ONSE ANGELTJIE - Die stem van
AMOK

Mirabile dictu!!

Inderdaad! Die dae het gekom en gegaan, die son het verskyn en verdwyn, en hier is die tweede uitgawe van ONSE ANGELTJIE . Hopelik is daar effens meer skop in hierdie uitgawe, meer steek in die stert. Ons het seer waardeerde ondersteuning van uitgewers (en medewerkers) gekry en kan derhalwe meer resensies plaas as in die eerste uitgawe. Dié tweede uitgawe begin ook duideliker stel (opstel?) aan een van die vrae waarmee alle Afrikaanssprekendes gekonfronteer (moet) word, wat miskien soos volg geformuleer kan word: Hoeveel kan Afrikaans binne haarself akkommodeer; hoeveel kan sy haarself toelaat om te duld, om haarself aan bloot te stel? Oh, my sweet ravisher, trembling deliciously I await thee.... 'n Vraag wat elke leser natuurlik vir haarself/homself moet uitmaak - solank jy dit geniet. ('n Bybedoeling met OA se bydrae tot die Afrikaanse kultuurproblematiek is om naas die bekende 'Afrikaanses' nog 'n term aan die publiek bekend te stel, naamlik 'onses', d.w.s almal wat dié tydskrif lees.) Maar as 'vrae' nou rêrig nie is waarna jy soek nie: as jy nie soek nie, sal jy die vraag nie vind nie. Wel 'n tweede (makliker) kompetisie, kortverhale. gedigte, en ander lekker dinge. Geniet. (En bly gekonnekteer).

Alle reaksies aan DIE GROOT KNYPER.


INHOUDSOPGAWE

1. Die Punt van die Angel Bollie

Verslag: Die onderrig van Afrikaans in afgeleë gebiede van die Oos-Kaap
.............................................................deur Attie Coetser

2. Digters en skurke

'n Onderhoud met Johan Myburg
.................................................... ......................deur Philip John

3. Waar is die "alternatiewe Afrikaners" 'n dekade na Boereblues en Voëlvry?

Gedagtes oor Koos Kombuis in die Baai
.............................................................. ...deur Mariana Kriel

4. Streek en teks in die Oos-Kaap

Aflewering twee van 'n oorsig oor Oos-Kaapse literatuur
- Thomas Pringle en die boesmans
..............................................................deur Helize van Vuuren

5. Die Xhosa mondelinge digter as sosiale en politieke kommentator

Poësie in 'n Afrika-toonaard
..............................................................deur Russell Kaschula

6. Kamanassie-vaderland kry vorm in roman

Annelie Botes en haar Kamanassie-roman, Klawervier
...........................................................deur Louise Liebenberg

7. Afrikaans en Nihon-go

'n Kort onderhoud met prof. Takashi Sakurai, opsteller van 'n Japannees-Afrikaanse woordeboek
.............................................................. .......deur Philip John

8. Resensies:

8.1 Die storie van Monica Peters - E.K.M. Dido (1996)
.............................................................. ..deur Christelle Feyt

8.2 Disa disa - Peet Venter (1996)
.............................................................. ..deur Francika Vorster

8.3 Tussentydse verslag - Clinton V. du Plessis (1996)
.............................................................. ..deur Philip John

8.4 Die binnebouddans en ander spulshede - Nic Tredoux (1996)
................................................deur P.C. van der Westhuizen

8.5 Kort van draad - Clinton V. du Plessis (1996)
..................................................deur Nina van Charlie's Escorts

8.6 Die koëel is deur die kerk - Peet Venter (1997)
............................................................................deur Jo Nel

8.7 Taxi. Staanplek-stories - byeengebring deur G.A. Jooste (1996)
.................................................................deur G.G. Naicker

Lus vir enige van hierdie boeke?
Kliek hier vir meer besonderhede

9. Kreatief

9.1 Gedigte: Johan Myburg

9.2 Gedigte: Trudie Wegner
Skroef
9.3 'n Ontmoeting met die Hertogin van Kruisrivier

9.4 "Groen appel" deur Anlen Marais

9.5 "Takeaway" deur Clinton V. du Plessis

9.6 "Newspeak" deur Clinton V. du Plessis

9.7 Die Hertogin se kleinboet

10. KOMPETISIE

Pryse! Wen 'n naweek saam met Oprah!

