RESENSIES

.....................................................


Disclaimer

1. Musieksterre van gister en vandag. Lewenssketse en foto's van meer as 100 musieksterre - deur Danie C. Pretorius (1998)

2. Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1 - H.P. van Coller (red.) (1998)


Troepie Doep en Kerkorrel speel saam

Musieksterre van gister en vandag. Lewenssketse en foto's van meer as 100 musieksterre - deur Danie C. Pretorius (1998)

Om 'n boek te beoordeel waarvan die outeur erken dat dit "nie net die resultaat van 'n liefdestaak (is) nie, maar ook die vervulling van 'n lewensideaal" is geen maklike taak nie.

Musieksterre van Gister en Vandag is 'n naslaanwerk oor Afrikaanse musiekkunstenaars ("77 komponiste, 30 Buiteblad: Musieksterre van gister en
vandag instrumentaliste, 32 sangeresse, 62 sangers, 1 koor, 10 sangpare, 10 orkesleiers en 1 musiekentrepreneur"), alfabeties georden van A Capella tot by Yoti (die Griekse Boertjie). Van elk verskyn daar 'n foto en word uitgebreide (myns insiens heelwat irrelevante) biografiese besonderhede verstrek. Kupido, weet ons byvoorbeeld nou, is ongetroud, Bles Bridges is getroud met Leonie (dit het ons geweet), Jannie du Toit is geskei en Anton Goosen het twee dogters uit elk van sy twee vorige huwelike. En van elke kunstenaar word natuurlik sy/haar grootste treffers gelys.

In die voorwoord verduidelik die outeur self dat sy "unieke publikasie ... bedoel (is) ... om hulde te bring aan die musiekkunstenaars" (p.7) en hulde bring hy inderdaad. Deur die bank. Van Bles Bridges word daar gesê dat hy "deur connoisseurs van musiek beskou (word) as die grootste minnesanger wat dié land nog opgelewer het" (p. 31); van Rina Hugo dat sy "bo alle twyfel in 'n ander klas" is (p. 118); van Leon Schuster dat hy 'n "volksheld" is en 'n "geniale, vindingryke en energieke vermaaklikheidster op wie Suid-Afrika met reg trots kan wees" (p. 207). Wanneer Pretorius aan die sogenaamde alternatiewes hulde bring, is dit ietwat versigter: "Koos Kombuis was nog altyd anders", en dit is "die andersheid wat hom so 'n groot aanhang laat kry het" (p. 134). Johannes Kerkorrel se "anderste manier van dinge doen, maak hom nie oral gewild nie, maar dat hy kán sing en oor besondere talente beskik, is nie te betwyfel nie" (p. 127).

Leon Schuster is nie die enigste kunstenaar wat as 'n "volksheld" beskryf word nie; in die oë van die outeur is al die Musieksterre van Gister en Vandag volkshelde. Die boek wil, volgens die agterbladopsomming, 'n "blywende monument" vir hierdie Afrikanervolkshelde wees. Heel gepas dan as dit in die openingsparagraaf van die voorwoord ingelei word met die bekende boodskap van die groot volksheld: "Want wie vir hom 'n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: soek in die verlede alles wat goed en mooi is wat daarin gevind kan word, vorm daarvolgens u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik" (p. 7). Onwillekeurig, en nie sonder verkneukeling nie, onthou 'n mens dan Koos Kombuis (toe nog André le Toit) se eerste woorde op die demo-kasset wat hy in 1986 aan Shifty Records gestuur het en wat later onveranderd as kasset en CD vrygestel is met die titel Vêr van die ou Kalahari. So lui dié inleiding, tussen snuiwe en wynslukke deur: "Paul Kruger het gesê ... 'Haal uit jou toekoms en wys dat ons kan kyk hoe's jy ge...' of so iets. Ek kan nie onthou nie. Maar anyway, ek is 'n nuwe Afrikaanse sanger. Ek het die hele fase gemis van Anton Goosen en Laurika Rauch en Musiek-en-Rumatiek en daai goed in die Statusteater. So ek het 'n bietjie baie laat op die toneel gekom."

