Streek en teks
Disclaimer


'n Oorsig oor Oos-Kaap literatuur

DEEL I: VROEË OOS-KAAP TEKSTE

Na de gedachte van onze Arme boschjesmans loop de menschen die sterven verre weg, zij sterven niet, maar verhuise van de eene plaats naar de andere. Het veld dat Groot en wyd is (zeggen zy) is nog vol boschjesmans zy kunnen niet doodgaan, maar reise zo ver weg dat niemand hun daar na weer ziet - Erasmus Smit (1815).

Onse Angeltjie slaan hier 'n slag vir vergelykende literatuurstudie - die eerste aflewering in 'n reeks oor literatuur in en oor die Oos-Kaap.

Definisie van die Ooskaap as streek:

Volgens Giliomee (in Elphick & Giliomee 1979:291) is die Oosgrens tussen 1770 en 1812 gevorm toe die voorhoedes van twee groepe - die trekboere en die Xhosa - ontmoet het. Hiermee is die Oosgrens geopen, die 'mees dramatiese van alle Suid-Afrikaanse grense'. Vir vier dekades het die trekboere en die Xhosa in konflik verkeer, beide kante afwisselend gehelp deur die Khoikhoi, totdat 'n gekombineerde koloniste-Khoikhoi mag onder Britse militêre leiding in 1812 die Xhosa finaal oor die Visrivier teruggedwing het.

Die Oos-Kaap as streek het afwisselend bekend gestaan as Kaapse grensgebied, Zuurveld, Albanië, Tarka, en dies meer. In werklikheid is Oos-Kaap letterkunde niks anders nie as 'n strenger streeksfokus op 'n kleiner deel van die korpus Suid-Afrikaanse literatuur. Hiermee word bedoel /Xam, Khoi, Xhosa, Afrikaans en Engelse oraliteit en literatuur, asook die eerste sienings van die land soos dit neerslag gevind het in die reisjoernale van buitelandse reisigers en geleerdes.

Dieselfde metodes, beperkinge en vrae wat na vore kom en van toepassing is op Suid-Afrikaanse letterkunde, is ook van belang vir Oos-Kaap tekste:

a) die posisie van oraliteit versus geskrewe tekste as twee diverse strome,

b) die interdissiplinêre aard van 'n studie waarvan die takke verskeie tale omvat, naamlik /Xam, Khoi, isiXhosa, Engels en Afrikaans,

c) die probleem van metodologie. 'n Vergelykende, chronologiese benadering lyk na die mees aanvaarbare as mens 'n oorsigtelike greep op die letterkunde van die Oos-Kaap wil verkry.

'n Vergelykende literêre benadering binne die konvensionele strukturalistiese tradisie het te make met die aard, aanvaarding en verwerping van literêre kodes, met literêre tradisie en vernuwing, resepsie studies, en rekonstruksie van die historiese kommunikasie-situasie (Fokkema, 1981:191-2). Die komparatistiese metodologie veronderstel 'n fokus op 'n verskeidenheid vlakke, soos die leksikale, stilistiese, strukturele en semantiese aspekte van tekste. Studie kan ook georganiseer word met verwysing na oeuvres, periodes, genres, en verskillende literature (Van Gorp, 1986:78). Post-strukturalisme and post- kolonialisme het nuwe aksente gebring in vergelykende literatuurstudie soos die aksentuering van kulturele identiteit en 'n bewussyn van die relatiwiteit van meesternarratiewe (soos die regionale 'kleiner stories' wat verkies word deur die Nuwe- Historici).

Die studie van die Oos-Kaap letterkunde en tekste oor die Oos-Kaap binne streeksverband kan gesien word as 'n 'kleiner storie' binne die groter narratief van die oorkoepelende Suid-Afrikaanse letterkunde. Een metode wat hom aandien, is om genres wat by mekaar hoort, soos onderskeidelik reisjoernale, hofverslae, politieke geskrifte, prysliedere, orale vertellings, gedigte, prosa, drama telkens as 'n natuurlike eenheid te bestudeer, maar dan oor taalgrense heen.

