Die digterlike verlange. 'n Ouderwetse besinning

Marlene van Niekerk

Disclaimer

Dit is sekerlik 'n bietjie raar om op 'n Maandag in die Baai waar die wind voortdurend waai te wil improviseer oor "die digterlike verlange" - hier waar die dakloses hele skole wegry op donkiekarre en skuiling soek teen wind en weer tussen die kopstene van begraafplase.

Hoe weeg hierdie soort verlange op teen nood? Hierdie soort begeerte teen nooddruf? Is daar 'n skaal waarop die goddelike onvervuldheid van digtersiele te vergelyke is met hongersnood en woningnood?

Ek is bevrees dat dit 'n vraag is wat alle improvisasies oor esoteriese onderwerpe tot in ewigheid in hierdie land sal bly begelei en dat dit elke poging tot gemaklike verestetisering sal weerstaan.Die kwessie hieraan onderliggend is hoe in die veld van menslike strewes die digterlike verlange lê ten opsigte van wat 'n mens die utopiese verlange kan noem. En uiteindelik kom dit neer op die ou probleem van die verhouding tussen individu en maatskappy en die vraag na wat die sosiale verantwoordelikheid sou wees van die bevoorregtes. Want dit is sekerlik so dat die digterlike verlange 'n verlange van bevoorregtes is. Dit lyk my mens sou dit kon koester op die minimum voorwaarde dat jou maag ten minste vol is, jy miskien darem 'n sluk wyn daarby gehad het, en 'n dak oor jou kop.

Die punt is dat die digterlike verlange op 'n bepaalde punt van welsyn in die liggaamlike en materiële dimensie, skielik in 'n gans ander dimensie ontspruit. Die tekort wat gevoel word in die digterlike verlange kan nie gestil word deur byvoorbeeld opgradering van jou brood, jou wyn, jou dak nie. Kelke tot die rand gevul met ambrosia en goue koepels deurstraal van lig in 'n stad van veralgemeende saligheid sal nie die gevoelde gebrek van die digterlike verlange verlig nie.

Dit lyk of die digterlike verlange weinig te doen het met die droom van 'n perfekte maatskaplike orde waar welvaart, geregtigheid, deursigtigheid en liefdevole harmonie heers en waar dit alles ook nog weerspieël word in die ideaal fisieke inrigting van 'n woon- en leeforde.

Die digterlike verlange spruit uit 'n intiemer onvoltooidheid. En selfs die digterlike voorstelling van 'n gedroomde stad sal hierdie obskure en paradoksale onvoltooidheid eerder besing as wat dit dit sal probeer teenspreek in die projeksie van 'n ideale stedelike samelewing.

Vergelyk byvoorbeeld Invisible Cities van Italo Calvino waar dit gaan oor die verbeelde stad Marozia waarvan die orakel sê dat dit eintlik nie een nie maar twee stede is wat in opeenvolgende eeue sal bestaan: eers die stad van die rot en daarna, in 'n volgende tydsgewrig, die stad van die windswael:

A sibyl, questioned about Marozia's fate, said: "I see two cities: one of the rat, one of the swallow."
This was the interpretation of the oracle: today Marozia is a city where all run through leaden passages like packs of rats who tear from one another's teeth the leftovers which fall from the teeth of the most voracious one; but a new century is about to begin in which all the inhabitants of Marozia will fly like swallows in the summer sky, calling one another as in a game, showing off, their wings still, as they swoop, clearing the air of mosquitos and gnats.
"It is time for the century of the rat to end and the century of the swallow to begin," the more determined said. In fact, already beneath the grim and petty rattish domination, you could sense, among the less obvious people a pondering, the preparation of a swallowlike flight, heading for the transparent air with a deft flick of the tail, then tracing with their wings' blade the curve of an opening horison.
I have come back to Marozia after many years: for some time the sibyl's prophecy is considered to have come true; the old century is dead and buried, the new is at its climax. The city has surely changed, and perhaps for the better. But the wings I have seen moving about are those of suspicious umbrellas under which heavy eyelids are lowered; these are people who believe they are flying, but it is already an achievement if they can get off the ground flapping their batlike overcoats.
It also happens that, if you move along Marozia's compact walls, when you least expect it, you see a crack open and a different city appear. Then, an instant later, it has already vanished. Perhaps everything lies in knowing what words to speak, what actions to perform, and in what order and rhythm; or else someone's gaze, answer, gesture is enough: it is enough for someone to do something for the sheer pleasure of doing it, and for his pleasure to become the pleasure of others: at that moment, all spaces change, all heights, distances; the city is transfigured, becomes crystalline, transparent as a dragonfly. But everything must happen as if by chance, without attaching too much importance to it, without insisting that you are performing a decisive operation, remembering clearly that any moment the old Marozia will return and solder its ceiling of stone, cobwebs, and mould over all heads.
Was the oracle mistaken? Not necessarily. I interpret it in this way: Marozia consisted of two cities, the rat's and the swallow's; both change with time, but their relationship does not change; the second is the one to free itself from the first (Calvino 1979: 130).
Dit is die digterlike verlange wat hierdie orakelwoord transformeer en die tyd van die rot en die tyd van die swael gelyktydig aan mekaar laat verloop en in parallelle openbaar. Dit is 'n spanningsvolle saambestaan van dimensies, in vrugbare en vitale ingeboude verskil wat maak dat die stad van die windswael momenteel kan ontspruit reg in die krake van die stad van die rot. Dit is openbarings wat ontsluit word deur onnaspeurbare meganismes van sinchronisiteit en gelukkige toevallighede. Die digterlike verlange is nie na 'n perfeksie sonder spanning nie. Die digterlike verlange is 'n verlange na 'n bevrediging wat aan ekstase wen deur die verfyning van uitstelmetodes.

