KOMPETISIE ! ! !
Vandat ons gehoor het dat Hond-uitgewers beoog om 'n Dogmor-prys vir letterkunde op die been te bring, het Onse Angeltjie gehoop ons sal ook 'n kans kry om 'n bydrae tot die ontwikkeling van kultuur in Suid-Afrika te maak. Mens wil mos nie agter bly nie... En ons gebede is beantwoord. Die Hertogin van Kruisrivier het - nadat sy deur Kaatje Kekkelbek, ons beskermvrou genader is - ruimhartig boeke uit haar fenomenale private versameling geskenk, met die opdrag dat dié boeke gebruik word vir die bevordering van kultuur in die Oos-Kaap. Die Hertogin het 'n papierpulp-fetisj en is bekend daarvoor dat sy maklik al die eksemplare van 'n boek op 'n winkelrak aanskaf. Sy het 'n redelike probleem gehad toe die biografie van President Mandela verskyn het. Omdat ons weet hoe moeilik dit vir die Hertogin moes gewees het om van die boeke afskeid te neem, waardeer ons die gebaar innig. Daar sal met elke uitgawe van Onse Angeltjie vier boeke weggegee word, in twee kategorieë:
|
1. Nuusbrokkies
Mej. Annamarie Knoblauch (waarnemende hoof van die onderwysersentrum te Port Elizabeth) het in April vanjaar gepromoveer met 'n proefskrif oor Jeff Geeraerts. Die proefskrif sentreer om sy Gangreen-romans en bied 'n interesante nuwe perspektief op onder ander geweld, rassisme en seksisme deurdat die kandidaat insigte uit die argetipe-kritiek kombineer met 'n diepte-ontleding van sleutelmotiewe in Gangreen 1 (Black Venus) en Gangreen 2 (De goede moordenaar).
Die titel van die studie is:
Die argetipiese reismotief in Gangreen 1 (Black Venus) en Gangreen 2 (De goede moordenaar) van Jef Geeraerts.
Dr. Danie Jordaan was die promotor en Prof. Gert Jooste die mede-promotor.
Ons verneem ook uit betroubare bronne dat 'n drukgroep in Port St Johns die Munisipaliteit aldaar probeer oorreed om 'n eredoktersgraad toe te ken aan Koos Kombuis as erkenning vir die bydrae wat hy gemaak het tot die ontwikkeling van die ekonomie van die Transkei.
2. Bedankings
Onse Angeltjie wil in die eerste plek dankie sê vir al die mense wat saamgewerk het om hierdie publikasie aanmekaar te kry - die medewerkers. Sonder julle is niks moontlik nie. Glen Francis by UNITRA moet ook uitgesonder word vir sy hulp met die voorbereiding van materiaal. Die Universiteit van Transkei doen ons 'n groot guns om hul rekenaarfasiliteite tot ons beskikking te stel. Ons sê baie dankie daarvoor.
Dank ook aan Mev. Essie Honiball en Johan Erasmus van Honiball-Promosies vir toestemming om van T.O. Honiball se tekeninge gebruik te maak.
Kaatje Kekkelbek en die Hertogin van Kruisrivier het deurgaans emosionele, kreatiewe en materiëe bystand verleen. Baie dankie.
Laaste, maar nie die minste nie, die likkewaan.
(Het enigeen bobbejaan-resepte?)
3. Inskrywings
As jy jou inspuiting (digitale dosis) gereeld wil kry (twee maal 'n jaar as alles goed gaan), skryf 'n kort nota aandie uitgewer. Indien jou inskrywing in die korrekte formaat is, mag jy 'n prys wen. Neem die risiko.
