"Engeltjie" is 'n uittreksel uit Yvonne Burgess se nuwe roman in voorbereiding. Die werkstitel van die roman is You Know Who I Am en word binnekort deur Penguin gepubliseer. Die roman is in Engels geskryf, maar volgens die skrywer het die karakter wat in die uittreksel figureer, in Afrikaans met haar gekommunikeer. Dit is onwaarskynlik dat die gedeelte in Afrikaans in die roman gepubliseer sal word. (Miskien is daar 'n kans dat die roman vertaal kan word?). Die uittreksel word met vergunning van Penguin gepubliseer.
Engeltjie

deur Yvonne Burgess

Die dieners het my toe ook vir 'n staat gevra, maar ek het daaroor beginne dink en gewonder wat hulle nou eintlik van my wou hê. Ek is maar net die 'girl', die meid. Watter soort staat nou eintlik? Wat sou ek nogal weet?
Maar ek sal niks wegsteek nie. As hulle wil weet, dan sal ek maar vir hulle sê. Die hele lot ook.
Die swart een sê toe vir my: 'Jy's Angelina Botes'.
'Engeltjie,' sê ek. 'My Pa het my altyd Engeltjie genoem.'
'Maar jy's Angelina geregistreer?'
'Hulle't my eens op 'n tyd Meidjie ook genoem. Maar dit was nog in die ou South Africa.' Ek het geweet ek sê 'Souf' en ek sien hulle wil lag, maar dis maar net my ou haasbek wat die woorde nie mooi kan vorm nie.
Hulle het mos oor my ID kiekie ook gekla, omdat dit
Yvonne Burgess se mees onlangse roman was A Larger Silence (2000)
(Lees 'n OA-resensie daaroor).

Haar vorige romans:
A Life to Live (1973)
The Strike (1975)
Say a Little Mantra for Me (1979)
Anna and the Colonel (1997)

Hier is 'n onderhoud met Yvonne Burgess.

niks na my lyk nie. Ek sê toe vir hulle dat ek altyd my kop opruk as iemand van my 'n kiekie wil neem. Dis dit wat my neusgate so groot en donker laat lyk. Hulle staan toe om die ding te bekyk en die wit een sê vir my, 'Ja, mens kan amper jou harsings sien.'
'Dis okay,' sê ek vir hom. 'Want so is dit met my, met my neusgate en my harsings ook.'
'Nou wel, ruk jou kop net so op laat ons kan sien of die photo genuine is.'
Maar ek is net so vir hom, diener of te nie: 'Gaan bars', want daardie dae is verby toe hulle nog met ons kon spot en ons 'dankie baas' moes sê. Hulle moet my maar uitlos en hulle job gaan doen. Uitvind wat Em besiel het, of dit nou moord was, of wat.
Nie dat ek koudhartig of iets is nie. Ek het gevoel vir hulle, vir Mrs Marl wat so sit en pluis, pluis, aan die plooie van haar skirt. Mens kon sommer sien sy's radeloos, in die gesig geklap, in die rug gesteek, en dit deur haar eie kind. Plegs dat sy eerder vir Em genader het terwyl daar nog kans was.
Sy vat ook g'n notisie van my nie. Ek gaan maar vort met my werk maar sy praat nie 'n dooie woord nie, nie van kosmaak of skoonmaak of shopping of stryk nie.
Maar 'n mens kan dit tog verstaan. Hoe was ek nie ook met Pensie nie. Skoon van my kop af. 'n Kind bly maar jou kind al is hulle ook hoe oud. Boonop het ek my nog so verwyt ook, dat ek nie meer vir hom gedoen het nie, nie eerder iets opgemerk het nie.