Met 'n chronologiese benadering dien die volgende moontlike periodes sigself aan: pre-koloniale periode, koloniale periode, Grensoorloë-periode, Anglo-Boere-oorlog periode, die vroeg twintigste-eeu, die apartheidsjare, die post- apartheidsperiode.

Kennelik sal die spesifieke geskiedenis van die Oos-Kaap, en die sosio-politieke aard van die maatskappy bepalend wees vir, en ook gereflekteer word in, die tekste wat hier ontstaan het.

My belangstelling is veral ook gerig op kulturele wisselwerking tussen mense in die streek. Terwyl die Oos-Kaap vir 'n lang periode in die koloniale tyd die belangrikste geografiese grensgebied was, is dit op sosiale terrein, met die interaksie van mense uit verskillende kulture (soos wat dit neerslag gevind het in tekste), dat grense ook oorgesteek word. Dit is ook hier dat kulturele vertaling tussen een kultuur en die ander plaasvind. Sodanige kulturele vertaling kan as 'n vorm van handeldryf en onderhandeling gesien word. Die poging om op hierdie manier meer te begryp van die aard van kulturele wisselwerking (met kontak, konflik en kommunikasie as verskillende moontlike vorme wat dit kan aanneem) in die verlede, en insae te hê in die foute wat gemaak is, rus die leser/ondersoeker tegelykertyd toe vir sy/haar bestaan in die huidige Suid-Afrikaanse multikulturele samelewing.

Vroeë tekste

Reisjoernale - Lichtenstein se reise

In 1752 het Beutler al 'n reis na die 'oostelike Kaapgebied' gemaak. Hierdie ekspedisie word beskou as 'n hoeksteen in die grondlegging van die geskiedenis van die Oos-Kaap, omdat dit die eerste ernstige poging deur die regering was om die potensiaal van die streek te bepaal (Forbes, 1965:7). Minder bekend is egter dat 'n reisiger met die sprekende naam Schrijver met 'n ontdekkingstog al in 1689 tot in die omgewing van Aberdeen in die Karoo deurgedring het. Jagters het ook vir Hermanus Hubner in 1736 tot in die Transkei-gebied vergesel. Nie van Schrijver of van Hubner se reise bestaan egter bekende joernale nie.

Op Beutler se beskrewe reis van 1752 het hulle die plaas Hagelkraal, noord van Mosselbaai, beskryf as die laaste woonplek van Christene, voor hul die lang reis noord aangepak het (Forbes, 1965:10).

Na Beutler het die erudiete botanis Thunberg saam met Masson (1772 en 1773), Sparrman (1775), Swellengrebel en Cloete (1776), Van Plettenberg (1778), Le Vaillant (1782), John Barrow (1797 en 1798), Janssens en Van Reenen (1803), almal die Oos-Kaap besoek voordat Lichtenstein in 1803 saam met Generaalkommissaris De Mist die eerste van vyf reise maak. Op die eerste reis ontmoet Lichtenstein en De Mist die sendeling Van der Kemp in Algoabaai (die huidige Port Elizabeth). Van der Kemp, woonagtig in Bethelsdorp, sien daar armoedig en enigsins versukkeld uit:

Die Heer De Mist het hom daaraan herinner dat hulle mekaar 36 jaar gelede in Leiden geken het, waar hy regte gestudeer het toe Van der Kemp as luitenant van die dragonder-garde daar in die garnisoen gestasioneer was. De Mist het die koffiehuis genoem waar hulle mekaar van tyd tot tyd gesien het, en baie voorvalle wat hul saam beleef het, in die herinnering opgeroep. Van der Kemp het alles lewendig onthou en bygevoeg dat hy destyds 'n losse lewe gelei het, maar gesê dat hy hoop dat hy deur sy latere lewenswandel en sy huidige roeping daarvoor geboet het.

