Die Van Stadensrivierbrug, so dertig kilometer buite Port Elizabeth,
is een van die mees sensitiewe ruimtes in die Suid-Afrikaanse landskap. Die Ponte-woonstelgebou in Hillbrow het op 'n stadium 'n soortgelyke status gehad. Iets hier ráák mense op 'n vreemde manier, 'n uitwerking waarvan skrywes oor sulke ruimtes ook heel moontlik nie vrygestel is nie. Dié soort ding laat mens effens ongemaklik voel, want jy weet dat enige verdere gepraat oor die ding tot 'n verskerping van die "effek" mag lei. Sommiges huldig selfs die opinie dat juis die beriggewing oor mense wat selfmoord pleeg deur van die brug af te spring, desperate mense beïnvloed om die brug as 'n "oplossing" te sien. En daar is moontlik waarheid in sulke opinies - daar is die hele, wye see tog - die hele grote (koe)Baai - en baie minder kies klaarblyklik hierdie uitweg, al is dit ook veel minder morsig.
Wat nie betwis kan word nie, is dat die brug 'n imposante en indrukwekkende struktuur is. Die brug is geskep deur die bekende ingenieur, Dr. Charles Liebenberg, en die Italiaanse Impresa Ing. A & P di Penta en is in 1971 voltooi, toe die langste betonboogbrug in Afrika. Omtrent 'n kilometer in die kloof op is die treinbrug wat in 1905 voltooi is - die hoogste smalspoor-treinbrug in die wêreld, sewe-en-sewentig meter bo die rivierbedding. Dat dit juis 'n Italiaanse firma was wat die betonbrug opgerig het, laat mens ook vir 'n oomblik wonder - baie brûe en treinbrûe in Suid-Afrika is die handewerk van Italiaanse krygsgevangenes wat tydens die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika gebring is, 'n gegewe wat byvoorbeeld in Etienne van Heerden se roman, Die swye van Mario Salviati (2000), figureer.
Hoe interessant gedagtes oor skuldgevoelens of wraak ookal is, moet mens die Italianers die voordeel van die twyfel gee, want die Van Stadensrivier-kloof het reeds van vroeg af 'n bekoring en 'n vreemde uitwerking uitgeoefen op mense. Twee voorbeelde hiervan is te vinde in Bartle Logie se boek, Governor's travels. A journey along the Kouga/Tsitsikamma coast (1999).
Logie vertel die fassinerende verhaal van George Apsey wat in 1865 as Superintendent van Paaie vanaf Grahamstad na die Van Stadensrivier-kloof gekom het met die opdrag om 'n pas deur die kloof te bou. Apsey het hom met sy vrou en vyf kinders naby die kloof gevestig. Die werk het goed gevorder en die pas is binne agtien maande voltooi. Gedurende hierdie tyd het die Apsey-paar ook 'n sesde kind, Christian, ryker geword. Apsey het egter 'n finansiële terugslag ervaar toe 'n groot aantal van sy skape gesteel is. Omdat die werk aan die pas voltooi was, het Apsey ook gewag op nuus oor sy volgende opdrag. Die nuus was nie goed nie: hy moes help met die konstruksie van die Ruyterbosch Pad naby Mosselbaai. Sy salaris sou slegs 150 pond per jaar wees, 32 pond minder as wat hy toe verdien het.
Logie vertel hoe Apsey op die 26ste September 1866 'n laaste keer deur die pas na sy huis gestap het en 'n mnr. Isaac Newton gegroet het wat op pad was na die Cadles-hotel, nie ver van daar nie. Gaste wat later vanaf die Cadles-hotel vertrek het, het op 'n ontstelde mev. Betsy Apsey afgekom en haar na die Apsey-woning gevolg. Hier het hulle op 'n verskriklike toneel afgekom. Een van die kinders het stuipstrekkings gehad. 'n Dokter in die geselskap, Dr. Campbell, het strignien-vergiftiging gediagnoseer en uitgevind dat al die kinders behalwe die jongste en die oudste, 'n twaalfjarige dogtertjie, Elizabeth, gif ingegee is. Twee van die vier vergiftigde dogtertjies het gesterf, maar twee kon gered word.
Apsey het glo die oggend by die huis aangekom en die kinders pap ingegee, ten spyte van protestasies dat hulle nie van die smaak hou nie. Hy het ook 'n paar lepels gesluk en toe na sy vrou in die kombuis gegaan en aan haar gesê: "Well! We are all poisoned" (p. 21). Toe het hy die kombuis verlaat, waarop sy vrou 'n skoot gehoor het. 'n Onderwyser by die nabygeleë Woodridge-skool het later sy leerlinge vermaak met verhale oor 'n rower-spook, "Dead-shot George", wat reisigers in die kloof geteister het.
