Edna Deudney
N |
O |
O |
(R) |
D |
B |
E |
S |
T |
A |
A |
N |
* |
IV |
* |
Dis presies wat die aantreklike Kurt Pfannenmannn van die Waidhaus Grenzpolizei gesê het. Dit was nou nadat hulle my uitgevang het, en hy my sware koffers help oordra het van die Duitse, terug na die Tsjeggiese kant van die grens. Ek, nog vol bravade, kon toe antwoord dat dit minstens 'n interessante ervaring is. Min wis ek wat nog voorlê.
Ek was buitendien, ten spyte van die ellendige vernedering, eerder kwaad vir die amptenaar van die besondere buitelandse ambassade in Praag. Dis mos hy wat my opgestry het, my twee aangesien het vir 'n agt en toe in plaas van my schengenvisum uit te maak vir 12/06, dit uitgemaak het vir 18/06. O ja, hy was bereid om my 'n nuwe een te gee maar slegs as ek 'n verdere 1,500 Tsjeggiese krone sou betaal. Bid jou aan, 1500 krone, 'n sesde van my totale maandelikse loon aan 'n Tsjeggiese universiteit en meer as 'n kwart van wat ek oorhou om van te leef na aftrekkings: huur, gesondheidsorg, ensovoort! Om die amptenaar se handgeskrewe 8 terug te verander na 'n 2 was myns insiens meer as geregverdig. Dit het ek sommer daar in die ontvangskamer van die ambassade gedoen; nog vir my Suid-Afrikaanse kollega wat grootoog toegekyk het, gesê: Dié: keer is dit eenvoudig. Slegs een syfer om te verander...O Ook was ek nie in die minste bedag op enige reperkussies nie. Is ek dan nie twee keer tevore met selfs minder geringe vervalsings ongehinderd oor die grense heen nie? Die eerste keer ter wille van een salige oornagting in Parys, die ander na 'n week verlengde verblyf in België, maar nou dat ek daaroor nadink, dit was die groot en belangrike MAAR, albei kere op pad terug na Tsjeggië. Tog logies dat die grenspolisie my toe maar deur die vingers laat glip het. So nie, sou hulle met my in hulle eie land opgeskeep gesit het. Maar verdomp! 'n Waarskuwing sou nie onvanpas gewees het nie. Dan het ek immers geweet watter gruwelike straf met die soort oortreding gepaard gaan. Nee, toe wag hulle my maar in, soos spinnekoppe 'n onbesorgde vlinder.
Nie dat ek daardie dag soos 'n vlinder gelyk of gevoel het nie. Belas en belade is ek uit Olomouc weg, my laptop in my rugsak, twee sware koffers om te sleep, nog 'n kamera ook, en op die koop toe, bekommerd oor Dirk se noodroep om bystand.
Ai hoe kom alles terug, so asof ek die gesukkel weer beleef! Om een uur die middag van die 12de Junie per trem na die busterminus, toe die twee uur lange busrit van Olomouc tot in Brno, toe die drie uur lange wag op die busstasie en deurentyd die gemoedstryd van, om te trou of nie... Eers op die internasionale bus en eindelik op pad, roete Brno - Praag - Pilsen - Rozvadov - Waidhaus, ontdek ek dat ek kamera en padkos êrens laat lê het, die kamera waarskynlik in die eerste bus.
Wel, gedane sake het geen keer nie. Ek rig my toe maar so gemaklik moontlik op die heel agterste vier sitplekke van die bus in vir die nag; hou my slaapmaskertjie en oorproppe gereed en kort voor ons aankoms om middernag by die grens, sluk ek my slaappil. Die sou begin werk sodra ons deur paspoortbeheer is.
Toe die eerste kinkel! By Rozvadov moet ek uit die bus uit sukkel. Die Tsjeggiese grenspolisie eis verduidelikings. Waar is my nuwe Tsjeggiese visum? Verontwaardig toon ek my skriftelike vernuwing van verblyf, maar skaars is ek brom-brom onder die nuuskierige blikke van die ander passasiers terug in die bus, of die busbestuurder kom my weer haal, dié keer met nog 'n ernstiger gesig.
Dis een van die Duitse Grenzpolizei wat my inwag en na die Waidhaus grenspos, so 'n vyftig tree verder, begelei. 'n Mooierige lang kêrel, die offisier Pfannenmannn, en sodanig simpatiek dat ek, toe hy my oor die syferverandering op my schengen uitvra, oneindig verlig met die hele sak patats voor die dag kom.
Die bus het intussen vertrek; dit nadat die verontwaardigde bestuurder my bagasie en ander rommel uitgelaai het. En daar staan ek toe, met al my bondels in die barre kantoor by die rustige Kurt Pfannenmannn en sy stugge kollega. Twee, drie keer moet ek my handtekening op 'n strook wit papier aanbring. Daarna, terwyl ek al onrustiger toekyk, begin die kollega teen 'n verligte skerm my paspoort ondersoek; bladsy vir bladsy, bring hy een na die ander my sondes aan die lig.
