Gebeentes van die siel

Philip John

Een van die treffendste sprokies wat deur die Grimm-broers opgeteken is, vertel van ‘n Koning wie se onderdane deur ‘n wrede bosvark geteister word. Die Koning vra dat alle dapper mans moet Disclaimer probeer om die ongedierte dood te maak. Twee broers, een vindingryk en slinks, die ander onskuldig, eenvoudig en goedhartig, besluit om die taak aan te pak. Die jonger goedhartige broer slaag daarin om die vark te dood, waarop die ouer broer besluit om die held dood te maak en voor te gee dat hý die dier oorwin het. Wat hy benewens die eer in die oog het, is die beloning vir die dapper daad, naamlik die koning se dogter. Hy vermoor sy goedhartige broer en eis die beloning. Net voor die moordenaar sy beloning ontvang, verskyn ‘n veewagter op die toneel en begin op ‘n fluit speel. Hy het dié fluit gemaak uit ‘n stukkie been wat hy opgetel het. Dié stukkie been was deel van die reste van die vermoorde broer. Die magiese been ‘sing' die ware verhaal oor die doodmaak van die wilde vark, en soos wat die verhaal vertel word, herleef die jonger broer wonderbaarlik. Hý word dan deur die koning beloon en aangestel oor sy ouer broer (Grimm 1962).
Die wonderbaarlike krag wat in dié stukkie been van die vermoorde broer skuil, verskyn in veelvuldige vorme in ‘n groot verskeidenheid verhale, in verskillende tye en kulture. Die besonderhede mag verskil - dit gaan nie altyd oor ‘n koning en twee broers nie - maar die breë raamwerk, die geraamte agter die verhale, om dit nou so te stel, bly dieselfde. Daar is altyd eers ‘n gewelddadige stryd, gepaard met ongeregtigheid, gevolg deur ‘n teenbeweging waarin orde herstel en die ongeregtigheid ongedaan gemaak word. Of ten minste word daar erken dat beendere of liggaamlike oorblyfsels ‘n unieke krag besit om ons te roer. So was dit byvoorbeeld by die Karib-indiane wat volgens oorlewering ‘n fluit gemaak het van ‘n stukkie been van ‘n verslane vyand. Dié fluit, en die musiek wat daarop gemaak is, het nie die ongeregtigheid van die doodslag herdenk nie, maar moes dien as beskerming teen enige kwaad wat die gees van die doodgeslane vyand sou wou aanrig.
Soms is die geluid wat die bene maak, heel gedemp. Al wat dan oorbly van die kennis van die geweld en onreg is die vae gevoelens wat ons die "liriese" noem. In Patrick White se The aunt's story (1948) verwys die hoofkarakter, Theodora Goodman, na Meroë, die huis in Australië waar sy grootgeword het, as "a country of bones" (108). Hier is die band tussen die oorspronklike ongeregtigheid in die verlede en die herstel van die orde in die vorm van kultuur (musiek, kuns, poësie) baie vaag. Onmiskenbaar klink ‘n liriese klaaglied nog steeds uit die prosa in hierdie roman op - eggo's van die lied van die beendere wat die siel opvang.

Onlangs, en baie nader aan ons, het hierdie lied van die beendere weer hoorbaar geword en het ons gesien watter mag dié klank het. Dit is waarskynlik hierdie lied wat die Franse parlement gehoor het en wat hulle beweeg het om die nodige te doen sodat die oorskot van Saartjie Baartman na Suid-Afrika teruggebring kon word toe Diana Ferrus se gedig oor Baartman voor die parlementslede gelees is:

For Sarah Baartman

Lees Afrikaanse
vertaling hier:

in Willem Fransman se drama:

Die Belofte in die
Skilpaddop

I've come to take you home -
home, remember the veld?
the lush green grass beneath the big oak trees
the air is cool there and the sun does not burn.
I have made your bed at the foot of the hill,
your blankets are covered in buchu and mint,
the proteas stand in yellow and white
and the water in the stream chuckle sing-songs
as it hobbles along over little stones.

I have come to wrench you away -
away from the poking eyes
of the man-made monster
who lives in the dark
with his clutches of imperialism
who dissects your body bit by bit
who likens your soul to that of Satan
and declares himself the ultimate god!

