Vrugte van die boom van stilte

Disclaimer Iemand moet met welgevalle op ons neerkyk want Onse angeltjie is geseën met 'n hele klomp stewige bydraes uit die kreatiewe kader.

Ons voel veral goed oor die gedigte wat ons afgerokkel het van Johan Myburg, die geëerde Oos-Kaapse wenner van die Eugene Marais-prys.

Trudie Wegner is ook 'n bekende in Oos-Kaapse kringe en het die afgelope tyd die aandag getrek met voorlesings van haar poësie. Sy het ons toestemming gegee om 'n paar gedigte uit haar bundel, 50 verse. 'n Jubelbundel, te plaas.

Van Anlen Marais uit Despatch het ons 'n verhaal gekry (een van baie wat wag in haar laai). Anlen is ook 'n ou bekende in die Oos-Kaap. Sy het voorverlede jaar (1995) die eerste prys gewen vir die Afrika- en Nabye Ooste-streek in 'n kompetisie van die BBC se World Wide Service met 'n radiodrama, getitel Dear Mister Mandela. Dié drama is verwerk en laasjaar by die Klein Karoo Kunstefees opgevoer as Horieso Madiba.

Uit Cradock kom die hardgebakte prosa-stem van Clinton V. du Plessis, nadat hy lank net poësie gepubliseer het.

Aangesien daar navrae was oor die Hertogin van Kruisrivier, het haar persoonlike assistent, wat anoniem wil bly, ons twee bydraes oor hierdie legendariese Oos-Kaapse figuur gestuur.

Geniet.

Die Hertogin van Kruisrivier

'N EERSTE ONTMOETING

Dat daar nog lewe in die heelal is, blyk duidelik uit die belangstelling wat die bestaan van die Hertogin van Kruisrivier by 'n paar lesers gewek het. Omdat ons weet hoe 'n groot hart die Hertogin het, het ons nie gehuiwer om haar te nader met die versoek dat sy nouer betrokke raak by die tydskrif nie. En ons was reg - die gedagte aan gretige, polsende psiges in die groot onbekende Die Weite het haar onmiddellik opgewonde gemaak. (Die navrae oor haar huwelikstatus het die meeste gedoen om haar gemoed op te lug).

Eers moes 'n effense probleem egter uit die weg geruim word - getrou aan haar papierpulpsentrisme GRIL die Hertogin by die blote gedagte aan rekenaars, lêers, digitale data, hardeskywe, sagteskywe, UUCP, UU-enkodering, ISDN, en al daardie omineuse geprewel wat mens in die teenwoordigheid van masjinosentriese mense hoor. Wanneer iemand per ongeluk enige van hierdie tegniese terme in haar aanwesigheid noem, trek die Hertogin haar gewoonlik vir 'n paar dae in 'n verdonkerde kamer in haar herehuis terug, om haar emosionele ewewig te herwin. Sy wou nie te veel oor hierdie 'probleem' praat nie, behalwe om te sê dat die gedagte aan masjiene, tegnologiese apparate en so aan haar hare laat rys, soos sy verbeel "mens in die teenwoordigheid van die Bose moet voel."

Dié sy van die onderhandelinge moes ons dus baie versigtig hanteer. Rekenaarterminologie kon nie genoem word nie, en ons was genoodsaak om ondergronds te gaan en 'n uitgebreide waagstuk aan te gaan, dit wil sê, ons moes van die normale kommunikasiekanale - die posstelsel - gebruik maak. Naas haar pulpfetisj is die Hertogin ook baie geheg aan haar formidabele versameling Mont Blanc penne - sy kwyl altyd wanneer sy by juweliervertoonvensters verbyloop en sy 'n paar penne uitgestal sien. Samewerking met ons gee haar nou ruim kans om lang tye met haar geliefde penne tussen haar vingers deur te bring.

