Voldoening - uittreksel uit nuwe roman deur Ingrid Winterbach
|
tien
Die mans, Salmon Senekal, Jakes Jones, Stefan Mendelsohn en Daan
Theron gaan
Sondagmiddag in die veld buite die dorp piekniek hou. Daan bring
'n vriend van hom uit die
dorp, Krisjan Steenkamp, saam. Hulle draai af in die rigting van
die oorlogsgrafte maar hou
stil net voor hulle bo op die plato kom, net voor mens by die
grafte kom, want Jakes sê
hy sien nie kans om tussen die grafte te drink en sy hare te laat
hang nie. Hulle het bier
saamgebring en sprei Salmon se reisdeken oop in 'n operige area
tussen doringbome en groot
rotsblokke. Daan begin dadelik met die saak wat hom nou al dae
lank interesseer. Hy wil die
ander oorreed om saam met hom te gaan; hy het 'n kontakadres.
Sodra hy die adres van die
man by dié mense gekry het, moet hulle almal saam met hom
na die talking head
gaan. Die ander bly halfpad geïnteresseerd, halfpad
oorgewen. Bowendien het elkeen
iets anders op die gemoed; elkeen het sy eie gedagtegang en
agenda. Salmon is rusteloos soos
'n hond wat senuweeagtig agter 'n spoor aan is (snuf in die neus
gekry het) en kort-kort fyn
tjankgeluidjies maak (dink Jakes).
Hulle sit op die reisdeken, hulle leun
teen die rotsblokke aan; hulle
rook hulle sigarette en drink die bier. Daan se vriend, Krisjan,
is rustig, effens aarselend in sy
manier. Hy is óf 'n vlermuiskenner óf 'n geoloog
- nie Salmon of Jakes is
seker nie. Hy vertel tydsaam en afgemete dat hy die vorige nag
geteister is deur slegte drome
en dat hy die oggend 'n gedig geskryf het. Waaroor gaan die
gedig? vra Jakes en Krisjan
sê dit noem 'n paar dinge op wat hy die oggend waargeneem
het: 'n hond wat blaf, 'n
voël wat sing, 'n wolk in die lug. Daan vind die
onbeskadigde, heeltemal intakte
vervelling van 'n slang aan 'n tak van 'n doringboom. Selfs die
geskubde vel oor die oog het
behoue gebly. Hulle neem beurte om deur die oog te kyk. Nou is
julle kans om die
wêreld te sien soos 'n slang dit sien, sê Daan. Hulle
kyk elkeen deur die dun,
skubbige oog. Deur die oog van 'n slang, sê Jakes.
Moeiliker deur die oog van 'n slang,
sê Daan en steek vas. Hoe gaan dit verder? vra hy.
Moeiliker vir 'n slang deur die oog
van 'n naald, sê Salmon, as vir 'n ryk man om die koninkryk
van die hemele te betree.
Dis vir 'n arm man ook moeilik, sê Jakes. Hoe lyk die
wêreld vir julle, vra Daan,
deur die slang se oog? Dis half-blurred, né?!, sê
Stefan. Dis sag, sê
Krisjan, met effense afgeskuinste kante.