I have come to soothe your heavy heart
I offer my bosom to your weary soul
I will cover your face with the palms of my hands
I will run my lips over lines in your neck
I will feast my eyes on the beauty of you
and I will sing for you
for I have come to bring you peace.

I have come to take you home
where the ancient mountains shout your name.
I have made your bed at the foot of the hill,
your blankets are covered in buchu and mint,
the proteas stand in yellow and white -
I have come to take you home
where I will sing for you
for you have brought me peace.


Die gebeure rondom hierdie gedig maak duidelik dat die tyd van die goeie broer in die Grimm-sprokie aangebreek het (reeds voor hierdie gedig het Kirby van der Merwe ‘n gedig gepubliseer, "Saartjie Baartman in Parys", in Nuwe stemme 1 (1997)). Hoe hierdie broer uiteindelik gaan lyk wanneer hy (en sy) weer op die voete is, is iets wat beslis sal word deur die manier waarop individue en groepe gebruik (of misbruik) maak van die Baartman-oorskot en ander aspekte van die geskiedenis. Ons het reeds die eerste dele van die verhaal gehoor, die dele van die sprokie wat met die slinkse, slegte broer geassosieer word. Hoe Saartjie die slagoffer was van Europese rassisme, kolonialisme en imperialisme. Hoe Saartjie die teiken was van die ongeregtigheid van Europeërs wat hulle as beskaafd voorgedoen het, maar eintlik besig was om hul geloof in hul superioriteit te bevestig.
Maar Saartjie se verhaal, en Suid-Afrika s'n, saam met haar, en die lied van die gebeente, het al baie keer elders ook opgeklink. In Januarie vanjaar (2002) het dit byvoorbeeld aan die lig gekom dat hare en stukkies vel van ‘n Australiese aboriginele vrou, Truganini, in ‘n Britse museum was (Darby 2002). Truganini was ‘n Tasmaniese aborigineel wat aan die einde van die 18de eeu gebore is, die tyd van die Europese besetting van Tasmanië, toe bekend as Van Diemen's Land. Die stryd tussen Europese koloniste en aboriginele inwoners om die beheer van Tasmanië het bekend gestaan as die "Black War".
Om die aboriginele bevolking van Tasmanië van algehele uitwissing te red, het die goewerneur vir George Augustus Robinson aangestel om die aboriginele te oorreed om Tasmanië te verlaat en hulle op Flinders eiland te vestig. Die rol wat Robinson in die gebeure gespeel het, het aan hom die naam "The Great Conciliator" besorg, ‘n verhaal wat vertel word in Robert Drewe se roman, The savage crows (1976). Robinson het eerste kontak gemaak met Truganini en haar oorreed om hom te help om die oorblywende aboriginele inwoners van Tasmanië van die eiland af te kry. Hy het Truganini herdoop as Princess Lallah Roock. Die hervestiging van die Tasmanië-aboriginele op Flinders eiland was egter nie suksesvol nie omdat hulle hier aan siektes en honger gesterf het. Truganini het die gebeure oorleef en haar later in Hobart, Tasmanië, gevestig. Sy is daar oorlede op 8 Mei 1876. Teen haar wens in dat haar liggaam nie gesteur moet word nie, is dit opgegrawe en is haar skelet tot in 1947 in die Tasmaniese Museum uitgestal. Op 1 Mei 1976 is haar reste veras en gestrooi in die area waar sy gebore is, wat mense gedink het ‘n einde aan die verhaal sou bring, tot en met die ontdekking van nog reste in die Britse museum. Daar is aanduidings dat daar nog reste van Australiese aboriginele in 50 museums in 18 lande is (Barkham en Finlayson 2002).
In Drewe se roman word die verhaal van die opgrawing van Truganini se liggaam nie uitgebeeld nie, maar word die leser ‘n grusame beeld gebied van die lotgevalle van ‘n ander aboriginaal, Billy Lanney, wat in Februarie 1869 in Hobart op die ouderdom van vier en dertig gesterf het. Al het die goewerneur duidelik opdrag gegee dat die liggaamlike oorskot van aboriginele nie versteur mag word nie, ook nie vir wetenskaplike doeleindes nie, word Lanney se graf die nag van sy begrafnis beroof. Die area om die graf was deurdrenk van bloed. ‘n Mensekop wat op die grond langs die graf gelê het, wat egter nie Lanney s'n nie (Drewe 1976: 19). Die hoofkarakter in The savage crows, Stephen Crisp, lees die volgende oor die gebeure in ‘n verslag oor die lot van Billy Lanney:
The Mercury laid the blame for at least one of the mutilations on the Royal Society. It alleged that some of its members, gaining admittance to the body while it lay in the dead-house, were greatly annoyed to find somebody had already taken the skull, after skinning the head and replacing it with that of a dead school teacher. ‘The European skull was placed inside the scalp of the unfortunate native, the facial features being drawn over so as to have the appearance of completeness. Feeling sure that the persons who had taken the skull now intended to take the body from the grave and so to possess a perfect skeleton, the Society resolved to cut off the hands and feet and to lodge them in safe-keeping, an operation which was carefully done' (20).
