'n Fontein van goedheid in stories

'n Onderhoud met Piet Naudé ......





deur Philip John

Dis die hout van die lang, smal tafel waarby hy sit waarvan ek eerste bewus word.
Disclaimer Miskien is dit waarom ek op die ongemaklike losstaande plastiekstoel kom sit het. Hy sit met sy hande gemaklik op die tafel voor hom. Die hout van die tafel is donkerbruin, amper swart. Met 'n effense skynsel daarop wat getuig van baie hande en arms wat al daarop gerus het en daaroor gevee het. Hout wat geduldig wag en baie min prysgee, soos die hout in klerke, staatsamptenare se kantore - maar veral hout wat mens vind in kamers waar vergaderings gehou word, raadsale, komiteekamers. Piet het nou net van 'n vergadering van die bestuur van die universiteit gekom. Ons het die vorige dag 'n voorlopige afspraak gemaak - ek sou sy sekretaresse bel om te hoor hoe dit gaan en dan eers inkom. 'n Vriendin het egter gehelp en gesê ek kan in haar kantoor kom wag. Ek het toe sy sekretaresse gesê en toe hier kom sit en wag met 'n boek. Nou is ek bewus van die hout met die arms daarop. En 'n deurskynende papiersakkie waarin die pasteitjie en die room-doughnut was waarmee hy die kantoor ingekom het, heel onverwags, terwyl ek al meer verdiep in my boek geraak het. Ons praat sommer hier, het hy voorgestel, en ek het ingestem want dis amper asof dit so afgespreek is; asof dit so bedoel is - dié donker hout met die arms daarop, die papiertjie wat nou en dan kraak, die harde plastiek van die stoel onder my. Is dit hoe dinge maar eintlik werk? Speel die dinge om ons 'n groter deel in ons lewens as wat ons dink of vermoed?
Help die stom wêreld om ons ons meer as wat ons besef? Help dit ons om rustig te bly, 'n mate van sekerheid te voel? Buiteblad: Onder die skewe reenboog Soos die sekerheid wat ook spreek uit die verhale en preke in die boeke van Piet wat ek gelees het: Brug na môre. 'n Kruisevangelie vir gewone mense (1994), Stories vir die lewe. Meer as sestig stories vir lewe, lag, ly en liefhê (1998) en Onder die skewe reënboog. 'n Evangelie van HOOP vir gewone mense in 'n gekwelde land (1999). Mini-stories vir die lewe kon ek nie in die hande kry nie. Dis nie stories om jou te ontstel nie, of ten minste nie onmiddellik nie, want die "lewenswaarhede" kom hierin ter sprake, en ons weet waar ons hoop lê. Jy word eerder ongemerk ferm beweeg om te dink, te besin.
Ons kom vinnig by die punt wanneer Piet sê dat die genre waarin sy werk pas, dié van die homilie is en ek duidelik maak dat ek nie weet wat wat dit is nie.

PN: Ja, dis jammer dat letterkundiges soos jy en andere nie die Homilie ernstig neem as kuns en as 'n literêre vorm nie. Homilie as preekskets. Ek vind dit baie jammer. Jy weet, in Langenhoven se tyd het hy Langs stille waters geskryf as klein geestelike sketsies, en ek vind as jy Ferdinand Deist lees, sien jy dit ook, en vroeër Izak de Villiers, miskien Dirkie Smit (ek kan myself nou nie in daardie groot geselskap plaas nie). Daar's altyd die idee die Christelike skryfkuns is oppervlakkig, dis soetsappig, dis emosioneel, sprekerig. En ek dink dis absoluut nie waar nie.

PJ: Wel, wat my getref het in jou boeke en die verhale daarin, is die verskeidenheid bronne waaruit geput word. Dis nie net Christelike bronne nie.