Ek probeer help, gesels hiervan en daarvan en deel gedagtes om Mrs Marl uit die skok uit te ruk tot WC wou weet hoekom ek oor alles kommentaar moet lewer, nes 'n 'bloody Greek Chorus'.
'Hotnot's chorus,' chip Mel ook in, en ek het sommer vir hulle almal vies geraak.
Ek wou genuine gehelp het want ek sien Mrs Marl gaan nooit uit die depressie uit kom nie en as ek dan kommentaar gelewer het was dit ook maar net om haar mind van die ding af te vat.
Net uit pure meegevoel. Sy was nou nie eintlik 'n watwonderse werkgewer nie. Sy kon mos nie behoorlik praat nie. Dit was altyd 'n geskreeuery asof ek as bruinmens die dowe moet wees plegs van sy self. Ek het my baie keer bloedsielig vererg, dit het so op my senuwees gewerk. Ek weet ek is niks specials nie, maar wragtie, ek is mos ook 'n mens. Ek het mos ook gevoelens. En ek was baie dae moeg en sat met my siel behoorlik versondig met die geskreeuery wat my ore eintlik laat tuit.
Nogtans was daar in my hart meegevoel vir haar, net ter wille van ou Pensie, want kind verloor is erger as die dood self.
Ek het mos net so bitter gerou toe hy oorlede is. Ek sê weer, daar's g'n erger pyn onder die son as kind verloor nie. Mrs Marl voel ook sekerlik so. Em was tog haar vlees en bloed, wat sy met bitter pyn en lyding die wêreld ingebring het. Ek moes maar vir haar jammer voel, al was Em ook nie eintlik meer 'n kind nie.
Ek kon Mrs Marl ook nie vra hoe sy voel nie, aangesien ek nou maar net die bediende was, die girl. Want hulle was 'n eensydige klomp. Eensydig en opstandig ook. Sy kon mos maklik vir my sê ek moet my neus uit haar sake uithou.
Tog, as sy nou werklik ly en ons kon saampraat oor hoe dit gaan om kind te verloor... Want gevoelens is tog maar dieselfde al is jy ook watter kleur. En pyn is maar altyd pyn, soos die benoude pyn wat ek nou nog voel as ek aan Pensie dink.
Aan Dries ook, natuurlik, maar vernaam Pensie, my ou seuntjie. Shame, hy't dit ook nie te lekker gehad nie. Toe hy nog klein was het hulle hom mos so erg uitgetart. Ek sê vir hom, 'Moenie worrie nie, man. Wie is hulle? Wit kak, dis al,' en toe lag hy met sy ou haasbekkie so wawyd oop. Maar dit het ons geknou, ons wat hom so innig liefgehad het.
Ek praat nou van daardie besigheid met die trike wat ou Pensie kamstig nie aan mag raak nie.
Ek weet ook nie wat hulle teen ons gehad het nie, die oubaas en sy kleinseun. Wat ons ooit aan hulle gedoen het nie. Die kleinseun, die bog kind wat my eintlik staan en uitskel, my so challenge, soos: doen net iets, roer net, sê net iets... met sy blou ogies wat so onheilig flikker. Wat het hom besiel? Hy't nog altyd met Pensie gespeel, van kleins af, vlak voor my deur, of in sy ma se kombuis. En hy't seker geweet dat arme ou Pensie nooit sy eie trike sou hê nie, dat hy altyd net sou moes kyk maar nooit besit nie. Dit maak geweldig seer. Mens weet nie watter kant toe nie. Maar oppak en trek? Waarheen nogal? Daar's mos g'n uitkomste vir ons bruinmense nie. En ek sê dit, ja, bruin. Ons kan mos nie 'Coloured' wees as ons net bruin is nie. Dis onnosel. Maar hulle het ons erg beskadig met hul onnoselligheid. En die manier waarop 'n blote kind iemand wat sy ma kon gewees het, so met sy woorde vermorsel... Waar het hy dit alles geleer?
Wel natuurlik ek bedoel ek kon sy ma gewees het weens die ouderdom, nie die ras nie. Maar so 'n kind wat g'n respek ken nie, wie sou sy ma wil wees?
Maar alles is nou anderste. So sê hulle. Ons moet maar daarmee tevrede wees. Ek praat nou so van die wittes maar ek self het 'n spierwitte ouma gehad. Wraggies. So waar. 'n Ware lady, ook nou nie een van die slimstes nie, maar ten minste wit, heeltemal wit. En my oorleë oupa kon self maklik vir 'n wit man gepaas het.
Ek onthou my ouma het altyd so 'n stewige borsrok gedra met sulke harde puntenerige tepeltjies wat alles wat 'n man is, afgeskrik het. Mens moes net mik as sy jou omhels en dan glimlag sy met daardie snaakse gelerige, half-skewe vals tande van haar wat mens sommer laat naar voel. Dit was vir haar 'n game gewees en sy het met almal van ons gespeel want sy't ons almal liefgehad al was ons meestal bruin en 'n paar aan die swart kant ook.
Wel, dis mos in die genes en ons was seker almal throwbacks gewees, of so het die witmense dit.
En dis net daarom dat ek na Em se begrafnis toe sal gaan. Watch vir my. Ek wil niks van 'net die familie' hoor nie. Daardie dae is verby toe ek nie met my bruinbas op die wit man se kerkbanke kon sit nie. Die dominee weet dit ook seker, dat daardie dae verby is, aldan nie, moet die wet dit vir hom leer.
Sy't altyd so kleurvol gepraat, my wit ouma, altyd haar eie take op alles gehad. Liewer 'n honderd skape oppas as een kind, het sy altyd vir ons gesê.
Wel, skape het ons nou nie gehad nie, maar kinders was daar volop, amper een 'n jaar na Ousussie se geboorte, want wat het hulle geweet, die oumense, van birth control en aborsies en sulke goed. Meeste van die kleingoed het ook sommer gou afgesterf. Mens het hulle skaars leer ken voor jy jou kry agter nog 'n kissie aanstap.
Dit was die griep, en die maagontsteking en die longontsteking en heeltyd by die kliniek boer. Maar Ma het gesê die ergste was toe my ousussie sterwe, net omdat sy so lank gelewe het en mens haar leer ken en liefgehad het.
Sy't toe al self 'n babatjie gehad, toe die longontsteking haar aanpak, toe sy so swak en moeg raak dat sy net kon sit, kind op die skoot, en elke nou en dan 'n doek onder hom indruk, nie eens vasspeld nie, en later, nat of vuil, sommer so langs haar stoel laat val.
Daar was ook snaakse swere in haar mond en keel en naderhand op haar hele lyf. Ek vermoed nou wat dit was, hoekom die kliniek ons nie eintlik kon help nie. Die hospitaal was ook radeloos. Daardie dae was AIDS nog onbekend, vernaam in the platteland.
In elk geval toe hulle nou weet dis AIDS en nie bronkiekies nie, was sy alreeds aan sterwe. Sy's ook toe heen en Ma het die baba opgepas maar met hom was daar ook iets nie heeltemal lekker nie. Hy was tingerig, sieklik, met tandvlese wat soos worsies afgegroei het. Hulle het by die kliniek gesê dis hyper-iets, en ons kon dit glo.
Hy't ook nie lank gelewe nie en Ma het rondgeloop asof iemand haar op die kop gekap het, asof haar bene haar nie meer kon dra nie. Dit was nou Ousussie se kind gewees, al wat van haar oorgebly het, wat Ma aan haar herinner het. Dit was 'n hartseer storie daardie gewees en Ma was daarna baie sag teenoor dié van ons wat oorgebly het.

Maar nouja, 'n mens moet vir Mrs Marl ook jammer voel, al was Em so 'n mislukking en amper heeltyd gegoof. Miskien het hulle gedink dat ek nie daarvan weet nie, maar wie het die asbakkies elke môre leeg gemaak? En daardie snaakse soeterige rook? Ek is mos nie vandag se kind nie. En wat sou die dieners daarvan sê as ek hulle vertel wat eintlik hier aangegaan het?
Vyf rand 'n poke het hulle gesê, of tien, dit hang af, wat hulle by daardie skelm Rasta koop en dan lê en rook tot hulle heeltemaal bedwelmd is.
Daarby en afgesien van haar skreeuery was Mrs Marl nog altyd oordentlik teenoor my gewees en my oordentlik behandel. Ek kon haar mos nie in die moeilikheid bring nie; maar vir die res van hulle, die boarders, het ek skaars 'n flenter omgegee.
Die ou WC byvoorbeeld wat so mal soos 'n gans is, sit heeldag en foeter met sy hoenderbeentjies en takkies en draadjies en nie een woord wat 'n mens kan verstaan nie. Net 'n hele klomp stront.
En Mel wat 'n hotnot soos ek is maar wat hom so wit wil hou, wat met sy bruin boude saam met hulle aan tafel sit. Die verduiwelse vent wat so kreupel is, het my ook wraggies geproposition. Ek kon my ore nie glo nie. Hoe het hy dit nou weer gestel? Iets van sy skroefsleutel wat 'n moertjie soek. Ek is net so vir hom: boeta, sê ek, hou jou vuilbek van my af en loop soek iemand anders om te skroef of ek breek daardie skroefsleutel van jou kort teen sy handvatsel af. Wat dink jy, wil ek by hom weet, dat ek 'n skroef of iets los het?
Dis nou vir jou 'n cheek. Maar wat my aangaan, is dit eintlik die ander ou, Vik, met wie ek niks te doen wil hê nie. Gee 'n mens die koue rille, laat die hare van jou nek penregop staan en mens weet nie eintlik hoekom nie. Soos 'n buffel gebou met so 'n buffelagtige voorkop. Maar so wit, so uitgebleik, tot by die oë wat skaars kleur het. Hy kry mos amper nooit son nie, hy bly maar altyd binne soos 'n skerpioen onder 'n klip. Gelukkig steur hy hom nie aan my nie, en ek los hom ook maar uit. Dis eintlik beter so. So kan 'n mens dit behartig, min of meer. Want hy's 'n ander soort skepsel, afgesien van die stories wat mens van hom hoor. Hy's 'n soort van alien, hy hoort nie by gewone mense nie. Mens kan mos sien as hy hom so vermom met sy full-face swart glas helmit en serp en hy rev sy bike so op, dan is daardie masjien en hy een ding, een dier. Hy's nie van hierdie wêreld nie...
En dis wat ek van hulle dink, van die boarders. Ek dra nie stories aan nie. Maar so kom hulle vir my voor.