Ene Doctor Thomas Kater, ‘n mediese beampte by die Hobart-hospitaal, word van die primêre skending van Lanney se lyk verdink en hy word geskors. Na dié gebeure ontstaan daar ‘n liedjie in Hobart oor die gebeure:
King Billy's dead, Kater has his head,
Sevitt has his hands and feet.
My feet, my feet, my poor black feet
That used to be so gritty,
They're not aboard the Runnymede,
They're somewhere in this city
(Drewe 1976: 21).
Voor die Baartman-saga die Suid-Afrikaanse verbeelding aangegryp het, het ‘n soortgelyke soektog na beendere op ‘n ongelukkige klug uitgeloop. Aan die begin van 1996 het Hoofman Nicholas Gcaleka, wat ook ‘n sangoma was, beweer hy weet waar die kopbeen van Koning Hintsa was. Volgens oorlewering is Koning Hintsa se kop afgesny nadat hy deur ‘n troep van Goewerneur Benjamin D'Urban doodgeskiet is in April 1835 tydens die Sesde Grensoorlog. Volgens die siener sou die kopbeen iewers in Skotland wees. Die kopbeen waarop die siener uiteindelik op ‘n plaas in Skotland afgekom het, is na sy terugkeer na Suid-Afrika van hom weggeneem deur Xhosa hooggeplaastes tydens ‘n imbizo naby Willowvale. Hulle het nie geglo dat dit die kopbeen van Koning Hintsa was nie en wou hê toetse moes daarop uitgevoer word om vas te stel of dit inderdaad die koning se kopbeen was. Later het kenners beslis dat die kopbeen dié was van ‘n middeljarige blanke vrou (Beeld 24/8/1996 en 25/9/1996). Dié ongelukkige skedel is toe weer terug Skotland toe.
Die gebeure rondom Koning Hintsa se skedel het egter gelei tot ‘n eis dat die oorskot van Xhosa konings en hoofmanne (nie gewone krygers nie, let wel) wat in Brittanje is, teruggegee moet word. In The dead will arise. Nongqawuse and the Great Xhosa Cattle-killing Movement of 1856-7, Jeff Peires se boek oor Nongqawuse, die Xhosa-profetes, waarin die verhaal van Hintsa se dood ook kortliks vertel word (84), beskryf hy hoe Engelse soldate die afgekapte koppe van gesneuwelde Xhosa-krygers gekook het om die kopbene as aandenkings huistoe te neem (23-24). Hoeveel van hierdie reste in Britse private besit, museums en instansies is, is nie bekend nie.
Die krag wat die lied van die beendere besit, is ook te sien, of te hore, in die verhaal van Minik, ‘n Eskimo-seuntjie. Hy is in 1897 deur Robert Peary, ‘n ontdekkingsreisiger, saam met vyf ander Eskimo's of Inoeïte vanaf Groenland na New York geneem. Hulle moes dien as "lewendige uitstalling" en as gedenkwaardighede van Peary se ontdekkingsywer. Die ander vyf lede van Minik se groepie, wat sy vader Qisuk ingesluit het, het vinnig gesterf en Minik is wees agtergelaat in Amerika. Hy is toe deur ‘n museum-toesighouer aangeneem en het later uitgevind dat die museum hom bedrieg het deur die lyk van sy vader met ‘n stomp te vervang tydens die begrafnis. Die museum het die beendere van Qisuk in sy versameling opgeneem terwyl sy brein bewaar is ter wille van die wetenskap. Pogings van Minik om ‘n ordentlike begrafnis vir sy vader se reste te organiseer, het misluk. Hy is in 1918 in New York dood aan griep, na ‘n tydelike terugkeer na Groenland (George 2000).
Minik se verhaal kom na ons via ‘n boek geskryf deur Kenn Harper, Give me my father's body: The life of Minik, the New York Eskimo wat die eerste keer privaat uitgegee is in 1986. Na die gegewens oor Minik aan die lig gekom het en ‘n wet die hou van die gebeendere van Amerikaanse Indiane in museums verbied het, het die American Museum of Natural History die oorblyfsels van Minik se groep aan die Inoeït-gemeenskap oorhandig. Die oorblyfsels van Qisuk, Nuktaq, Atangana en Aviaq is toe in 1993 in Qaanaaq begrawe.
Minik se storie herhaal op ‘n ander manier die bekende patroon. In Kanada het Linda C. Smith en Don Hannah ‘n opera geskryf oor Minik, getitel Facing South. Dié opera is een van die projekte wat aangepak word deur Tapestry New Opera Works. Uit die bene het daar dus weer ‘n lied gekom. In Minik se verhaal sien ons ook iets anders wat klaarblyklik sonder uitsondering saam met die lied van die beendere gaan, naamlik stories waarop vryelik voortborduur word sodat feit en fiksie meermale oor mekaar skuif. Toe Harper in Minik se verhaal begin belangstel het, en hy mense in Qaanaaq in Groenland oor hom begin uitvra, het hy wyd uiteenlopende verhale gehoor. Minik het glo na sy terugkeer na die VSA ‘n groot rykdom in die hande gekry en sy dae as ‘n ryk man geëindig. Ander het weer gesê dat hy ‘n tandarts geword het, of ‘n soldaat in die Eerste Wêreldoorlog (George 2000).