As ek my mag verstout om verder te improviseer op Calvino se begeerde stad. Ek kan my voorstel dat daar bepaalde mense sou wees - sjamane of tricksters, of wyse ou harlekyne, spelers of towenaars, of digters (watter naam mens ook al wil gee aan die funksie van die mover and shaker van die Griekse pantheon, die god Hermes) - wat onopsigtelik sal ronddwaal in die stad, wat 'n soort selfopgelegde dolende en besitlose bestaan sal voer en deur subtiele intervensies, plesiergewende en aansteeklike handelinge, hierdie kortstondige momentele transformasie van rotte en spinnerakke na kristallyne naaldekokerstad in die hand sal werk.

Trouens, ek wil die stelling waag dat wat uiteindelik van waarde is in enige gemeenskap miskien sy vermoë is om individue op te lewer en in stand te hou wat in die een of ander vorm van selfopgelegde armoede of askese, verskraling of verslawing leef ten einde die digterlike verlange, wat myns insiens 'n eroties-sprirituele vermoë is, te kultiveer: Hier haas ek my om by te voeg dat die digterlike verlange beslis nie uitsluitlik 'n vermoë of 'n toestand is van verhewe geleerde of al te gedissiplineerde geeste nie. En, as dit aan die een kant nie 'n verlange is na sosiale volmaaktheid nie, is dit aan die ander kant ook nie 'n verlange na gevorderde bewussynstoestande nie - toestande van wêreldvreemde saligheid of totale absorpsie of volmaakte konsentrasie nie. Trouens, die digterlike verlange kan die gewaande status van volmaakte hemelse rus en verrukking wel deeglik ondergrawe. Só verwoord Sheila Cussons dit in 'Eenvoudige vrae van 'n vroeë Christen':

Vergeestelikte stof: my liggaam
mooier as wat hy was?
'n Nuwe aarde: wéér vir die sien,
hoor, ruik, proe en betas?
Of sal ek deursigtig soos 'n vlam
deur smarag en jaspis flits
sonder die honger eet, dors drink
en sag ontlas
ná arbeid en die warm slaap:
ja, selfs nie meer onthóú hoe
vergenoeg ek was
met brood en olie en sout en ná
die aangename moeite 'n ryk bruin
glisterende drol op springende
grassies los?
(Cussons 1982: 66)
U sou intussen agtergekom het dat die metode van my ondervraging na die aard van die digterlike verlange nie reglynig verloop nie en dat dit meer die vorm aanneem van 'n aftasting, 'n uitskakeling van moontlikhede, en die aanhaal van voorbeelde ter illustrasie. Maar laat ons ter wille van die helderheid opsom wat tot dusver bereik is: Die digterlike verlange is nie 'n verlange na iets spesifieks of konkreets nie, dit is ook nie 'n verlange na 'n verhewe geestelike ontliggaamde toestand in die konvensionele "hemelse" sin nie. Dit is verder onderskeibaar van die utopiese verlange wat 'n verlange is na 'n perfekte samelewing. Die digterlike verlange is eerder 'n verlange wat uit 'n intiemer innerlike tekort spruit. En tog is dit nie só persoonlik dat die leser nie in die uitinge van digterlike verlange kan deel nie. U het tog almal die appèl van die reeds gelese tekste gevoel en dit sekerlik innerlik bevestig. Die digterlike verlange skyn 'n verlange te wees met 'n universele basis, maar wat sal hierdie basis dan wees? Een wat soveel uiteenlopende objekte kan genereer: dubbelsinnige stede waar rot en swael mekaar wedersyds berg en ontberg, dubbelsinnige liggaamlikheid waar honger die voorwaarde is vir die heerlikheid van voedsel soos van uitwerpsel? Waarna word verlang in die digterlike verlange?