PN: Uit die Talmud, of die Koran. My vraag is: Neem literêre teoretici en letterkundiges daardie vorm van ons Afrikaanse taal en letterkunde ernstig op as deel van ons literêre skat? Buiteblad: Stories vir die lewe Die antwoord is doodgewoon, nee. Punt een omdat hulle dink dis gemors, punt twee is hulle lees dit nie en punt drie is, hulle sal dit nooit resenseer nie. My rol as skrywer is nie om "kultuurman" soos in die ou dae te wees nie, om te veg vir die "voortbestaan van Afrikaans" nie, maar dit sal vir my fantasties wees as die goedjies wat ek en 'n paar ander ouens skrywe wat ek dink geïnformeerd is en hermeneuties verantwoord is, dat ons weer oor die grens beweeg en weer vir mekaar sê, kom ons kyk literêr, kom ons kyk hermeneuties daarna. Kom ons kyk of dit geslaagd is. As ek nou dink aan hierdie geveg rondom Afrikaans is dit 'n bondgenoot, implisiet 'n bondgenoot, want ek dink almal wat ernstig met hierdie soort skryfwerk werk, doen dit nie met die oog op die FAK nie, maar die versoeking is verskriklik groot - om akademies en kommersiële redes - om in Engels te skryf.

Toe ek vir die onderhoud opgedaag het, was daar 'n warboel in my kop. In die koerante in die dae voor die onderhoud was dit duidelik dat die Afrikaanse kerke en geestelike lewe in die algemeen in rep en (op)roer was: Maretha Maartens het bedank uit die redaksie van Finesse, onse eie cowboy-teoloog, Professor Christina Landman, sê sy dink voorhuwelikse seks moet dalk verpligtend gemaak word en gebruik die woord "doos" vanaf die kansel tydens 'n preek voor skoolleerlinge in Bloemfontein, Prof. Sakkie Spangenberg sê hy glo nie dat die Christelike geloof die enigste weg na saligheid is nie. En in "kerklike" geledere bars storms van verontwaardiging en skok los: briewe in koerante, uitsprake deur die dagbestuur van die NG Kerk.
Iets omtrent die hele gesprek soos dit in die media uitgekom het, in die reaksies en stellinginnames, het my laat dink aan 'n essay deur Carel Peeters, "De nieuwste elite", in 'n onlangse Vrij Nederland (19 Augustus 2000) waar hy skryf oor die betekenis van die terme, "sintese" en "kompromie", met verwysing na die manier waarop leiers en besigheidsmense die indruk wek dat hul optrede 'n sintese verteenwoordig tussen aan die een kant ideaal of gewete en aan die ander kant "business as usual". Hy skryf veral oor hoog opgeleide mense wat in die sestigerjare deel was van die anti-establishment-beweging, maar wat nou in die tyd van globale kapitalisme hul eie besighede bedryf en veral die toon aangee in die informasietegnologiebedryf. Peeters gebruik die term, "bobo", om na hulle te verwys, 'n term wat gemunt is deur David Brooks in sy boek Bobos in Paradise as verkorting vir "bourgeois bohemian". Peeters beskryf die Bobo's soos volg:

De combinatie burgerlijkheid en artisticiteit heeft, helemaal los van de Amerikaanse werkelijkheid, iets aantrekkelijks. Samen beteken ze sober en los, conservatief en progressief, serieus en hedonisties, oppassend en onverantwoordelijk. Het zou een ideaal kunnen zijn als het mogelijk was alleen uit deze tegenstrijdigheden cultuur te laten ontstaan. Veel elementen uit de these (conservatisme) en anti-these (liberalisme) dragen bij aan een cultuur, maar niet als zich daarachter het pure kapitalisme bevindt dat zich ondertussen nergens iets van aan trekt, zoals nu het geval is.
Daardoor kunnen de tegenstellingen niet verdwijnen. Daar komt heel wat meer voor kijken, en over dat meer heeft Brooks het niet. Hij heeft het voornamelijk over uiterlijke en materiële zaken, over de buitenkant van de burgerlijke bohémien. De innerlijke kant blijft beperkt tot het nieuwe puritanisme dat zich uit in zich afbeulen tijdens het hardlopen, het niet roken en de bescherming van alles, van de regenwouden tot de plaatselijke oude waterput ... Het gaat om hoe ze zich kleden (open overhemd, T-shirt) om wat ze kopen, eten, drinken. En wat ze eten en kopen zetten ze in een 'philosophic context'. Het zijn ook gepassioneerde 'preservers' van oude theaters, fabrieken, wijken en gebouwen. Ze zijn voor 'livability' en voor de 'quality of life'. Ze zijn welvarend, maar ook 'bezorgd' (p. 45).
Peeters maak dit baie duidelik dat hy skepties staan teen uitsprake en gebare wat deur lede van hierdie nuutste elite gemaak word, veral ook omdat hulle so goed inpas by die kapitalistiese orde:
De burgerlijke bohémiens zijn de ideale entrepreneurs, de sluiters van compromissen tussen hun ziel en de markt. Niets is meer veilig. De nieuwe goed opgeleide elite is onderdeel geworden van het 'alles' waar het zakelijke instinct zijn oog op laat vallen, waarna het van zichzelf wordt ontdaan en tot de 'culture of marketing' en de 'marketing of culture' gaat behoren ....
...de burgerlijke bohémien, is nieuw omdat hij met de verzakelijking en massacultuur nu juis een pragmatisch compromis is aangegaan: een vermenging van een halfzachte 'life style' met 'big bucks'. Niks geen synthese (p. 46).
En ek het begin wonder: klink iets in hierdie woorde nie soos baie van die "posisies" wat in die kerklike stryd ingeneem word nie? Waar die kerk ook voor moeilike keuses geplaas word en moet besluit oor "sintese" of "kompromie". Is dít, ten dele, die betekenis van konserwatiewe en fundamentalistiese protes teen die nuwe stormloop agter die "hip" en die "cool" aan, agter dit wat ons gemaklik laat voel, "in", deel van 'n breër mensheid? Is dit waar ons nou is? Soos in die televisiereeks met die hoofkarakter Frank Black gesê word: "This is who we are"...

Ek het gehoop dat ek iewers tydens die onderhoud met dié mondvol sal kan uitkom. Maar ek het gedink ek moet eers by die stories uitkom. Piet het na sy eerste kwaaierige woorde egter heel nederig voortgegaan:

PN: Dit moet darem swaar vir jou wees om met iemand te praat wat nie 'n oeuvre het nie, twee of drie bladsytjies.

PJ: Ek sal dit nou nie heeltemal so stel nie. Daar's 'n ongelooflike rykdom in die boeke, in die stories daarin.
PN: Ek's bly as jy dit so sien.
PJ: Dit is duidelik dat jy 'n ding het vir stories, stories vertel, onthou
PN: Dit het 'n persoonlike en ook 'n akademiese agtergrond. Die een is my persoonlike lewe. Om dit nostalgies te sien, ek het op die ou boereplaas grootgeword met sy groot familie, tot ek nege jaar oud was. En ons is stories vertel, nie op die uitgedinkte manier wat ons dit vandag het nie, met televisie, radio, rekenaarspeletjies nie. En ek self het op skool ... ek is deur my onderwysers ge- of misbruik om gedurende die merkery van die eksamens om by die klasse rond te gaan en stories te vertel. Ek was 'n leser van die Luiperd-reeks, die Mientjie-reeks, die Trompie-reeks, die Saartjie-reeks, later darem nie meer net heeltemal kinderliteratuur nie. So, dis die persoonlike kant daaraan, en dit was naïef en onbedink. Later, toe mens nou akademies begin werk en jy kom agter dat ... 'n klomp goed ... die krag van stories, uitgebreide metafore, noem dit allegorieë as jy wil, die hele beweging van 'n narratiewe teologie. Die hele vraag na oorredingstrategieë. En dan die rol wat die narratief daarin speel. Dit het my by die lyn gebring, die soort van ding dat liefde vir en geloof in stories belangrik is. Later is dit meer berekend in die spel gekombineer met die idee dat oorreding oor God my taak as teoloog is. Oorreding. Maar ook oorvertel sodat die tradisie nie verlore gaan nie wat opgesluit is nie net in dogmas en die kerkgeskiedenis nie, maar ook in die oerverhale wat in die eerste en tweede Testamente opgeteken is. Die idee dat prediking niks anders maak as die hervertel in 'n nuwe konteks nie. So, die twee goed saam maak dat ek, ja, waar ek optree en waar ek skrywe, sou ek sê, ek sou myself nie 'n narratiewe teoloog noem nie, dis te etiket-agtig.
PJ: Ek het in vorige onderhoude gelees dat jy filosofie geswot het, 'n MA, 'n Ph.D... want as jy die stories lees, word jy nie met 'n filosofiese drag gekonfronteer nie. Daar word hier en daar 'n naam genoem.
PN: Ja, 'n Ph.D in Sistematiese Teologie gedoen. Die idee is dat jy vir die, die sogenaamde gewone leser, dat jy nie daardie leser konfronteer met die teologie agter die narratief nie, maar vir ingeligte lesers los jy merkers. Jy moet onthou, wat jy daar lees, is getransponeerde mondelinge vertelling...
PJ: Dié het ek ook gesien, dat jy 'n studie gemaak het oor die Zioniste Kerk, The Zionist Christian Church in South Africa : a case-study in oral theology.

