Wie is Saartjie Baartman?

Jason Lloyd

Op Vrydag 9 Augustus - Vrouedag - vanjaar het die baie-baie klein Oos-Kaapse dorpie, Hankey, sy vere behoorlik reggeskud om die duisende mense, insluitend president Thabo Mbeki, Disclaimer wat op die dorpie toegesak het, te akkommodeer. Die geleentheid: die begrafnis van Saartjie Baartman, die sogenaamde eksotiese Hottentot Venus.
Maar wie is hierdie vrou, wat nou na amper 200 jaar beskou word as ‘n nasionale simbool? Die geskiedenis vertel ‘n treurige, plek-plek bisarre, verhaal. Toenemend het sy egter ‘n simbool geword van verknegting en verdrukking vir die inheemse volkere van Suid-Afrika en vir die feminisme.
Geskiedkundiges is dit eens dat sy om en by 1789 in die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap gebore is. Ja, sommer net hier anderkant. Sy het glo later uitgewyk na die Kaapse Skiereiland.
Daar aangeland, het haar ongewone uitstaande agterstewe, oftewel steatopigie, sommer dadelik die oog van kolonialiste gevang. Ook haar vergrote geslagsdele het die nuuskierigheid van veral Westerlinge vergroot.
Lank reeds voor Saartjie se aankoms in die Kaap, is daar vuilstories van die Hottentotte versprei. Met Jan van Riebeeck se koms na die Kaap in 1652 is sulke vuilstories geboekstaaf. Johan Nieuhof skryf in 1654 dat hulle "luier is as die skilpaaie waarop hulle jag maak en eet."
Twee broers, Hendrik en Johan Cezar, glo van gemengde afkoms, het die khoi-vrou aan ‘n Britse skeepsdokter, William Dunlop, voorgestel. Dunlop het Saartjie oorreed om saam Europa toe te gaan waar sy kwansuis ‘n fortuin sou verdien deur haar liggaam ten toon te stel. In Londen en in Parys is sy egter onderwerp aan onmenslike vernedering.
Sy is onder meer op sirkusse saam met diere ten toon gestel. Vir die Westerse volk was Saartjie die laagste vorm van menswees en die hoogste diersoort, ‘n soort pre-Darwinistiese "verlore skakel".
Wetenskaplikes het ook toenemend in haar begin belangstel. Haar vergrote geslagsdele was 'n groot bron van verwondering, maar sy het geweier om haar aan wetenskaplikes te ontbloot. Selfs toe sy geld aangebied is, het sy nog steeds geweier.
In 1816 het sy as ‘n verarmde prostituut, drankverslaafde, dakloos en alleen in Parys gesterf, ver weg van haar mense in Suid-Afrika. Met haar dood het sy toe reeds ‘n groteske bron van stereotipes oor ras en Afrika-seksualiteit geword.
Selfs toe sy reeds dood was, het die wetenskaplikes voortgeploeter om haar te verneder - natuurlik alles in die naam van die wetenskap. Haar geraamte, brein en geslagsdele is in ‘n wasafgietsel omskep en bewaar. Dit is saam met haar skelet in die Museum van die Mensdom in Parys tot in 1985 uitgestal.
In Februarie vanjaar het die Franse senaat besluit om Saartjie se oorskot na Suid-Afrika te bring, om hier tussen haar mense begrawe te word. Khoisan-aktiviste in Suid-Afrika was verheug.
Onder die aktiviste is die Kaapse digter-aktivis, Diana Ferrus, wat in 1998 tydens haar studie-verblyf in Nederland ‘n hartroerende gedig( lees gedig hier ) vir Saartjie geskryf het. Die gedig ("To Sarah Baartman") wat sy oorspronklik in Engels geskryf het, het sy vir die eerste keer ook in Afrikaans vertaal.
Dit is hierdie gedig wat tydens die debat in die Franse senaat oor Saartjie se "vrylating" voorgelees is deur sen. Nicola About.

Hamba Kahle Saartjie!!!

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD







Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/wiesaar.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]