Afrikaanse sangers is nie een groot gelukkige familie nie. Nog minder is hulle volkshelde wat in gelid marsjeer; (vergelyk die uitspraak op die agterblad: "Deur die bladsye van die boek marsjeer ons grootste musieksterre van gister en vandag"). In 'n onderhoud met die Vrye Weekblad (9 Mei 1991) het Johannes Kerkorrel hom byvoorbeeld per geleentheid gedistansieer van "die soort van sweef soos 'n arend tipe van stront". Vir dié wat nie weet nie: "Sweef soos 'n arend" is een van die "100 Grootste Afrikaanse Treffers" en "dié uitstekende lied is deur Mynie Grové gekomponeer en is met groot sukses deur Danie Niehaus, Rina Hugo, Jan de Wet, Karin Hougaard en Bles Bridges opgeneem", aldus Pretorius (p. 274). (Miskien, probeer ek myself oortuig, IS Pretorius se boek 'n nuttige naslaanwerk).

Arme Bles ("so genoem omdat sy Ierse oupa altyd vir hom 'bless you' gesê het" (p. 32). Soms lyk dit of die hele Voëlvry-beweging 'n reaksie op hóm was. Dink maar aan die woorde van die dinamiese jong dame wat deur Die Naaimasjiene (op die Voëlvry-toer nog bekend as Randy Rambo en die Rough Riders) aan die woord gestel word in hulle Voëlvry-song "Jong Dames Dinamiek (maak my siek)": "ek lees Tryna du Toit en aanbid vir Bles/en help my kinders met hul kinderkransles..." Of aan Koos Kombuis se opmerking in 'n onderhoud met Beeld (29 Julie 1991): "(d)ie hele alternatiewe beweging was beperk tot die P.W. Botha- en Bles Bridges-era". Hy voeg by: Nou, in 1991, "het ons vir F.W. de Klerk en Steve Hofmeyr." Laasgenoemde, "(m)et sy blonde hare, blou oë, rasperhees stem, byderwetse kleredrag en seunsagtige sjarme is ... as die goue seun van die Suid-Afrikaanse musiekpubliek beskryf", aldus ons handige naslaanbron (p. 113).

Afrikaanse sangers is nié een groot gelukkige familie nie en daarom werk die foto-collage bandontwerp van Musieksterre nie. Ongemaklik pryk hul gesigte hier almal saam: Die ruiter van die windjie op die voorblad se boonste linkerhoek, Kerkorrel in die onderste linkerhoek, Steve Hofmeyr in die boonste regterhoek op die agterblad, tannie Rina Hugo êrens in die middel. Een van haar grootste treffers was "Troepie Doepie", trouens, dit is een van "100 Grootste Afrikaanse Treffers" (volksheld Leon Schuster het die lirieke geskryf, sê ons naslaanbron op p. 274): "Troepie Doepie wanneer kom jy huis toe/in die vreemde hoor jy hoe ek roep/stap deur bos en sand/en doen jou plig teenoor jou land/maar kom terug na my my Troepie Doep". In dieselfde trant het oom Bles oor die "Onbekende Weermagman" gesing (een van sy grootste treffers): "Onbekende Weermagman die mense praat oor jou/oor jou dappere verlede want jy wil 'n toekoms bou/op grensdiens gaan die tyd so vinnig en so snel verby/jul stry die vyand waar jul kan hul wil ons land verkry" ensovoorts (i.e., en so dreun dit voort). Hierteenoor staan liedjies soos "Die soldatehemel" ("want te kosbaar is die lewe/om op oorloë te vermors") en "Lola van Luanda" ("binne sit soldate en drink whiskey uur na uur/en droom van vrede en van vroue en van bed") van Coenie de Villiers wie se foto die boonste regterhoek op die voorblad gehaal het, en Koos Kombuis (wat nie die bandontwerp gehaal het nie) se "Bar op De Aar" ("stukkende aande/al die lang maande/en 'n botteltjie blou/wat my twee jaar moet hou...").

Iets in die kombinasie werk nie. Die boek is bedoel "(v)ir die liefhebber van ligte Afrikaanse musiek" (agterbladteks), maar God alleen kan die ruiter van die windjie én Kerkorrel en Kombuis lief hê. "Ligte Afrikaanse musiek - met die uitsonderings van die Musiek en Liriek- en Voëlvry-bewegings - val ook in die kategorie van verstrooiingsmusiek", het Theunis Engelbrecht in 1991 verklaar, en ek is geneig om met hom saam te stem: "Hierdie kunstenaars het op 'n eenselwige en eensydige wyse 'n knus, selfgenoegsame gekkeparadys besing wat op sy beste 'n onthutsende beeld is van hoe die grootste deel van die Afrikaner-bevolking weens sy bevoorregte sosiaal-politieke posisie in sy ivoortoring tred verloor het met die kontemporêre Suid-Afrikaanse werklikheid" (in Gouws & Roodt, 1992, Granaat. Vyftig eietydse essays, p. 84).