Ons het gesien in Sheila Cussons se gedig dat die verlange van die vroeë Christen vir die spreker in die gedig eintlik 'n rééds bereikbare gegewe is. In die lig van die beloofde hemelse saligheid word daar as't ware by vóórbaat terugverlang na die wonderlik gespanne stoflikheid waarby die liggaam in twee van sy mees basiese en mees bevredigende funksies, eet en ontlas (s g ontlas, bygesê!) besing word. Die vergeestelike stad as geprojekteerde inhoud van die saligheid volgens die konvensie lyk beslis minder aanloklik vergeleke by die sensuele genot van brood met olie en sout en die ryk bruin glinsterende drol wat op springende grassies gelos word.

Maar is hierdie keuse vir die skynbaar suiwer sinnelik liggaamlike teenoor die skynbaar suiwer geestelike so eenvoudig as wat dit wil voorkom? As mens mooi lees, sien jy die hemelse gees is wel voorsien van 'n soort liggaam, sy dit 'n verheerlikte en vergeestelike een. Daar is nie soseer 'n verhouding tussen hulle nie want hulle is eenders en deel gelykop in die heerlikheid. Daar is geen verskil tussen liggaam en gees in die verheerlikte staat van die nuwe Jerusalem nie. Geen oordeel of onmag of drukverskil speel tussen die twee nie. Liggaam en gees is 'n naatlose voeg.

In die gedig is die aardse behoeftige liggaam implisiet voorsien van 'n waarderende bewussyn wat die steeds opnuut dagende liggaamlike behoeftes en hulle steeds voorlopige bevrediging as iets positiefs beoordeel.

As mens versigtig lees, sien jy dus dat die keuse vir die vroeë Christen nie lê tussen gees en liggaam nie, maar tussen twee soorte verhoudings tussen liggaam en gees. Die verhouding tussen liggam en gees in die hemel is staties en steriel omdat hulle homogeen is. Die verhouding tussen gees en liggaam in die stoflike dimensie is gekompliseerd en spanningsvol. Dit lyk asof die vroeë Christen by voorbaat verlang na die gebrokenheid en die onvolmaaktheid van die kwesbare sintuiglike liggaamlike bestaan. En hy kan dit alleen doen omdat hy/sy soos deur die gedig geïmpliseer, oor 'n objektiverende bewussyn beskik wat albei moontlikhede krities kan vergelyk.

Dis glad geen eenvoudige kwessie nie. Die eenvoudige vrae van die vroeë Christen word gedryf deur die geslepe retoriek waarmee die digterlike verlange sy obskure objek in stand hou.

Hoewel nie in hierdie gedig uitdruklik getematiseer nie, speel die problematiek van die verhouding liggaam/gees 'n deurslaggewende rol in Cussons se belydenispoësie. Dit is dieselfde probleem wat aan die orde is en sy praat van "die vrugbare duisternis/van die erfsonde" as sy die stelling maak: "Adam het God gesien maar Aquinas/het hom bepeins":

Die wond wat dink

As ek nie onkundig was nie
sou ek nie kon dink nie, en dít
is 'n avontuur wat ek nie sou wou ruil
vir die alwetendheid nie
gestel dat ek kon kies: en kiés:
dié wik en weeg en waag is nóg
'n opwinding wat die alweter
nie kan ken nie

Hoe om mens 'n bewussyn voor te stel
onvermink deur 'n sondeval:

Adam het God gesien maar Aquinas
het Hom bepeins:
hoe rýk die vrugbare duisternis
van die erfsonde:
o gelukkige skuld wat alles weer
ongeken gemaak het om te kán verken:

want daardie Liefde is só
dat dit hierdie tastende blindheid
soms begenadig met weerligtend
in 'n oomblik, één oomblik, só 'n sien
dat ons oorspronklike verlies daarmee vergelyk
ja, soms gering lyk:

want Adam was ongerep maar Aquinas
van die skitterende wond, 'n heilige.

