Boek oor rebelle van die Boereoorlog aktueel

So het hulle gesterf.
Gedenkboek van teregstellings van
Kaapse rebelle en Republikeinse burgers
tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

deur Graham Jooste en Abrie Oosthuizen (1998)

Disclaimer

Twee jaar na die einde van die Anglo-Boereoorlog verskyn die boek Hoe Zij Stierven", deur G. Jordaan waarin die teregstellings van rebelle en burgers van die ou republieke opgeteken word. Die boek is geskryf toe gebeure nog vars in die geheue en emosies nog rou en bitter was. In 1941 word hierdie boek in Afrikaans vertaal en ek (soos baie ander Afrikaners) het grootgeword met 'n kopie daarvan op ons boekrak Daarom was ek so aangenaam verras om in hierdie honderdjarige herdenkingsjaar van die Anglo-Boereoorlog die pragtige moderne uitgawe van Graham Jooste en Abrie Oosthuizen se So het hulle gesterf onder oë te kry. Dis geskryf deur Oosthuizen van Aliwal-Noord gebaseer op die intensiewe navorsingswerk van die Engelssprekende Jooste van Oos-Londen en kyk nou honderd jaar later met groter begrip en met nuwe perspektiewe en insig na hierdie tragiese verhale.

So het hulle gesterf vertel die stories van al die burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog voor die vuurpeleton of aan die galg gesterf het. Daar word vertel van hul laaste ure, persoonlike boodskappe en hartroerende laaste briewe, van hul hofsake, van hoe hulle tereggestel is en waar hulle begrawe lê. Meer as sestig is so tereggestel; ongeveer twee-en-twintig in die Transvaal en vier-en-veertig in die Kaap, waarvan die oorgrote meerderheid as rebelle in die Ooskaap. Die boek vertel dus ook eintlik deel van die verhaal van die Boere-Kommando's in die Ooskaap. Van die Kommando's van Genls. Smuts en Malan en Komdte. Kritzinger, Fouche en die ongelukkige Komdte. Scheepers, Lotter en Breedt wat al drie self voor vuurpeletons sou beland .

Die tereggesteldes wissel vanaf welgestelde vooraanstaande Boere soos Hendrik van Heerden van Middelburg tot die tragiese verhaal van die eenvoudige sestienjarige bywonerseun, Ignatius Nel, van Graaff-Reinet wat nie Engels ( en dus die hofverrigtinge ) kon verstaan nie. Eers toe Ds. Murray hom die Sondagmiddag in sy sel besoek, moes hy tot sy skok verneem dat hy die volgende oggend doodgeskiet gaan word . "My doodskiet ? Wat het ek dan gedoen ? Ek het nog nooit 'n geweer in my hand gehad nie. Ek het maar net die perde opgepas". Ds. Murray het gaan soebat , maar tevergeefs en Nel is die Maandag gefusileer! Die Britse opperbevelvoerder, Genl. Kitchener, was vasbeslote om 'n volskaalse Rebellie in die Kaapkolonie te voorkom deur voorbeelde van gevange Rebelle te maak en geen genade is betoon nie.

Die militêre verhore was meestal bloot vir die skyn, sodat Gideon Scheepers minagtend van 'n "Hof van Onreg" gepraat het. Mense is skuldig bevind en tereggestel op klagtes van hoogverraad en "barbarous acts contrary to the customs of war ". Lg. het ingesluit o.a. die doodskiet van Engelse soldate deur Kaapse Rebelle tydens gevegte, treinroof en die afbrand van huise - iets wat die Engelse toe al in die Transvaal vervolmaak het. So is Komdt. Gideon Scheepers o.a. aangekla van brandstigting sodat die Britse koerant "The Morning Leader " moes skryf : " It would be too ludicrous to shoot him for indulging in a practice which we were first to introduce in South African warfare". 'n Ander klagte was die doodskiet van 'n gekleurde spioen - iets waarmee die Britte weereens eerste was. Alfred Malapi van Aliwal-Noord is summier tereggestel in Desember 1900 op klagte van spioenasie vir die Boere . Die uitspraak teen die 23-jarige Gideon Scheepers was 'n voldonge feit en hy is op 18 Januarie net buite Graaff-Reinet deur 'n vuurpeleton tereggestel .