11. Oos-Kaapse Cuisine

Die ontwykende blou forel

12. Aankondigings

Aankondigings, bedankings, apologieë, skinder, en so aan.

Inskrywings: (maak gou - dis nog verniet)
Nuus
Bedankings

Vir dié sonder raamlesers:

13. DEEL 2: Resensies

14. DEEL3a: Artikels

15. DEEL 3b: Artikel

16. Terug na die HOOFBLADSY


pyl



Japannese teks

Afrikaans vir die Ooste

Ek voel skuldig en selfs effens ergerlik waar ek teenoor Professor Takashi Sakurai in die San Francisco Koffiekroeg in Somerstrand sit. Ons sit met koffie en koek voor ons na die afhandeling van 'n gebruiklike Japannese hoflikheidsritueel oor die melkkommetjie (of so stel ek my dit voor): neem vir jou - nee, jy eerste - nee, kry vir jou - nee, asseblief, kry jy.... Takashi het my pas met 'n verwarde uitdrukking op sy gesig gevra waarom die kelnerin Engels praat - sy verstaan tog baie duidelik Afrikaans. Sy verstaan ook Takashi se Japannees-gekleurde Afrikaanse uitspraak heel goed.

Prof. Takashi Sakurai
Prof. Takashi Sakurai en die redakteur
van Onse angeltjie op 'n Port
Elizabethse strand

Al wat ek kan dink om te sê, is dat sy dalk meer waarde of status aan Engels as Afrikaans heg, wat hom skynbaar verder ontsenu. Hy vra of 'n Japannees wat Afrikaans praat, dan as 'laer-klas' gesien sal word. Ek lag die moontlikheid maar liewer weg. As meer Afrikaanse mense maar Afrikaans kan wees soos hierdie Japannees... Ek onthou ook die ete in die Hogsback na 'n AMOK-byeenkoms waar hy verbaas na die spyskaart gekyk het en gevra het waarom dit nie in Afrikaans was nie.

In 'n artikel in Afrikaans vandag vergelyk Prof. Sakurai Afrikaans en Japannees met mekaar:

Dat party Afrikaansprekendes die trots op hulle eie taal en kultuur verloor, verbaas my. Hierdie toestand herinnner my aan Japan net na die Tweede Wêreldoorlog. Ná ons die stryd gewonne gegee het, het ons al ons trots verloor. Daarteenoor het Engels as taal geskitter, gesteun deur die mag van
Ja wat, kom ma' aan.
Ek het jeerlik gelees
en so by die lees weet
ek weer Afrikaans
is 'n vismot. Hy kan
kruip hy kan vlieg hy
kruip weg maar hy
teel aan en jy sal vir
hom nie uitgeroei kry
nie.
(engemi@iafrica.com)
die Amerikaanse besettingslëers. In dié omstandighede het die skrywer Naoya Shiga, wat as die "God van die novelle" in Japan bekend staan, voorgestel dat ons Engels as amptelike taal moet kies.

Selfs dié groot skrywer wou sy eie taal weggooi.

Japanners het 'n swak naam gekry weens hulle brutale dade gedurende die oorlog. Die Chinese het ons Tonyang-ki (Duiwels in die Ooste) genoem. Japannees was die taal van die duiwels, wat deur die militêre regering afgedwing is. Met die oorgawe van Japan is Japannees sterk gestigmatiseer.

Die ouer geslag (veral Koreaners) wat nog die wreedaardigheid van destyds onthou, wil selfs vandag nog geen Japannees gebruik nie, hoewel hulle dit vlot kan praat.

[Bostaande aanhaling kom uit 'n artikel, "Besef die waarde van Afrikaans," gepubliseer in Afrikaans vandag 4 (4). Lees dit op die Webbladsy van Die Stigting vir Afrikaans: http://www.afrikaans.com of
kry 'n kopie in AMOK se argief: http://www.utr.ac.za/arts/afrik/amok/spens.htm]

Vroeër in sy kantoor het ek hom gevra oor sy belangstelling in Afrikaans en het hy soos volg uitgewei:

Dit het begin toe ek in Duitsland in Bonn in die Algemene Taalwetenskap studeer het. Ek dink ek was so vyf-en-twintig jaar oud. Daar het ek toe gehoor daar is 'n Germaanse taal, bo en behalwe Engels in Afrika. Die naam was ook interessant vir my - Afrikaans. Dit het my gefassineer. Ek is terug Japan toe, en verder opgelees. My studies het gewys dat Afrikaans 'n dialek van Nederlands was - ek weet nie mooi van die teorie oor kreolisering nie. Toe het ek Nederlands begin bestudeer en is later vir 'n jaar Leiden toe. Ek het gehoop om hier meer van Afrikaans uit te vind. Dit was die tyd van apartheid en ek het gedink ons Japannese mag nie hier in Suid-Afrika studeer nie. Eendag het ek besluit, nee, ek gaan na die Suid-Afrikaanse ambassade toe en hulle was gelukkig baie vriendelik, in Tokyo. Hulle het gesê ek mág in Suid-Afrika studeer. Ek het aan 'n paar universiteite geskryf....Stellenbosch, UPE, RAU, vier of vyf. Die vriendelikste antwoord
het ek van RAU gekry. So 1977/78 het ek daar gestudeer, en toe weer terug Japan toe. Ek wou weer terugkom Suid-Afrika toe, maar die akademiese boikot het dit baie moeilik gemaak.

In Japan moes hy hom toe weer toespits op sy oorspronklike werk - die onderrigmetodologie van Japannees - want daar was geen kans om 'n kursus in Afrikaans in Japan te ontwikkel nie. Gedurende hierdie tyd het hy 'n Kanji-woordeboek saamgestel, waaruit die idee vir 'n Japannees-Afrikaanse woordeboek gekom het. Nou is hy opgewonde oor die moontlikheid dat Japannees aan die Universiteit van Port Elizabeth onderrig kan word.


Japannees (Nihon-go) maak gebruik van drie skrifstelsels. Die basiese is die Kanji wat bestaan uit Chinese ideogrammatiese karakters, waarvan daar vyftig duisend is en sewe duisend algemeen gebruik word. Hira-gana is 'n fonetiese skryfstelsel en Kata-kana is karakters wat gebruik word om woorde en klanke uit vreemde tale voor te stel. 'n Japannees en 'n Chinees kan mekaar nie verstaan wanneer hulle met mekaar praat nie, maar wanneer hulle skryf, kan hulle wel - die karakters het dieselfde betekenis maar verskillende uitsprake.
Bladsy uit Afrikaans-Japannese woordeboek
'n Gedeelte van Prof. Sakurai se Afrikaans-Japannese woordeboek

deur Philip John
Universitei van Transkei
Umtata


Vrugte van die boom van stilte

Iemand moet met welgevalle op ons neerkyk want Onse angeltjie is geseën met 'n hele klomp stewige bydraes uit die kreatiewe kader.

Ons voel veral goed oor die gedigte wat ons afgerokkel het van Johan Myburg, die geëerde Oos-Kaapse wenner van die Eugene Marais-prys.

Trudie Wegner is ook 'n bekende in Oos-Kaapse kringe en het die afgelope tyd die aandag getrek met voorlesings van haar poësie. Sy het ons toestemming gegee om 'n paar gedigte uit haar bundel, 50 verse. 'n Jubelbundel, te plaas.

Van Anlen Marais uit Despatch het ons 'n verhaal gekry (een van baie wat wag in haar laai). Anlen is ook 'n ou bekende in die Oos-Kaap. Sy het voorverlede jaar (1995) die eerste prys gewen vir die Afrika- en Nabye Ooste-streek in 'n kompetisie van die BBC se World Wide Service met 'n radiodrama, getitel Dear Mister Mandela. Dié drama is verwerk en laasjaar by die Klein Karoo Kunstefees opgevoer as Horieso Madiba.

Uit Cradock kom die hardgebakte prosa-stem van Clinton V. du Plessis, nadat hy lank net poësie gepubliseer het.

Aangesien daar navrae was oor die Hertogin van Kruisrivier, het haar persoonlike assistent, wat anoniem wil bly, ons twee bydraes oor hierdie legendariese Oos-Kaapse figuur gestuur.

Geniet.


Gedigte deur Johan Myburg

Camera obscura

Deur dun kabel, dunner draad -
uit die bloute - kry ek seine
van buite: per internet,
per faks, deur telefoonlyne.

'n Gaatjie teenaan die plafon
bied as perfekte poort
toegang tot informasie
via minuskule bondels koord.