Wel, ek het vir die dieners gevra wat ek nou van Em sou weet? Ek het maar net haar kamer skoongemaak. Ons was nie eintlik tjommies nie. Dis nie asof ons heen en weer gechat het nie. Sy het my geignoreer, maar nie omdat ek bruinmens is nie, of dat sy nie persoonlik van my gehou het nie; sy was maar met almal so. Ek weet nou nie van die mans, die boarders, nie. Miskien was sy vriendelik teenoor hulle.
Dis ook nou nie te sê dat sy onaangenaam teenoor ons voorgekom het nie. Sy het net nie 'n duit omgegee nie, nie vir wat ons dink nie, haar ma, of ek. Ons kon maar gaan skyt vir wat dit haar aangaan.
Maar nou ja, alles gesproke, hoekom sou sy vir my omgee? Of ek vir haar? Haar ma het ook maar opgegee om te praat, en raad te gee.
Soos in die begin toe haar ma haar van die dagga wou afskrik, en sy kla van die hoofpyn, die ewige, ellendige hoofpyn, en haar ma vra hoekom sy nie liewer 'n paar hoofpyn poeiers drink nie, en sy's net so: 'Poeiers! Weet Ma miskien dat daardie poeiers 'n mens se maaglae opvreet?' En daar het dit ook gebly. Wat was daar nog om te sê? Die dagga het ook seker iets opgevreet, maar wat? Hoe sou ons nou weet? So het Em toe aangegaan, nes sy wil, en bogger die res van ons. Mens kon niks met haar uitvoer nie. Sy was te in haarself opgaande.
Daar was ook amper niks in haar kamer nie - niks wat 'n mens van 'n jongerige vrou sou verwag nie, niks wat iets van haar weggee nie, soos poeier en lipstiek en miskien 'n bietjie scent. En dit wat in haar kas gehang het was maar armsalig. Nie dat sy aan geld gebrek gely het nie. Maar soos hulle gedrink en gerook het sou daar bra min oorbly. Alles was so opgefrommel. Haar penties met die gate en die uitgewerkte rek wat sy aan die eenkant geknoop het -en nie net eenmaal nie - om hulle op te hou. En die ou verflenterde onderrokke en die bra's wat seker halfpad op haar rug opgery het omdat die rek nou nie eers meer kon rek nie.
As mens afleidings wil maak, dan moet gesê word dat hier's 'n vrou wat net niks meer vir haarself omgee nie. 'n Vrou wat hande oorgegee het, tou opgegooi het, en dies meer. 'n Vrou wat klaar is met die wêreld en alles wat daarmee gepaard gaan. Dis nou net rook en suip en bid dat die dood tog nie te lank sal draai nie.

Maar hulle was nog altyd 'n koddige klomp, Em se familie-hulle... Daardie broer van haar wat voorgegee het dat hy 'n hippie of so iets van die aard is, met sy lang hare en toiingrige baardjie, van dié wat 'n jong man so vuil laat lyk, dat 'n mens hom eintlik by die hare badkamer toe wil sleep sodat hy kan was en skeer.
Nie dat hy 'n onangename mens was nie, net koddig. Meer koddig as die res van hulle. Mister Yawnie. Ek kon mos nie die 'j' sê nie. Seker iets met die haasbek te doen.
Dit was mos toe Dries verdwyn dat ek my tande beginne verloor het. Hulle het so een vir een uitgeval asof hulle nie by my wou bly as Dries nie meer daar was nie. My mond het toe ingeval en met my ou dun wangetjies het ek ook omtrint 'n hundred en tien gelyk. G'n man sou weer na my kyk nie al was ek skaars dertig. Ek wou ook g'n man hê nie. Ek was net te droewig. Te droewig partykeer om aan die lewe te bly.
Want ons, ek en Dries, was 'n love match gewees. Ons het 'n love story beleef. For every man there's a woman. So sê hulle mos. Daar's voëls wat ook net eenmaal paar en dan nooit weer nie. Swanne, sê hulle. En sommer nog baie ander.
Ons was soos hulle, Dries en ek. Once in a lifetime. En daarna die dood. Na Dries, net die dood.
Hy was 'n romantiese man. Baie mans is 'n bietjie van 'n koue vis na die honeymoon, maar Dries het aan die brand gebly. Hy't binne hom vuur gehad. Maar daarby het hy my ook nooit gedwing nie. Hy't altyd vir my gevra, heel beleefd: 'Hoesit? Het sy nie vanaand vir my 'n ou ietsie nie?' Hy't darem geweet hoe om 'n vrou se hart aan te raak.
Soos ek nou gesê het, my tande was heeltemal uitgevrot, seker van die oumies se spoegies. Hulle sê mos spoeg is 'n verteermiddel. Want die oumies het mos die gewoonte gehad dat as ek so by haar voete sit soos 'n brakkie dat sy vir my scraps voer van haar bord af, scraps wat sy nou nie like nie, die seningkies en kraakbeentjies wat sy nie kon kou nie, wat sy vir my gevoer het, meestal nog nat van die spoegies.