Terug in Suid-Afrika het Gustav Preller ook die lied van die beendere gehoor toe ‘n "ouerige egpaar" in Oktober 1902 by die redaksiekantoor van Land en Volk in Kochstraat, Pretoria opdaag en hom vertel dat hulle op soek is na hul seun, Gideon Scheepers. Hulle was op pad Graaff-Reinet toe omdat hulle vertel is dat hy daar gefusilleer is en hulle sekerte wou hê. Preller skryf:

Hulle het in hul armoede die lang reis onderneem, en lank in Graaff-Reinet gebly, om te verneem na die lot van hul kind; maar die mense kon hulle nie eens die beweerde graf aanwys nie. En toe hulle dit gevind het, was dit leeg! êrens buite die dorp was ‘n gat in die grond te sien waarvan vertel werd (sic) dat hy daar geskiet en begrawe werd. Maar die graf was oop en het niks bevat nie (Preller 1940: 8).
Wat dit erger gemaak het vir die twee oumense, was dat daar koerantberigte en foto's oor die teregstelling was. Hulle het mense ontmoet wat gesweer het hulle het vir Gideon gesien en met hom gepraat na hy veronderstel was om doodgeskiet te gewees het, en dat hy ‘n nuwe naam, Armstrong, gedra het. ‘n Dokter het vertel dat hy Scheepers geopereer het na die vonnis reeds voltrek moes gewees het, maar die dokter is op pad na Engeland op ‘n skip oorlede. Dit was om hierdie onsekerheid te stop dat hulle na Preller en die koerant gekom het (54). Van amptelike kant het net verontskuldigings en ontwykings gekom (56). Rondom Scheepers se naam het die "baaierd van gerugte en berigte, verklarings en bewerings" net aangegroei (56): ‘n vrou skryf aan die Scheepers-moeder dat sy gehoor het van twee meisies wat briewe van Gideon ontvang het wat hy uit die graf aan hulle geskryf het; ‘n vrou van Winburg skryf dat Scheepers na ‘n eensame eiland verban is; uit Trompsburg skryf ‘n vrou dat Gideon in die land gearriveer het, maar homself nog nie openlik kan toon nie en dat hy "die merk van ‘n sabel" op sy been het en net kalkwater en koffie drink (57).
Wanneer Preller ondersoek instel, is dit duidelik dat Gideon Scheepers wel tereggestel is en dat hy inderdaad in die graf gelê het wat aan sy ouers getoon is, maar dat die lyk verwyder is. Al wat later gevind is, was sy hoed en stukke van die stoel waarop hy gesit het toe hy geskiet is (47). Preller vind nog getuienis van ‘n Britse offisier wat bevestig dat die lyk opgegrawe is en na ‘n onbekende plek geneem is. Uiteindelik kom daar uit ‘n deposisie van die soldate wat Scheepers tereggestel en begrawe het ook ‘n duidelike - en grillerige - beskrywing na vore oor wat presies die nag gebeur het na Scheepers tereggestel is (maar wat die moeder ook nie help nie):
Dit was ‘n verskriklik donkere nag toe ons die lyk weer opgegraaf het, ... en onderwyl ons besig was om die lyk op te grawe, het daar ‘n vreeslike donderstorm opgesteek. Bliksemstrale het herhaaldelik die aaklige toneel helder verlig. Noueliks was ons klaar met hierdie deel van ons taak, toe die storm in al sy woede op ons losbars. Struikel-struikel oor die ongelyke veld het ons vyf met die lyk voortgesukkel - waarheen, weet ek nie; maar eindelik het ons onder ‘n klompie doringbome sagte grond gevind en so gou as ons kon, Scheepers weer begrawe, en die grond gelyk getrap. Niemand moes die plek vind nie. Dit was die bevele (49-50).
Twee verskillende redes word vir hierdie aksie gegee, naamlik dat die lyk opgegrawe is om te verhoed dat die familie of vriende dit na die oorlog kon opgrawe om die gerug te bevestig dat hy met dum-dum koeëls geskiet is (47-48), en om te verhoed dat die Boere die lyk self opgrawe en in gewyde grond begrawe (48-49). Hier is iets ter sprake wat klaarblyklik altyd gebeur wanneer die lied van die beendere opklink, naamlik ‘n bakleiery en toutrekkery tussen naasbestaandes, vyande, en "vriende" of belangstellendes. Die lied wat uit die beendere kom, klink klaarblyklik verskillend vir verskillende mense; elkeen dink hulle hoor die regte, ware lied. Dit is nooit slegs ‘n geval van onreg wat aan ‘n individu gedoen is nie. Scheepers se gebeente maak ook duidelik dat die uitstalling van die beendere net so belangrik was as verberging daarvan, waar dit die belange van die koloniale mag aangaan.
Geleidelik het Scheepers se afwesige bene egter begin praat. In die boek oor hom wat Preller uiteindelik saamgestel het, is ‘n gedig in Engels deur Scheepers self, en twee gedigte deur Olive Schreiner, waarvan gesê word dat kopieë gemaak is in die konsentrasiekamp van Merebank en daarvandaan versprei is.
Die tweede gedig van Schreiner is gemaak na Scheepers se dood:
Oh, England, what is this that thou hast done!
A deed so black, so steeped in coward shame
that we, thy British subject o'er the seas,
must weep hot tears of bitter self contempt
to bear so foul a name. Alas! alas!
Thou dost not know, or see, or feel. Deaf dumb
and stone blind, thou reelest to ruin.
What is one young and gallant life to thee?
What matter faith and knightly-hood and honour
to those, who calmly starve young babes to death?
"England, thou hast already lost thy spurs!"
So spake another of they modern seers, -
Thy "spurs"? Aye, knighthood, manhood,
name and fame!
All, all are lost; and England - Milton's England,
now grasps a tinsel Empire in their place.
We wish her joy of her so noble choice,
and turn away our hearts to the lone grave
where Scheepers lies, away to burger-faith
to nobler manhood, truer Chivalry
than ever Empire breed.
England, Farewell!

Olive Schreiner........................................................................
Cape Colony........................................................................
January 24th 1902 (Preller 1940: 190)...............................

