gedigte 6
|
Christian Morgenstern
vertaal deur Helene de VilliersVis en wind Sag op ligte voete kom dit nader
Danie Venter Naby die voorlaaste stasie In 'n raam van Salvador Dali Van die Federasie van Skuldige Gewetes
RvL Gesig Drie insekte: 'n Afrika drieluik Mtan 'ezulu Semper reformanda: Narratiewe teologie
Lynette Weideman Volmaan
Kelvin Knowles oomblik versoek hinderlaag slegte gewoonte nuwe wêreld oos wes - woord bes
Vis en windHoe die Wind
oor die water dans
dit weet die Vis
en maak hom dit in honderd skubbe na . . .
en wys dit weer
aan wie hom vang,
wys hom skitterblink -
hoe sy geliefde Danser-van-ver, die Wind,
in son- en maneskyn
die stroom se blanke spieël daarbo
in honderd skulpies
skub . . .
Christian Morgenstern
vertaal deur Helene de Villiers
OP
****
Sag op ligte voete kom dit nader
voor die inslaap, tere windvlaag:
Luister, siel, na my berading,
laat geluk jou troostend toelag.Wie in liefde jou omring het,
dié sal altyd om jou bly,
dié sal groot en kleiner kringe
trou verenig saamdans in die rei.Steeds sal hulle aan jou bou
nes jy vir hulle ook versterk -
en, ontwaak tot één aanskouing,
ding jul mee in dien en werk.
OP |
VolmaanGisteraand was 'n aand.
En ek was daar in die groep
saam in die kring
deur sipresse omring
besig om dooies tot lewe te roep.Gisteraand was 'n aand
en ek was daar in die groep
saam in die kring
geroer ontraak gering
waar dooies om lewe roep.Gisteraand was ek daar
en die stemme was 'n raam
van vlamme om die maan
toe hy seil van sipres tot sipres.
Gisteraand was ek daar
en die stemme was 'n raam
vir niks met 'n naam
terwyl ek op die loskom wag.Gisteraand se skyn het verglim
saam met gister en die naam
net die naglans as die raam
toe die maan sy sirkel volmaak.En ek was daar in die loskom saam.
OP |
GesigGoed,
jy hét dit gesien,
op die oog af
visioen miskien?Dit lag weer
meer en meer:
Ja, piekenien -
maar wat op aarde
en die waters onder die aarde
beteken SIEN?Die uiterlike lig
se skyn - sein -
kaats in na die brein:
wat daar vibreer,
word tot sien geïnterpreteer -
persep / konsep
ontmoet in die skeppende Ek...Efatha! - Gaan oop!
Vir 'n nuwe oog
straal alles boodskappend
onder die hemelboog.Uit lig / donker
rys die teëbeeld
donker / lig. Die Son en die Maan
is twee oë in 'n Egiptiese gesig.
OP |
Drie Insekte : 'n Afrika-drieluik
Scarabeus rol die son.
Uit miskruier se afvalbal
waarin sy haar eier gelê het,
EGIPTE
sal siklies altyd
nuwe lewe kom.Anansi skelmstreek-spinnekop
spin uit slimmigheid,
uit eie buik se wysheid
GHANA
die hele sigbare heelal,
die blink draad van die tyd.Mantis bidsprinkaan
maak groen metamorfose,
speel sy transformasies,
SUID-AFRIKA
omvorm asof in 'n grap
tot goed die bose.
OP |
Mtan' ezuluEendag het hulle die water afgesny.
Ons het vooraf potte vol water gestoor;
die bad gevul. En in die aand
lê daar in die stagnante water
'n mantis dood.Toe ek vee in 'n donker hoek
waar die huishulp selde kyk,
vind ek weer 'n mantis dood,
stokstyf, klein groen lyk.Wat skort om 'n mantis te laat sterf,Eendag vind ek in die tuin -
wat beteken verdriet van lewensbederf?
toe ek uit my kar klim
in 'n klimopbegroeide hoek -
voel ek hoe op my arm 'n nuwe
jong mantissie kom staanplek soek.
OP |
Semper reformanda: Narratiewe teologie
Die ou formuleringe
bars uit hulle nate.Nuwe sinkroniese wetenskappe
vloei saam -
rank kruis en dwars
in die hemele op
in die aarde af,
hier waar ek in die middel staan.Omdat naamgewing by ons so gebrekkig is,
kies jy nou en sê:
Is dit Mantis religiosa
vir die Bidsprinkaan, klapklank /Kaggen,
of Hottentotsgot, Outatjie Jesus?Selfs in sy naam dra die Trickster-Engel
'n hele spektrum met hom saam.Hermes die vormverskuiwer dans
deur ons dierestories...
Hy wat biddend lag
en laggend - op sy ou ramkietjie - bid,
flits verby met gevleuelde voetslag...
kom sit op my hande
en sê mantisgroen
reformanda reformanda****
Dis nie dat ek ontwortel nie,
want sonder wortel waar's die vrug?
Ek word 'n xerofiet
gewortel in die lug.