Em se broer bly toe maar Mister Yawnie, en hy't daarvan gehou, glad daaraan gedink om sy naam wettig te laat verander want Yawnie was buitengewoons, soos 'n hippie-naam hoort.
Ek het eintlik niks teen hom gehad nie, maar Mrs Marl en Em was alma-ewig besig om hom te verneder en af te breek. Dit was ook nie vir my snaaks dat hy sommer een dag beginne inpak en nie alles nie, net dit wat hy in sy rugsak kon inprop.
Hy's net so vir my: 'I'm splitting' en ek sê, 'Ag genade', want ek het nou nie presies geweet wat hy bedoel nie Ek het maar net min of meer afgelei, van die rugsak af. 'Maar waarheen dan?' want ek het vir hom jammer gevoel, sien, hy wat altyd so afgejak word en dit deur sy eie moeder en sussie. Ek bedoel, wat sou ek gegee het om my eie seun, my ou Pensie, so as jong man voor my te sien staan?
Hy sê toe: 'To follow my destiny.' 'Ag liewe hemel,' sê ek, want hy het mos nie heenkoms nie, en wie was die destiny eintlik? Ek was bang dat hy by die interseksies te staan sou kom om te bedel soos daardie ander vuil ouens.
Maar Yawnie was toe klaar met praat. Hy was maar altyd 'n man van min woorde, miskien omdat hy verkies het om hulle in Engels te sê, 'n taal wat hy nou nie juis goed geken het nie.
Na hy weg is, het ek hom eintlik gemis. Hy't my altyd laat voel dat ons equals is. Kleur was nooit ter sprake nie. Ek het dit waardeer.
Maar toe's hy weg en Em se man, Lolly, was ook weg en as ek hulle so staan en bekyk het, vir Mrs Marl en Em, toe sy nou nog leef, dan het ek gewonder of dit nie miskien iets is wat hulle nie kon help nie - iets wat hulle dryf om mans te verlaag en te verkleineer. Daar is mos sulke vroue, wat mans nie kan verdra nie en hulle moet vernietig, tot in die grond in.
Wel, ek het vir hulle jammer gevoel, Mrs Marl en Yawnie, en Em en Lolly ook. Hulle was 'n gebreklike gesin. Hulle het gebrek gely aan gewone menslike gevoelens. Maar miskien het ek net van die gekleurde kant gekyk, die verkeerde kant.
Van Lolly gepraat: wat my betref was Lolly nog altyd 'n jintelman. Ek het hom 'n heel paar keer gesien en hy was altyd beskaafd en 'n jintelman, miskien 'n bietjie nukkerig maar ek het ook self gesien hoe Em hom verneder. Nou wel, miskien was dit 'n two-way ding tussen hulle, die een se nukke en die ander se beledigings. En ek wonder nog vandag toe wie nou eintlik vir wie weggesmyt het.
Maar hy was darem 'n mooi man met die blonde hare wat so gewave het, nes 'n filmster. En jintel, soos ek gesê het.
Dries was ook 'n mooi man. As hy nou nie bruin was nie dan het hy kompleet soos Clark Gable gelyk, tot op die dun moustachie. Hy was lank, mooi gebou en sy gelaat was fyn soos 'n wit man s'n; mooi neus, dun lippe en hare wat ook net so 'n wafie gehad het.
Eintlik het my ou Pensie na hom beginne lyk voor die liewe Heer hom opgevat het. Maar ek wil nie weer daaraan dink nie.

Ek self is maar kort - kort van aard en kort van draad - en 'n bietjie dik van lyf ook, maar Dries het nooit gemoan nie. En daardie vetterigheid van lyf was ook maar al die brood wat ek as kind moes eet, saam met die pap, want die scraps van die tafel was nie genoeg om 'n mens te versadig nie. Dit was meestal stysel gewees wat my aan die lewe gehou het en wat nou hier op my boude en heupe bly sit.
Nou okay, Dries het nes Lolly verdwyn, maar dit was 'n ander ding gewees. 'n Snaakse ding. Daar het wel iets agter gesteek en tot vandag toe wonder ek nog of die goewerment nie iets daarmee te doen gehad het nie. Want hulle het mos mense so laat verdwyn, sonder woord of vermoede.
Ek het tot plaas toe geskryf. Ek het gehoor die oubaas is oorlede, en gevoel vir die oumies, sy wat my soos 'n hondjie aangehou het, soos 'n apie hier by haar voete, so half onder die tafel; nie dat ek iets teen haar koester nie. Dit was lank alreeds vergewe en vergete, van daardie oomblik toe ons met die donkies vertrek en sy agter die oubaas se rug vir my die bondeltjie ou klere en broodjie gegee het en gesê het: 'Meidjie, ek neem jou nie kwalik nie, as jy kans sien om te waai, dan moet jy waai. Die Here weet almal is nie so gelukkig nie.'
Wel die ander volkies het ook seker hulle probleme gehad. En miskien sy ook, want die oubaas was maar 'n onbeskofte ou vent, nors en woes teenoor almal.
Ek het toe geskryf om my meedegevoel te stuur met Oubaas se afsterf, maar meestal om te hoor of Dries nie miskien daar opgedaag het nie.
Mooi geskryf, soos hulle my op die ou plaasskooltjie geleer het:
'Wel, om die brief mee te begin, gaan dit goed met ons.' So het hulle ons geleer en dit was ook seker reg want mens kan blykbaar nie 'n brief met die waarheid begin nie. Mens kan seker nie reguit van die pyl af sê dat dit maar swak met ons gaan nie. En dis nie eens 'ons' nie, dit was lank laas 'ons' gewees. Dit was net ekke wat stoksielalleen met my ellende sit...
Ek het haar oor Dries uitgevra. Miskien het hy weer daar opgedaag? Ou Pensie se graf te besoek? En heel beleefd vra ek: 'Asseblief tog, as Oumies iets van hom weet, iets gehoor het, Oumies weet hoe die volkies skinder, van enige iemand wat kom of gaan...' Ek het nou nie gevra of sy haar belofte nakom om Pensie se graffie te versorg nie, maar ek het haar baie daarvoor bedank sodat sy skaam sal voel as sy vergeet het.
Ek het die brief na die melkery toe gestuur waar hulle altyd die pos aflewer en kollekteer, maar ek het niks van Oumies gehoor nie. Ek het gedink: miskien het hulle nou 'n ander reëling. Miskien bestaan die melkery nie meer nie. Oumies kon ook heengegaan het. En hoe sou ek nou weet?