'n Ander kontensieuse saak waaroor 'n hele aantal burgers tereggestel is, is oor die dra van Engelse uniformstukke. Die Engelse het dit as 'n verbreking van die Haagse Konvensie beskou, terwyl die Boere dit bloot uit nood aangetrek het, weens die haglike toestande waaronder hulle moes leef . So is die drie burgers wat die verste suid in die oorlog dood is, Cornelius Vermaas, Henry Rittenberg en Arie van Onselen tussen Kirkwood en Glenconner summier tereggestel toe hulle met Britse uniformstukke aan deur 'n Britse patrollie oorval is. John Baxter het dieselfde op Aberdeen oorgekom na 'n verhoor. Genl. Smuts was hieroor so kwaad vir die Britse bevelvoerder, Kol. Scobel, dat hy hom nooit kon vergewe vir sy wrede optrede teen hierdie jong mans nie. Baie jare later, toe Smuts Minister van Verdediging van die Unie van Suid-Afrika geword het, en Scobel bevelvoerder van die Britse troepe in die Kaapkolonie was, het Smuts nog hieroor geweier om hom te ontmoet.

Die verbittering wat deur al hierdie teregstellings veroorsaak is , het die South African News laat skryf : "These Khaki fools are a rich harvest to be reaped by us who remain in the country when they are safe at home." Byna al die teregstellings in die Kaapkolonie het in die openbaar plaasgevind en al die sog. "undesireables" (lees Afrikanerleiers in hul gemeenskappe) is gedwing om dit by te woon, ten spyte van baie sterk protes in die Britse pers en parlement oor die barbaarse optredes. Na die Britse oorwinning het geen haan ooit weer gekraai oor hierdie en ander skendings van die Boere se menseregte nie. Geen Kommissie van Waarheid en Versoening het ondersoek ingestel nie en verhoudinge in Suid-Afrika is vir geslagte lank vertroebel hierdeur. Geen wonder van die ou Boere was lief vir die ou gediggie:

As ooit 'n wêreld-katastroof
ons liewe aarde in twee mag kloof,
O, Heer, gee dan dat Engeland,
Hom nooit bevind aan onse kant.
Om saam te vat: So het hulle gesterf is 'n boek wat netjies gebind en keurig uitgegee is; dit lees lekker en bevat 'n magdom inligting oor die teregstellings. Met al die huidige belangstelling in die Anglo-Boereoorlog is dit 'n boek wat op almal se boekrak behoort te wees. Dis lekker aktueel in terme van ons onlangse geskiedenis en heelwat lyne kan deurgetrek word na vandag toe. So herinner Kort Willem Pienaar en sy twee seuns, Christiaan en Salomon, se smartlike ondervinding aan die Eikenhof Drie van vandag.

'n Moontlike vals verklaring deur 'n plaasarbeider lei daartoe dat Christiaan gehang en Willem en Salomon tot lewenslange tronkstraf gevonnis word op 'n klag van moord op 'n Luit. Wilson. Eers na die oorlog het twee ander burgers in beëdigde verklarings volle verantwoordelikheid vir die skiet van Wilson aanvaar . En dan is daar nog die storie van Jan Momberg.... Maar die afloop van hierdie twee stories sal die leser maar self moet gaan naspeur.

Uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun
ISBN: 0 7993 2557 0
253 bladsye
R85.00 in die handel
R68.00 direk van uitgewer

Resensie deur
Stef Delport
Kirkwood

Bied leiding vir kreatiewe reaksie op lewe

Emosioneel intelligent .... Jy!
Ontgin die wisselwerking tussen jou hart en verstand

- Annie Coetzee (1998)

Toe ek aanvanlik dié boek begin lees het, het ek gedink: hier is nou nog 'n "happy" ekstrovert wat melankoliese mense met diep valleie van donker gevoelens glad nie gaan aanraak nie. Soos my broer so dikwels opmerk: sulke gelukkige mense dink nie oor die lewe nie - dit is hoekom hulle so gelukkig is.

Ek moet egter sê dat my mening omtrent die skrywer en die boek verander het soos wat ek verder gelees het. Eers het dit vir my voorgekom asof die skrywer poog om 'n mens se sosiale vaardighede te verbeter. Alhoewel dit nie uitgesluit is nie, lei sy 'n mens eerder geleidelik tot insig in die rol wat 'n mens se emosies en gevoelens speel in byvoorbeeld belangrike besluitnemings en menseverhoudinge. 'n Bewustheid word geskep van die belangrikheid om nie die hart (emosies), liggaam en verstand van mekaar te isoleer nie, maar om dit as 'n geheel en in harmonie met mekaar te ervaar.

Deur die gebruik van gevallestudies van gewone mense word die konsep van emosionele intelligensie op 'n praktiese manier bekend gestel. Die boek is in elke-dag-taal geskryf, verstaanbaar vir skoolkind en besigheidspersoon, vir lesers met of sonder tersiêre opleiding. Die skryfstyl is nie-wetenskaplik en die selftoetse, wat mens tot self-insig moet lei, maklik genoeg vir enige persoon om te voltooi. Hierdie selftoetse sal selfs 'n geharde persoon wat sy/haar emosies probeer ontken, lei tot die erkenning van emosies waarmee eintlik geworstel word.

Nie almal sal egter bereid wees om (soos die skrywer voorstel) die afstand tussen die privaat self en die openbare self kleiner te maak nie. Om emosies aan 'n mens self te erken ter wille van beter besluitneming, sosiale vaardighede en kreatiwiteit is een ding, maar om openlik met jou gevoelens rond te loop, is heeltemal 'n ander vir sommige van ons. Dit is nie almal wat 'n boodskap van toeganklikheid, vriendelikheid en toegeneëntheid wil uitstuur nie - dalk omdat dit te veel voorkom as die eienskappe wat 'n openbare persoonlikheid moet hê. Daarom is ek van mening dat die boek nie tot alle persoonlikheidstipes sal spreek nie.

Aan die ander kant sal die boek nuttig wees vir persone wat ernstig daarin belang stel om byvoorbeeld beter mense-bestuurders wil wees, beter mense-verhoudinge te handhaaf, en om in beter kontak te bly met hul hele wese. In sommige opsigte lees die boek 'n bietjie soos 'n opkikker-boek, maar dit lees maklik en is oor die algemeen genotvol. Waarvan ek baie hou, is dat die skrywer 'n mens wil lei tot groei en nie perfeksie nie; tot die vermoë om kritiek en konflik kreatief te kan hanteer, en om eerder aandag te gee aan innerlike sielskwaliteit as uiterlike afgerondheid en perfeksie.

ISBN: 0 7993 2601 1
R44.95 in die handel
R35.95 direk van die uitgewer

Resensie deur
Herronia Venter
Umtata

Verleidelike inleiding tot boeretrooskos

Resepte vir afvalliges
saamgestel deur Marius du Plooy (1998)

Nét die ding vir die skroomvalliges, die weifelaars, die twyfelaars, die ongelowiges, het ek gedink toe ek dié boek oor 'n 'sensitiewe' onderwerp die eerste keer onder oë gekry het. Afval. Jy is òf vir, òf teen. Afval is een van daardie onderwerpe wat onmiddellik reaksie by mense uitlok. Almal weet presies hoe hulle voel oor gebraaide skaapkop, beespens, harsings, gevulde beeshart, en so aan. Miskien sal hulle nog huiwer wanneer dit kom by 'pofadders' ("solank ons dit net nie rou hoef te sien nie," sê hulle gewoonlik). En hoeveel oortuigde 'onthouers' Voorblad: Resepte vir afvalliges het nie al geswig voor gebraaide 'skilpadjies' nie? ('n Resep vir dié dis word verskaf onder die naam "Lamslewer in netvet").