Na Schreiner se gedig en Preller se boek van 1938 het Scheepers se bene stil geraak, totdat dit in 1951 weer begin praat in "Gebed om die gebeente" in D.J. Opperman se bundel Engel uit die klip:
Gebed om die gebeente

Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen 'n doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: "Ek het hom as matroos hier aan die kus . . ."
"Ek : as stoker op 'n trein..." "Ek : in vaal-geel ligte
van 'n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien . . ."
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel...blink gesteentes! Selfs dan . . . Nee, miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente,
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.

Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim
die wit son rol en skitter in 'n diamant,
sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant.
Maar hy móés sterf : die Dood het self hom eers gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op 'n plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf . . .
toe 'n tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir 'n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak.

En ná die skynverhoor het hulle hom vertel...
voor Graaff-Reinet se sel. 0 Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
0 Graaff-Reinet se sel . . . Eségiël! Eségiël!
Vergeef my die gelykenis, Heer : ek weet 'n hond
as hy versadig is, verag die been en murg
maar bêre dit agter 'n bossie in die grond
- behoedsaam, en snuffel met die tweede honger terug:
Teen middernag het op bevel 'n vyf soldate
die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek
met grawe en lanterns in verskeie gate
onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek
en herbegrawe . . toe U die storm word, Heer; ek weet
U en die vyand het dié nag in die vallei
deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet
oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry.

Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as 'n matroos, of stoker op 'n steenkoolwerf,
in myn of tronk, in sirkustent of 'n kantien -
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd !
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd -
ek ken as moeder na 'n halwe eeu van pyn :
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
- dat ons as een groot nasie in die gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

Om te verstaan wat die gebeente toe gesê het, en nou nog steeds vir ons kan sê, moet in gedagte gehou word wat gebeur het twintig jaar na die teregstelling van Scheepers en die ouers se eerste besoek aan Preller in die kantore van Land en Volk in 1902. In 1924 besoek Preller naamlik die Scheepers-ouerpaar in hul huis in Roodepoort. Dit is nou na verskeie briefwisselings, argivale ondersoeke, die opspoor van dokumente, die voer van onderhoude, ensovoorts. In hierdie proses het ook ‘n dagboek wat Scheepers in sy laaste dae gehou het, aan die lig gekom. Dit is uit hierdie materiaal dat Preller uiteindelik die boek oor Gideon Scheepers maak wat ‘n bydrae is tot die geskiedskrywing oor die Anglo Boereoorlog. Die besoek wat hy aan die twee oumense bring, is deel van hierdie proses van geskiedskrywing.