Dit was seker nie snaaks dat met Em se afsterwe my gedagtes alma-ewig oor Dries en Pensie sou beginne draai. Arme kind. Ek het geglo dat die swelling van sy lewertjie nou heeltemaal gesak het en dat hy sonder leed met die engeltjies speel en nog miskien sy eie trike ook besit. En dit was snaaks, maar in my gedagtes is die engeltjies almal so 'n ligte chocolate kleur soos Dries, nie een witte onder die klomp nie, en dit laat my weer aan hom dink.
Ek onthou toe ons klaar die ou karretjie opgelaai en donkies ingespan het, was Dries nog 'n lang tyd woedend. Daar het mos 'n twis tussen hom en die Oubaas gekom oor die eienaarskap van een van die diere, ou Ore. Dries se pa het nooit vir hom gesê dat hy Ore aan die oubaas verkoop het nie. Al was dit ook so, het Dries 'n lang tyd woedend gebly, want hy moes ou Ore toe van die Oubaas terugkoop met ons bietjie kapitaal spaargeldjies. En dit ten spyte van die feit dat Oubaas hom eintlik deel van jare se loongeld skuld.
Dries hou net aan sê: 'Nou's ek sat en klaar met die boere, hou net die wolkoppe van my af weg.'
Hy't ook so lank daarmee aangehou dat ek vandag nog wonder of hy nie miskien teruggegaan het om die geld te eis wat hom wetlik toekom nie, die loon wat hy moes gekry het, en dat hulle hom van niet gemaak en daar iewers begrawe het, sonder gebed of gepreek of gesang.
Want wat anders sou 'n mens dink? Daar was dit tussen Dries en die Oubaas wat net die dood sou oplos of uitvee. Dit was hy of die oubaas, of hulle altwee, en nou sit ek soos die sangeres op daardie ou plaat van Oumies:
'....vol smart en berou...'
Nie dat ek nou nie dankbaar is vir wat ek hier by Mrs Marl het nie. In vergelyking was dit glad nie te dusty nie, soos die Engelsman sê. Ek het nogal heel lekker gebly in die grannie-flat agter en hulle was almal meestal vriendelik. Em, en Mrs Marl en die boarders ook. Dis mos die nuwe S.A. en almal het nou sy waardigheid. Hulle het seker gedink hulle's gelukkig dat hulle 'n bediende nog het, dat ek nie ook komputers gaan studeer en werk in 'n kantoor soek nie.


Maar so gaan dit en ek sou hoog gelukkig gewees het as ek nie die alma-ewige pyn van my verlies, my bedroefdheid, saam met my gedra het nie, ek bedoel nou die pyn oor Dries en Pensie.
Want daar was g'n meer familie van my nie. Ons het mos almal net so uitmekaar uitgespat, ons broers en susters, toe Ma nou eens oorle is. Hulle sê mos dis altyd 'n ma wat die familie bymekaar hou. Maar ons gesin sou buitendien nooit bymekaar gebly het nie.
Dis nou aan die genes te danke. Ek het gesê my oorle Ouma was 'n wit vrou gewees en Oupa het ook so wit voorgekom met hare so glad soos 'n kat se blad en sulke blouerige oë dat hy sommer maklik vir wit gepaas het.
Dit was eers toe die babatjies beginne kom dat die skandaal losgebars het. Sulke ou plat neusies, sulke stywe korreltjies, chocolate bruin velletjies en dikkerige pienk lippies.
My Oom August was die eerste, en die hele wêreld kon sien daar's iets fout met die genes. Mens kon sien daar's iets anders as wit in die mix. En so een na die ander, alhoewel daar amper-wittes ook onder hulle was met gladde rooierige hare. Party was net so effe gekleurd, maar die meeste van hulle was pikgeet swart.
Wel, op die ou end was dit die wet wat ons familie geskei het. Die wittes het al hoe witter geword tot op die stadium dat hulle hul afgesonder en wetlik vir wit gepaas het, maar die res het al hoe laer afgesak, en al hoe bitterder geword.
Ek self het maar liewer my eie paadjie ingeslaan sommer vroeg in die lewe, as blote kind, toe ek die job by die oumies op die plaas gekry het, ook met g'n vermoede wat vir my voorlê nie.
Soos die helse besigheid met Pensie. Ons het gedink hy's net lekker vet. Ons het nou nie van die lewerkwaal geweet nie en ons het niks vermoed nie al was hy so 'n gelerige kleur van geboorte af. Dries was ook maar lig van vel en Pensie kon ook 'n throwback gewees het, aan albei kante.
Maar dit was nie net vetigheid nie, want sy lewertjie het erg beginne opswel. Hulle sê toe vir ons dat hy aan sy lewer ly, wat sy vel en oë ook so geel laat lyk. By die hospitaal sê hulle hy kort 'n nuwe lewer, maar waar sou ons soiets kry? Hulle het gesê hulle sit sy naam op die lys, maar toe was hy al klaar te siek. Ons moes hom maar verlos, dat hy heengaan na 'n beter plek waar hy soos die ander kinders kon rondhardloop en speel...


Ek voel nie meer tuis nie. Nie op hierdie aarde nie. Dis 'n ander wêreld en ek pas nie eintlik nie. Ek was mos so geleer, om op my plek te wees, my beskaafd en beleefd te hou, om stil te bly tensy iemand met my praat. Nie soos hulle vandag aangaan nie. Maar wat help dit om te kla? Miskien het hulle almal slegte ouers of iets gehad.
Soos arme ou Dries, hy't ook maar swaar gekry met dié wat sy ma so jonk oorleë is en sy ou pa wat alma-ewig aan die suip was, en alma-ewig so tussen die bottel en die chippies geboer het. Toe hy daardie aand vol dronkverdriet kamma oor Dries se ma treur en kamma op haar graf wou gaan lê en woeps oor 'n grafsteen gemoker het, was dit ook sy laaste dag weens 'n soort van aanval, van die hart of die brein, wie weet?
Dit was vir jou 'n ding gewees. Oubaas het gesê die Bybel praat van sulke Godsoordele. So het hy mos altyd gesê, wat ookal gebeur het.
Iets goeds het darem daaruit gekom want Dries het sy pa se plek op die plaas ingeneem alhoewel Oubaas nie vir hom sy pa se volle loon gegee het nie. Hy moes mos kamstig eers bewys lewer dat hy 'n man se werk kon doen.
Maar toe kon ons darem trou, ek en Dries, en ek kon dit amper nie glo nie, nie toe nie en ook nie vandag nie. Dries, die mooiste man op die plaas, so reguit en fris gebou, met sy fyn gelaatstrekke, so handsome met sy dun moustachie, kompleet nes Clark Gable met net so 'n bietjie van 'n tan.
Ek het baie maal gewonder wat hy ooit in my gesien het. Maar ons het goed oor die weg gekom. Ons het byna nooit twis gehad nie. Hy't maar net so weinig 'n doppie gemaak en hy't nooit vir my sy hand opgelig nie.
En nou voel ek die trane beginne weer agter my oë prikkel. Iets het met Dries gebeur. Hy kon nie sommer wegraak nie. Hy sou my mos nooit so in die steek laat nie. Ons het mos gepraat van nog kinders...