Dik rooi strepe trek hy telkens deur my schengenvisums, die oues en die nuwe. Op laasgenoemde se agterblad bring hy die gewone stempel van goedkeuring aan: 'n reghoek met bo links die Europese Unie se sterresirkel en in die middel daarvan 'n D vir Duitsland, die afbeelding van 'n motor bo regs en onder links die pyltjie wat op deurgang dui, gevolg deur die letters WA vir Waidhaus en die woord OBAHN. Met die trek van dik swart strepe deur die vier sy kante kanselleer hy die stempel.
Ek is koud geskrik en nugter wakker; beantwoord al die vrae waarmee hy my vervolgens peper, pront en eerlik. My Duits raak vloeiender, maar my onrus groter, en my brein begin op twee vlakke funksioneer. Beelde uit 'n boek oor Ruzyne, die berugte gevangenis naby die Praagse lughawe, kom by my op: oorvol selle, elk met 'n kykgaatjie in die deur en nog een, wat na binne breër loop, in die muur geboor, sodat dit 'n uitsig bied op die nie-afgeskermde hurk-WC. Sou die Duitse gevangenisse veel anders wees?
Of ek Tsjeggies praat? Nee? Nou hoe kommunikeer ek dan met my studente? My eie taal? Afrikaans? Ongehoord! Dis duidelik dat die ongenaakbare offisier my hele uitleg as 'n versinsel beskou. Ja nee, Ruzyne is my voorland.
Gevangenislug, sigaretterook wat nêrens heen kan nie, want die vensters is klein met tralies en 'n vlegwerk van dik staal wat haas geen lug deurlaat nie; boonop nog die geur van ongewaste en siek liggame, die stank van latrines en slegte voedsel, die walm van telkens en telkens weer in- en uitgeasemde lug. Dis hierdie gedagtes wat my, terwyl ek so skuldig voor die twee Duitse geregsdienaars staan, innerlik laat bewe. Ek behou egter my dapper front.
Pfannenmannn neem by sy kollega oor. Suid-Afrikaanse burger? Nou waar het jy dan Duits leer praat?
"Auf Schule, mein Herr", en ek neem die geleentheid waar om te vertel dat Duits vroeër in Suid-Afrika 'n populêre skoolvak was; wei sommer uit oor die mate van simpatie wat daar tydens die Tweede Wêreld Oorlog vir Duitsland was. Dit lyk asof ek die Duitsers se menslike belangstelling begin wek, want nog ander gewoon nuuskierige vrae volg. Die stemming raak amper gemoedelik. Pfannenmann skryf sy naam in my verjaarsdagboekie. Selfs die kollega ontdooi. In my boekie teken ook hy sy naam, nie by sy verjaarsdagdatum nie, maar by die 13de Junie waar hy 'n strokie papier inplak met nog so 'n gekanselleerde stempel en daarlangs die volgende getik: Leider geht es heute nicht nach Deutschland oder ein anderes europ. Land. Bleib in der Tschechei.
Nadat hulle 'n skuldverklaring aan my voorgelees het, en ek dit onderteken het, help Pfannenmann my om my bagasie terug te sleep na die Tsjeggiese grenspos. Ryloop terug Praag toe is my voorland.
Die omgewing is donker en verlate. Slegs in die Tsjeggiese grenspolisie se kantore brand daar lig. Ver op die rand van die dorpie waarvan die huise soos swart skaduwees in nagslaap staan, flikker die liggies van 'n rooi hartjie aan en af, aan en af: 'n bordeel se welkomsgroet.
'n Voertuig kom uit die duisternis aangedreun. Dis 'n toerbus. Destinasie Brno sien ek voorop aangegee, toe dit tot stilstand kom. Die drywer klim stywerig uit, begewe hom na kantoor waar die visums van sy passasier nagegaan sal word. Met 'n hartklop wat huiwer tussen hoop en vertwyfeling nader ek hom, toe hy uiteindelik weer te voorskyn kom.
"Pros'm pane, kolik do Brne?"
Die drywer, blykbaar nie onbekend met die soort situasie waarin ek my bevind nie, wil egter eers weet hoeveel ek kan betaal. Drie honderd Tsjeggiese krone is al wat ek by my het. Die stop hy sonder meer in sy broeksak en laai dan my bagasie in die ruim. Ek kry 'n ongemaklike sitplek voor in die vol bus. Weldra koers ons oor die drie tot vier kilometer gelykpad tussen die verlate padstalletjies deur; die koopware van geverfde gips, groteske tuinkabouters en ander sprokiesfigure, ook mitiese en hedendaagse helde, enkele trios negermusikante, selfs hier en daar 'n groen dinosourus, spookagtig dreigend agter tralieskerms sigbaar.
Eers toe die pad deur die koesterende duisternis van die Böhmer Wald tussen Rozvadov en Pilsen kronkel, begin my hartklop bedaar. Ek raak lomerig, dink nog vaagweg daaraan dat ek minstens my kamera by die busterminus in Brno sal kan opspoor. Toe oorval die slaap my.