Ten behoewe van dié wat nog nie met haar kennis gemaak het nie, het die Hertogin ons die een en ander omtrent haarself meegedeel (wat ons natuurlik hoop in die loop van die volgende paar uitgawes aangevul sal word):

"Ek sal nie sê ek is 'n verwarde vrou nie, maar ek moet sê ek voel redelik verskeurd diep binne-in my. Daar is soveel dinge wat my na verskillende kante toe trek. Aan die een kant voel ek so 'n deernis met Afrikaanse mense, maar dan weer... En die poësie wat geskryf - en gepubliseer word.... Maar laat ek nou nie lelik wees nie. Eintlik voel ek, ek het nog nooit werklik gelééf nie. Baie van die dinge wat ek in die verlede gedoen het, voel nou vir my of ek dit gedroom het, of ek in 'n droomwêreld was, of ek in 'n dwaal was, so half aan die slaap. En tog leef mens, tog doen 'n mens dinge. Dis asof alles geoutomatiseer is. Nou is dit anders. Ek vóél dinge, ek wéét ek is betrokke by dinge en wat ek doen, is belangrik. Om half aan die slaap te leef is so gemaklik. Mens gaan winkel toe, lees boeke, luister musiek, mens kuier by mense..... Maar dis eintlik net 'n bietjie té maklik. Mens het skokke en irritasies nodig om mens te herinner dat daar ander mense om mens is. Al die dinge wat mens as gegewes aanvaar het, is nie meer so voor-die-hand-liggend nie.

"Ek was 'n lojale ondersteuner van ons groot party, ek sal nou nie heeltemal sê, 'n vurige een nie, maar ek het gevoel mense kry swaar en moet op die een of ander manier 'gehelp' word. Ek was betrokke by 'n hele klomp fondsinsamelings-inisiatiewe en het selfs op 'n stadium gehelp met die sirkulasie van 'n petisie. Nou is ek nie meer so seker nie. Party dae dink ek, ék is eintlik die een wat hulp nodig het. Al meer dinge wat my raak, wat vir my belangrik is, word geraak deur dinge wat in die land gebeur. Maar dan weer, eintlik is dit verby politiek - ek wil tog nie verval in politieke praatjies nie. Tog is daar sekere, noem dit maar 'beginsels,' wat vir my belangrik is. Ek begin al meer uitvind wat hierdie dinge is - veral wanneer die moontlikheid opflikker dat hierdie dinge nie meer gaan wees nie. En wat in die plek daarvan gaan kom, dit is glad nie vir my duidelik nie. En of ek met hierdie nuwe dinge sal kan identifiseer, dis nog moeiliker vir my om uit te werk...

"Een ding waaroor ek egter baie seker is, is dat die lewe wat ek gehad het, die enigste is wat ek sou wou gehad het. Ten spyte van 'n paar laagtepunte het ek werklik interessante en verskriklik opwindende dinge beleef. Daar was baie gebeurtenisse en mense wat my ontstel en diep seergemaak het. Maar ook die pynlike en ongemaklike is belangrik, en ek sal die herinnerings nie wil prysgee nie.

"Miskien sal mense sê, ja, maar ek was bevoordeeld, dat ek eintlik 'n ongewone of uitsonderlike lewe gelei het. Ek is seker daar is baie wat my sal veroordeel, wat sal sê dat van die dinge wat ek gedoen het, waarby ek betrokke was, betaam 'n vrou nie. Maar ek weet nie so mooi nie - ek dink die ou gesegde, "Beproef alles en behou die goeie," bly geldig. Mense is baie maklik geneig om hierdie woorde te wil kwalifiseer. Ek sê altyd, moenie te gou oordeel nie.