Nou dink ek weer aan allerhande goed, maar meestal aan Dries wat altyd so lief was vir musiek, met sy tweedehandse kitaar wat hy hom self leer speel het. Baie aande het ons by die vuur gesit en die ou riele saamgesing, eers om ou Pensie aan die slaap te kry en toe sommer vir die lekkergeid daarvan.
Dries het allerhande liedjies leer speel, en mooi ook, en hy't 'n mooi stem gehad. Ek het altyd gedink, as Dries maar net 'n kans in die lewe gekry het, as iemand hom net 'n bietjie van 'n hupstootjie gegee het, as sy ou pa nie ook alles uitgesuip het nie, sodat daar darem iets van 'n erfenissie was, iets behalwe ou Slaps...
Ek moet ook sê ek word vandag nog woedend as ek aan die ou man dink, aan Dries se pa, hy wat my - as jong meisie, nog voor Dries en ek getrou het - 'n 'chippie' genoem het. Ek vra vir Dries toe: waar kom sy pa daaraan, dat ek 'n 'chippie' is? Maar hy't net sy kop geskud. 'Toemaar,' sê hy. 'Daar's erger name.'
En so was Dries maar meestal gewees, 'n sagsinnige man, en as ek aan hom dink dan knou dit my weer van voor af. Want daar was altyd respek tussen ons, tussen Dries en ek. Hy sou nooit vir my 'jy' en 'jou' sê nie, en ek ook nie vir hom nie. As hy met my praat het hy my op my naam genoem of 'sy' gesê, en ek het vir hom 'hy' gesê. En plegs van 'jou' het ek vir hom 'sy' gesê en hy het vir my 'haar' gesê . So was dit tussen ons, alhoewel as daar so nou en dan twis tussen ons gekom het, of 'n stryery dan het die 'jy's' en 'jous' behoorlik soos koëels geklap. Maar dit was maar weinig...


Ek onthou nog toe ons daar in die Baai beland het en Dries vir ons blyplek gekry het in die jaart van 'n onderwyseres. Sommer so 'n ou pondokkie - wel, dit was darem twee vertrekke, of veronderstel om te wees - want die groot vertrek was in twee verdeel met hardboard of iets. Hulle kon ook nie die partisie heeltemal opbou tot by die dak nie anders sou die lig net eenkant afgehang het.
Die onderwyseres was ook heeltemaal tevrede dat Dries verniet improvements en renovations aanbring en hy't dit toe mooi opgebou met so 'n venstertjie waardeur die lig kon skyn tussen die twee vertrekke.
Hy't 'n deur ook in die middel uitgesny met die electric saag wat die onderwyseres se boyfriend vir hom geleen het, en so 'n mooi raampie omgesit sodat dit nou netjies lyk. En die gat bo, wat 'n soort van skoorsteen was, het hy mooi toegemaak met 'n stukkie ceilingboard binne en 'n plaat buite. En die voordeur wat teen die tafel oopgemaak het, het hy ook verskuif. Dries was nogal handig met sy hande. Hy't vir g'n karpentaar of sweiser teruggestaan nie.
Daar was ook 'n afdakkie aan die een kant van die huisie wat miskien vir 'n stoorkamer bedoel was, of 'n kleinhuisie, en Dries was van plan om deur te kap en voor toe te maak, om vir my 'n kombuis te maak, want hy was nie tevrede dat ons voorkamer en kombuis sommer alles in een vertrek is nie.
Hy't dit alles vir my gedoen, want Dries het geweet dat ek nog kliphard oor ou Pensie treur. So was hy altyd, meedegevoelig, hy't niks gehou van baklei nie.
Hy was ook van plan om duiwe aan te hou soos die buurman. Vir hom was dit nou die mooiste om te sien hoe hulle swerf en draai, opsweef en afdaal asof iemand 'n bevel gegee het. Maar hy het ook nooit so ver gekom nie. En nou as ek aan Dries dink, bid ek maar dat hy iewers so vry is, waar niks hom meer kan bedwing nie.
Soos daardie tyd toe die stryd tussen hom en die Oubaas gekom het. Dries wou vort maar hy't geweet dat met met die bietjie geldjies wat hy kon opspaar dit ook jare sou wees voor hy genoeg kapitaal sou hê om sy eie besigheidjie te begin, sy sweis-shop... Want hy't geweet jy moet iets in die sak hê vir die eerste jaar of so, dan hoef jy nie rente op 'n lening betaal nie, en dan is daar ook genoeg vir kos. Hy vra toe vir die Oubaas vir 'n verhoging. Jirre, ek weet ook nie van waar hy die moed gekry het nie, of die cheek, soos die Oubaas onmiddellik beginne skreeu het. Maar Dries volhard; hy staan stokstyf en hy hou aan: hy doen 'n man se werk en hy kry 'n seun se loon. 'n 'Boy' s'n.
Net ek het gesien hoe sy broekspyp hier onderlangs bewe van die vrees. Want al was die Oubaas kort en rond soos 'n kabouterjie en Dries lank en mooi fris gebou, was dit nog so, die vrees was nog daar, gebore uit gevoelens van minderwaardigheid, uit afknouery en vernedering van jonks af, uit die hele gewoonte tussen wit en bruin, dit wat die vrees en die angs sy bene so laat bewe het. En toe die Oubaas beginne dans van woede en steek, steek met sy vinger, val arme ou Dries amper om.
Dit was eintlik 'n groot misteik gewees want die Oubaas het ons daar weggejaag, sommer daardie aand nog, en hy sê hy's môre voordag by die stroois, en as ons nog daar is, praat hy nie meer nie, dan skiet hy.
En vir Dries wat nou net so woedend en verontwaardig was, was dit ook klaarpraat. Ons is vort, nie eens een nag meer nie, ons is vort.
Toe ons in die Baai aankom, toe die dag net beginne breek, het ons nie geweet waarheen nie, toe slaap ons maar in die donkiekar en vir een of ander rede doen ou Slaps, die een donkie, iets wat hy nooit vantevore gedoen het nie: hy haal elke nou en dan hard asem en dan blaas hy asem uit met so 'n lang uitgerekte hartseer kreet.
'Ag ou Slaps,' sê ek vir hom. 'Is jy al klaar heimweeagtig?'
En toe beginne ek ook huil, sommer hard-op. Ek sien ons staan so aan die kant van 'n mark en daar's baie mense wat rondmaal, maar dit traak my nie en ek huil net kliphard oor alles, maar meestal omdat Pensie se graf daar op die plaas was en wie weet of ek dit ooit weer sou sien?
Dries sê niks maar hy lyk net so droewig. Hy't ook seker aan Pensie se graf gedink, en hy het ook geweet dat ons kanse sonder genoeg kapitaal maar skraal was. En hy was ook seker bang dat hy maar weer vir 'n witman sou moes gaan werk.
Dit het ons geknou, so erg geknou dat ons sommer albei saam met ou Slaps getreur het.
'Ag Dries,' sê ek vir hom, 'Ek neem hom nie kwalik nie.' Want hoekom sou Dries tevrede wees om jare te werk vir sy eerste loon, sy apprentice se loon, na sy pa se dood?
'Ons verkoop die donkies,' sê Dries, en ou Slaps maak weer so 'n lang hartseer gebalk.
'Ag, moenie so voor hom praat nie,' sê ek. 'Dries sien hy's al klaar so droewig.'
'En dan beginne ek sweis', sê Dries. 'My eie besigheid.'