(Cussons 1982: 64)
Haar belydenis is 'n viering en 'n bevestiging van die spanning en die gebrokenheid van die béstaan én van die vérstaan van die mens. Calvino besing en bevestig dit in sy fantasieë van stede. Die vraag word steeds meer pertinent: Wat is die digterlike verlange dan, as dit lyk na 'n soort verlange wat iets betref wat reeds voorhande is en in oormaat beskikbaar? Moet 'n mens dit hoegenaamd 'n verlange noem? En meer nog: deur wat word dit bevredig? en wat is die aard van hierdie bevrediging? En u moet onthou dat u daarin deel, en in dié rare verlange én in die rare bevrediging. Moenie dink dat ek nie die vertederde en verkneukelde glimlaggies opgelet het nie toe ons dié twee tekste gelees het. Moenie dink ek het nie die lig gesien wat skielik opflits in die oë, die bietjie hoendervleis wat skielik oor die voorarms gekruip het nie. Ek hoop dat ek dus met die volgende voorbeelde nog meer van digterlike verlange kan wek en bevredig. Let tog op dat dit lyk asof die digterlike verlange bevredig word deurdat dit gewek word - in één beweging, en sonder dat die een die ander ophef. Miskien, beste leser, is ons reeds in 'n soort hemel.

Dié van u wat die bestaansvorme van donkies, klippe, sonneblomme en krimpvarkies beny eerder as u eie sal egter nog nie oortuig wees nie.

Die punt is dat die spanningsvolle staat van welsyn nie finaal besweer is as ons die verveling van die hemel verwerp het nie. Die statiese en spanningslose toestand is naamlik nie alleen die voorreg van godskouende hemelwesens of van Adam in die paradys van voor die val nie. Dit skyn ook die deel te wees van diere, plante en minerale. Die digterlike verlange lyk asof dit nie net in 'n vreemde geding verkeer met engele nie, maar ook met esels:

Het ezeltje

In de korte, blauwe schemering
deed ik een kleine wandeling.
De grond was rood, gebarsten-droog.
De lucht was dun en vreeslijk hoog,
en blauwe distels stijf en grillig
ritselden driftig en onwillig.
Stil grazend naast een grijze rots
zag ik opeens op hoge benen
een jonge ezel; zijn oren schenen
doorzichtig, zijn gelaat was trots.
Zijn lange, ambren ogen blonken
als water, ernstig en bezonken
en onpartijdig was zijn blik.
En na een korte, felle schrik
verstarde ik in verwondering.
Of kan het eerbied zijn geweest
voor dit schoon, ongeschonden beest,
waarmee ik langzaam verder ging?
Een pijnlijke herinnering:
zo ben ik vroeger ook geweest.
Die gaafheid en zachtzinnigheid
onzware ernst en droomrigheid,
o kon ik dat nog ééns herwinnen,
kon ik nog ééns opnieuw beginnen.

(Komrij 1987: 736)
Dit is 'n gedig wat mevrou PS van M Drooglever Fortuyn-Leenmans 'n keer hier op besoek in Suid-Afrika geskryf het. Dit is seker begryplik waarom sy haar naam afgekort het tot die digtersnaam Vasalis? Maar kan die digter sigself afkort tot donkie? Dit is 'n onvervulde verlange. Maar let op hoe die spreker uit sy onbehaaglike aktualiteit van liggaam in landskap verlos word deur die ontmoeting met die eseltjie. Dit moet duidelik wees dat die eseltjie teenoor hierdie onbehaaglike aktualiteit 'n soort moontlikheid van die self vergestalt. Trots, ernstig, besonke, onpartydig, ongeskonde, gaaf, sagsinnig, dromerig. Dit is miskien een van die mooiste uitinge van wat ek probeer aandui met die term digtelike verlange:
Die gaafheid en zachtzinnigheid
onzware ernst en droomrigheid,
o kon ik dat nog ééns herwinnen,
kon ik nog ééns opnieuw beginnen.
Hoewel minder romanties van toon dink ek dat die gedig 'Sonneblom' van Elisabeth Eybers 'n soortgelyke poging is om 'n alternatief daar te stel vir 'n reeks geïmpliseerde menslike tekorte:
Sonneblom

Van aangesig tot aangesig
kan hy die son aangaap, gedoog.
Onkreukbaar in sy vlammekrans
straal hy 'n trillende balans:
astrant en ronduit nederig
van eenvoud, sy omskanste oog
-met meeldraadwimpers drie rye dig-
vol ruitjies soos dié van 'n vlieg
maar sonder lis.
Das Ding an sich
en weergaloos. Geen ander geel
is so deurdrenk, essensieel.