Miskien is dit wat my die meeste pla van die boek: die aanname dat daar, op grond van taal, van eenheid sprake is. Dít, en naïewe nasionalistiese uitsprake soos dat "die Afrikaner" iemand is wat "in wese lief vir sy land, sy mense, sy taal, sy kultuur en sy musiek" (p. 7) en dat musiek "'n kunsvorm (is) wat mense met 'n liefde vir hul eie saambind" (p. 9). Hier het ons byna 'n eggo van die voorwoord tot die FAK-sangbundel waarin die hoop uitgespreek word dat die liedere "Afrikaners sal saamsnoer en van 'n mooi, gemeenskaplike kultuurbesit sal bewus hou".

Pieter Fourie het eenkeer hoë Afrikaanse kultuursmaak, hoë-middel Afrikaanse kultuursmaak, lae-middel Afrikaanse kultuursmaak en lae Afrikaanse kultuursmaak probeer karakteriseer op grond van voorkeurpatrone wat betref onder meer luisterstof (Gouws & Roodt, 1992, Granaat. Vyftig eietydse essays, p. 94-98). Lae Afrikaanse musieksmaak sluit volgens hom Cora Marié, Kupido en Leon Schuster in. In dieselfde asem maak hy egter die opmerking dat "die Briels ... nou Africana (is) vir die hoë-kultuursmaak". Daarmee trek ek alle implisiete kritiek teen Bles terug. Wie weet in wie se smaak hy oor vyftig jaar gaan val.

Inderdaad: "As u omgee vir ons Afrikaanse musiek, taal en kultuur, sal dié boek 'n ereplek in u boekrak beklee" (p. 8). My kopie steek ek voorlopig snobisties weg. Tot tyd en wyl dit hoë kultuursmaak word.

Resensie deur
Mariana Kriel
Port Elizabeth

Musieksterre van gister en vandag. Lewenssketse en foto's van meer
as 100 musieksterre
- deur Danie C. Pretorius (1998)
word uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun

ISBN: 0 7993 2429 9

R85.00 in die handel
R68.00 indien direk van uitgewer bestel
277 bladsye

Besoek Radio Oranje se Argief vir Afrikaanse musiek as jy in Afrikaanse musiek belangstel.

Nuwe Perspektief wys toekoms lê oop voor

Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1
onder redaksie van H.P. van Coller (1998)

Lees-, geniet- en studiewerk vir die volgende millennium - dis hoe ek die sewe honderd vyf- en-dertig bladsye van die nuwe Perspektief en profiel se Deel 1 onder redaksie van H.P. van Coller sou wou kenskets. Absoluut noodsaaklike leeswerk vir enigeen wat in Afrikaanse letterkunde belangstel.

Buiteblad: Perspektief en profiel Dié Afrikaanse literatuurgeskiedenis - die eerste omvattende een na Kannemeyer s'n net minder as twee dekades gelede - kon nie op 'n meer geleë tyd verskyn het nie. Die Afrikaanse literêre produksie van die afgelope dekade of wat het toenemend vir "opdatering" gevrá. Dié Perspektief en profiel sal ook dan die eerste Afrikaanse literatuurgeskiedenis wees om te verskyn in 'n konteks waar postmodernisme as heersende ingesteldheid beide die kreatiewe en die intellektuele tonele grondliggend omvorm het. Die wisselwerking tussen dié nuwe klimaat en die literatuurgeskiedskrywing in die nuwe Perspektief en profiel sorg vir 'n boeiende en fassinerende resultaat.

In Van Coller se hande het die formaat van P.J. Nienaber se breinkind grootliks behoue gebly, met die gebruiklike langer historiografiese gedeeltes ("perspektiewe") gevolg deur bydraes oor individuele skrywers ("profiele"). Die perspektiewe in die eerste volume fokus op Afrikaanse literêre produksie voor die twintigste eeu (deur Vernon February), die ontwikkeling van prosa in die huidige eeu (Henriette Roos) en die ontwikkeling van die Afrikaanse drama (Rob Antonissen, André P. Brink en Louw Odendaal). Vir Deel 2 word in die vooruitsig gestel: perspektiewe op die poësie, nie-gekanoniseerde literatuur en op die werk van vroueskrywers. Dié groter verskeidenheid kan gesien word as afwyking van Nienaber se basis, maar kan ook 'n ontwikkeling verteenwoordig. In die voorwoord stel Van Coller dat Nienaber se oogmerke behoue gebly het, naamlik om tendense aan te toon en om "'n balans tussen omvangrykheid en dieptestudie" te handhaaf.