Die arme ou Dries. Hy't maar net sy standerd drie gekry en kon skaars lees of skryf, en nou kom hy te lande met vorms en rekeninge en VAT en sulke goed. Ek het gehelp waar ek kon, maar ek het hom tog so bitter jammer gekry.
Ek dink soms dat hy weens moedeloosheid weggeloop het, sommer beginne stap, wie weet waarheen. Miskien was dit net te veel vir hom, net omdat hy soveel moed gehad het, so lank geglo het dat hy tog bo sou uitkom...
Soos die aand op die plaas toe hy vir my sê, 'Engeltjie, pak op, dis nou klaar hier. Hulle het ons wraggies uitgesmyt omdat ek vir hulle gesê het, die oubaas en sy kleinseun, en sommer straight ook, dat ek nie meer 'n man se werk gaan doen vir 'n boy se wages nie. Net dit. Finish en klaar.' 'Ek weet' sê ek vir hom. 'Ek was mos self daar.'
En waar's hy nou? En hoekom? Dries sou mos g'n net so wegraak nie. So skielik verdwyn, sonder sy klere en sy sweisgoed. Hy sou mos nooit vrywillig gaan voor sy alterations klaar is nie. Die chalk merke en metings het mos nog aan die muur gesit waar hy die tweede deur sou uitslaan vir my kombuisie...
Miskien is hy terug plaas toe. En miskien het hulle hom daar betrap, die Oubaas en sy kleinseun...
Maar hoekom so weg, sonder 'n woord? Ek het dit by die polisie aangemeld maar ek kon sien wat in hulle kaal geskeerde koppe aangaan: Verwag ek nou wragtie dat hulle agter elke hotnot moet aanjaag? Hy's seker gesuip en verdrink in die soutpanne of onder 'n lorrie of 'n trein in gefoeter.
Maar Dries was nie een wat juis gedrink het nie. Hy't mos geweet, as jy jou eie baas wil wees dan moet jy jou oordentlik gedra. Die mense gaan mos nie toelaat dat 'n dronk hotnot aan hulle security fense staan en sweis nie.
Ek staan toe daar in die charge office en ek versit nie een voet nie en ek kyk hulle so vas aan tot hulle weer naderhand na my toe kom en die een is net so vir die ander: 'Vat maar 'n staat en 'n deskripsie. As ons die lyk kry dan weet ons waar dit hoort.'
Dit het my natuurlik seergemaak want Dries was my man. Maar vir hulle was hy maar net nog 'n hotnot wat verdwyn het en die wêreld was vol genoeg van hulle.
En nou is hulle weer hier. Dieners. En nou wil hulle van my 'n staat hê. Omdat 'n wit vrou suicide gepleeg het. Maar wat van Dries? Ek moes so staan en - mens kan amper sê protes - met 'n soort van stomme hardnekkigheid voor hulle daardie tyd eens 'n staat van my wou neem. Wel, so was dit mos.
En nou is hulle kamstig so gretig. Maar mens kon sien hulle's nie van die slimstes nie.
Wel, ek het oor Dries gerou, en sommer pynlik ook. En ek dink toe, ek gaan nie weer 'n lewe probeer maak nie. Ek het gedink, hier gaan ek maar sit tot die Liewe Vader my self huistoe neem. Hy wat my geskep het om so bitter te ly, soos Job, Hy kan my maar vat, lat ek my man weer sien, en my kind, in die Hiernamaals. So het ek gedink, maar aan suicide het ek nooit gedink nie. Nie soos Em nie.
Ek het daardie tyd so maer soos 'n skelet geword, en so vaal soos 'n spook. Die onderwyseres het my ook seker jammer gekry want sy't gesien dat ek nie eintlik heenkomste het nie, en sy was ook seker bekommerd oor haar rentgeld. Sy vertel toe vir my van die job in die boardinghuis by Mrs Marl-hulle en ek het geweet dat dit die hand van die Vader is en dat die lewe maar vir my moet aangaan, al was ek net 'n deel van 'n mens, een wat alles wat belangriks in die lewe is, verloor het.


Dis mos nou anderste. Hier sit daar glad 'n hotnot aan tafel met die witmense. Oumies sou beroelte gekry het. 'Swart gat op my stoel!' Ek kon haar amper hoor.
Ek bekyk hom, Mel, en ek kan dit net nie verstaan nie. Ek was te veel deel van die ou S.A. om die nuwe te kan kleinkry. Ek het my plek te goed geken. Die ou Suid-Afrika was in my bloed. Ons was mos gewoont dat ons altyd teen die wind moes staan en pis. Ek bedoel nou natuurlik die mans maar dit het vir ons vroumense ook so op 'n manier gegeld.
En dit het ook nie werklik so veel verander nie, die nuwe S.A. Eers was dit 'n wit baas, nou's dit 'n swarte, en ons arme bruinmense pis nog steeds teen die wind.
En dis net daarom dat ek die ding nie kan verstaan nie. Dat Dries sommer so verdwyn het, en dat Em haarself tot niet gemaak het. G'n rede wat enigiemand sou kon weet nie. Of verstaan nie.
Sy wat alles so goed gehad het. 'n Mooi huis, goeie opleiding, kos en klere en haar ma nog by haar. Wat het haar tog besiel? Die wittes het mos alles so wat wil hulle nou meer? Miskien moet hulle ook 'n tyd swaarkry om dit te waardeer. As ek Em se lewe gehad het sou ek die liewe Heer daagliks bedank...
En dan sou ek ook betyds by 'n behoorlike dokter uitgekom het en Pensie sou sy transplant lewer gekry het... En as Dries nou wit was sou hulle hom gesoek het en gekry het...
As daar rede vir suicide is, dan het ek dit. Em gaan nog skaam wees wanneer sy voor die Hemelse Troon staan. En hoe sal sy haar dan verontskuldig?