(Eybers 1990: 531)
Let op dat net soos in die donkiegedig, ook die sonneblomgedig 'n bepaalde voltooidheid, afgerondheid, onskuld, selfgenoegsaamheid, trots en eienheid aan die leser voorhou. Tussen die lyne lees mens 'n reeks tekorte eie aan die mens waarvan die belangrikste is dat sy nie met sigself saamval nie, sigself uit die hand loop, byvoorbeeld nie 'n natuurlike balans tussen onderdanigheid en trots kan vind nie, nie tot 'n eenheid van syn en bewussyn kan kom nie, nie tot 'n insigselfrustende essensie teruggebring kan word nie. Die mens, daarenteen, is eksistensie, uitsigselftredend, daarom ongerymd met die res van die skepsels van die natuur. Groot digterlike bewondering vir die ander syndes en 'n skrynende verlange om tot die synswyse van natuurdinge toe te tree; dit is wat hierdie geselekteerde reeks gedigte in gemeen het. Die digterlike verlange is 'n verlange na die Ander. Geen Ander is miskien so anders as die mens as die eenvoudige eenselwige ui nie.
Een ui is wat anders.
Hij heeft geen ingewand.
Is ui uit-en-ter-na,
de uiterste uiachtigheid.
Uivormig van buiten,
uiig tot in zijn kern,
zou hij zonder schrikken
in zichzelf kunnen blikken.

In ons is het wild en uitheems,
nooddruftig met huid overdekt,
in ons intern is het inferno,
de onstuimige anatomie,
terwijl in uien uien huizen
en geen kronkeldarmen kruipen.
Uiennaaktheid is veelvuldig,
is diep en dergelijke.

Een consistent zijnde, de ui,
geslaagde schepping, door en door.
In de ene zit een andere,
in de grotere een kleinere,
en zo ook alle volgende,
de derde, vierde, verdere.
Een fuga, inwaarts wervelend,
een echo gebundeld tot een koor.

Een ui begrijp ik tenminste:
's werelds bevalligste buik,
die zichzelf tot eigen glorie
met aureolen omwikkelt.
In ons - vetten, strengen, aders,
slijm en geheimzinnigheden.
En wij zijn daarvan afgesneden,
van de perfectie-idiotie.

(Szymborska 1979: 93)
Soos die donkie en die sonneblom is die ui 'n konsistente synde, is deur en deur geslaagde skepping. En let op: die gedig is bloot oënskynlik 'n onskuldige vergelyking van fisieke eienskappe en stoflike struktuur. Dit is in die verhouding tot sigself dat die ui ons meester is. Sy is aan haarself gelyk in alle onderdele terwyl in óns wese alteriteit, inkonsistensie, 'n verskil ingeskryf is van uiterlik en innerlik, van syn en bewussyn, van aktualiteit en moontlikheid, van openbaarheid en geheimenis. Die ui is 'n ontspanne skepsel. Die ui is perfek. Die ui is salig. Want sy is sonder selfbewussyn, sonder selfrefleksie. Die ui is 'n idioot, oerdom en daarom perfek. Dit is in hierdie dom volmaaktheid waarin ons mense nooit kan deel nie.

In hulle beskrywings van die eenvoudigste skepsels is die digters steeds besig met 'n refleksie oor sigself, oor menssyn. Hulle skryf beslis nie vir uie nie. En onthou uie skryf glad nie, nie eers vir ander uie nie. Hulle het geen verskoning nodig nie en hoef hulself teenoor niks of niemand te verontskuldig nie.

Elke uitdrukking van digterlike verlange as 'n verlange na die Ander is egter terselfdertyd 'n belydenis van 'n slegte gewete, is 'n verontskuldiging en 'n selfbeklag en word begelei deur meer of minder selfkastydende gebare van selfondersoek. Elke uitreik na die ander is 'n vorm van bemiddeling tussen self en haar moontlikhede en dus ook haar beperkinge.

'n Klip beskik nóg oor moontlikhede nóg oor beperkinge en is daarom die mens ver vooruit. Aan hierdie voltooidheid kan ons nooit deelagtig wees nie. Dit is tipies van die digterlike verlange om so 'n vanselfsprekendheid tot onderwerp van sardoniese, selfspottende en spitsvondige oordenking te maak. Gedigte wat die digterlike verlange uitdruk begin nie noodwendig met 'O! O! my siel' of 'O my hart' nie.

Gesprek met een steen

Ik klop op de deur van een steen.
'Ik ben het, doe open.
Ik wil in je binnenste gaan,
overal rondkijken,
met jou mijn longen vullen.'

'Ga weg,' zegt de steen.
'Ik ben hermetisch gesloten.
Zelfs aan stukken geslagen
zullen we hermetisch gesloten blijven.
Zelfs fijngewreven tot zand
zullen we niemand binnenlaten.'