PN: Ja, dit het gegaan oor die hele konseptualisering, van hoe kennis gegenereer en oorgedra word in die nie-skriftuurlik gebonde kulture, as jy nou so 'n groot woord wil gebruik. Nee, wat ek gedoen het, ek het in Venda vir ses jaar gewoon en toe 'n drie jaar studie onderneem om uit te vind nie net hoe nie, maar ook wat - inhoudelik - word deur die Zioniste Kerk binne die konteks van sy liturgie oorgedra. En, dit was absoluut verstommend, die opnames wat ons gemaak het en dan getranskribeer het, om te sien hoe word oorreding en herinnering in die teks gemerk - jy kan dit sien voor jou oë - hoe dit intuïtief gedoen word. Want dit is hoe kennis werk. Hulle enigste toegang tot die oorspronklike skrif is via die oorvertelling. En om dan te gaan kyk hoe die teks, die geskrewe teks wat vas is, in hul vertelling loskom, hoe daardie proses - uiters kreatief - grond vat in daardie Afrika-konteks. Dat die God van Abraham, Isak en Jakob vervang word met Modimo, bedoelende die God van ons voorvaders. Dis fantasties.
Daar het jy nou die probleem in daardie konteks: wat is die kontrolemeganisme? Ons vertroue in die oernarratiewe word grootliks oorgedra deur die feit dat dit geskriptureer is. Jy kan nie sommer links en regs staan en verander nie. In 'n mondelinge kultuur is daar nie toegang tot daardie sogenaamde suiwer teks nie, en die vraag is, wat tree op as kontrole? Vreeslik interessante vrae wat daaruit kom.