Ligdag in Brno aangekom, is alles by die busterminus reeds in rep en roer, maar die kantoor vir verlore goedere maak eers om nege uur oop. Dit skep 'n probleem want om, soos ek intussen met grenslose optimisme beplan het, nog daardie selfde dag van die dertiende Junie, weer 'n schengenvisum en 'n buskaartjie vir België te kry, moet ek om sewe uur 'n bus terug na Praag haal. Die beamptes aan diens is vriendelik, wil graag help, beraadslaag onder mekaar. 'n Mooi blondine wat behalwe Duits, ook Engels redelik magtig is, neem verantwoordelikheid. In watter bus uit Olomouc en presies waar in die bus het ek my kamera laat bly lê? Die tien uur bus? Goed, en sy skakel 'n nommer. Sukses! Die busbestuurder het die kamerasak met kamera en ekstra lense self in bewaring geneem. Hy woon nie ver nie, sal dit dadelik bring.
Dié voorspoedige afloop versterk my optimisme sodanig dat ek besluit om die vernederende Waidhaus ervaring as bemoeienis van my Engele te beskou. Hulle wou sekerlik verhoed dat ek my waardevolle kamera verloor!
Ook in Praag verloop alles uiters voorspoedig. By die gerieflike dog betaalbare studente-tehuis, Kolej Petrská, in die nabye omgewing van die busterminus en metrostasie Florenc, kry ek plek vir een oornagting en moontlik 'n tweede, indien nodig. 'n Grote geluk, want die Boheemse hoofstad word deesdae so oorstroom deur toeriste dat onbespreekte verblyf slegs by hoë uitsondering beskikbaar is. Daarna haas ek my na die ambassade waar ek op die kop twaalf uur middag weer uitstap met 'n nuwe onbedorwe visum veilig in my sak. Nou nog net 'n kaartjie vir die eerste beste bus na België, en voilá!
Dis 'n ander busdiens en ons vertrek vroeër, kom dus ook vroeër by die grens aan. Weer die roetine van paspoortkontrole. Vol vertroue dat alles tog in orde is, oorhandig ek myne, dog weer eens het die Tsjegge 'n probleem. Ek vererg my. Drie maande tevore reeds het ek al die nodige aansoeke gedoen en daar is die vernuwing van verblyf tog aangeteken! Maar nou vind die Tsjegge dat dit nie voldoen nie. Daarby moet ook 'n nuwe visum wees. Dit begin by my deurskemer dat die vreemdelingepolisie in Olomouc fouteer het, my aansoek nie volledig prosesseer het nie. Verduidelik help nie, dus baklei ek. Hulle het immers nie die reg om my as Suid-Afrikaanse burger teë te hou as ek hulle land wil verlaat nie! Dit werk, dog, die oorwinning is futiel. Ek moet my ook by die Duitse polisie gaan aanmeld. Dié het intussen reeds my bagasie van die bus laat laai.
Daar is ander offisiere aan diens. Die een, so 'n kort klein Hitler-tipe, smyt my paspoort voor my op die toonbank neer, beskuldig my daarvan dat ek die nuwe schengenvisum valslik bekom het. Nog nooit! Maar niks wat ek sê, maak enige verskil nie. Grimmig bekrap hy die visum met rooi; bons die kansellasiestempel daarop. Knorrig dreig hy om my op te sluit as ek weer my opwagting by Waidhaus maak. Met 'n laaste snork van verontwaardiging draai hy op sy hakke om, maak 'n obsene teken in my rigting, stap dan by die kantoor uit om buite 'n twintigtal bedremmelde sigeuners te gaan verskreeu. Die tweede offisier neem oor. Hy is meer genaakbaar, dra eiehandig my bagasie oor na die Tsjeggiese grens, vra een van die agente daar om 'n ogie oor my te hou. Dis duidelik dat hy, sowel as sy Tsjeggiese kollega, die sigeuners wat nou ook op 'n rygeleentheid terug na Praag staan en wag, glad nie vertrou nie.
So teen middernag daag daar uiteindelik 'n bus op uit die rigting van Duitsland. Dis leeg. Die Tsjeggiese offisier onderhandel met die drywer. Die sigeuners bondel die bus in. Met 'n laaste waarskuwing dat ek goed op my bagasie moet let, help my bewaker my die bus in.
Ek raak nie soos die vorige keer rustig aan die slaap nie. Ook maar goed, want toe die bus eindelik deur die strate van Praag begin koers, is ek wawyd wakker genoeg om te merk dat die omgewing al vreemder word, beslis nie die bekende pad na busterminus Florenc nie. Op my gestamelde navraag oor waarheen ons op pad is, kry ek die antwoord: Slovensko. Benoud dring ek op my gebroke Tsjeggies by die drywer aan om my by die sentrale spoorwegstasie, Hlavnì Nadrazì, af te laai.
So gebeur dit dat ek om kwart oor twee daardie nag, met my rugsak en twee sware koffers in 'n verlate straat aan die onverligte kant van 'n massiewe gebouekompleks beland. Teen die naghemel onderskei ek nietemin, so min of meer in die middel van die kompleks, die grillige dakkoepels van Hlavnì Nadrazì. Vanwaar ek staan, kyk ek egter teen 'n soliede muur vas, met slegs aan die een kant 'n soort traliewerk om 'n donker gat. 'n Trap of roltrap na binne?