Ik klop op de deur van de steen.
'Ik ben het, doe open.
Ik kom uit louter nieuwsgierigheid
die alleen het leven kan bevredigen.
Ik ben van plan door je paleis te wandelen
en daarna nog blad en waterdruppel te bezoeken.
Ik heb niet veel tijd voor al die dingen.
Mijn sterfelijkheid hoort je te ontroeren.'

'Ik ben van steen,' zegt de steen,
'en moet daarom mijn ernst beslist bewaren.
Ga weg vanhier.
Ik heb geen lachspieren.'

Ik klop op de deur van de steen.
'Ik ben het, doe open.
Ik heb gehoord dat binnen grote lege zalen zijn,
onbezichtigd en vruchteloos mooi,
verlaten en zonder echo van enige voetstap.
Geef toe dat je er zelf niet veel van weet.'

'Ja, grote en lege zalen,' zegt de steen,
'daar is alleen geen plaats.
Mooi, wellicht, maar dat gaat de smaak
van jouw gebrekkige zintuigen te buiten.
Je kunt me leren kennen, maar ervaren nooit.
Mijn hele oppervlak keer ik jou toe,
met mijn hele binneste lig ik afgewend.'

Ik klop op de deur van de steen.
'Ik ben het, doe open.
Ik zoek in jou geen toevlucht voor altijd.
Ik ben niet ongelukkig.
Ik ben niet dakloos.
Mijn wereld is een terugkeer waard.
Ik kom en ga met lege handen.
En als bewijs dat ik er werkelijk ben geweest,
kan ik niets anders laten zien dan woorden
die niemand zal geloven.'

'Je komt er niet in,' zegt de steen.
'Je mist de zin om deel te nemen.
En er is niets wat dat vervangen kan.
Zelfs een tot alziendheid aangescherpte blik
zal je zonder deze eigenschap niets baten.
Je komt er niet in, weet niets van de zin om deel te nemen,
bezit daarvan hoogstens een kiem, de verbeelding.'

Ik klop op de deur van de steen.
'Ik ben het, doe open.
Ik kan niet tweeduizend eeuwen wachten
voor ik in jouw huis mag komen.'

'Als je mij niet gelooft,' zegt de steen,
'vraag dan het blad, je zult hetzelfde horen.
Vraag het de waterdruppel, zijn antwoord luidt net zo.
Vraag het ten slotte een haar op je eigen hoofd.
Een lach zwelt in me aan, een reusachtige lach,
maar ik weet niet hoe ik hem moet lachen.'
Ik klop op de deur van de steen.
'Ik ben het, doe open.'

(Szymborska 1979: 26)
Die wysgerige kern van hierdie gedig lê in die agste strofe:
'Je komt er niet in,' zegt de steen.
'Je mist de zin om deel te nemen.
En er is niets wat dat vervangen kan.
Zelfs een tot alziendheid aangescherpte blik
zal je zonder deze eigenschap niets baten.
Je komt er niet in, weet niets van de zin om deel te nemen,
bezit daarvan hoogstens een kiem, de verbeelding.'
By die Vlaamse digter Maurice Gilliams word die klip selfs 'n beeld en voorbeeld vir die gedig. Die gedig self moet 'n onverbiddelik hermeties geslote natuurding wees wat nooit sy geheimenis volledig prysgee nie en wat deelname van die leser slegs toestaan deur die magiese krag van beelde:
Grafschrift

De hoge woorden die de harten breken,
worden in't vlietend water neergeschreven.
- Een steen rust op de bedding der rivier.
Hij riep de wieren niet om hem te strelen.

(Gilliams 1993: 90)
Om terug te keer na Mevr. Szymborska: die mens is van deelname aan die natuur verstoke. Dit is wat haar klipgedig sê. Nie alle digters is so onverbiddelik nie. Die wens om deel te neem, om toegelaat te word tot die kreatuurlikheid van ander geskapenes word soms kortstondiglik toevertrou as 'n kleinood van ervaring.

In die werk van Ida Gerhardt openbaar fisant en haselneutboom hulleself vir 'n oomblik aan die mens en is daar ten minste 'n belofte van deelname of rakelingse eenwording met die ander skepsels van die natuur:

De fazant

Waar onverwacht het pad zich buigt
stond op een klein vak open land
tussen de bossen en het ruigt
in't klare herfstlicht de fazant.

Geruisloos knielde ik op de grond,
mijn hand zocht waar de kijker hing, -
en nader schoof de held're ring
tot scherp het beeld getekend stond.

Goudbruin, waarlangs in ademing
verdoffe' en gloeien rusteloos vloog, -
de staart die vleugen purper ving,
de kop met het juwelenoog.

En toen ik fel en feller zocht,
wist ik dat in dit klein stuk glas
de afgebeden lusthof was,
die voortaan ik betreden mocht.