(...) Dit het my voorgekom asof mnr Van der Kemp as sendeling nie gedeug het nie, deels omdat hy te veel van 'n suiwer entoesias is en te uitsluitend vir die een idee van die bekeringsbesigheid leef, maar deels ook omdat hy te veel van 'n geleerde is, en daarom te min algemene kennis het vir die alledaagse lewe, dit wat selfs 'n rou Hottentot daagliks gebruik. (Reisen im Südlichen Afrika, band 1, 1967(1811):386 en 388; my vertaling)

By die klein Visrivier maak Lichtenstein 'n skermutseling met vyandige Boesmans mee. Hulle hoor van 'n leegstaande plaashuis op 'n berg wat deur die Boesmans aan die brand gesteek is, en gaan Lichtenstein met die veldkornet en twee gewapende Khoi daarheen:

Ons kom in die middag op die onbeduidende veepos aan, Tot die Boesmans se eer vind ons dat dit nie die woonhuis is nie, maar 'n klein buitegebou waar hulle nie vir moorddadige doeleindes nie, maar vir verwarming vuur gemaak het. Hulle het op sorgelose wyse vergeet om die vuur te smoor toe hulle weggegaan het. Met hierdie gerusstellende nuus het ons teen die aand se kant teruggekeer, min gepla om ook in die donkerte ons veilige terugweg te kan vind. (...) Dit was al byna donker toe ons oor 'n klein sytak van die Renosterrivier, dig onder 'n groot rotsheuwel verbygaan, waar ons afgeklim het van die perde om ons 'n bietjie te verwarm en 'n entjie te voet te loop. Die veldkornet het met die een Khoi vooruitgegaan, ek het met die ander 'n klein entjie agterna gevolg.

Plotseling het ons van die kant af 'n boogsnaar hoor sjor, en in dieselfde oomblik het my begeleider geroep dat hy gewond is, terwyl hy omdraai en losbrand met sy geweer. Die pyl het tussen sy sesde en sewende ribbe in sy sy gesteek en het omtrent twee duim diep ingedring (...). Skaars 'n anderhalf uur na ons aankoms het die gewonde beswyk. (...) By al die kommer, wat die voorval in my ontketen het, moes ek die Boesman tog bedank dat hy so presies gemik het, want 'n paar duim sywaarts sou die pyl aan die Khoi verby en in my lyf beland het (Lichtenstein, deel 11:582-4; my vertaling)

KOMPETISIEVRAAG:

Bostaande passasie is onlangs in die klimaks-gedeelte van 'n Afrikaanse roman verwerk . As u die titel en skrywer, plus die bladsynommer van die passasie kan verstrek, staan u 'n kans om 'n prys te wen, naamlik 'n resente Afrikaanse literêre teks.

KLIEK HIER VIR MEER BESONDERHEDE

Lichtenstein se joernale is besonder boeiend omdat dit nie in die eerste plek sy doel was om 'n beskrywing van sy reiservarings te gee nie, maar eerder van die landstreke waardeur hy gereis het (Lichtenstein 1967(1811), deel 1:VII). Sy aandag vir detail in die landstreek (geografies, van die flora en fauna), die inwoners se geaardheid en voorkoms, en hul gesprekke (soos tussen Van der Kemp en De Mist) gee onmiddellikheid en vitaliteit aan die tekste, sodat dit informatief is, maar ook lees soos 'n onderhoudende roman.

As outeur is die perspektief wat Hinri Lichtenstein bied dié van 'n gesofistikeerde berese en belese buitestaander. By die lees van sy reisjoernale ervaar die Suid-Afrikaanse leser vervreemding (die bekende word 'nuut' en vreemd gemaak), wat 'n funksie is van sy buitestaanderskap as buitelander, sowel as die vervreemding wat die historiese blik op 'n maatskappy en 'n land van lank gelede veroorsaak. As outeur is hy by uitstek in beheer van sy taalmedium en skryf hy in 'n Duits wat soepel is sodat dit ruimte laat vir die weergawe van alledaagse spreektaal-dialoog en daarbenewens ook vir die gebruik van wetenskaplike terme (soos wanneer hy skryf oor die flora en die fauna, die geologiese aspekte van die land, en so meer).