Toe ek nou niks van die plaas gehoor het nie, skryf ek maar weer. Wie weet, miskien het Dries wel nog een of die ander tyd daar opgedaag. Heel beleefd skryf ek toe:
'Liewe Oumies,' skryf ek. 'Wel om die brief mee te begin gaan dit goed. Met my hier in die Baai gaan dit goed. Die wind waai net. Ons het gister in die tuin gewerk, en die vuilgoed verwyder en my werkgewer, praat nog steeds van groente plant maar dit kom nooit so ver nie.
'Stuur tog groete aan almal daar wat my nog ken en ek is kliphard besig om 'n kombers te hekel, net soos Oumies my nog het. Ek mis almal wat soos my eie familie was, maar hier gaan dit darem goed. Ag Oumies, asseblief tog, laat my weet as Dries miskien daar opdaag. Ek is so gevrees oor waar hy kan wees, so angstig dat ek 'n hartaanval kan kry. Dit is nou iets wat ek vra. Asseblief tog. Ek hoop tog ou Pensie se graf is nie te veel moeite vir Oumies nie. Ek waardeer dit baie. Met beste wense van Meidjie.'
Wel, toe die brief ook net so terugkom het ek geweet: nuwe mense het sekerlik daar ingetrek. En as daar nuwe mense is sou hulle Dries nie ken nie en miskien het hulle hom weggejaag en miskien het hulle hom selfs geskiet. Deesdae duld mens mos nie vreemde bruinmense op jou werf nie. Toe dink ek so: as hy nog aan die lewe is sal hy seer seker weer eendag hierdie kant toe terugkeer. En as hy nie updaag nie...
Ek was besig om myself mal te redeneer. Pensie het ek darem nog begrawe, maar Dries...


So het my dae hulle maar verleng, in bitternis van gees, in 'n berou wat my amper opgevreet het, sodat ek aanhou wonder: hoekom Em en nie ek nie? Sy't tog maar een man verloor en hy's nie eens dood nie, en sy't ook niks vir hom omgegee nie.
Nou's sy heen, verlos en vry, en ek sit nog met die smart wat my so laat sug en ween. Miskien weer sonder heenkoms, want wie weet of Mrs Marl nog die boardinghuis sal ophou, nou dat sy alleen is. Nie dat Em haar hand ooit bygesit het nie.
Wel, soos my oorleë Ma gesê het, hoe meer dae hoe meer dinge. En wraggies, as ek ook pille in the hand kon kry, as ek nou geweet het watter soort pille, maar Mrs Marl het alles vir die dieners gegee, 'n hele pak vol leë boksies en dosies en silwer doppies.
En hoe sal ek nou maak? Lyk vir my die bruinmense word teen gediskrimineer tot in die graf in. Suicide is maklik as jy wit is, met dokter-vriende en apteker-vriende. Vir my is daar net 'n tou, of miskien die see inloop, of van 'n brug afspring. En dan weet jy ook nie of dit gaan werk nie. Miskien eindig 'n mens 'n kreupel soos Mel wat hom so wit hou, en waar is die heenkoms dan?
Ek het glad Em se kamer gefynkam maar daar was niks. Nie een enkele pil nie. Sy't wraggies die hele lot ingesluk.


Wat my nog slegter laat voel, was die feit dat dit ek was wat die lyk ontdek het. Ek self. Ek kom die kombuis in en daar sit sy, ingeprop tusssen die kas en die fridge met al die leë pildoppies om haar gestrooi. En voor ek begryp is ek net so: 'Liewe Hemel Em, is jy nou weer heeltemaal bedwelmd met al die drugs? Skaam jy nie vir you nie, om so voor 'n bruinmens te kere te gaan en jy's veronderstel om 'n wit lady te wees?'
Maar Em sê niks, nie 'n dooie woord nie en naderhand toe ek nou die koffie gemaak het, voel ek aan my dat hier's iets snaaks aan die gang. 'Em,' sê ek toe. 'Mies Em!' Maar haar oë het so reg vooruit gestaar en ek sien hulle is stokstyf in haar kop en hulle flikker nie eens nie. Die ooglitte is ook net so stokstyf en ek besef toe dat daardie oë niks meer kon sien nie. Daardie oë is mors dood.
Toe word ek behoorlik benoud, my hande beginne sweet en my asem steek hier bo in my keel vas, en ek beginne sommer huil. Ag Liewe Hemel, ag Liewe Hemel, en ek giet die koffie alles uit en ek tap koue water in die ketel sodat hulle nie sou weet dat ek in die kombuis was nie, en ek is uit, sommer by die agter-trappies af en om die huis en ek skuil so by die muurtjie langsaan en ek probeer dink wat ek gaan sê want ek wil niks met die affêre te doen hê nie. Hulle sê mos die een wat op 'n lyk afkom, is die eerste verdagte, en wie weet, miskien was die pil-doppies deur iemand geplant sodat dit net lyk asof sy alles gedrink het. Em kon vermoor gewees het.
Dit was 'n slegte besigheid, make no mistake. Ek het gewag en gewag en toe ek nou weer ingaan, was alles in rep en roer en niemand het eers gevra hoekom ek so laat is nie, en waar's die koffie? Hulle het nie eens aan koffie gedink nie, hulle was almal so skoon uit die veld geslaan, nes ek ook.
Tot Vik, wie vir niemand omgegee het nie, het daar gestaan met sy winkbroue so opgeplooi asof daar iets was wat hy nie kon onthou nie.
En so het dit ons almal opgeval.
Later, toe dit nou alles verby was met die dieners en state en lykskouing en alles, het Mrs Marl gesê ek moet savouries maak vir die begrafnis en ek staan toe met die pakkies cream creckers en ek smeer margarine, sny die kaas en die tamaties en die Weense worsies en pak dit op die creckers en ek ryg die kaas en die cocktail uitjies op die toothpicks, nes Oumies dit vir my op die plaas geleer het, toe sy my in haar eie kombuis sulke southappies en creckers en goed laat voorberei vir ek en Dries se troue.
So was dit vir my 'n dubbele hartseer storie om die savouries weer te maak, en hierdie keer vir 'n begrafnis. Ek het amper gevoel, dis nie net Em se begrafnis nie, maar so op 'n manier Dries s'n ook want ek het nie meer hoop gehad nie. Dis asof Em se sterfte die hele besigheid van doodgaan na vore gebring het, en ons troudag het op daardie manier ook deel geword van die dood.


Net een ding: ek hoop tog dat Mrs Marl nie vir my van Em se klere en goed gaan gee nie. Hulle sê mos dat mense wat suicide gepleeg het, altyd dwaal. Hulle kry nooit rus vir hulle siele nie. En as sy eendag opdaag wil ek tog nie hê dat sy my in haar klere moet sien nie...

Ook in Onse angeltjie:

Onderhoud met Yvonne Burgess

Resensie van A Larger Silence deur Yvonne Burgess (2000)

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




















Copyright:  © 2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/burgess2.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 1 Julie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]