(Gerhardt 1995: 64)
Ons sien dit ook by Sheila Cussons in haar beroemde gedig oor die verskyning van die pou in die tuin:
Henri Rousseau

Ek het meteens onthou
dat ek gelukkig is; langsaam, statig kom 'n pou
uit blonde tonnels van die tuin en sleep 'n blom-
bont vereveld waaroor blink luiperd-oë die blou kolom,
die blou en brose buiging van sy nek bekruip - en dan ontvou,
rank op, sprei oor - tril - 'n honderd oë spring!
en wilde glanse bewe oor sy bors, 'n Leda-gril,
'n blou en koper floute in die diep namiddagson.

(Cussons 1982: 10)
Die blou en koper floute waarin die spreker, die pou en die hele laatmiddag self betrek is, is hier die beeld van 'n soort ekstatiese eenwording, 'n erotiese duiseling (sekerlik so volgens die patroon van die stomme Leda nadat Zeus haar besoek het in die vorm van 'n swaan).

Meestal egter is dit 'n veel soberder toenadering tussen mensdier en dierdier wat deur die digterlike verlange veroorloof word, soos in Ida Gerhardt se gedig:

Het egeltje

De egel komt in't eendere schemeruur
schuifelen langs de plavuizen van de schuur.

De ademsporen van zijn spitse snuit
gaan op de kille stenen aan en uit

omtrent de stille mens, die met geduld
zijn schuwheid went en de aarden schotel vult

en wacht, totdat een kleine ruige hand
zich tastend vastgrijpt aan de schotelrand.

Dan drinkt het dier. Even, als in verstaan,
zien twee bevredigden elkander aan.

(Gerhardt 1995: 147)
Dit is pure digterlike wensdenkery, en hierdie gedig bely dit ook nogal rondborstig: dit is wensdenkery dat mens en dier tot 'n oomblik van verstandhouding kon kom. Vir 'n oomblik, asof in 'n moment van begrip kyk twee bevredigdes mekaar aan. Maar dit is duidelik dat dit hier nie om dieselfde gedeelde bevrediging gaan nie. Die krimpvarkie is bevredig deur die melk. Die mens smaak die tipies menslike genoegdoening van 'n wilde dier suksesvol nader te gelok het en 'n oomblik verlei het om uit sy geheime habitat te voorskyn te kom en in te tree in die menslike wêreld - plaveisel, skuur, erdebakkie met melk. Die spreker is gevlei deur die dier se teenwoordigheid, eien die dier momenteel toe deur die stoutmoedige vermenslikende beeld van "een kleine ruige hand". Die spreker laaf sigself vir 'n oomblik aan die kosbare teenwoordigheid van die ander. En gaan heen en skryf 'n gedig daaroor. En, bygesê, soos ons digters ken is die hele voorval miskien 'n versinsel en die melk lankal suur, of miskien selfs alleen maar die melk van die verbeelding. Miskien het die krimpvarkie alleen maar in die skemer van die verlangende verbeelding verskyn. Dit is waarskynlik nou die gepaste oomblik om die aanleiding te verklap tot hierdie ouderwetse besinning - sermoen op 'n Maandag in die windverwaaide Baai - oor die digterlike verlange. Dit is 'n opstel uit die poëtika van die ouderwetse Nederlandse digter J.C. Bloem getiteld 'Het verlangen'. Daarin skryf die digter as volg en ek vertaal: "Want wat soek die verlange? Die ander. Dit wat ons sal aanvul, nee, meer: dit wat ons in staat sal stel al is dit maar vir 'n oomblik om buite onsself te tree. Die lewe lok ons in duisende en duisende vorme; net een vorm is egter gegee aan ons eindige wese, en die ganse smart van die lewe lê daarin dat ons nie in ál hierdie vorms kan opgaan en herskape kan word nie." Die menslike hart, sê Bloem 'n paar paragrawe verder, reikhals na 'n bevrediging van wat dit verontrus - 'n vereniging van wat hier geskei is.

Maar ons het reeds gesien dat só 'n opheffing van die eg menslike spanning - die spanning van geskeidenheid - nie werklik 'n oplossing is nie. Daarmee sal die aandrang om gedigte te skryf en die ganse digkuns ook opgehef wees. Die digterlike verlange is nie 'n verlange wat sigself opgehef wil sien nie, maar een waarvan die enigste bevrediging is om sigself te herhaal.