Die één ding waarop ek nog altyd kon terugval, is kuns. Daarom lees ek die volgende gedig vir julle. Dit vat my gevoel omtrent die huidige stand van sake baie mooi saam:

new-speak

afrikaner nasionalisme
black economic empowerment
werkreservering
affirmative action
vir volk & vaderland
nation building
driekamerparlement
government of national unity
boipatong-slagting
shell house massacre
ontugwet
termination of pregnancy bill
witskrif/green paper
derde mag/druglords
nie-blankes
previously disadvantaged communities
wynand malan/bantubonke harington holomisa
anneline kriel-kerzner-bacon
nonhlanhla peggy-sue erasmus khumalo
desentralisasiebeleid/reconstruction and development
kommissie van ondersoek
special task team
mej glenda kemp
me lilian arrison
sanksies benadeel die ekonomie
smoking can kill you
hoer/sex worker
kommunis/racist
scope/african black sexations
kakpraat/consult
skoonadministrasie/transparency
broederbond/transformation forum
moreel-krities/hidden, secret agenda
verdedigingsobligasies/zama-zama
eugene de kock/prime evil
afsonderlike ontwikkeling
simunye, we are one
amandla
shosholoza

Lekker, né?

Dié, vir my baie mooi gediggie, kom uit Clinton V. du Plessis se nuutste bundel Tussentydse verslag (1996).
(En wie't gesê daar is nie lewe in die Oos-Kaap nie?)

Lees die resensie oor die bundel hierbo.

HJ


Groen appel

Dis die oggend - seker so elfuur se kant - toe die vrou met haar motor onder ons wildevy stop en ek haar deur die studeerkamer se oop venster hoor vra : " Is dit die Dokter se huis ? "

" Ja , " kom dit van Fillip wat die rooi bakkie staan en was . " Dis sy huis . "

" Is die Dokter hier ? "

" Nee , Dogtir's al lankal spreekkamer toe ; hy's in die anner kar hier weg ."

" Ek sal ongelukkig nie nou soontoe kan ry nie , Mevrou , " sê die vrou - van so om en by die dertig - toe ek uitkom .
" Want sien , my kar se ligte brand nie . Kan ek maar inkom ? "

Ek frons , want dis 'n lieflike helder sonskyndag buite . Dis laat-Februarie en onderaan iedere boom in ons tuin begin Herfs se onderrok gelerig uithang . Buiten aan die immergroen groot wildevy by ons oprit waarin die vinke raserig die klein vruggies sit en vreet . Ons stap nietemin sitkamer toe .

" Mevrou , ek het so sooibrand . Het jy nie miskien iets vir my nie ? "

" Het jy al 'n appel probeer ? "

" 'n Appel ? "

Ek gaan haal 'n groen Granny Smith-appel . Sy skil dit in stilte . " Ek hoop nie ek pla nie , " sê sy nadat sy 'n paar stukkies geëet het .

Wat kan ek sê ? Antwoord toe maar : " Nee wat , glad nie . "

" Jy sien , Mevrou , dis net partykeers dat dit my oorval , soos nou . En na 'n rukkie gaan dit weer weg . "

Huiwerig vra ek : " Maar wat is dit ? "

Sy kyk my ondersoekend aan , voor sy vervat : " Sien , my ma en pa het vreeslik baklei toe ons klein was . Hy't my ma geslaan en allerhande goeters . En ons was baie kinders en die huisie was klein . En as dit so woes gaan dat ons kinders net borde hoor breek , sien , dan sleep ek my matrassie tot voor my ouma se bed en dan lê ek maar sawens so met haar en praat tot dit weer stil word . "

" Pla die sonlig nie ? "

" Ag nee wat , Mevrou . "

Ek staan nietemin op om die gordyn toe te skuif .

" Wil Mevrou nie ook die venster toemaak nie ? Ek kry baie koud . " Van naby sien ek sweet tussen die yl hare op haar voorkop blink .

" Dankie , " sê sy . " Maar toe gebeur dit een nag , sien . En toe ek die volgende oggend wakkerword en by my Ouma inkruip om nog vir n rukkie by haar te lê en lekker warm te word , toe voel ek sy's yskoud . Toe's sy dood , sien . Toe't ek die hele nag so by 'n dooie in die kamer geslaap . "

Die telefoon lui en ek hardloop gou om dit te beantwoord .