4. Uitgewer
Onse Angeltjie word uitgegee deur Philip John, Universiteit van die Transkei. Al die materiaal wat hierin verskyn, is aan kopiereg onderhewig. "©"
Die PUNT van die ANGEL Van Sancho aan die DON(s) - wie se meulens? wie se wind? AMOK se derde samekoms het op die 13de Junie plaasgevind op die Oos-Londense kampus van Rhodes Universiteit, ten spyte van uiters gure weersomstandighede, slaggate en koue. Almal wat dit bygewoon het, verdien 'n pluimpie vir deursettingsvermoë. Al die kampusse in die streek was verteenwoordig. Die byeenkoms is goed gereël en soos altyd was dit opkikkerend om kollegas van ander universiteite weer te sien. Maar, en vir my is dit 'n groot MAAR, gevaarligte het begin flikker. ELKEEN met wie ek na die byeenkoms gepraat het, twyfel of hulle 'n volgende byeenkoms sou bywoon. Dit is waarom ek besluit het om hierdie kort verslag/mening in 'n reeds voltooide Onse Angeltjie te plaas. Die dringendheid en behoefte lyk vir my net te groot. Moet egter nie dat die erns hier jou afskrik nie - kyk dan liewers eers verder na die res van die tdskrif hieronder. Ek gebruik dié geleentheid ook om 'n uitnodiging te rig aan alle AMOK-lede en belangstellendes. Hier, in "DIE PUNT VAN DIE ANGEL" is daar vir jou uitdrukkingsmoontlikheid. As jy dit verlang, waarborg ek anonimiteit. Solank jy 'n PUNT maak. Ek nooi jou ook uit om kommentaar te lewer (briewe aan die koerant as voorbeeld) vir plasing in die volgende uitgawe. Laat ons aan die praat kom. AMOK het iets begin wat nie toegelaat moet word om soos baie ander inisiatiewe te versand nie. Soos wat my ongemak na die byeenkoms gegroei het, het ek onwillekeurig aan die gebeure rondom die Stellenbosch- gesprek oor Afrikaans gedink. Een van die opinies wat dáár 'n bydrae gelewer het om 'n atmosfeer van besluiteloosheid te skep, was 'n terughoudendheid, 'n versigtigheid om "te stry vir Afrikaans" of "Afrikaans te bevorder." Nou, ek sê, bog daarmee. Stry vir Afrikaans en nasionalisme, ja, daarvoor sê ek duidelik NEE. Maar stry vir Afrikaans en groepsbelang, daarvoor sê ek hard en duidelik, ABSOLUUT JA. Mens hoef nie (uitsluitlik) te dink in terme van "Afrikaners" of "Afrikaanssprekendes" nie. Die "groep" wat deur Afrikaans bedien word en bemagtig en bevorder kan word, is ALMAL wat daarmee te make het - onderwysers, leerlinge in Kwa-Zulu/Natal, Transkei, waar ookal. Dit strek verder as 'n klompie bekrompenes wat deur die gebruik/misbruik van Afrikaans nog aan bevoorregting probeer vasklou. Die belangrikste "groep" wat deur so 'n omsien na die "eie" gedien word, is die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel. Daar is verskillende maniere om patrioties te wees. Ons kan nie almal, altyd, die heeltyd Engels, polities-korrek en 'kundig' wees nie. "Ons" is ook mense. En dit is slegs vanaf hierdie 'menslike' basis dat ons 'demokraties' kan wees. Kundigheid is net tot op 'n sekere punt sinvol. Kundiges verteenwoordig uiteindelik net hulself en tegnokratiese rasionaliteit. Die heerskappy van kundigheid lei - indien nie getemper nie - na die tirannie van gerasionaliseerde sielloosheid. Wat ek eintlik probeer sê, is dat Vader Krismis nie bestaan nie. In 'n demokrasie MOET mens jou mond oopmaak. Carpe diem, boeties en sussies. Afrikaans bly my erns. Kom ons praat. Ek weet nie heeltemal hoekom nie, maar AMOK was elke keer nog vir my 'n lekker, opbeurende ervaring. Met die derde vergadering het dit ook duidelik begin raak dat AMOK 'n werklike KONKRETE verskil in die Oos-Kaap sal kan maak, as reeds gekonstitueerde groep. AMOK kán met 'n duidelike stem met die owerhede praat - soos oor die totstandbringing van 'n PANSAT-komitee in die Oos-Kaap. AMOK kán 'n aanstigtende, koördinerende rol speel, soos met die kwessie van die erkenning van nagraadse kwalifikasies vir onderwysers, aangeroer deur dr. Danie Jordaan. AMOK kan duidelik ook dien as kanaal vir skakeling met belange rondom die Neerlandistiek. Maar iets MEER is nodig as wat hierdie keer gebeur het. In my wanhoop het ek die hulp van 'n ou vriend van my ingeroep, naamlik Dr. Phfff. Hy het goedgunstiglik afgesien van sy gebruiklike konsultasiefooi. Dr. Phfff se diagnose is soos volg: Dr. Phff sê ook dat hy nou nie wil hê dat dit moet lyk asof dit vir hom net gaan om die pluk van 'n lat en die soek vir 'n ....... nie, maar hy voel hy het iets beet. Hy sê ook dat die voetsoldate - die junior mense/AMOK-lede - ook meer kon gedoen het. Waarom lewer hulle nie insette nie? Het hulle nie murg in hul pype nie? Dr. Phfff sê verder dat hy verstaan hoe so 'n situasie kan ontstaan. Die DRINGENDHEID wat so panies op loop is in die land as gevolg van die gesprekke oor finansiering van tersiêre onderrig veroorsaak miskien dat mense die klein besonderheidtjies oorslaan en onmiddellik aandag skenk aan (op die oog af) belangriker prioriteite. Uitgaande van Dr. Phfff se diagnose wil ek dus die voorstel maak dat die volgende AMOK-vergadering moet fokus op die sake van AMOK, in die EERSTE plek. 'n Gesprek, 'n missie, 'n grondwet, 'n verkiesing, of so iets is dringend nodig. Ons wil weet WIE ons is.(Of ons wil ten minste probeer uitvind.) Philip John
|
|