OP |
In 'n raam van Salvador Dalidie dag sukkel eers hinke-pink
op onpaar krom krukke later
gaan dit gaandeweg beter
veral vinniger en vinniger
hoe later hoe kwater
nogtans bly dit komieklik
vir die trop jillende horlosies
in die haarlose bome
sommiges hou hul mae
met dun armpies vas
tussen twintig-voor-vier
en kwart-voor-drie
ander kraai en wil handjies klap
almal lag hulle natuurlik slapin die agtergrond 'n bedeesde
spieëlkas met voete
van 'n leeu en die bene
en heupe van 'n vrou
in 'n enkele laai
met 'n klein en silwerige knop
tussen twee velle papier
droë angeliere en die geur van salie
voorop: IN 'N RAAM VAN SALVADOR DALIin die voorgrond hang 'n elsie
aan wapperende beentjies
onderstebo in die water
of ewe klam lugspieëling
en pik-pik reëlmatig
langbek aan die ewe lang bek
van sy vaster weerkaatsing
in die verdeelde werklikheid
sy stert wip-wip en krap
aan die egalige
gepoleerde geel lug
tussen amorfe wit gate
waarin wolke dalk was
of later sal pasdie gate se some:
die soliede silhoeët
van dit wat iemand
wat gedog het hy snap
koorsagtig geskribbel het
soos in indiese ink
'n desperate dronk brommer:
sommer sommer sommer sommer
OP |
Van die Federasie van Skuldige Gewetes
na 'n gedig van Seamus Heaney I
die dokke was bedrywig maar doodstil
toe my posboot in Tafelbaai vasmeer
net die sagte slurp en suig geluide
van buiteband buffers teen die rompdie klerk by immigrasie was blind
maar het my deurgewuif omdat hy kon sien
dat in my dokumente geen melding gemaak word
van permanensie of uitsondering op die reël niedie vrou by doeane wou luister na rede
maar kon nie want Schubert se onvoltooide
simfonie het geblêr uit 'n gekonfiskeerde
radio maar my Bybel kon ek darem behoudaar was portiere maar hulle was besig
met hul daaglikse toi-toi passies
en taxis in oorvloed maar in elke venster
BLACKS ONLY in swart op wit bordjiesek het ' n barmhartige Zoeloe se aanbod aanvaar
van 'n gratis riksjarit na die middestad
heelpad het hy vertel van sy kinders
wat in Switserland medisyne studeerdaar was meer woonstelle en tv-torings
langs Hillbrow se kronkelstrate
en die verkopers op die sypaadjies
het rande en sente goedgunstiglik aanvaarvir toeriste se onthalwe het leeus die strate
oorgesteek sonder om hulle aan robotte te steur
net lui na lastige meeue gehap wat tussen
hul tande wou pik maar nooit raakgehap nieop die sypaadjie tussen miljoenêr smouse
het bedelaars onder oranje blanje blou sambrele
blinkmond gesmul aan kreef met 'n pikante
sous van simpatie by gebrek aan berouteen die plat berg se hange was die Japannese tuine
verwaarloos maar herkenbaar en karretjies aan kabels
het met gereelde tussenposes op en af gery
met 'n uitsig oor dolfyne wat duik deur 'n ringdaar was nog vir my 'n kamer in die grondbruin gebou
met die gat in die dak wat niemand wil regmaak
waardeur die son jaarliks stiptelik op 16 Desember
met trompetgeskal op 'n tiekie valII
die eerste nag in die hotel was die swaarste
om weer te moet slaap sonder muskietnette
die muskiete se wysies nog net-net bekendin jou drome verloor jy jou malariapille
en die muskiete se grynslaggende gesigte
is kombinasies van Verwoerd Vorster en Bothadie koffie in die oggend is bitter en swart
want suiker is 'n edel mineraal en debatte
in die parlement word besleg met melktertgevegteby distrik ses breek die busbestuurder
'n onwaarskynlike baan tussen linies
casspirs en grommende stootskrapersjan van riebeeck en sy vrou lyk onthuts
blink opgepoets met krale om die nek
en jan smuts spook onvergenoegd in die tuinetussen blomme op die grasperk voor die Uniegeboue
sit vrouens en kinders onder kappies en mans
in rooi baadjies bedien tee en komkommertoebroodjiesKimberley se groot gat gaap gemaak verveeld
sluk al die diamante in van toeriste wat glo
dat hul drome bewaarheid sal wordmaar by Gold Reef City kan hulle steeds nie 'n goudstaaf
kaalhand lig nie en moet volstaan deur foto's
van hul kinders teen myntorings te hysseremoniële spiese en stokke klap op skilde
kaalvoete op hardgetrapte grond en jong meisies
dans rondborstig 'n kronkelende onversadigbare slangdie proteas en heide verdring kakiebos en brandnetel
en versluier die laaste olifante en die dapperes
wat van Van Stadensrivierbrug afgespring hetdie Vrouemonument deel haar rate met pelgrims