" Ek hoop nie ek pla nie , " vervolg sy toe ek weer kom sit . " Ek is die kassiere by Avbob , sien . En soms moet ek die die geld gaan bank . Vanoggend weer . Maar nes ek oor die straat stap - daar by Van Riebeeck-plein , dan oorval die vreeslike angs my . Ek word so bang vir die oopte van als ... die groot oopte . "

Sy vat met haar linkerhand agter haar nek . Draai haar kop heen en weer .

" Ja ? "

" Dit smaak my my keel wil toetrek . Ek kan nie asem kry nie . Dan moet ek maar omdraai en terughardloop Avbob toe , sien . "

Haar linkerhand kom van agter haar nek op die stoelreling neer . Sy vat die appel uit haar ander hand .

" Ek sien . "

" Maar dit help ook nie heeltemal nie . Dan sluit ek maar die deure toe en kan loop ek agtertoe in die winkel . Maar , " sy loer op na my , " jy sal nie verstaan nie . "

Sy kou aan die laaste skyfie appel . Kyk dan weer af na haar hande . " Daar agter 'n gordyntjie het ek vir my n pragtige kis staangemaak . Een van die duurstes , " spog sy . " Met sukke goue goeters om ; nie sommer dennehout se gemors nie . Dan loop lê ek in die padded kis en trek die deksel oor my kop , sien . "

Sy kyk op na my en sluk klaar . " Daaruit roer ek nie , al hoor ek iemand druk die klokkie by die voordeur , of al lui die telefoon . Tot ek weer my rustigheid terug het . Eers dan staan ek weer op en gaan sluit die deure oop . Maar soos vanoggend ...nou , nou raak dit by die dag al meer en meer dat ek oor die pleintjie moet stap ... Ek weet nie wat dit is dat die mense nou so aan die doodgaan en kiste koop is nie . Nou lê ek so baie in die kis , sien , lat my baas my wil afdank oor hy dink ek steek lyf weg . Ek ek weet nie wat van my gaan word as ek die werk moet verloor nie , Mevrou ; ek het net st.6 gemaak . "

" Nou wat doen jy dan daar binne in die kis ? " waag ek dit versigtig .

" Dis waar ek weer met my Ouma kan praat en weet sy help dat niks my sal bykom nie , sien . "

" O , " sê ek en bekyk die jong vrou met die hande wat so oor mekaar bly vat noudat die appel opgeëet is .

" Jy sien nou kom ek na jou man toe en hy gee my pille , maar dit help nie heeltemal nie . Nou weet ek ook nie meer mooi wat om nou te doen nie . "

" Het jy hom dit alles al vertel ? "

" Nee , ek is bang hy lag vir my . Dis net dat dit vanoggend baie erg was , Mevrou . Maar haai , weet jy , Mevrou , is jy ook 'n dokter ? "

" Nee , " lag ek . " Hoekom vra jy ? "

" Oor my sooibrand weg is van die groen appel . Rêrig . "

Die voordeurklokkie lui . Sy staan saam met my op . Sê op pad na die deur : " Wie sou nou kon dink die sooibrand kan weggaan sonder rennies of ander pille ? "

" Dis my skoonma wat so daarin glo , " antwoord ek en maak die deur oop ." Ja , Fillip ? "

" Kyk hoe lyk die vrou se kar nou , " staan Fillip daar en brom . " Dis nie my skuld dat die voëls in die wildevy meen die vrou se kar is hulle lewitrie nie ! Wat nou ? Moet ek hom was ? "

deur Anlen Marais.


Takeaway

Die ontvangsdame wou weet watter tipe meisie ek wou bestel.
Doesn't really matter to me, het ek geantwoord.
As long as she's got two tits and a fanny.
That's a fucking good one, sy't hardop gelag.
I'll send Norma over to you. She'll be there in approximately twenty minutes. It will be R1 250 for the night, all inclusive.

