Philip John
Met A Larger Silence gee Yvonne Burgess duidelik blyke dat haar prosastem een van die mees begaafde - en duidelik-klinkende - op die Suid-Afrikaanse prosa-toneel is.
Die roman handel oor die laaste paar dae wat die hoofkarakter, "Colonel" Rudyard Kipling Knoesen, in 'n Rooms Katolieke ouetehuis deurbring, heel waarskynlik in Port Elizabeth. Dié ouetehuis fungeer as laaste oorstaanplek vir die ou man wat 'n onbepaalde tyd deel was van die "brotherhood of the road",
'n tyd wat hy in parke in die stad deurgebring het saam met ander uitgeworpenes. Dié tyd het geëindig toe hy, op sterwens toe onkapabel en ylend, na die tehuis gebring en gehospitaliseer is. Wanneer hy genoegsaam herstel het - sy kleur verander het vanaf "parchment to pink" - begin hy sy lewe in herinnering roep, veral sy verhoudings met twee vrouens, asook 'n katastrofale verhouding met die tienderjarige dogter van een van die vrouens.
Dié gegewe - die laaste dae en sterfte van 'n bejaarde - is sekerlik nie onbekend aan Afrikaanse lesers nie, na Karel Schoeman se Hierdie lewe, Berta Smit se Juffrou Sophia vlug vorentoe en Alba Bouwer se Die afdraand van die dag is kil, en selfs André P. Brink se Sandkastele, om net 'n paar te noem. A Larger Silence bring egter naas die elegiese en die besinnende iets by wat relatief skaars is in Afrikaanse prosa oor die dood, naamlik humor, wat vir my die roman nader bring aan Eben Venter se onoortreflike Ek stamel ek sterwe, oor die dood van 'n jong AIDS-lyer. Die humor in A Larger Silence grens egter soms aan die sardoniese en grimmige, en slaan selfs oor na wat mens die gotiese sou kon noem.
A Larger Silence is in hierdie opsig duidelik deel van die Burgess-oeuvre waarin - vir my altans - 'n uiters intense bewussyn van pyn, lyding en beperktheid 'n soort grondtoon vorm waarop flitse deernis dan op onverwagse wyse geborduur word. Die aksie in Burgess se romans vind amper sonder uitsondering plaas in ingeperkte ruimtes - woonstelle en klein kamertjies soos dié van Maggie in The Strike; dié van die drie geslagte vrouens in Say a Little Mantra For Me; die sitkamer van die rehabilitasiesentrum in Anna and the Colonel; en die ouetehuis in A Larger Silence. In hierdie ruimtes val die fokus soms onhoudbaar skerp op "geworpes": mense wat met hul "ongemaklike" menslikheid nie in die geagte skemas van ons tyd pas nie. In die geval van A Larger Silence is dit "Colonel" Rudyard Kipling Knoesen wat voor ons oë geplaas word: "...one-time inmate of a State Work Colony, one-time awaiting trial prisoner, later certified a depressive psychopath and twice detained in a State Mental Hospital at the President's pleasure".
In sy laaste oorstaanplek konfronteer dié Kolonel - en saam met hom (heelwaarskynlik as onwillige, maar morbied gefassineerde metgesel), die leser - die feit dat sy lewe eintlik op 'n mislukking neerkom, ten spyte van al die groot planne en idees wat hy gekoester het. Die lewe van die individu wat uiteindelik nie veel noukeurige betragting gedoog nie. Hy het homself 'n skrywer gewaan en selfs 'n roman aanmekaar gekry, "a distillation of nearly half a lifetime of observation", sy "considered commentary and conclusions" oor die menslike bestaan. Die een uitgewer aan wie hy dit gestuur het, het dit egter bestempel as onverstaanbaar en ten beste "misterieus". Die stropende manier waarop Burgess die waan ontmasker wat met idees oor kreatiwiteit gepaardgaan (iets wat by almal van ons leef in ons drome oor 'n "kreatiewe bydrae"), herinner baie sterk aan die werkswyse van Kazuo Ishiguro in wie se romans die leser ook saamgesleep word in 'n proses waartydens die "onskuldige" selfverloëning van karakters meedoënloos ontbloot word. Dat die verhoudings van die Kolonel met die twee vrouens met wie sy pad gekruis het nou ook nie juis "star quality" is nie, dra by tot die beeld van 'n ploeterende mensheid wat die roman bring.