Preller se arbeid is egter nie slegs geskiedskrywing nie, maar vorm deel van ‘n groter omvattende proses, of lied, sou mens dit ook kon noem, naamlik Afrikanernasionalisme. Die ondersoek wat Preller gedoen het en die geskiedskrywing wat daarop gevolg het, was uiteindelik in diens van die proses waardeur die Afrikaanse nasie geskep is. Dít is dan die lied wat die bene van Gideon Scheepers gesing het vanaf sy teregstelling tot en met Opperman se gedig. Die lied wat Scheepers se gebeente gesing het, was dus nie net in sy naam en dié van sy moeder nie, maar in die naam van ‘n volk, ‘n groter kollektiwiteit wat geregtigheid geëis het - en dit in 1948 gekry het (of ten minste so gedink het). Dié groter kollektiwiteit vorm die raam wat Preller se werk uiteindelik om die leed van die twee oumense plaas.
Opperman se gedig bring egter iets anders, of meer. Of, kan ons sê, bring ons weer terug by die eintlike lied. Dit bring ons terug by ‘n plek waar ons kan sien dat wanneer die bene sing daar altyd opsies en alternatiewe is en dat die lied wat ons hoor dalk vals kan wees; dat ander stemme die eintlike lied kan oorstem. Dit is ook hoe sekere Afrikaanse literatore Opperman se gedig verstaan het. Dié literatore het gesien dat die laaste strofe van Opperman se gedig nie versoenbaar was met ‘n eksklusiwistiese identiteitsprojek soos die Afrikanernasionalisme nie, al spel hulle dit nie in soveel woorde uit nie. A.P. Grové verwys byvoorbeeld na hoe die estetiese logika van die gedig daartoe lei dat "‘n versoening, ‘n heilryke toekomsverwagting" in die woorde van die spreker uitgedruk word (Grové 1965: 43). J.C. Kannemeyer vind dit aanneemlik dat die spreker in die gedig, Gideon Scheepers se moeder, al is sy ‘n "konserwatiewe, behoudende Afrikanervrou", uiting kan gee aan ‘n transenderende visie, aan "‘n perspektief waarin ander rassegroepe opgeneem word" (Kannemeyer 1989: 191). Wat hierdie literatore sien, en duidelik maak, is dat Opperman, anders as Preller, die beendere ‘n lied laat sing wat die parogiale, die eksklusiwistiese oorstyg. Hulle maak dit duidelik hoe Afrikaans, en Opperman, die lied van die gebeente in sy suiwerste vorm laat opklink, vir dié wat bereid is om te hoor.
Die lied wat Opperman uit Scheepers se gebeente laat opklink, is nie die lied van ‘n beperkte Afrikanernasionalisme nie, maar ‘n lied waarin die ruimheid van die land gehoor kan word. Opperman verdoesel nie die leed wat in dié ruimheid eggo nie, maar verwoord dit eerlik en reguit in die gebed van Scheepers se moeder:
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd -
ek ken as moeder na 'n halwe eeu van pyn :
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
Al verwys die "een land vol skedels en gebeente, een groot graf" in die eerste plek na die gevolge van die Anglo Boereoorlog, temper die sterk verwagting en hoop wat in die hieropvolgende reëls uitgespreek word die beeld van volslae hopeloosheid en uitsigloosheid. Belangriker egter, is dat daarmee tegelykertyd die beperkinge van ‘n eksklusiewe Afrikanernasionalisme oorstyg word:
- dat ons as een groot nasie in die gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.
Opperman wys ons, ten spyte van sy geworteldheid in die Afrikaanse gemeenskap, dat ‘n lied oor die gebeente wat nie sing van hoe Saartjie Baartman, Koning Hintsa en Gideon Scheepers in dieselfde grond rus nie, ‘n vals lied is. Dit is ook ‘n lied wat ons weer en weer moet probeer hoor, hoe moeilik dit ookal is.