Die resultaat is indrukwekkend, om die minste te sê. Die beeld van die Afrikaanse letterkunde waarmee die leser na 'n eerste lesing gelaat word, is inderdaad in die woorde van Henriette Roos, soos dít wat Bart Nel voor hom moes gesien het waar hy na die "ver ruim lig" uitstap: 'n toekoms wat "uitdagend nuut en oop vorentoe lê" (112). Belangrike groeipunte wat in hierdie verband aangedui kan word, sluit die volgende in: die plasing van Afrikaans langs Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde; 'n duideliker sensitiwiteit vir die relatiewe aard van literêre kritiek; die bespreking van korpora tekste met verwysing na rubrieke soos "koloniale literatuur"(21), "nasionalistiese letterkunde" (35), "grensliteratuur" (85), "postmodernisme" (98), "die stem van die vrou" (101) en "geskiedenis" (106) - en my gunsteling, die betrekking van Fanon by 'n bespreking van die GRA, 'n verband wat l-a-a-n-k-a-l gemaak moes gewees het. Die onderwerpe en studievelde wat met terme en rubrieke soos die voorafgaande aangedui word, móét die stapelvoedsel wees van toekomstige studente in Afrikaans. In hierdie opsig is Perspektief en profiel waardevolle en onontbeerlike voorskryfmateriaal. Dit verskaf duidelik leiding: ons kan nie meer net voortgaan om "die Afrikaanse letterkunde" in isolasie te benader nie - die snypunte tussen die letterkunde en ander diskoerse moet ter sprake kom.

Wat verder tot 'n positiewe ervaring bydra, is die kwaliteit van die werk in die "profiele", ofskoon dié werk van wisselende gehalte is. Maar iets anders kan mens ook nie verwag waar soveel kritici by 'n projek betrek word nie. Die aanslag in hierdie gedeeltes is oor die algemeen helder en sonder veel vakjargon, sodat dit vir die gewone leser toeganklik is - en verrykend sal wees. Enkele van die bydraes in hierdie gedeelte is juwele wat wesenlike bydraes tot insig in die betrokke literêre figure verteenwoordig en die basis sou kon vorm vir groter selfstandige studies. Vir my staan die profiele van Hein Viljoen oor Breytenbach, Anita Lindenberg oor André P. Brink, Spies oor Eybers, Van Zuydam oor Ingrid Jonker, Olivier oor N.P. van Wyk Louw en Britz oor W.E.G. Louw uit soos polsende bakens (die stof waaroor die onderskeie kritici skryf, help natuurlik ook).

Soos hulle sê, "so far so good", want krapperighede is daar ook, sommige van 'n meer fundamentele aard (as daar nog van so iets gepraat kan word in hierdie tye). Eerste, die perspektiewe. Die hutspot geskiedskrywing wat hier te vinde is, maak vir 'n fassinerende gesig op moontlike benaderings en strek vanaf die briljante, oor die inkoherente en onbeholpe tot by die banale. Net hieruit sal 'n wonderlike kursus oor literatuurgeskiedskrywing aangebied kan word. Hier vind mens moontlik ook van die redes waarom daar periodiek gekla word dat die geskiedskrywing van Afrikaanse drama afgeskeep word. As alle geskiedskrywers die soort banale geskiedskrywing beoefen wat te siene is in Louw Odendaal se bydrae, wil mens sê, dan is die afskeping van die drama geregverdig. Veel interessanter is egter Henriette Roos se bydrae oor die prosa. Dit is vir my 'n aangrypende voorbeeld van hoe goeie (polities-korrekte) intensies ondermyn word deur metodologiese onbeholpenheid en die soort teoretiese opportunisme kenmerkend van kritici wat kennis ondergeskik stel aan (postmoderne) politieke pragmatiek.