PJ: Ek weet nou nie hoe ver dit van "stories" af is nie, maar dis duidelik dat daar nou baie woelinge in kerkgeledere is en dat die wese van die kerk hier ter sprake kom. Ek dink byvoorbeeld aan 'n boek van Fukuyama wat ek gelees het, en hy reken, soos ek dit verstaan het, hy voorsien dat mense wegbeweeg van 'n teks-gebaseerde godsdiens en dat mense gaan versamel in kleiner groepies rondom wat hulle sien as hul behoeftes en belange. En dat pogings om daardie hele fundamentalistiese ding te herstel die gemeenskap nog verder fragmenteer deurdat dit mense vervreem. En ek wonder of mens nie ook soiets nou in Afrikaanse NG kerke sien nie. Mens hoor vernuwende geluide, maar terselfdertyd verskyn die behoudende impulse. Wat dit half problematies maak, is soos Fukuyama sê, dat waar die gemeente voorheen gevorm het om die gesag van die skrif, wat hy voorsien, is dat nie die skrif nie, maar die gemeenskap die sentrum word. Die gesag van die teks word dan net 'n soort bykomstigheid.
PN: Wat gebeur in Suid-Afrika op die oomblik is 'n verskuiwing weg van 'n teksgebaseerde, geïnstitusionaliseerde godsdiens na 'n teksvrye ervaringsmatige godsdiens, wat 'n baie vryer, losser struktuur vertoon as wat ons konsep van kerk vir ons stel, en jy kry twee bewegings dan. Die een is dat van die ervaringsgebaseerde goete neem die teks as 'n nawoord en 'n bywoord tot hulle eintlike soeke na ontvlugting in religie, in ervarings van 'n alternatiewe, byna ontologiese ruimte wat nie op die oomblik bestaan nie, om die hardheid en die wreedheid, die verandering in die wêreld te ontkom. Maar jy kry ook groepe wat hulleself juis baie sterk letterlik op die teks self beroep. Daardie soort fundamentalisme ... nouja, vir my wat nie 'n fundamentalis is nie, is dit juis 'n verkragting van die teks, maar hulle beskou dit juis as 'n bewaring. Dis waar die hele vraag na hermeneutiek doodgewoon oorgeslaan word, waar eksplisiet oorgeslaan word maar implisiet eintlik beantwoord word wat hermeneuties totaal en al agterhaald is.
PJ: As jy so verwys na hermeneuties, kan mens dit breër sien as die gemeenskap se stem ook, dat daar plek daarvoor ingeruim word?
PN: Ja, absoluut. Die punt is dat die tradisionele standpunt sterk neerkom daarop dat ervaring, religieuse ervaring primêr deur die teks bemiddel word, as verwysingsbron, as gesagsbron. Nou begin ons al meer 'n situasie kry dat ervaring al meer bemiddel word deur ander goed, waarby die teks geïnkorporeer word op 'n sterk of minder sterk manier. En dit is 'n redelike grondverskuiwing, wat die historiese kerk, Metodiste, Anglikane, ensovoorts, Lutherane, baie, baie diep raak.
PJ: Ek dink dit moet verskriklik wees vir baie mense om nou te sien hoe die ou waardes bevraagteken word. Ek het byvoorbeeld onlangs 'n tesis gelees deur Jean Lombard van Namibië wat skryf oor waterslangverhale waarin sy wys hoe sterk sogenaamde bygelowe onder Afrikaanse mense bestaan het. Dit is ook deel van hierdie ding: hoe, waar moet die grens gelê word?
PN: Jy weet, die feit dat daar in die NG Kerk se Kerkbode 'n debat is oor: "Is die preekstoel noodsaaklik?", is interessant. Dat daardie ou ding om van bo af te praat en dit ook nog monologies te doen, weg is, is 'n wonderlike gegewe, want dit beteken dat mense begin om dieperliggende vrae te vra oor kommunikasie, oor die teks nie as die eksklusiewe besit van die ingewyde nie - amper soos in die Middeleeue - maar as die besit van almal, van dié wat die gees het, sal na die waarheid gelei word. Dit dui daarop dat dit 'n baie sterker kommunale, en in my geval dan 'n ekumeniese karakter dra. Mens moet onthou, in 'n situasie soos dié, kan mens jou arms in die lug gooi en sê, "OO...!!", of jy sê, wát 'n geleentheid! Ek beskou dit positief, baie positief. Omdat ek 'n konstruktiewe soort postmodernisme baie sterk omhels. Dit skep vir jou geleenthede om uit ou dualismes te kom. As jy 'n konstruktiewe postmoderne lyn volg, dan vier jy diversiteit. En ek wil vir jou sê, dit is besig om reeds te gebeur, landswyd, binne gemeentestrukture. Ek