'n Verwoede rumoer êrens versteur skielik die nagtelike stilte. Ek hoor glasskerwe spat. Kalm bly Katryn, kalm bly, maan ek myself, doen nietemin met 'n duisend skietgebede 'n dringende beroep op my Engele, skraap dan die moed bymekaar om die donker stinkende trap verby die urinoirs aan te durf.
Toe ek eindelik die voorkant van Hlavnì Nadrazì bereik, lê die hele wêreld met glasstukke en bakstene besaai. Oral op die terras bondel klompies-klompies opstandige woestaards saam. Aan die binnekant van die gebou, agter die versplinterde glasdeure, staan 'n falanks gewapende polisie. Waarskynlik hulle wat die leeglêers uit hulle skuilpekke in die donker gange en verlate perronne van die stasie verdryf het. Die atmosfeer is een van smeulende dreiging. Gelukkig maak 'n polisievrou vir my oop.
Hlavnì Nadrazì of Wilsonovo Nadrazì, soos dit voor die kommunistiese era bekend gestaan het, is teen 'n helling geleë en strek onder 'n hoë gewelf oor verskillende vlakke wat onderling met trappe verbind is. Bedags is die hele stasie een bonte geroesemoes van mense tussen die talle stalletjies met kosware, snuisterye of boeke, koerante en tydskrifte. Opvallend egter is die gebrek aan sitplek. Daarvoor dien slegs die randstene aan die voet van enkele massiewe pilare. Snags is die hele grote plek waarskynlik totaal verlate.
Nee tog nie heeltemal verlate nie, merk ek, toe ek verby die polisiekordon na agter beweeg. Hier en daar, gestut teen 'n muur of teen bagasie, sit-lê enkele gehawende mansmense en slaap. Ook elke beskikbare sitplek by die pilare is deur slapendes in beslag geneem; almal manlik en te oordeel aan die bagasie, geweefde tasse en sakke van gekleurde plastiek, waarskynlik Slowaakse trekarbeiders. In een hoek, op slaapmatjies tussen rugsakke, lê wel 'n vyftal jeugdige toeriste. In 'n gedeelte van die tweede vlak wat oordag as restaurant dien, sit by tafeltjies nog 'n klomp gehawendes. Sommige slaap sommer so half met die bolyf op 'n tafel, die kop op gevoude arms; ander speel kaart of sit wesenloos voor hulle en uitstaar. Tabakrook hang 'n wolk oor die plek.
Gelukkig kon die polisievrou by die deur "ein Bischen Deutsch sprechen" en weet ek dat ek my bagasie in bewaring kan laat. As dit nie oop is nie daar, moet ek slegs hard aanklop, het sy gesê. Verlig om van die sware vrag ontslae te raak, is dit presies wat ek doen.
Half bedwelmd van slaapgebrek en liggaamlik tot die uiterste toe vermoeid, weet ek eerlik nie hoe ek die res van daardie nag in Hlavnì Nadrazì omgedwaal het nie. Die metro het eers om sewe-uur die oggend weer begin funksioneer. By Kolej Petrská aangekom, moes ek ook daar nog tot openingstyd wag, toe nog mooi pleit om voor tien uur 'n kamer te kry. Ek het in die bed gekruip en deurgeslaap tot die volgende oggend.
Verkwik na liggaam en gees, kry ek vroeg-vroeg my planne en aksies mooi agtermekaar. Nie weer met 'n bus na die Duitse grens nie, O nee! Ek bespreek sommer telefonies 'n vlug; sal op Ruzyné- lughawe met my Visa-kaart betaal, skuld of de not. 'n Schengenvisum kry ek weer eens sonder moeite, al waarsku die beampte dat hy nie 'n probleemlose reis kan waarborg nie. Daarenteen wens die eerste sekretaris, 'n Vlaming en goeie vriend van my en Dirk, my 'n aangename en rustige verblyf in België toe.
Soos te wagte is daar weer 'n oponthoud toe ek in Ruzyné-lughawe deur paspoortbeheer moet gaan, maar ek het voorsorg getref, het die telefoonnommer van die vriendelike vreemdelingepolisie in Olomouc byderhand. Hulle sal verduidelik. Na min of meer 'n halfuur se wag word ek dan ook deurgelaat.
Ek geniet die vlug terdeë, kry die aangenaam blye hartklop van weersiens toe die vliegtuig by Zaventem neerstryk. Die breër glimlag waarmee ek my paspoort oorhandig, word met warm vriendelikheid teruggekaats. Nog net die stempel, 'n blote formaliteit, dink ek, dog, net toe die dametjie haar hand lig, keer haar kollega haar. Met 'n veelseggende blik vestig hy haar aandag op die skerm van die komper voor hulle, "Even wachten mevrouw", en sy hand reik na 'n telefoon. Ek staan beteuterd opsy, merk met groeiende onrus hoe by die volgende kontrolepunt eers 'n lang benige Afrikaan en kort daarna 'n dametjie met 'n aantreklike Spaanse voorkoms ook uitgekeer word. Dan val 'n swaar hand op my skouer en ek kyk om in die streng gelaat van 'n swaargewapende gendarme. Agter hom staan nog een, ewe swaar gewapen. Onder tientalle nuuskierige blikke word ek en die twee ander ongelukkiges in haas militêre gelid weggevoer.