Logie skryf ook oor die Cadles-hotel wat in 1862 begin is deur Henry Cadles, 'n afstammeling van 'n 1820-Setlaar. Die hotel het oor die jare populêr geraak, later veral as 'n wittebroodsbestemming. Logie vertel dat baie van die wittebroodspare hul voorletters in van die ruite van die hotel gekrap het, en dat dié merke vandag nog gesien kan word. Die hotel het die bynaam, die "Cuddles", ontwikkel na aanleiding van die gewildheid onder wittebroodspare. Die hotel het sy deure egter in 1916 die laaste keer gesluit.
Meer onlangs het 'n selfmoord-kandidaat vir 'n nuwe draai in die verhaal van die brug gesorg toe hy 'n val van die brug oorleef het. In die Beeld van 5 September 2000 word berig hoe William Crous (24) na 'n val van sowat 30 m van die brug af en 'n reddingspoging by die
Livingstone-hospitaal uitgestap met 'n nekstut en 'n paar skraapmerke aan sy arms en
bene. Aan die koerant het hy vertel hoe hy en 'n vriend oor die brug gestap het terwyl sy vrou en kind in die kar gewag het en hoe hy toe oor die reling geklim het: "Ek het op my hurke, met my rug na die afgrond, gaan sit en aan die reling vasgeklou. Toe het ek afgekyk en gedink dis nogal hoog. Die volgende oomblik het my hande asof vanself gelos en het ek begin val. Ek kon die wind by my ore hoor verbysuis, maar was glad nie bang nie. Ek was seker ek sou niks voel as ek die grond tref nie. My enigste gedagte was dat ek nou nooit weer my kind sal sien nie." Hy het tussen bome en doringbosse deurgeval tot hy uiteindelik op 'n rotsplaat te lande gekom het. Hy het teen 'n geweldige spoed teen 'n skuinste begin afgly, maar sy val is deur 'n boomstomp gestuit. Die kop wat die koerant aan dié berig gegee het - dat die brug nou "getem" is - druk 'n hoop uit wat ons natuurlik graag gerealiseer sou wou sien.
Maar 'n mens sou dalk ook verder moet gaan soek om 'n verklaring vir hierdie soort gedrag te vind, by iets wat kenmerkends is van mense wat nog daartoe in staat is om die spore van psigiese lewe in die landskap om hulle te vind - dit te lees wat nie geskryf is nie, om Benjaminiaans te dink. 'n Tesis wat Jean Lombard onlangs oor waterslangverhale voltooi het, dui moontlik in so 'n rigting. In dié tesis,
Waterslangverhale in en rondom Afrikaans: 'n Ondersoek na mitisiteit as basis vir vergelykende literatuurstudie (Potchefstroomse Universiteit vir CHO (1999)), kry mens duidelik die indruk dat die interaksie tussen die landskap en die menslike psige - veral waar elementêre elemente soos water betrokke is - verreikende gevolge kan hê, beide vir die mens en die landskap.
Vir die effek wat 'n brug soos dié oor die Van Stadensrivierkloof op mense het, sou dit dalk belangrik wees dat die bou van so 'n brug konvensioneel beskou word as 'n triomf oor die natuur, as 'n prestasie van die menslike beskawing. En miskien sou juis die vorm van die plek belangrik wees: die feit dat die brug gebou is oor 'n diep skeur in die landskap. Waarin stort die mense wat hier afspring hulle? Neem hulle dalk ook wraak op die trots van die brugbouers, op hierdie struktuur wat oor die moederlike landskap opgerig is? Is hulle besig met die bou van 'n ander brug? Waarheen? Waaroor? Wil hulle 'n boodskap bring vir ons, die oorlewendes, die agtergeblewenes? Kan ons hierdie boodskap nog hoor? Is ons nog in staat om so 'n boodskap te verstaan? Of is die gelui van die selfoon aan ons sy te hard, die tou in die Spar te lank?
Philip John
Navrae oor Bartle Logie se boek, Governor's travels. A journey along the Kouga/Tsitsikamma coast (ISBN: 0 620 24152 7), kan gerig word aan:
Bluecliff Publishing
PO Box 222
Hunters Retreat
6017
|
|
|