Bronne

Barkham, Patrick en Amalie Finlayson. 2002. Museum returns sacred samples. The Guardian 31/5/2002. http://www.guardian.co.uk/arts/news/story/0,11711,725297,00.html

Beeld. 1996. ‘Hintsa se skedel' al die tyd ‘n blanke vrou s'n: kenner. Beeld 24/8/1996.
_____ 1996. Wit mense se vrees ‘lei tot ontkennings oor skedel'. Beeld 25/9/1996.

Darby, Andrew. 2002. Remains of Truganini found in UK museum. The Age 3/1/2002. http://www.theage.com.au/news/national/2002/01/03/FFXR1RQZXVC.html

Drewe, Robert. 1976. The savage crows. Sydney: Collins.

Facing South. A new opera by Linda C. Scott and Don Hannah. http://www.tapestrynewopera.com/productions/dvelopment_facing.htm

George, Jane. 2000. Americans catch Iqaluit historian's passion for Minik tale. Nunatsiaq News 28/4/2000. http://www.yukoncollege.yk.ca/~agraham/nost202/minik.htm

Grimm, Jacob en Wilhelm Grimm. 1962. Sprokies versamel deur Jacob en Wilhem Grimm. Deel 1. Vertaal deur Helene de Villiers. Kaapstad: Human & Rousseau.

Grové, A.P. 1965. Fyn net van die woord. Opstelle oor die poësie. Pretoria: Nasou.

Kannemeyer, J.C. 1989. Getuigskrifte. Lesings en opstelle. Pretoria: Jutalit.

Opperman, D.J. 1951. Engel uit die klip. Kaapstad: Tafelberg.

Peires, J.B. 1989. The dead will arise. Nongqawuse and the Great Xhosa Cattle-killing Movement of 1856-7. Johannesburg: Ravan.

Preller, Gustav S. (red.). 1940. Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland. Kaapstad: Nasionale Pers.

Truganini. http://www.teachers.ash.org.au/thwaites/trug.htm

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD







Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/beenlied.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]