was laas week in 'n gemeente in Pretoria waar - in die ou dae sou jy gesê het, 'n NG Kerk se diens lyk so: daai uitspraak is vandag totaal en al inkorrek en in 'n sekere sin is dit empiries irrelevant. Want dis 'n groot gemeente met 'n groot groep ouer mense, bejaardes, wat jare al in die kerk kom, teenoor wie die kerk 'n groot verantwoordelikheid het. Hulle halfelf-diens op 'n Sondagoggend is die ou NG Kerkdiens, maar hulle aguurdiens is 'n ander soort diens waar daar groter deelname is, waar die liturgie vryer is, groter interaktiwiteit is. En hulle sesuurdiens in die aand is heeltemal anders. Maar dit word gehuisves. Dis nie 'n kwessie van toleransie nie, dis 'n kwessie van viering.
PJ: Jy noem die invloed wat stories op jou gehad het. Hoe dink jy lyk dit vir vandag se kinders? Gaan hulle soiets kan sê?
PN: Ek dink nie so nie. Ek dink nie die storie in sy woordbeeld leef voort nie, maar die storie in sy prentbeeld en in sy virtuele werklikheid, dié gaan voort. Die Cartoon Network is niks anders as die opeenvolgende tekenstorie nie. En ek dink nogal slim gedoen. Die vraag nou is, hoe gaan oor tien jaar boeke beskou, die konsep boek is vir my nogal moeilik. Ek dink byvoorbeeld hoe net byvoorbeeld die tipografie van boeke gedurende die laaste vyf jaar verskuif het. As ek nou iets lewer vir Cum of Lux Verbi, hulle soek nie lang tekste nie, hulle soek goed wat kort-kort gebreek word met 'n mooi aanhaling, die tipografie van die uitleg is maklik. Wat vir my sê dat ons al besig is om, sonder dat ons dit weet, 'n rewolusie te belewe. En die konsep boek moet dalk... oor tien jaar is dit dalk CD-ROM, ek weet nie.
PJ: Ja, ek weet, maar vir my is dit persoonlik 'n tragedie...
PN: Maar dis net 'n tragedie omdat jy vashou aan 'n sekere konsep van boek, van hoe letterkunde moet funksioneer. Daar's 'n sterk saak daarvoor uit te maak dat moderne goeie films die letterkunde van die dag is - dis gebaseer op 'n teks, heel moontlik 'n roman wat goed verkoop het. Ek's gelukkig daarmee. Ek meen, om nou maar na my ou klein wêreldtjie terug te kom, die Jesus-film wat sonder woorde maar met beelde kommunikeer, is deesdae 'n baie sterker kommunikasiemiddel as om die Bybelgenootskap se Bybels in Afrika te gaan versprei. Die beeld praat universeel en ek weet, hy is ook kultureel bepaal, maar hy's net makliker. Die Bybel op CD-ROM met verskillende Bybeltekste en verwysings is besig om veld te wen.
PJ: Ja dit is so, as mens kyk na beelde of die beeldindustrie en die massamedia en alles, dan lyk dit asof daar baie potensiaal is, maar ook vir misbruik en manipulering. Maar dan dink mens net aan 'n teks-gebaseerde godsdiens, waarvan dieselfde gesê sou kon word - daar word outoritêr gepraat...
PN: Die ideologie is nie van 'n medium afhanklik nie... Manipulasie en outoriteit, wat jy dit ookal wil noem. Ek meen, in die Middeleeue voor die uitvinding van die boekdrukkuns was een magtige, feodale sisteem nie net ekonomies nie, maar ook kerklik in beheer. En ek dink ons staan nou by dieselfde rewolusie. Soortgelyk.
PJ: Behalwe wat nou by hierdie rewolusie bykom, is dat ons nou in 'n verbruikerskultuur leef en alles word gekommodifiseer. Dan dink ek net partykeer, vra ek, waar lê die grens? Jy weet, met die verkoop van die siel..
PN: Daarmee kan ek my heeltemal vereenselwig. Die vraag is of ons dit sê vanuit 'n implisiete waardeoordeel wat ons sal moet verdedig. Ek is bereid om dit te verdedig. Ek dink dat die Bybel-luiheid is net ongelooflik, luiheid. Want die Bybel is nie 'n eenvoudige boek om te lees nie. Hy is histories bepaal, kultureel bepaal. Alhoewel dit in Afrikaans vertaal is... dit is nie so eenvoudig nie. Ek meen, as jy die Ou Testament oopmaak, sê maar by Sagaria, maar jy besef nie Sagaria het geskryf in die jaar 520 voor Christus, dis post-eksilies, die politiek-ekonomiese situasie is so nie, dan maak daai teks net nie soveel sin nie. Maar mense is lui. So wat koop hulle nou? Dis hierdie boekietjies, die kind met die traan op die buiteblad en binne-in met Bybelteksies onderaan. Dis verbruikerskultuur, en ek is daarteen. Maar ek spreek daarmee 'n waardeoordeel uit wat ek bereid is om te verdedig. Jy kry eksesse, jy kry Bybelgedeeltes wat in prenteboeke verkoop word as nou naas die Bybel, jy weet, met ander woorde, as ons die punt bereik waar mense net dit koop en nie meer die teks lees nie, dan het ons wat my betref intellektueel en geestelik vervlak.