Die sterkste punt van Resepte vir afvalliges is dat dit die geloof nie op 'n oordonderende manier probeer bevorder nie. 'n Groot gedeelte van die boek word afgestaan aan resepte vir niertjie- en lewerdisse (20 bladsye). Tong - en wie kan daaroor stry? - kry ses bladsye. Daar is dus baie vir die konvensionele of konserwatiewe palaat. En wie weet waar jy gaan eindig as jy eers 'n tongslaai beproef het? Ander temptasies wat in dié boek vir jou wink, is onder meer 'n droëvrugte-lewerbrood, Deense lewerpatee, vlamniertjies, niertjies onder die kombers, suursouslonge, tongstrudel, harsingpoffertjies, soetvleis, en nog vele meer.

En as jy nou eers die verderf in is, bied die boek genoeg om jou verder te lei, vanaf instruksies oor die voorbereiding van pootjies, die skoonmaak van die kop, die vries, berging en ontdooiing van die verskillende soorte afval. Daar is ook volop wenke: week beeslewer in
Om van wenke te praat...

Klik hier vir

'n Onse angeltjie-wenk

melk of soutwater om van die geur ontslae te raak, plaas harsings in 'n water- en suurlemoensap-mengsel om dit ferm te hou. Dat die skrywer die roerbraai van kerriepoeier (masala) vooraf aanbeveel, is 'n duidelike aanduiding dat weet waarvan hy praat.

Die swart en wit illustrasies is gematig en trek nie onnodige aandag van die resepte af nie, maar vervul tog 'n dekoratiewe funksie. Die resepte is afkomstig vanoor die hele land en is 'n uitvloeisel van 'n wedstryd wat Abakor geloods het. 'n Paneel van fynproewers by die Vleisraad het die resepte gekeur en getoets.

Maak los daai tong!

Uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun
ISBN: 0 7993 2604 6
64 bladsye
R39.95 in die handel
R31.95 direk van die uitgewer

Resensie deur
Philip John
Umtata

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy

WENK:

Een van die redes waarom mense nie van afval hou nie, is die 'ongemaklike' geure wat vrygestel word by die kook van afval. Onse angeltjie raai lesers aan om 'n baie eenvoudige oplossing te beproef, verwant aan die digterlike "om van drolle sterre te maak". Onse angeltjie se kookkuns-raadgewer sê sy vind dat die speel van geestelike musiek vir daardie drie uur wat die pens moet prut 'n interessante uitwerking het. Sy sê: "Aan die een kant veroorsaak die musiek dat die reuk nie so steurend is nie, wat ek toeskryf aan die 'troos' wat geestelike musiek bring. Aan die ander kant is dit asof die musiek intenser word, asof mens dit duideliker hoor wanneer daar so 'n bose klank uit die pruttende pot opstyg. Dit is asof die reuk 'n baie goeie agtergrond vir die musiek vorm. 'n Vorm van toegevoegde waarde, dus (na albei kante)".

Geestelike musiek wat Onse angeltjie beproef het en vir hierdie doel aanbeveel, is die volgende:

Robert Fripp se The Gates of Paradise (DGM9608)
Brian Eno se Apollo: Atmospheres and Soundtracks (EGCD 53)
Fripp en Eno se Evening Star (as jy dit in die hande kan kry)
Rachmaninoff se Vespers, gesing deur die Robert Shaw Festival Singers (Telarc CD-80172).

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD

Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/res4.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]