aan die binnekant van sy voorarm eers een ry van ses en daarnaas nog 'n ry van ses verskillende druppeltjies, kerf dan onder elke druppeltjie die vel so effentjies. Nie te lank nie of een van die twaalf kerfseltjies swel tot 'n yslike rooi knobbel. Bertus moet hom inhou om nie te krap nie.

Mudr Dana Pasteurová bekyk die knobbel asof dit 'n pessiekte is, werp dan 'n verskroeiende blik op Bertus. "Pÿl," hyg sy, "Pÿl".

'n Yslike "godverdomme!" ontstyg Theo. Met onverhole weersin kyk hy na die arme Bertus wat nou kleur op kleur kry.

Mudr Dana Pasteurová het haar intussen grimmig van ons afgewend en kortaf enkele Tsjeggiese bevele aan die verpleegster gegee. So stomverslae is Bertus dat hy hom sonder slag of stoot aan die genade van dié furie oorgee. Selfs toe sy met sadistiese genoegdoening hom twee gruwelike inspuitings toedien, een op elke boud, ontsnap nie die geringste geluid sy dig opmekaar gepersde lippe nie.

In doodse stilte ry ons terug na paní Boccaciová se losieshuis. Bertus sluip soos 'n verleë hond op na sy kamer toe. Ek en Theo bly in die biertuin agter. Van die ander Suid-Afrikaners voeg hulle nuuskierig by ons: "Wat sê die dokter?" Theo antwoord met 'n herhaling van die enkele woord wat Dana Pasteurová gebesig het. Oor die reaksie van ons vriende, die konsternasie en skunnige opmerkings ten koste van Bertus, laat ek liefs 'n sluier val. Ek en Theo bestel dva velke pivo (twee groot biere), weet eintlik nie wat om verder te së nie, sit maar so proe-proe bier in die hand en kyk hoe paní Boccaciová daar eenkant met 'n yslike mandjie oor haar arm aan't paddastoele versamel is.

Dis Breë Bertus wat dié onrustige rustigheid verbreek. Doelgerig pyl hy uit die huis uit op ons af, gooi 'n klein Tsjeggies/Duitse woordeboekie op die tafel voor Ilona neer: "Kyk of jy daardie bleddie woord in die boek kan kry; ek het my nou al blou gesoek, weet nie hoe die Tsjegge dit spel nie!"

Hy plof op die oop sitplek tussen my en Baas Willem neer, roep na die kelner en begin op gedempte toon sy bekommernis teenoor sy ou vriend lug: "Weet nie wat hulle my ingespuit het nie. Moontlik hormone, maar nou is ek behoorlik aan't opdroog en wegkrimp..."

Ilona het intussen geduldig begin soek, die plek gekry en hou dit met haar vinger oop. Met 'n onpeilbare glinstering in die oog gee sy die woordeboek vir Bertus aan.

"Stop worrying, Bert. Neither your family jewels, nor your little warrior is at stake."

Ons bondel saam om oor Bertus se skouers na die woord en sy betekenis te kyk. Eerste wat in alfabetiese volgorde die oog vang, is Pÿj met daarnaas die klinies-fisiologiese benaming Edna Deudneyvir die manlike orgaan; dan ewe onskuldig die gewraakte woord, Pÿl: Blütenstaube.

Dit duur 'n wyle voordat die betekenis insink: Blütenstaube, pollen, stuifmeel. Van pure verligting begin Bertus deurmekaar nies en lag, sit daarmee die noot in vir 'n algemene skaterkoor.

* * * * *


Onse angeltjie het die pleger van die verhale hierbo, Edna Deudney, van die begin af 'n seer gewaardeerde ondersteuner en medewerker, opgespoor in Londen waar die huweliksklokkies vir haar gelui het.


Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy

Terug na BO















Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/heuwel.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]