Wat die "mislukking" van die Kolonel egter die duidelikste na vore bring - en wat tegelykertyd ook sy "menslikheid" die skerpste definieer - is sy konfrontasie met Lillith, sy eie Lolita, die tienderjarige dogter van een van die vrouens met wie hy 'n opportunistiese verhouding het. As die konfrontasie met dié inkarnasie van Lolita op iets meer definitiefs uitgeloop het, sou dit selfs beter gewees het - ten minste sou die Kolonel hom in die sfeer van die desperate passie van Nabokov se Humbert Humbert bevind het. Vir die Kolonel self is dit egter nie heeltemal duidelik wat hy nou eintlik in die oog gehad het met sy aarselende gebare teenoor die enfant terrible nie, of wat hy nou eintlik presies gedoen het nie. Wat wel duidelik is, is dat hy 'n opgeskorte vonnis gekry het en die trauma hom psigies finaal vermorsel het.
Met hierdie herskrywing van Nabokov betoon Burgess tegelykertyd bewondering teenoor 'n geesgenoot en lewer sy op fassinerende wyse kommentaar. Dít is dan ook nog 'n faset van A Larger Silence wat vir 'n fassinerende leeservaring sorg, naamlik die manier waarop dit by die literêre tradisie inskakel. Die manier waarop die Kolonel oor sy eie skeppende pogings dink, wat onder meer in notaboeke opgegaar lê - sorg vir 'n boeiende metafiksionele laag in die roman. Dit is egter nie die kras metafiksionaliteit van die "postmodernisme" nie, maar iets veel meer gematig en genuanseer.
Waar die eintlike waarde van Burgess se romans egter lê - en dis iets waarvan A Larger Silence uitstekend spreek - is in die manier waarop die skrikwekkende en ontstellende van die menslike bestaan gekoppel word - mens sou amper wil sê, op 'n pervers eerlike manier - met 'n ekpansiewe, onvoorwaardelike deernis. Maak nie saak hoe erg die reuke is wat die Kolonel aan die einde van sy pad omring nie, hoe nietig en eintlik potsierlik die pad is wat hy geloop het nie, hoe inkoherent die mense om hom nie, in A Larger Silence word die leser bewus van 'n ontvanklikheid vir die Kolonel - en vir al hierdie "mensies" met al hulle eienaardighede en grillerige afsigtigtelikhede, soos die geval met die karakters in Burgess se ander romans (waarvan die keelgewas van die hoofkarakter van Burgess se eerste roman, A Life to Live sekerlik die duidelikste konkretisering is). Hierdie ekpansiewe aanvaarding van die "ongemaklike" en die veragte anker Burgess se werk stewig in die humanistiese tradisie. Juis hoe stewig hierdie ankering is, blyk wanneer die roman byvoorbeeld vergelyk word met iets soos J.M. Coetzee se Age of Iron, waarin die "menslike" nog oorstem word deur 'n formalistiese metafisiese laag. Burgess laat doodgewoon nie toe dat ons aandag van die krisis van die bestaan afgelei word deur die verleiding wat metafisiese sekerheid kan bied nie, maak nie saak hoe "op datum" dié metafisika nou ookal is nie.
In 'n tyd waar sekere aspekte van die liggaamlike en die menslike - soos oudword en doodgaan - toenemend aan "sterilisering" onderhewig is omdat dit die gladde funksionering in ons samelewings "steur", bring Yvonne Burgess se A Larger Silence 'n heilsame korrektief deurdat dit nie daarvan wegskram om die afskrikwekkende van oudword en doodgaan onsentimenteel grafies uit te beeld nie - maar dan sonder verlies van deernis en menslikheid. Ook bied die roman 'n heilsame leeservaring deurdat dit ons daaraan herinner dat ten spyte van al ons pogings tot sterilisering en onskadelikstelling van die grusame, die dood steeds 'n gebeurtenis bly wat nie sonder besinning oor die geestelike sy van die bestaan benader - of genader - kan word nie.
A Larger Silence (2000)
word uitgegee
deur Penguin
ISBN: 0 140 29564 X
207 bladsye
|