Die "dag verhaal van Eerw Erasmus Smit" - 1815 te Torenberg

Met die dagverhaal van Erasmus Smit beweeg die fokus nader aan 'n geworteldheid in die Suid-Afrikaanse lokaliteit. Smit het dit herhaaldelik oor "onse arme Boschjesmans" wat 'n meer intieme betrokkenheid by die eerste inwoners van die land suggereer as waarvan ooit in Lichtenstein se reisjoernale sprake is. Veral ten opsigte van die Boesmans is Lichtenstein se houding nogal afwysend: hy vind hulle optrede dikwels wreedaardig en onmenslik (vergelyk die Roggeveldse moord op die Coetzé-familie deur 'n Boesmangroep - Lichtenstein 1967, deel 1:160- 163). Die Nederlandse sendeling werp sy lot volledig in by dié van die bedreigde groep Boesmans ver buite die grense van die Kolonie.

Erasmus Smit en sy jeugdige vrou Susanna Smit het ongeveer 'n dekade na Lichtenstein se reise deur die Oos-Kaap probeer om 'n sendingstasie onder die Boesmans op te rig by Torenberg (naby die huidige Colesberg). Destyds was dit ver buite die koloniale grense in die ongetemde binnelande, met groot gevaar van wilde diere en aggressiewe inheemse inwoners. Smit se gefragmenteerde dagjoernaal gee 'n beeld van die eerste ontmoeting van uiteenlopende, drasties verskillende kulture. Smit is bygestaan deur die Afro-Amerikaanse sendeling William Corner, en autochtone agente: onder meer Cupido Kakkerlak en Jan Goeyman. Hierdie sendelinge en sendingassistente van verskillende rasse-groepe en kulture het sonder probleme saamgewoon, saamgewerk en saam aanbid.

Die joernaal is veral boeiend vir die insae wat dit bied in die nou vervloë kultuur en lewenswyse van die /Xam (die Kaapse Boesmans). Oor hul geloof lees ons die volgende in Smit se geradbraakte Nederlands:

Na de gedachte van onze Arme boschjesmans loop de menschen die sterven verre weg, zij sterven niet, maar verhuise van de eene plaats naar de andere. Het veld dat Groot en wyd is (zeggen zy) is nog vol boschjesmans zy kunnen niet doodgaan, maar reise zo ver weg dat niemand hun daar na weer ziet (Hertzog-annale 1956: 5(8):70).

Op ironiese wyse kry ons hier deur die filter van Smit se dagboek 'n pastorale visie van 'n vervloë bestaan van die /Xam as eerste mense, ongestoord in die binnelande van Suider-Afrika. Die joernaal is veral ook boeiend vir die beeld wat dit bied van die verhouding tussen die verskillende taalgemeenskappe. Die linguis Traill wys byvoorbeeld daarop dat hoewel Cupido Kakkerlak 'n Khoi-man was, het hy Nederlands as moedertaal gepraat en 'n /Xam vrou gehad, en as tolk opgetree (in Meshtrie, 1995:11). Smit se joernaal gee 'n fassinerende blik op die gedwonge blootstelling aan kerstening waarvoor die /Xam glad nie gevra het nie, maar noodgedwonge moes aanvaar, "gevange tussen die geweld van die trekboere en die tentatiewe beskerming van die sendelinge," soos dit in 'n onlangse Afrikaanse roman gestel word. Hoewel die /Xam tydelik op die sendingstasie by Torenberg woon, keer hulle terug na hul jagter- versamelaar lewensstyl in die lente. Die inskrywing van 30 Augustus (vroeg-lente) lui:

Heden morgen Naar den Gods dienst, vervoegde zich alle onze vaste Boschjesmans weder by my aan huis, met verzoek, en te kennen geevende om voor een tyd van 't school (zoo als zy het noemen) weg te gaan, met oogmerk om Mieren en uientjies hun geliefste voedsel dat in deze tyd in meenigte te bekoomen is te vergaaderen, welke spys zy raauw of gebraaden Eeten (1956:81- 82).