Die digterlike verlange, oordenk sigself, verwoord sigself, verklaar sigself, verlang sigself sonder ophou. Die rede daarvoor is dat dit die wese van die mens betref. Soos Heidegger dit stel: Die mens is dié synde vir wie dit in haar syn om haar syn gaan. Dit is hierdie ingeboude vermoë tot selfrefleksie wat 'n onsigbare spleet open in die kreatuurlikheid van die mens. Die mens val nie met sigself saam nie, maar is sigself steeds vooruit. Uit die spleet van selfbewussyn borrel 'n onophoudelike stroom van moontlikhede tot vereenselwiging. Dit is die bron van 'n immerse ongedurigheid en 'n nooit aflatende verlange wat ons tot in ewigheid onrustig stem.

Vandaar die digterlike uitsprake oor die benydenswaardige afheid, voltooidheid van 'n esel of 'n ui, vandaar die aandrang om vir 'n oomblik deel te hê aan 'n klip of 'n engel. Want hierdie wesens is sonder selfbewussyn, sonder moontlikhede, en dus sonder geskiedenis, sonder vryheid en sonder verlange.

Maar wat sal ons wees sonder verlange? Is dit nie 'n indeks van ons vermoë tot menssyn nie? Klop dit nie soos 'n soort onrustige pols onder en bo die voorspelbare ritme van ons biologiese hart nie? Veroorsaak dit nie die pikante drukverskil met die omringende werklikheid waarvan alleen die dood ons uiteindelik sal verlos nie?

Miskien is die digterlike verlange uiteindelik 'n verlange na die dood, die groot naatlose, soomlose eenselwige veld van die niet, die einde van alle begeerte.

Maar selfs as die digterlike verlange 'n verlange is na die opheffing van die drukverskil tussen die ek en die ander, dan geskied dit paradoksaal genoeg nie deur swye nie maar deur 'n gedig, wat nog steeds as 'n verdigting van woorde, 'n vorm van druk is, 'n gestruktureerde verbeelding van hoe dit sal wees om 'n volledig deurlatende membraan te wees waardeur self en ander inmekaar vloei in 'n eenselwige kontinuum. Die gedig self kan egter nie 'n eenselwige kontinuum wees nie maar word paradoksaal genoeg in hierdie geval self tot 'n fassinerende ander, wat sy geheim nooit finaal sal prysgee nie - 'n kenmerk trouens van alle goeie poësie.

Na analise bly lê 'n goeie gedig nie in sy gedissekteerde stukke nie maar voeg weer saam en bly dig, net soos 'n klip, 'n ding waaroor die verlangende digter nooit uitgepraat sal raak nie.

Een van die mooiste voorbeelde van 'n gedig oor die verlange na die dood, die avontuur van die opheffing van die drukverskil tussen innerlik en uiterlik, bewussyn en syn, die afgee van die digterlike vermoë, die aflê van die plig tot vertolking en vertaling, en ook van selfondersoek, is die gedig 'Uitsig op die kade' van Elisabeth Eybers. Aan haar gee ek die laaste woord oor die digterlike verlange:

Uitsig op die kade

Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.

(Eybers 1993: 31)
Dit illustreer ook 'n verdere punt: die digterlike verlange om dood en sonder verlange te wees is 'n noodwendige huigelary. Die ervaring van die uitvloei en eenwording met die al, die bereiking van die nulpunt van denke en spreke, die opgaan in en deelname aan die heilige stilte is iets wat paradoksaal genoeg by die meeste mistici nie tot stilte nie, maar tot 'n onindambare woordevloed, en 'n verwringing en vernuwing van taal lei. Die goeie digter onderskei sigself van hierdie besetenheid deur die enigste verontskuldiging waaroor hy/sy beskik: om die vers self soos 'n klip in die stilte neer te sit en die gretige toe-eienende leser uiteindelik die swye op te lê, sy vorsende ontledende aktiwiteit tot verwylende aandag te dwing, verwylende aandag wat die enigste eerbare en eerlike houding is voor die finale ander, die dood.

Bronne

Calvino, Italo. 1979. Invisible Cities. Londen: Pan Books

Cussons, Sheila. 1982. Omtoorvuur. Kaapstad: Tafelberg.

Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

1993. Respyt. Kaapstad: Human & Rousseau.

Gerhardt, Ida. 1995. Verzamelde gedichten. Amsterdam: Atheneum.

Gilliams, Maurice. 1993. Verzamelde gedichten. Amsterdam: Meulenhoff.

Komrij, Gerrit. 1987. De Nederlandse poëzie van de 19de en 20ste eeuw in 1000 en enige gedichten. Amsterdam: Bert Bakker.

Szymborska. Wislawa. 1979. Uitzicht met zandkorrel. Amsterdam: Meulenhoff.

Terug na BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy







Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/verlange.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]