Dis 'n taamlike beknopte vertrek, waarin ons ons na sowat 'n kwartier bevind. Ingekerker tussen barre mure en die kantore van die Zaventemse rijkswacht, is dit deeglik van die buitewêreld afgesluit. Asof verhoorafwagtend sit daar nog 'n aantal verkommerde wesens, almal manlike Afrikane op enkele rye harde houtbankies. Ek bekyk die situasie, besluit nee, so laat ek nie met my mors nie. Kloekmoedig dring ek daarop aan om met die offisier in bevel te praat. Met my schengen is alles tog in orde.
Die man is geduldig maar onverbiddelik streng. "Nee mevrouw, 't gaat niet. U bent in Waidhaus gesignaleerd, u mag geen schengenland betreden." Haas wanhopig beroep ek my op die offisier se gevoel van medemenslikheid. Sal hulle minstens vir Dirk, wat teen die tyd waarskynlik erg bekommerd buite op my wag, laat weet wat gaande is? Goed, hy sal sien wat gedoen kan word.
Ek skep effens moed toe Dirk na sowat 'n halfuur sy verskyning in die offisier se kantoor maak. Ek word ingeroep. In die enkele minute gesprekstyd wat ons toegestaan word, besluit ons dat regstreekse onderhandeling met die Belgiese parlement my enigste hoop op vrylating is.
Daarna maar weer terug na my houtbankie toe en wag en wag en wonder; ook met een en ander van my lotgenote 'n geselsie aanknoop. Die benige Afrikaan is Engels effens magtig. Wat sy moedertaal is, kan ek nie uitmaak nie, maar hy besig ook 'n vorm van Portugees. Pretugese vermoed ek, soos ons in die weermag die patois van die Angolese genoem het. Hy is die enigste daar wat min of meer met die mooi kind, wat soos dit blyk, êrens uit Latyns-Amerika kom, kan kommunikeer. Besonder uitgesproke is 'n korterige kêrel met 'n Oosterse voorkoms. Die soort ding is iets wat hy nou reeds vir die soveelste keer ervaar. Alles die skuld van die skeepsmaatskappy in wie se diens hy matroos is. Maar nou ja, die rijkswacht sal weldra hulle fout agterkom. Inderdaad, laat middag word hy opgehaal; moontlik om vrygelaat te word, maar moontlik ook deportasie. Wie sou kon sê?
Vir ons ander sleep die ure traag verby. In die afgeslotenheid van die vreemde wagkamer, wat slegs elektries verlig is, is die stand van die son geensins te bepaal nie. Toe ons uiteindelik onder gewapende begeleiding die lokaal verlaat, is dit buite reeds donkernag. Waarheen word ons geneem? Met 'n tikkie ironie in sy stem antwoord een van die rijkswacht, "Naar een hotel, mevrouw, naar een hotel." Die Suid-Amerikaanse meisie begin onbedaarlik snik; nie ten onregte nie, want toe ons na 'n lange wandeltog in verlate gange van Zaventem by ons bestemming aanland, blyk die hotel 'n spesiale gevangenis te wees; gelukkig nie een met selle nie, maar nietemin 'n tronk en op die oog af reeds goed bevolk.
Daar is twee naasmekaar liggende slaapsale, een vir mans en een vir dames; reg daarteenoor en dienooreenkomstig ingedeel, twee klein toiletkamers elk voorsien van 'n stort en 'n latrine; daarbenewens, te oordeel aan die tafels en stoele en die flikkerende televisietoestel, 'n eet- en ontspanningslokaal. Voor langs die staaldeur wat dig toegeskuif het agter ons rûe, is 'n kantoortjie ingerig. Daar, by 'n lessenaar sit ons bewakers; by hulle 'n vriendelike Viëtnamees wat ons welkom heet, die veronderstelling uitspreek dat ons teen die tyd sekerlik erg honger is. Nou ja, hy is ons kok, sal sorg vir toebroodjies en koffie, maar eers moet ons van ons spulle ontslae raak, ook 'n lêplekkie vir die nag gaan opsoek.
In die slaapsaal vir dames staan vyf stapelbeddens, waarvan twee redelik onbeset lyk. Die lakens en kussings is mooi wit en skoon, die enkele grys kombers wat aan die voetenent van elke dek lê, is armoedig dun, maar te oordeel aan die seepreuk darem skoon. Versigtig om nie die paar slapendes te steur nie, kies ek die boonste dek van die een leë bed. Daar sal ek hopelik ongestoord kan slaap, niemand wat oor my hoef te klim nie. 'n Laaste beeld voordat ek my oë sluit, is van die Suid- Amerikanertjie gekniel by die stapelbed reg teenoor myne; voor haar 'n Bybel met op die omslag 'n kruis geborduur. Die vingers van een slanke hand beweeg angsvallig oor die krale van haar rosekrans.