Smit voorsien die Boesmans gereeld van tabak en vleis, ook van dagga: "En onze Boschjesmans waare blyde over een quantetijd dagga, die wy hen tot een present van de Heer Jubert mede brachten"(1956:87). Sy medelye met die "toestand van deze arme natie" met hul "lichaams Ellende en Hongersnooden" lei hom daartoe om 'n voorstel te maak dat daar 'n fonds vir hulle opgerig moet word waaruit skape en bokke en melkkoeie gekoop kan word (1956:89).

Hoewel hierdie tydperk as die hoogtepunt van sy loopbaan beskou kan word, loop die sending-aksie uiteindelik tog op mislukking uit, en word hy gedwing om pad te gee van Torenberg. Die gefragmenteerde dagboek of joernaal bied egter vir vandag se leser besondere insig in die koloniale mentaliteit van die sendelinge. Veral die feit dat daar geen poging aangewend is om die "Boschjesmantaal" te leer tydens die kersteningspoging nie, en dat daar "Boschjesmans" was "die de duitsche (HvV: Nederlandse) taal vry wel konde spreeken" is vir sosiolinguiste soos Traill boeiende materiaal in 'n studie van die ondergang van tale. Vanuit 'n postkoloniale konteks is die perspektief wat hierdie tekste bied op koloniale verhoudings en diskoers(e) van onskatbare waarde vir kultureel-literêre studie.

In kontras met Lichtenstein se erudisie is Smit 'n naïewe verteller wat weinig beheer oor sy taalmedium het. As gevolg van 'n gebrekkige opvoeding skryf hy 'n rare ongrammatikale Nederlands, en sy enigste belesenheid skyn dié van die Bybel en teologiese geskrifte te wees. Sy dagverhaal was waarskynlik ook nie vir publikasie bedoel nie: slegs as vorm van rapportering aan die hoofde van die Londense Sendinggenootskap. Om dié rede maak Smit se dagboek 'n veel intiemer indruk, waarin ook emosies soos angs, tevredenheid, en dies meer uitgedruk word. Hoewel sy insig beperkter is in die groter opset van landsake, is die beeld van interkulturele wisselwerking tussen sendelinge en bearbeide Boesmans wat hy bied waardevol. By gebrek aan oorspronklike weergawes van die denkwyse en sienings van die /Xam in die vroeë koloniale periode, is die gemedieërde weergawe van hul sienings van geloof, van hul gewoontes en lewensstyl wat ons kry via Smit se religieus- getinte dagboek, tog besonder insiggewend.

(word vervolg: Aflewering 2: Pringle, Bain en Meurant)

Helize van Vuuren. Universiteit van Port Elizabeth

Bibliografie:

Elphick, Richard & Giliomee, Hermann. 1979. The Shaping of South African Society, 1652-1820. Cape Town: Longman.

Fokkema, Douwe. 1981. Vergelijkende literatuurwetenschap en het nieuwe paradigma. Forum der letteren 22(2):179-194. juni.

Forbes, Vernon S. 1965. Pioneer Travellers of South Africa. A Geographical Commentary upon Routes, Records, Observations and Opinions of Travellers at the Cape 1750-1800. Cape Town: A.A. Balkema.

Lichtenstein, Hinrich. 1967 (1811). Reisen im Südlichen Afrika, band 1 & 2. Stuttgart: Brockhaus.

Meshtrie, R. 1995. Language and Social History. Studies in South African Sociolinguistics. Cape Town: David Philip.

Smit, Erasmus. 1956 (1815). "Dag Verhaal: van Eerw. Erasmus Smit, 1815. Wilde Boesmans en die kerk. Hertzog-annale 1956 (Jaarboek III), 5(8):67-117. Desember.

Traill, A. 1995. The Khoesan Languages of South Africa. In Meshtrie, Language and Social History. Studies in South African Sociolinguistics: 1-23.

Van Gorp, H. (et.al., reds.). 1986. Lexicon van literaire termen. Leuven: Wolters.

* * * * *

Helize van Vuuren
Universiteit van Port Elizabeth


Copyright:  © 1997; 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/streek1.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]