SKOP Kompetisie 1999:.............. Gedigte |
Eerste prys:
Danie Venter
|
Tweede prys
Lynette Weideman
|
Derde prys
Monica Jacobs |
Naby die voorlaaste stasie"Alle kaartjies is betaal en lyk in orde.
Miskien wil u aansit vir 'n vroeë aandete;
almal is welkom, selfs dié sonder gewete.Of miskien voel u lus vir 'n laaste drankie? Bestel
en vra vir 'n koerant sonder nuus uit die binneland.
Lees alles oor die weer en die vuur wat nog brand."
"Ja, dit ís soms morbied en betekenisloos. As u benoud voel,
trek oop die blindings en kyk in na buite,
na die landskap wat stroom deur koeëlvaste ruite.Miskien herken u 'n vreemde straat
of die kerk waar u gedoop is of u alma mater.
Alles word sigbaar; soms vroeër, soms later."
"Wat gebeur het vroegoggend? U het so rustig geslaap,
ek wou u nie wek nie. Daar is tog min in Geboorte
se skemer stasie te sien, behalwe misklen die klassieke poorte.Dit was belangrik dat u slaap ná die lang reis tot daar,
sodat u wakker kan wees hierdie noodsaaklike skof,
waarin u gewoond moet raak aan verstikkende stof."
"Hoe lank nog? Wat kan u verwag? Sommige vrae
het meer antwoorde as alle woordkombinasies;
dis gewoonlik opgesluit in die flikkerende spasies.Nogtans, oor enkele ure, as my geheue u in die steek laat,
om die verwagse skerp draai: Dood die voorlaaste stasie,
'n kort ewigheid verder, u eindbestemming: Herintegrasie."
Skuldbelydenis van ThetisMet blonde wiere verstrengel om oker lede
vervloei my weerstand in golwe
ewig kabbelend om jou lyf,
pleitend om vergiffenis vir 'n owerspelige verlede.
Jy, Adam,
wat my,
Eva,
so begeer het
dat die onskuldige dood
van ontelbare skribbelaars, woordsmokkelaars en storiediewe,
jou nie kon stuit nie en jy,
my, ten spyte van my onvermoë,
as jou nimf begeer het -
is nou kliphard en koud.
Rotsgelaat teenoor rotsgelaat
staan ons steeds
op hierdie kontinent
verbind deur wit skuld en swart verwyt.