Alhoewel die meerderheid "groeipunte" wat hierbo aangedui word uit Roos se bydrae kom, kan 'n mens nie nalaat om op te merk dat hierdie winste gepaard gaan met 'n groot mate van metodologiese inkonsekwentheid nie. Wanneer Roos oorkoepelende oordele vel oor vroeëre Afrikaanse prosa, aanvaar sy negatiewe oordele (veral dié van Gerwel) onkrities as absoluut kanoniek. Negatiewe oordele oor die prosa van die Sestigers en meer resente werk, word egter sonder veel ophaal opsygeskuif. Wat in hierdie verband dan ook veral interessant is, is dat die opsyskuiwing van die kritiek nie plaasvind met verwysing na 'n sosiaal-politiek-gebaseerde oordeel, soos by die vroeëre tekste nie, maar met verwysing na estetiese kriteria. Gardner se oordeel dat die Sestigers "Afrika geïgnoreer" het (64), antwoord Roos byvoorbeeld deur te sê dat die prosaproduksie van die sestigerjare en later "inderdaad een van betekenisvolle vernuwing" is (72). Die toppunt van dié inkonsekwentheid kom wanneer sy die prosa van J.C. Steyn positief beoordeel as "'n eie, boeiende weergawe" van die betrokke tendens (79-80). Hierdie soort inkonsekwensie is soortgelyk aan dié wat Stewart Crehan in 'n resensie van Michael Chapman se Southern African Literatures aangestip het: wanneer Chapman 'betrokke' werk deur swart outeurs evalueer, kritiseer hy dit omdat dit esteties tekortskiet; wanneer hy esteties bedrewe werk deur blanke outeurs evalueer, vind hy dit polities onbevredigend.

Die plasing van die benadering wat Roos volg langs dié van Kannemeyer sou myns insiens vir 'n interessante studie sorg. Vir my lyk dit asof Roos op sekere gebiede vooruitgang verteenwoordig, soos waar dit gaan oor die "groeipunte" wat hierbo aangestip is. Waar dit gaan oor die historiese raam of narratief waarin sy letterkunde plaas, is sy egter nog in presies dieselfde geselskap as Kannemeyer - vir beide beteken "geskiedenis" grootliks politieke geskiedenis. Ook die integrasie van "samelewing" en letterkunde wat Roos aan die begin van haar bydrae beloof (21), ontwikkel nie werklik veel verder as dit wat deur Kannemeyer bereik is nie. Aan die negatiewe kant verteenwoordig Roos se benadering vis à vis dié van Kannemeyer 'n definitiewe agteruitgang, veral wat haar oordele oor die ouer Afrikaanse prosa betref. Die resultaat van haar benadering is in hierdie verband 'n negatief-gekleurde reduksionistiese siening. Alhoewel dié soort van afkeer teenoor die verlede modieus is, is dit nie goeie geskiedskrywing nie. Rassisme, kolonialisme en nasionalistiese stryd is nie ál prosesse wat in die verlede aan die gang was en wat hul merk op die letterkunde gelaat het nie. Sonder die modernisering van die Afrikaner vanaf die middel van die vorige eeu, is die sosiale basis waarop die vernuwing van Sestig plaasgevind het byvoorbeeld geheel en al ondenkbaar. Die tekens van dié proses(se) kan ook uit "reaksionêre" tekste afgelees word.

Die insluiting van Antonissen se perspektief op die drama is in hierdie opsig 'n uiters briljante, waardevolle en kreatiewe inval van die redakteur. My gewaarwording met die (her)lees van hierdie gedeelte was dat Antonissen se literatuurgeskiedskrywing nog steeds die beste verteenwoordig in Afrikaans, ten spyte van die feit dat hy behoort tot 'n ouer (en nou se dae, meermale veragte) intellektuele tradisie. Maak nie saak hoe polities-korrek, konteks-sensitief, byderwets, postmodern, of wat ookal, hedendaagse Afrikaanse literatuurgeskiedskrywers probeer om te wees nie, hy troef hulle almal (ek kan nie wág vir Deel 2 nie). Antonissen het, myns insiens, 'n "perspektief" gevind waardeur op briljante ekonomiese wyse gebalanseerde insig in die Afrikaanse literêre sisteem oorgedra word. Die manier waarop hy tekste selekteer, organiseer en evalueer, en sy resultate uitdruk in stylvolle, bondige uitsprake, bly 'n model om na te streef.