Norma Rodriquez was Portugees.

I take it your daddy's selling fish and chips from a corner store, het ek die ys probeer breek. Ek was alreeds op die bed sonder klere.
Norma het uit die badkamer gekom, die handdoek laat val, sy was groot, welgeskape
. Sy het op die bed kom lê, haar bene verleidelik oopgemaak en toe eers geantwoord.
No, my daddy is a baker and I'm selling cake.

Ek het later langs haar wakker geword. Sy't op haar sy gelê en 'n sigaret gerook.
Are you married? wou sy weet.
No, Why? het ek gevra.
You're a good lover, antwoord sy.
You just say that because I'm paying you, het ek teruggekap.
No, I mean it.
They reckon poets and farmers are the best lovers, antwoord ek.

Sy't weer aan die slaap geraak.
Ek het met die remote control vanaf kanaal na kanaal gespring.

Daar was nêrens iets wat die moeite werd was om na te kyk nie.

deur Clinton V. du Plessis, uit die bundel Kort van draad.

Lees 'n resensie hierbo.


Die Hertogin van Kruisrivier

Kleinboet

DIE HERTOGIN SE BOETIE

Een van die Hertogin se jonger broers - eintlik dié kleinboet: "klêboet" - het nou die dag die trane oor haar wange laat spoel waar sy in die laatmiddag in 'n halfdonker kamer sit en dink het oor die verlede. Sy het die brief van haar kleinbroertjie wat sy die oggend gekry het, by haar gehad. Die min kere wat sy briewe van hom kry, maak sy hulle nie dadelik oop nie, maar hou hulle vir 'n paar dae, troetel hulle. Die gevoel van die papier, verwarm deur haar liggaamshitte, laat haar geborge voel.

Die hertogin en haar jongste broertjie kom baie goed oor die weg; by familiesaamtrekke is hy die een wat met haar skerts en haar laat bloos. Seker omdat hy nie werklik beïndruk is deur haar status nie - sy het vir hom nog altyd die grootsus gebly wat hy goedig kan terg, die een wat huil wanneer die plaaskat klein muisies vang. Die hertogin het 'n baie spesiale plekkie in haar hart vir hom.

Hy het sy voete altyd plat op die aarde gehad - ook letterlik omdat hy in natuurbewaring gaan studeer het. Hy wou naby die natuur wees waarvoor hy van kleins af baie lief was. Hy het toe ook wildbewaarder geword by 'n afgeleë bosboustasie in Natal, op die rand van 'n wildernisgebied. Hy was toegewyd, het sy werk geniet. Toe kom die politieke veranderings in Suid-Afrika en daar is al meer sprake van 'rasionalisering' orals. Die 'finansiële situasie' word 'n al groter drogwoord wat al meer in mense se gesprekke en gedagtes insluip, om daar te lê en saggies te knor.

Hy het die dier gesien rondsluip, maar nooit gedink hy hoef dit te vrees nie. Maar die wiel het gedraai en die meul het gemaal. Op 'n goeie dag daag 'n deputasie van hoofkantoor by die bosboustasie op, belê 'n vergadering en sit hoofbestuur se planne uiteen. En Kleinboet se hart sak tot in die plat punte van sy Grasshoppers. Dit is duidelik dat die dier hóm in die oog het. Op verskillende maniere maak hulle dit vir hom duidelik dat hy sal moet gaan, daar is nie meer plek vir hom nie. Maak nie saak dat hy sy taak al die jare - nou al oor die vyftien jaar lank - met ongevraagde toewyding nakom nie. Dis nie die natuur, of die bewaringsaak wat belangrik is nie, die 'finansiële situasie' praat en daar moet geluister word.