wat in Time gelees het van die wonderbaarlike
genesing van die meisie wat nie kon slaap nieal die riviere is in vloed en Kruger se miljoene
lê ongestoord en wag geduldig op herverdeling
onder hulle wie lekkerste laaste sal lagagter Tafelberg die tande van die Drakensberge
wat die son insluk selfvoldaan in die wete
dat hulle alles kan vreet wat hulle gevoer wordIII
ná verstryking van my tydelike verblyfpermit
weer terug hawe toe waar die boot reeds vertrek hetdie barmhartige Zoeloe het skielik tandpyn
verklaar drie keer plegtig: "Ek ken jou nie"'n kafferwaatlemoenventer glo water
is dikker as bloed en leen my sy karretjiedonkies trek deesdae net Mercedes Benze
en die sebras steur hulle nie aan my leisels niedie kruis en dwars rit verloop klopdisselboorm
maar bring my niks nader aan enige hawe'n verkeerskonstabel met 'n wit handskoen
stop my en sê ek moet links hou of so nieek klim eerder af en kry koers na die naaste
kroeg waar hulle net suikerwater en sjampanje bediendie kroegman ken niemand wat paspoorte vervals nie
maar gee die adres van 'n goeie prokureurdie huis het 'n gewel met engeltjies en druiwe
en 'n polisiekonstabel wat my summier arresteersy kaptein krap aan sy tande en stel my gerus
die boete is selde lewenslank of langerdie regter aanvaar my pleit van tydelike verlies
van gewete en verban my na êrenssonder bagasie het ek niks om te verklaar
aan die vrou by doeane behalwe ongeloof en hoopdie man hy immigrasie ken regte dokumente
as hy dit sien en sê ek is nogtans welkomwant volgens hom het ek 'n eerlike gesig
ten spyte van my winskopie masker van houthy stel my dus aan as wandelende ambassadeur
met 'n ambassade oral waar my hart ooit gaan staandie afskeid is somber met vrolike liedjies
oor die Alibama en 'n kat wat altyd terugkeerkaapse klopse vang die punt van die laaste papierlint
wat ek met 'n witgewaste hand oor die reling gooiwanneer die naelstring onvermydelik breek is die knal
harder as 'n AK-47 seekoeisambok sweepslag
OP |
oomblikdeur die koue suising van die wind
sien ek jou gesig
en waai die poinsettias soos jou soene
teen my vasen skryf ek hierdie stukkende gedig
Somerstrand: 1993
OP |
versoekjy
'n huis
en jillende kaalvoet spruite
veral jy
slegs dit was my gebeden nou?
nou sit ek met psigiese analise
en 'n handvol seretonien
en hoop op beter dae
as dié
dié grysheid wat dit wat eens kleurryk
was
oorspoel het tot 'n lagwekkende
inkrimpende
eken steeds hoop ek op beter dae
as dié
steeds
OP |
hinderlaaglief
jy't te slim geraak vir my
liefkosings
te uitgeslape vir die trillings van my
vat
immuun teen my gistende passie
(en verder het jou hart gemaklik begin klop) lief
jy't te bevry geword vir my
vry
te broos vir my dwalende siel
drentelend tussen hoop en wanhooplief
uiteindelik moes ek my losmaak
ek't te bang geword vir ons
liefkosings
te broos vir ons
saamwees
en nou?nou teer ek op verwronge beelde
van eendag lank gelede
OP |
slegte gewoonte"I've just got one bad habit...dis soos die interaksie van mond en sigaret
and it's you
- Michael Franks
'n slegte gewoonte
jy
wat ek weet my doodmaak
jy
waarsonder ek weet
ek nie klaar kom nie
jy
wat my keer op keer
papiere aan die brand laat
skryf
OP |
nuwe wêreldop 'n somer voordag
het ek my half-lam duif
uit my palms bevrysoekend na die belofte van olyfgroen
en my geveerde hoop
het klokslag voor dagbreek
dwarrelend bo my kom sirkel
en in sy bek die krul van
'n haarpunt
sy koorsagtige vlerkklap
sy's oppad:die een met die son in haar kies
en in haar palms
die belofte van 'n vasmeerplek...
03/04/98
OP |
oos wes - woord bes
(voor die vertrek)voor dié bruising
lank voor poëte
(jammerlike apologete)
metafories en skriftuurlik korrek
hul opeenhoping van klinkerende frustrasies
orgasmies op velle stort
het mense dié pad geloopselfs ek
met 'n duisend en een verse
as demper vir 'n skietende poësie pyn
as gekarteerde rigting vir verdwaling
loop êrens langs 'n yskoue see
en bid dat iets meer as net
'n koue sout wind
my moet pluk
straks 'n meesterlike vers
'n gebundelde stukkie ek
êrens op 'n rak
bladskuddend met surrealistiese boeddhiste
struggle poëte
ladies en gentlemen van woorde
êrens die ontmoeting van
hart mond en siel
smaak
soos mense voor my
onwillige reisigers
met bagasie oorbodig
op 'n ongekarteerde woord
landskap
OP |
|
|
|