PJ: Dis wat vir my die probleem is - die beeld, die orale, en al daardie soort van goed - dat daar iets daarmee saamgaan, dat dit luiheid in die hand werk.
PN: Ek dink ons moet versigtig wees ... die nuwe Harry Potter boek wat nou uitgekom het ... kom ek neem my seun as 'n voorbeeld. Sy brein is anders gedraad as myne, want hy word groot in die informasierewolusie. Hy dink beelde, hy dink rekenaars en hy dink internet. Ek dink Walmer-biblioteek, die Skatkisreeks... Nou is die vrae wat ons as ouers vra: Jong, lees die kinders nog? Die nuwe Harry Potterboek het tussen ons drie kinders gesirkuleer tot ons naderhand 'n reël moes maak, jy kry 'n uur, dan weer jy, en so aan. So gretig was hulle om te lees. Dit het my so bietje laat sê die teks, Lank lewe die teks. Ons het darem nog 'n kans. Maar dan gaan die Harry Potter movie kom en net soos met die Trompie-fliek, maak dit die boek dood. Ek mag nou sinies wees. Waarskynlik sal die finesse van die alternatiewe media ook ontwikkel soos die tyd aangaan, soos die geval was met die finesse van die woord na die uitvindsel van die boekdrukkuns. Die groot filosofiese tekste van Descartes en Kant, en jy kan selfs vroeër teruggaan na Augustinus, dis rêrig literatuur, dis klassiek. Miskien kry ons in die toekoms in hierdie ander medium ook iets soortgelyks. Ek weet nie, ek en jy is al te oud.
Die rewolusie is onkeerbaar. Die vraag is hoe jy dit gaan benut.
PJ: Jy's nou al lank in die Baai...
PN: Ek is hier van 1 Januarie '92 en was aanvanklik aangestel as professor in Godsdienskunde in die plek van Wentzel van Huyssteen wat na Princeton is. Na twee jaar het ek dekaan geword en maar die akademie soos 'n weeskind bedryf, want die transformasieproses van die universiteite van daardie tyd tot waar ons vandag sit, het redelike hoë eise gestel aan die bestuur.
PJ: Wat ek eintlik vra, is hoe leef jy in die Baai, hoe vind jy dit hier?
PN: Dis die beste plek om te bly in Suid-Afrika. Beter as Venda, beter as Kaapstad. Daar's geen twyfel daaroor nie. Dis die bes bewaarde geheim in Suid-Afrika, dis Port Elizabeth. Kaapstad is 'n plek wat hierdie brutale skoonheid het wat gekommersialiseer is, met sy bomme daarby. Ons leef hier, as jy Port Elizabeth vat met 'n honderd-en-vyftig kilometer radius, het jy alles. Jy kan nog Baviaanskloof toe ry. Waar kan jy mooier kry?
PJ: En die gemeenskappe waarmee jy te doen gekry het?
PN: Ja, ek dink die groot probleem van die Oos-Kaap in sy geheel is die Oos-Kaap ly aan 'n diepsinnige gevoel van minderwaardigheid, van tweede klas. Dis totaal onnodig, maar dit werk tot ons voordeel.
PJ: Wat sien jy in die toekoms vir jouself?
PN: Ek het twee geheime drome vir myself, die een is om dalk op 'n stadium poëties-georiënteerde liturgiese tekste te produseer en die ander een is om 'n CD te maak van credo-agtige liturgiese tekste wat mens baie ver terug kan gaan haal, vanaf die Middeleeue af, wat hoofsaaklik a capella gesing word en wat gemeentes dan kan gebruik binne byeenkomste. Mens raak so meegesleur deur die teks dat mens naderhand besef hoe belangrike die poëtiese is. My ervaring is dat jy later besef dat die drakrag van 'n diskursiewe teks nie genoeg is nie, jy moet amper, jy weet, oorgaan in poëtiese taal. Ek kan dit nie doen nie, ek is nie 'n poeët nie, maar laat ek hier 'n stukkie voorlees uit daardie boek:

U is die geestelike wese wat ons "God" noem
geheim, tog ge-openbaar
ewig tog tydelik
almagtig tog weerloos
fontein van goedheid, verwysingspunt
betroubaar, getrou
ons vra
ons twyfel
ons glo

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/naude.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]