Antonissen se bydrae het vir my ook nog 'n probleem op die voorgrond geskuif, naamlik dié van die waardering of evaluering van literêre tekste. In pas met die postmodernistiese tydsgees is dit tans hoogmode om alle oordeel (behalwe die "gelegitimeerde" kritiek op stereotipering en chauvinisme) op te skort en om daarmee saam veral die lokale (oftewel "geposisioneerde") aan te prys. Soort van, "I'm Ok, you're OK, maar moet my asseblief tog net nie kritiseer nie - daarvoor is daar geïdentifiseerde teikens". Die manier waarop Antonissen nog op bykans "aristokratiese" manier in staat was om oordele te vel - en die resultate van so 'n benadering - plaas die huidige praktyk myns insiens in 'n redelike slegte lig. En dan is dit ook opmerklik hoe daar in baie van die profiele nog op die "ou" manier gewerk word en tekste op grond van estetiese kriteria beoordeel word. Die status wat ons tans aan estetiese waardering toeken, behoef myns insiens 'n grondliggende vraagstelling. Die manier waarop die "lokale" - die "aansluiting by Afrika" - as sine qua non verhef word, het my ook baie ongemaklik laat voel. Is ons nie terug op pad na (of al reeds weer by) 'n nuwe soort "gemoedelike, kleinburgerlike, lokale realisme" nie? Antonissen se bydrae en die manier waarop dit die huidige ingesteldheid in reliëf stel, het my laat wonder: Is dit nie dalk tyd dat die soort van fundamentele kritiek wat deur Dan Roodt geloods is (in Restant en Ons erfdeel), ernstig opgeneem moet word nie?

Wat die profiele betref, moet die "hatchet-job" van Heidi de Villiers op D.F. Malherbe een van die ergstes in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde wees. Mens gaan ver moet soek vir 'n beter voorbeeld van 'n gebrek aan historiese en kontekstuele insig. (Gelukkig is haar bydrae kort). Wat die keuse van profiele betref, is daar ook vrae te vra, soos: Waar is Reza de Wet? (haar werk word wel uitvoerig bespreek in die perspektief-gedeelte van Odendaal oor die drama, maar nog steeds); As Joan Hambidge ingesluit kan word, waar is Johann de Lange, Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, Jeanette Ferreira, Marlise Joubert...?; Hoe het die lys gelyk waaruit gekies is en op watter gronde is keuses gemaak?

Die buiteblad het my van die eerste oogopslag af gehinder. Dit is grafies uiters treffend, maar die konnotasies verbonde aan "woestyn" wat dit by my opgeroep het, bly krap. (Dit het my laat dink aan die RSG-advertensie met die skape, en die manier waarop dié advertensiereeks Afrikaanse mense plaas). Is die Afrikaanse letterkunde droog, steriel, onvriendelik? Lê die boek voor mens soos 'n nuwe Dorsland-trek? Definitief nie indrukke wat die inhoud van die boek by mens laat nie. Nog 'n gedagte wat by my opgekom het, is dat die buiteblad-beeld verband hou met wat al die "woestyn van relatiwiteit" genoem is. Met die lees van die boek het ek eerder gedink aan die universum wat Dante in sy Divinia Commedia optower, of die wêrelde van Bosch se skilderye, en nader aan ons, die taferele van Tommy Motswai.

Maar dan weer, miskien is dit nie so erg nie, met Deel 2 kan dié buiteblad in 'n ander lig te staan kom. En miskien is die werking van die beeld tog gepas as vergestalting van die kyk op die Afrikaanse letterkunde wat mens in dié literatuurgeskiedenis kry - verbluffend ryk, heterogeen, dinamies. 'n Ervaring wat moeilik onder woorde te bring is en belofte inhou van nog vele ure se intense studie, debat, vraagstelling en ontdekking.

Resensie deur:
Philip John
Umtata

Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1 (1998) onder redaksie van H.P. van Coller word uitgegee deur
J.L. van Schaik.