Behalwe die slangvel maak hulle nog 'n
paar ander klein
ontdekkings in die omgewing: 'n ongewone klip, 'n landskulp, 'n
koeëldoppie. Hulle
praat oor Jan de Dood (om wie se onthalwe hulle eintlik hier is
- almal, behalwe Daan). Hulle
wonder of hy vanaand sy opwagting sal maak. Salmon sê hy
twyfel, hy het 'n gevoel
die man wys nie weer sy gesig hier nie. Hulle praat oor die
Oorlog - na aanleiding van die
koeëldoppie, maar ook na aanleiding van die stand van die
wolke (dromerige stapels)
en die stemming van die veld. Krisjan vertel dat 'n klein groepie
Boere onder aanvoering van
'n generaal Schutte die Engelse hier net buite die dorp in 'n
hinderlaag gelei het. Krisjan
vertel een en ander omtrent hierdie generaal Schutte. Dit is nie
een van jou hoëprofiel
generaals nie, sê hy, maar 'n interessante man. Hy het
onlangs sy dagboek ter insae
gehad, sê Krisjan. Dit lyk asof dit 'n man was met 'n ruim
algemene kennis en 'n
poëtiese geaardheid, al klink dit nie versoenbaar met 'n
Boeregeneraal nie. Waarom
sou dit nie wees nie? vra Jakes. Omdat die bloudruk vir
Boeregeneraals 'n kragdadige man
soos generaal De Wet is, en dié man was nogal
melancholies, sê Krisjan,
iemand wat emosioneel swaargekry het in die oorlog en dit nie
weggesteek het in sy dagboek
nie. (Jakes dink, Krisjan het self 'n melancholiese sfeer om sy
hoof.) Waar het Krisjan die
dagboek ter insae gekry? Vra Salmon. Sy ma het dit onlangs vir
hom gewys, sê
Krisjan, generaal Schutte was 'n oom van haar - haar pa se
jongste broer. Die bestaan van die
dagboek is waarskynlik doodgeswyg al die jare - hy glo nie sy pa
het dit ooit gelees nie -
omdat dit nie 'n ondubbelsinnige verslag van oorwinningsdrif en
krygstaktiek is nie. Wanneer
het hy tyd gehad om te skryf? vra Daan. Die generaal kan jou nie
nou sien nie, sê Jakes,
hy skryf nog eers in sy dagboek. Las die aanval af, sê
Stefan, die generaal skryf 'n
gedig. En wat het met hom gebeur ná die oorlog? vra
Salmon. Hy het dit nie oorleef
nie, sê Krisjan. Hy is hier iewers in die omgewing
begrawe.
Jakes se gedagtes dwaal af. Hy vind dat
hy deesdae soms moeite
het om te konsentreer. Hy dink die afgelope tyd weer dikwels aan
sy trippe na die hel, sy
hellevaart; sy waterskeidingservaring. Dit is nou al meer as sewe
jaar gelede. In sommige
opsigte by tye (onverwags) so helder as indertyd. 'n Volslae
psigotiese episode. 'n Tydperk
van volslae, uitgebreide, uitbundige, obsene, losbandige waansin.
And he lived to tell the tale.
Behalwe dat hy die verhaal nie dikwels vertel nie, want mense
hoor dit nie graag nie. Hulle
skrik as hulle dit hoor, hulle deins terug vir die detail. Mense
wil nie hoor van die verlies van
beheer nie. Veral nie in dié land nie. En miskien tereg
ook. Wat wil die man op straat
weet van hellevaarte, van jou kop wat een oggend onverwags en
sonder sigbare aanleiding
uithaak? Krisjan Steenkamp praat intussen stadig. Hy vertel van
die soort vlermuise wat in
die omgewing aangetref word. Hy beskryf die geologiese formasies.
(Nou weet Jakes en
Salmon nog steeds nie of Krisjan 'n vlermuiskenner of geoloog is
nie.) Maar kort voor lank
begin Daan weer met sy betoog soos 'n terriër wat 'n haas
aan die nek skud - hy kan sy
obsessie met die vooruitsiende man nie laat gaan nie.
Later praat hulle oor Bennie Potgieter en
Braams du Buisson. Hulle
is soos die Goncourt-broers, sê Stefan. Op watter manier?
vra Jakes. Vergeet van die
Goncourt-broers, sê Salmon (onderlangs) - Bennie Potgieter
dink hy is Flaubert.
Miskien is hy dit, sê Jakes, is hy nie veronderstel om 'n
merkwaardige literêre
talent te hê nie?! Salmon word rooi; hy sê niks.
Talent, sê Stefan, talent is
nog nie the real thing nie. Ons het almal talent, maar wat van
ons talent gaan word, dit moet
ons nog sien. Die wolke wat vroeër (dromerig) opgestapel
het, begin geleidelik
uitmekaar dryf en weswaarts beweeg. Hulle praat oor Sid. Daan
sê hy het laas nog 'n
spesiale sigaretjie by Sid gekoop. Stefan sê Sid was nie
baie versigtig nie. Te laat nou,
sê Salmon. Los wolkies hang ylerig op die horison, die
hemel het leeggeraak en daar
kom 'n koelte oor die veld. Daan kry hulle oplaas so ver om in
te stem om die adres van die
sienerman by die kontakadres te probeer kry voor hulle vanaand
weer na die Steynhuis gaan.
Terug na BO Terug na die Inhoudsopgawe Terug na die basisbladsy
|
|