Kleinboet was platgeslaan. Hy het net begin met die loodsing van 'n projek wat maande se beplanning geneem het - samesprekings, vergaderings, reise, planne optrek, navorsing doen. Dié projek sou die ekonomie van die area 'n hupstootjie gee en baie beteken vir die vooruitgang van die mense van die area. En Kleinboet weet dat sonder hom daar niks van dié projek sal kom nie. Die ander mense wat op die stasie werk - die bestuurder inkluis - is gewoon net salaristrekkers. Eers was hy wanhopig, toe kwaad en toe verontwaardig. En toe het hy begin om terug te baklei. Nee, 'n saak bly 'n saak, het hy gedink. In sy agterkop het hy geweet dat sy kanse om te slaag, uiters skraal was. Maar as hy nie probeer nie...

Die brief wat die Hertogin van hom gekry het, het oor hierdie situasie gehandel. Sy het besluit om, as deel van haar samewerking met ons, die brief aan ons te gee om te gebruik, "sodat meer mense kan sien wat in dié land aan die gang is, hoe talent en toewyding gesmoor word deur brute onkunde, vooroordeel en bloot gewone stompsinnigheid."

KLEINBOET SE BRIEF

Ek het nou weke lank drome gehad waarin ek uitgerekte redenasies voer met die owerhede hier. So kwaai dat ek natgesweet en verward in die nag wakker word. Dan sukkel om weer te slaap. En dan gewoon, as ek weer slaap, gaan my geveg met hulle voort. Lakens en kussings en dekens bo van die bed af geslaap. Soos toe ek klein was en koorsdrome gehad het, onthou jy sus? 'n Week terug het ek gedink sake raak onder beheer.

Verlede nag droom ek toe verskriklike dinge. Ek is op pad poskantoor toe met 'n pakkie. In die pakkie is dele van 'n opgekapte lyk. Ek voel ek weet presies wat aangaan, waar die liggaamsdele vandaan kom, wie die lyk opgekap het. Ek is terug op universiteit en my gunsteling dosent staan voor in die klas en praat, die verskriklikste wonde oor sy lyf en gesig. Dit lyk nie of dit hom enigsins pla nie. Ek draai om en kyk na die agterkant van die lesingsaal. Daar staan Rapule se vrou. Met 'n vreeslike uitdrukking op haar gesig. Sy is verkrag. Ek weet nie of ek en my vriende haar verkrag het nie. Maar dit voel so. Dis die tyd net voor Mpo se geboorte. Ek is besig om 'n groot vragmotor te bestuur wat onkeerbaar bo-oor mense ry. Dan is ek weer voor die vragmotor en probeer ek wanhopig wegkom. Ek is in 'n kamer tussen 4 vreemde mans, sulke rugbyspelers. Ons slaap almal op een matras. Hulle is 4 broers. Die grootste broer verkrag sy kleinsussie voor my. Later lê sy en huil saggies en ek kan niks doen nie. Ek rook 'n sigaret. Die buurt se honde gaan woedend aan die blaf. Ek staan op, kyk of die voordeur gesluit is. Ek steek my motorsleutels in die broodblik weg. Ek is bang iemand breek in en steel my motor. Ek weet nie, in hierdie nag, waar my drome eindig en die realiteit begin nie.

Deursigtige drome, ja. Here, watter gemors is in my kop aan die gang? Ek het dekades lank niks gedroom nie. Ek weet nie hoe om 'n ferm hand op myself te hou nie.

Sus, ek vertrou alles gaan nog goed. Toe ek laas iets van hulle gehoor het, het Hendrik gesê dit gaan goed met die nuwe boerdery - hy het toe net begin om 'n nuwe boord te plant. Ja, sy sakke vol geld.... Ek is darem bly hulle het nou nog 'n derde enetjie gekry. Dit gee Marietjie darem iets om te doen, tussen die besigheid deur. Miskien kry ek kans om te gaan kuier, gouer as wat hulle verwag. Ons sal maar moet sien, né.

Jou geliefde broer

Gert

HJ


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/storie2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]