So asof sy nooit die nag geslaap het nie, is haar vooroorgeboë lyfie ook die eerste wat ek die volgende oggend sien. Geleidelik kom die res van die saal tot lewe. Uit die laagste dek van 'n bed wat my die vorige aand opgeval het vanweë 'n grys kombers wat soos 'n gordyn van bo na onder hang, kruip eers een en onmiddellik daarna nog 'n jong vrou. Hulle lyk soos 'n tweeling, die een haas nie te onderskei van die ander nie; edel gelaatstrekke, welgevormde skedels spieëlglad geskeer, elk met die ranke liggaam van 'n Naomi Campbell en elegant omvou van okerkleurige weefstof. Ek kyk gefassineer na die ritueel wat volg. Op die barre vloer word twee koerante soos matjies oopgesprei. Gesigte na die Ooste gewend, kniel die tweetal, salaam plegtig.
Heeltemal anders van voorkoms en waarskynlik ook van aard en agtergrond is die drie jong vroue wat saamgebondel op die bed in die hoek mekaar met die vasspeld en regplooi van hulle Afrika-rokke help. Veral opvallend is die een van wie die metaalblou kleed besonder mooi afsteek teen die gesonde gladheid van haar vel; kompleet asof gedrapeer oor gepoleerde ebbehout. Haar oë donker poele, loer uitdagend uit onder stapels en krulle van glinsterende swart kunshaar.
Dis sy wat later in die eetsaal die bediening en veral die eentonigheid van voedsel luidrugtig kritiseer, nogal op Engels. Die Italianers ja, die weet hoe om mense te behandel, nie soos die klomp hier in Zaventem nie. Selfs in Ghana, drie jaar gelede toe sy daar weg is, was dinge beter. Ong See, die kok, glimlag slegs gemoedelik, bring nog stapels brood en konfyt. Of hy haar Engels verstaan het, weet ek nie. Sy Nederlands is heel skaflik. Hy praat ook Frans, tree op as tolk en raadgewer veral vir die groot aantal manlike Afrikane wat die res van die bevolking uitmaak, van hierdie plek wat bekend staan as die Zaventemse Sentrum.
Ek kry die boodskap dat ek 'n bepaalde Brusselse telefoonnommer moet bel. Groot probleem, want daarvoor het ek 'n telefoonkaart nodig. Dié is wel te koop maar ek het nie voldoende Belgiese frank by my nie. Dis Ong See wat help, sy kaart vir my leen en selfs geen betaling vir die enkele oproep wil aanneem nie.
Dis Dirk aan die lyn. Hy was so pas weer by Binnelandse Sake en meen daar is 'n sprankie hoop, kon minstens my deportasie uitgestel kry. Deportasie, mor ek later in my enigheid, waarheen nogal? Terug na Tsjeggië gaan ek beslis nie nou dat ek so ver gekom het nie. Dan eerder Londen, waar ek nie soos 'n uitgeworpene sal voel nie. By my vriende daar sal Dirk my kan besoek. Tog besef ek maar alte goed dat ek geen reg het op grimmigheid nie. Wie oortree, sal gestraf word, berusting dus, berusting en gelate aanvaarding van wat my Engele vir my bewerk.
Eers lank na die telefoongesprek kry ek kans om my so min of meer te gaan reinig; sommer met die goedkoop seep my hare ook gewas. Nogal 'n metamorfose en een wat my lotgenote behoorlik geval. Nie meer die olierige toutjies wat ek tydens die reis onder 'n pet verberg het nie, maar 'n Afrika-haardos soos min. Goed so, dié stywe spring- en krulkrag is my verre erfnis, 'n draai wat by die strooispaal gemaak is. Ek is nie van hier nie, deel nie die kille Germaanse nugterheid nie, voel my, om die waarheid te sê, hier tussen die ontheemdes al hoe meer tuis.
Een van die manne kom my opsoek. Hy stel hom voor as Sowza Francisco. Sy versoek: Mama, please, we need cream. Al wat ek by my het, is 'n botteltjie koringkiemolie waarvan hy dankbaar gebruik maak om die droë vel op sy bene en arms in te smeer. Ek wil die olie nie heeltemal uit my besit laat gaan nie, moet dus saam na die eetsaal waar daar nog skurwe arms en bene baat vind by my offergawe.
Die eet- en ontspanningsaal is 'n woelige plek waar veral die manne kongregeer. Soos gehawende trekvoëls op telefoonlyne sit en hang hulle oor en op die tafels en stoele. Die televisie flikker en blêr. Na my klein weldaad onttrek ek my weer na die betreklike kalmte van die vrouesaal.
In die een hoek reg langs die groot vensters wat uitkyk op die landingstroke van die vliegveld, sit 'n groepie van twee mans en vier vroue gesellig om die Ghanese skoonheid geskaar. Ek word vriendelik nader gewink. Die benige Afrikaan, 'n Nigeriër, soos ek later verneem, eien my behoorlik toe. Met sy arm om my lyf geslaan, dring hy my tot in hulle midde.
"You see, she's from South Africa," sê hy, slaan dan oor in 'n ander taal. Stemklanke van goedkeuring verwelkom my. Mejuffrou Ghana neem die leiding: "Ah, South Africa! Mandela! In Ghana we sing, we love you Mandela." Sy begin sing; die ander val huiwerig in. Dit word 'n sangles. Van agter die grys kombersgordyn loer ook nou die tweeling uit. Hulle lê kop aan voet ingepas op die onderste dek van die bed.
