Stef Delport..........
(met apologie aan Fanie Olivier)
Onderstaande fragment is uit `n verslag van `n onbekende konsultant wat klaarblyklik ondersoek ingestel het na probleme in die gebiede van die ou Transkei en Ciskei tydens die bewind van die vorige regime. [Met die regeringsverandering en bevryding van ons mense het agente van die ou Regime naarstigtig leêrs en ou dokumente vernietig en hierdie fragment is gevind in `n regeringskantoor in Bisho na die bewindsoorname. Dit is alleen van belang vir die Waarheidskommissie se navorsing omdat dit daarop dui dat opposisie teen die Regime toe al sterk begin toeneem het.] |
"...en nadat hy weereens sy kommer oor die toestand van dieregesondheid uitgespreek het
met die gebrek aan enige veeartsenydienste en die staking van die Dip-programme vir
beeste, is ons daar weg. Oral langs die pad het ons verhale van beessterftes weens
hartwater en rooiwater verneem. Die goeie reëns van die afgelope tyd het die wêreld in 'n
grasgroen paradys omtower, maar het ook gelei tot `n bosluis-ontploffing wat
katastrofale skade aan die gebied se veekuddes kan aanrig.
Ons volgende ondersoek sou gaan oor die sterftes in die Dimbaza-omgewing in die ou
Ciskei naby Bisho en op pad soontoe het ons ons weer verstom oor die absolute
onbegaanbaarheid van die paaie. Naby Butterworth, voordat ons weer op die teerpad kon
kom, moes ons deur `n ondernemende trekkerbestuurder teen betaling deur `n moddergat
in die pad gesleep word.
Op Bisho het ons die regeringskantore besoek en `n gesprek met die onderhawige
direkteur oor die sterfgevalle aangevra, maar na ure se gewag het een van sy amptenare
ons weggestuur met summiere ontkennings op al ons navrae en met die beklemtoning dat
dit alles Apartheid se skuld is.
Hierna is ons na die nedersettinkie, Mnqesha, ongeveer 18 kilometer verder aan. Dit was `n tipiese "Trading Station" in die neëntiende eeu eeu naby die ou militêre pos "Bailie's Grave" wat na een van die grens-oorloë in 1846 naby `n riviertjie met die naam Mnqesha opgerig is. Daar het later `n hele nedersetting ontwikkel met selfs `n poskantoortjie wat van 1935 tot 1971 bestaan het. Daarna is posdienste nog by die "Trading Station" aangebied tot 1986. Vandag is dit egter `n windverwaaide, armoedige ou plakkersdorpie.
Na verdere navrae oor die identiteit van die vyf bejaardes wat die vorige week gesterf het terwyl hulle in `n ellelange tou in die kokende son moes wag vir hul pensioene, is ons na die huisie van Fundisile Douglas beduie. Buite teen die muur van die modderhuisie het `n klomp mans gesit met dowwe oë wat doelloos die verte ingestaar het. Binne het `n ou vrou ons ontvang en bevestig dat haar man een van die mense was wat gesterf het in die pensioentou.
"My man, hy't vroeër op die myne gewerk, kon darem elke maand `n geldjie stuur vir die kos," vertaal ons tolk. "Maar toe't die myne hulle gefire na die groot strike en hy`t maar weer huistoe gekom. Al die jare kon hy nooit weer êrens `n job kry nie en het ook maar later sy pensioen gekry. Maar ai, die mense van die pensioen hulle voel niks vir die ou mense nie. Die ou mense moet die vorige aand al in die tou gaan inval as hulle
seker wil wees dat hulle hul pensioen gaan kry. Dan moet hulle heeldag in die warm son of reën staan en wag. Die pensioenmense hulle drink elfuur eers hulle tee en etenstyd vat hulle hul volle uur en ons oumense moet maar wag en wag. En as dit half past three word dan pak hulle al hul goed op en gaan terug Bisho toe en ons oumense wat nog nie hul pensioen gekry het nie moet môre maar weer in die tou kom inval as jy iets wil kry."
"Ons het nou gedog toe Mandela president word ons gaan elkeen `n kar en `n goeie huis
en `n washing machine kry soos hy belowe het," en sy haal haar skouers fatalisties op,
"maar daar het ook niks van gekom nie".
"My man hy kon dit nie meer vat nie. Hy het vroeër darem `n geldjie op die myne verdien wat hy vir ons kon aanstuur, maar sy ou hart kon dit nie vat dat hy vir sy paar pennies so heeldag in die tou moes staan en dan nog so ongeskik deur die mense van Bisho behandel is nie. Kyk wat bly hier vir ons oor. Ons het vroeër darem nog `n winkel en `n poskantoor gehad. Nou is hier niks meer vir ons nie."
"My seun, hy was ook by die MK met die struggle en hy het teruggekom oor die see en hy sit ook maar hier buite in die son. Sy vrou het vorige maand die baby gekry en Fundisile hy was so lief vir die dogtertjie. Ons het haar genoem na die dogtertjie van ons wat jare gelede vroeg dood is en nou is Fundisile ook dood en...." Sy begin droewig snik en die tolk beduie ons moet maar loop. "Dis al," sê hy, "wat ons uit haar sal kry".
Ons ry verby die rye vars grafte tussen die groen gras en ek merk `n klein kindergraffie heel laaste tussen die hopies rooi grond in die groenigheid. Dan draai ons in by die kliniek wat ook Mnqesha bedien en gesels met suster Anna,`n Xhosa-vrou wat my in vlot Afrikaans meedeel dat sy op `n plaas naby Uitenhage grootgeword het. Sy bevestig
ook die sterfgevalle in die welsynstou.
"Ag, Here, meneer," sê sy dan, "Ons is rêrig moedeloos. Ons het `n nuwe
kliniekgebou, maar ons het niks om die mense mee te behandel nie. Ons gee nou maar soutwater vir die kleintjies se gastro en beveel maar ou rate en bossiemedisyne vir die
grootmense aan. Ek het nie eers meer Panado vir pyne nie. Wat gaan nog van ons land
en ons mense word?"
"Ons ander probleem," gaan sy voort, "is die Aids. Hoeveel van die jong vroue van die
omgewing kry die Aids by hul mans wat op die myne was of in die stad gaan werk soek
het. As ons vermoed hulle het Aids, stuur ons hulle na die groot Hospitaal, maar as hulle
daar positief toets hou hulle hul net een dag daar en stuur hulle dan terug om by die huis
dood te gaan aan TB of longontsteking of ander siektes wat saamgaan met Aids."
[Nota: Hierdie is die vroegste bevestiging wat ons kon vind vir die hardnekkige gerug dat die vorige regime reeds teen einde 1999 formeel besluit het om die Vigs-epidemie maar ongehinderd sy gang te laat gaan. Enersyds klaarblyklik oor die geweldige koste-implikasies wat geen land se ekonomie sou kon dra nie, en andersyds oor die positiewe uitwerking wat dit op die land se werkloosheidsprobleem sou hê.} |
"Maar meneer weet, die ergste is die klein babatjies. As die ma Aids het, het die arme kleintjie geen kans in die lewe nie. As ons net voorrade van AZT in die hande kon kry om die ma's mee te behandel, kon ons dalk nog die kleintjies red. Ons het gister weer een moes begrawe. Ek weet nie of meneer die laaste klein graffie in die begraafplaas hier bo langs die pad opgelet het nie. Arme klein Beauty het nooit `n kans gehad nie. Haar oupa was so lief vir haar, maar nou is sy ook weg - skaars `n week na ons hom begrawe het."
|
|
|