ISBN: 0 627 02346 0
735 bladsye, sagteband
R120.00

Lees 'n resensie oor

Perspektief en profiel. Deel 2



NUWE BOEKE

Onse angeltjie het die volgende nuwe boeke ontvang:

1. 'n Juffrou vir Skurwekop/Dierbare drosters - Sarah du Pisanie (1999)

2. Boereoorlogstories. 34 Verhale oor die oorlog van 1899 - 1902
- saamgestel deur Jeanette Ferreira (1998)

3. Bannelinge oor die oseaan. Boerekrygsgevangenes 1899 - 1902
- deur Coen Groenewald (1992/1998)

4. Staan vas! Openbaring sê jy kan...
'n Bybelstudiegids oor krag vir elke dag uit Openbaring
- Schutte Venter (1998)

5. Die eerste winter - Hennie Human (1999)


Buiteblad: 'n Juffrou
vir Skurwekop
'n Juffrou vir Skurwekop
Dierbare drosters

deur Sarah du Pisanie (1999)

'n Juffrou vir Skurwekop speel af in 'n unieke seunskool in Namibië, waar Bertus Kruger die dertig hoërskoolseuns met 'n ysterhand regeer en alleen koning kraai. Toe Juffrou Annie Delport as onderwyseres daar aangestel word, is sy die eerste vrou wat dié heiligdom betree...

Met 'n hart wat oorloop van liefde vir haar naaste, en haar onblusbare lewensvreugde, trap sy vir haar 'n pad oop tot binne-in elkeen van die boerseuns se harte.

Selfs nie eers die ongenaakbare, eensame Bertus Kruger is teen Annie se spontaneïteit bestand nie; en toe die seuns sien wats heilsame invloed sy op ou "Zeus" uitoefen, begin hulle allerhande plannetjies maak om Cupido te speel...

In Dierbare drosters word die skatryk Barend von Throtha skielik met die versorging van vyf meisiekinders opgesaal, ná hul vader se onverwagte dood. Hy beluit om die vier jonger dogters na 'n weeshuis te stuur en vir die oudste werk te kry, dan hoef hy hom nie oor hulle opvoeding te bekommer nie.

Barend von Throtha ken egter nie die Viljoen-dogters nie en die hegte liefdesband wat hulle saambind nie. Toe hy sy oë uitvee, het hulle spoorloos verdwyn! Hy sit die polisie op hulle spoor, en vra ook vir sy seun Ludwig, wat nou boer op die plaas waar die Viljoens eers gewoon het, om op die uitkyk vir hulle te wees.

Terwyl Ludwig eendag te perd op sy nuwe plaas ry, merk hy 'n pragtige bosnimf in die veld op. Sy bly in sy gedagtes, maar hy kan nie uitvind wie sy is nie, totdat hy op 'n dag vir Selons, die prospekteerder, onverhoeds betrap....

'n Juffrou vir Skurwekop/Dierbare dosters word uitgegee deur
J.P. van der Walt en Seun
ISBN: 0 7993 2605 4
Hardeband, 303 bladsye

R59.95 in die handel
R52.52 indien direk van die uitgewer bestel


Buiteblad: Die eerste winter Die eerste winter

deur Hennie Human (1999)

Met Die eerste winter maak die bekende draaiboekskrywer van onder andere Vyfster sy debuut as romanskrywer . Hy weef 'n pakkende verhaal om mense wat as gevolg van die oorlog tussen die Boererepublieke en Brittanje, noodgedwonge saam en ook uitmekaar gedwing word.

Vir die Kolonialer Paul Hugo is dit nie sy oorlog nie. Dit is 'n oorlog wat hy so gou moontlik beëindig wil sien sodat hy met sy sorgvrye lewe kan voortgaan. Maar wanneer sy pad dié van Cecile Conradie kruis daardie eerste winter van 1900, word hulle deel van die oorlog om onafhanklikheid en ook van 'n eie innerlike stryd..

Human bevolk sy verhaal met interessante, geloofwaardige karakters en spanningsituasies wat die leser enduit boei.

UITGEWER: J.P. van der Walt en Seun
PRYS: In die handel: R79,95
Direk van die uitgewer: R63,95 (posgeld en verpakking ® R4,57)


Boereoorlogstories. 34 Verhale oor die
oorlog van 1899 - 1902

- saamgestel deur Jeanette Ferreira (1998)

Bannelinge oor die oseaan. Boerekrygsgevangenes 1899 - 1902

- deur Coen Groenewald (1992/1998)

Buiteblad: Boereoorlogstories Buiteblad: Bannelinge oor die oseaan

Uitgegee deur J.L. van Schaik

ISBN: 0 627 024025
R89.95

Uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun

ISBN: 0 7993 1790

R51.77
179 bladsye


Staan vas! Openbaring sê jy kan...
'n Bybelstudiegids oor krag
vir elke dag uit Openbaring

- deur Schutte Venter (1998)

Buiteblad:
Staan vas! Openbaring
sê jy kan..


Uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun



Terug na die BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy








Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/res5.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]