So, weggekruip agter die kombers, lê hulle feitlik die hele dag om, kom slegs skamerig te voorskyn om te gaan eet of om die toiletgeriewe te gebruik. Ek maak telkens 'n punt daarvan om hulle vriendelik te groet, sien dat Sowza en nog 'n ander kêrel soms met hulle gesels en neem my voor om deur hom minstens hulle name en miskien een en ander oor hulle agtergrond te verneem. Daar is iets omtrent hulle wat my aangryp.
Daardie aand voordat ek aan die slaap raak, besluit ek, dis seker maar my eie brokkies herinnering uit Afrika wat ek aan hulle knoop en wat my nou hinder. So duidelik sien ek weer voor my geestesoog die Tamboekievrou waar sy by die skuinsgevalle reus van 'n kameeldoringboom langs die klipskuur sit en velle brei, een van haar tweelingbabas by haar, die ander een 'n paar treë verder aan die ander kant van die boomstomp, toegewikkel in 'n skamele rooi bai. Die een baba voed sy gereeld, die ander een laat sy so bly lê, steur haar skynbaar nie daaraan as hy telkens floutjies kerm nie.
Ek kan dit nie begryp nie, raak ontsteld, maar kan nie daar wegbly nie. Onder die kameeldorings boer ook die plaaskatte. 'n Werkie wat ek maar alte graag vir Ouma Prinsloo doen, is om hulle te gaan kos gee, dan sommer met die klein katjies speel. Waarom laat die vrou net een baba drink, wil ek by Ouma weet. Ai tog, die stomme skepsels, is haar enigste kommentaar.
Twee dae, drie dae en elke dag is die vrou daar aan't werk met die velle, maar op die derde dag is slegs die een baba by haar. Die lêplekke van die kermkindjie is leeg. Nonduma, my speelmaatjie, prewel net een bot woord: "dood", toe ek vra. Nee, hy was nie siek nie, die voorvaders het dit so laat gebeur en sonder verdere uitleg sit sy weer die kop van die houtboog in haar mond, laat die strykstok van droë kakiebos oor die enkele snaar gly. Sy speel 'n eentonige deuntjie wat weemoedig voortdreun, 'n deuntjie wat klaend inbeur teen die hartseer en ontbering van die vroue van Afrika.
Later, veel later, ek was al in die hoërskool en moes 'n opstel skryf, toe vertel Oupa Marais my van dié gewoonte van die Tamboekies. By die geboorte van 'n tweeling plant die vader twee steggies, een links en een regs van die moeder se stroois. Groei en gedy albei, mag die babas bly leef, groei slegs een, moet een van die tweeling kwyn en sterf.
Ook die Ovahimbas van Kaokoland in Namibië laat in bepaalde omstandighede een of selfs albei tweelingbabas sterf. 'n Aangrypende voorval het die gewoonte onder my aandag gebring. Dit was tydens een van my besoeke aan die geletterdheidsentrum by die hospitaal in Opowo. Ek is toegelaat om te kyk hoe die jong weermagdokters deur middel van 'n keisersnee die lewe van 'n moeder en haar tweelingbabas red. Die Ovahimbavrou, een van die horde vlugtelinge uit die oorloggeteisterde gebied verder noord, was reeds 'n dag of twee in baring voordat sy by die hospitaal uitgekom het. Algemene vreugde onder die hospitaalpersoneel toe die moeilike noodoperasie slaag, dog, kort na die vrou se ontslag, die wrede ontnugtering. 'n Skoonmaker ontdek in 'n asblik die lykies van die tweeling wat kort tevore nog so lewenskragtig daaruit gesien het. Uitslag van die outopsie, versmoring. Die Xhosa-verpleegster wat assisteer, merk sinies op: "Dit kon ons mos geweet het in 'n swaar tyd soos dié." Ek onthou dat een van die jong weermanne my vertel het hoe die hongerige vlugtelinge op die kamp se ashope toesak, hulle hande sny soos hulle reste uit blikkies probeer krap
Vroeg die volgende oggend is die hele Sentrum in beroering. Nuus trek deur die sale dat 'n aantal persone vrygelaat gaan word. Algemene opwinding! Vir ingeval, net vir ingeval, begin elkeen van die dames, ek inkluis, die paar stukkies bagasie wat ons by ons kon hou, regpak en reghou. So teen elfuur kom 'n rijkswachter binne, beduie dat die dame uit Suid-Amerika en die mooi Ghanees hom moet volg. Daarna maar weer berusting. Gelukkig het ek leesstof by my.
Teen laat middag word ek na die kantoor ontbied. Die ontvangs is vriendelik. Daar is 'n berig dat my saak by meneer Tobback, die Minister van Binnelandse Sake, aanhangig gemaak is. Ek merk dat my omstandighede nuuskierigheid wek, voel egter nie geneë om veel bloot te gee nie.
Terug in die slaapsaal vind ek Sowza en nog 'n man in gesprek met die tweeling en een van die ander dames. Ek grawe my verjaarsdagboekie uit my rugsak. Met 'n selfvoldane gebaar teken Sowza sy naam. En die meisies? Nee, hulle kan nie skryf nie, ook nie hulle landgenote nie; weet nie presies wanneer hulle gebore is nie. Hulle name sal hy vir my probeer spel, ten minste so goed as wat hy dit kan uitmaak. Hy spel en ek skryf: Darami Adamu a Bamago, Semira Adamu a Bamago, Tali Mariam a Bamago en Abdulli Zup a Bamago.
Of hulle daardie oggend verwag het om ook vrygelaat te word? Ja, tog 'n bietjie, veral die tweeling, maar dié het nog steeds goeie hoop. Twee dae tevore was daar 'n man, die aalmoesenier van die rijkswacht, wat met hulle kom praat het, wou weet waarom hulle uit hulle land gevlug het. Toe kon hulle vertel: waar hulle vandaan kom, beskou die mense hulle as onnatuurlik. Geen man sal ooit vir hulle beeste uithaal vir vrouvat nie, bang hulle bring ongeluk. Maar hier, hier sal hulle miskien kan werk, in elk geval bymekaar kan bly. En dit is wat hulle wil, bymekaar bly, mekaar oppas, soos hulle ma hulle mooi opgepas het, sy wat hulle alleen so swaar grootgemaak het, hulle nogtans geleer het om hulleself te ag.
Ek vra nie watter soort werk hulle wil doen nie. Die keuse is in hulle geval waarskynlik reeds beperk tot enkele strate in een of ander rosse buurt. Mag die Engele tog maar die aalmoesenier bystaan om hulle te help.
Kort voor slapenstyd is daar weer 'n berig vir my. Minister Tobback verleen aan my toelating tot die Belgiese grondgebied. Die vergunning is onmiddellik geldig, maar beduie die wag, eers moet hulle self sekere administratiewe sake afhandel. Dus maar rustig gaan slaap, "Elfuur morgen wordt u opgehaald".
Van die administratiewe pligte wat die rijkwacht die volgende dag nog moet afhandel, behels 'n hele boel papierwerk. Ek kyk toe hoe my naam in die annale van die Sentrum verewig word. Daarna weer 'n lang wandeling in gange, steeds onder gewapende begeleiding, ook 'n rit in 'n soort vangwa om my bagasie te gaan identifiseer. Eindelik bevind ek my weer, wagtend op een van die houtbankies in dieselfde lokaal as drie dae tevore. Die hoof van die rijkswacht laat my ontbied. Verleë en hartgrondig beskaamd staan ek voor sy lessenaar terwyl hy my paspoort van die nodige stempels voorsien en 'n grimmige prekie afsteek: "Ik vind deze zaak hoogst onregelmatig en onrechtvaardig. U heeft geld en kent personen in hoge posities, dus anders als de andere arme drommels komt u vrij..."
Enkele dae later, blyk die ware lot van een van die arme drommels op tragiese wyse. Sensasionele radio- en koerantberigte vertel hoe 'n vrou uit die Sentrum onder dwang uitgesleep is na die vliegtuig wat haar en nog ander terug sou neem na hulle land van herkoms in Afrika. Haar luide gekerm is met 'n kussing gedemp, so deeglik dat sy van versmoring gesterf het. Haar naam, Semira Adamu.
Groot opskudding, protesoptogte en betogings. Saamgesleur deur 'n opgewonde skare bevind ek en Dirk ons op die Koningspleintjie in die kleurvolle Antwerpse buurt wat oorwegend deur Sentraal-Afrikane bewoon word. Brandende kerse op die grond, oproeriges wat sarsie op sarsie bierbottels te pletter smyt, baniere met slagspreuke. 'n Vlag word verbrand. Oor 'n luidspreker deklameer 'n gesette Afrikaan: "Il faut laisser entrer les sans papiers. Tobback fasciste!"
"Tobback fasciste! Tobback fasciste!" herhaal die skare. Nog bierbottels ontplof. Die hoë gerunnik van Afrika-vroue klief deur die lug. Uit die berugte systraatjie met talle uithangborde van "Kamer te huur" peul die dames, kom joelend en runnikend aan op die plein. In hulle geledere 'n opvallende vrou, haar metaalblou kleed om haar lendene gedrapeer; haar borste, gepoleerde ebbehout, uitdagend ontbloot.
In die dae wat volg, word alle sentra waar vreemdelinge in aanhouding verkeer deur betogers beleër. Tobback swig onder die druk, bedank uit sy pos. In die algemene administratiewe verwarring wat heers, gooi die sentra hulle deure oop. Die Afrikane verdwyn al gou, word blykbaar deur hulle landgenote opgeneem en ondersteun. Soos Noag se raaf sal hulle moontlik oorleef, desnoods tussen die afval en uitskot van die westerse welvaartmaatskappy. Daarenteen toon televisiebeelde vrygelate Oos-Europeërs, waarskynlik Kroate en Slowaakse sigeuners wat sonder herberg of heenkome bedremmeld voor die sentrum in Kortenberg ronddwaal. Vir hulle was die sentrum, vir 'n ruk lank altans, 'n veilige ark in die vloed van die wêreldgeskiedenis.
|
|
|