Alles word gedekodeer tot
virtuele waarheid: woorde
wat meesterlik motiewe veins
vir menige moorde;

terugkrabbelry op gegewens,
byhaal van edel ideale
in die stryd om wet en orde;
regverdiging vir spesiale

kwytskelding; berigte
oor wapengeweld deur brutale
boewe. Voor my oë ontvou
beeld op beeld banale

brokke nuus. Ek skuif swaar
meubels voor deure en weer
harde lig deur ruite. Met fluweel
en gedempte gordyne veer

ek my kokon. Op papier
maak ek noukeurig in volsinne
notisies: wat buite gebeur
vind omgekeerd neerslag binne.


World of interiors

Dag in, dag uit stuit ek op die plat
proporsies van die vertrek. Vier mure,
lae plafon, bonkige deur, venster,
tam tapyt wat weier om van die vloer

af op te staan. Ek bly bewus van stoele
wat dieper die dag in meer verlep,
wanhopig gryp na die ondersteuning
van 'n koffietafel. In my gehuurde

kamer sit ek kreperend; droom
van orenter meublement wat eleganter
staan: sterker style en stiller lyne;
gebosseerde matte met syblink

diere en plante uit eksotiese oorde.
Skilderye en gedrapeerde gordyne
oor skraal vensterrame. Ek droom
van interieurs met deftige allure.

Ek voel hoe word ek boerser as die bure.


Visitasie

Laer af in die straat luier 'n motor
met onsigbare insittendes: gerookte ruite
weerkaats jakarandas soos pers juwele.
Telefoonlyne klik, boodskappe spring van paal

tot paal. Oorkant die straat skuil mans met wit
jasse agter kantgordyne. Manne in blou
met spesiale sagtesoolskoene is oorgehaal
vir ondersoeke, om inligting te bekom.

Hulle oë dien as mikrokameras, hulle ore
is geoefende bandopnemers wat gesprekke
later ontrafel. Op my drumpel is 'n konstante
geskuifel; die kopervuis aan die deur vibreer

by voorbaat. Ek hoor honde hyg.
Tussen my en die straat is 'n plankdun deur.

* * *

Johan Myburg het twee digbundels gepubliseer:

Vlugskrif (1984) uitgegee deur Perskor, en
Kontrafak (1994) uitgegee deur Human & Rousseau


Gedigte deur Trudie Wegner

suideinde 1976

stiefkind
verstoteling
jy wat eers die stad se hart was
sleep nou jou tenger liggaam
in komiteekamers en raadsale rond

trek uit jou hemp
jy ruik na riool
en die uitgediende skoorstene
van jou broekspype hang flardes
flenters stil

ek sien jou lag met oumenstande
tog verkoop iemand hier nog vis en chips

'n moskee staan eenkant tydloos trots
gaan in kind en bid

ek hoor jou lag: dor stem en koud

jou ou gesig word gesloop
om beloftes later 'n nuwe voorkop te doop


gelvandale

juffrou ek tussen winter
kil eksamenbanke

konsentreer
geskifte wit hempskrae
bruin arms hoendervleis
bakhand vir my moedertaal


bruidegom

en toe kom daar
vir my 'n ridder op 'n moped

en sy blouselblou jersey
parkeer op my hart se halte

en sy oë soek oeroue
natuurkragte en smelt my koue

en hy lei my in versoeking
met wynwoorde wat warmte bring

en ek vra op 'n skelrooi servet
dat hy hom aan my bind met die wet

* * *

Bostaande gedigte kom uit Trudie se bundel,
50 Verse. 'n Jubelbundel (1996) uitgegee deur haarself.


Die Hertogin van Kruisrivier

'N EERSTE ONTMOETING

Dat daar nog lewe in die heelal is, blyk duidelik uit die belangstelling wat die bestaan van die Hertogin van Kruisrivier by 'n paar lesers gewek het. Omdat ons weet hoe 'n groot hart die Hertogin het, het ons nie gehuiwer om haar te nader met die versoek dat sy nouer betrokke raak by die tydskrif nie. En ons was reg - die gedagte aan gretige, polsende psiges in die groot onbekende Die Weite het haar onmiddellik opgewonde gemaak. (Die navrae oor haar huwelikstatus het die meeste gedoen om haar gemoed op te lug).

Eers moes 'n effense probleem egter uit die weg geruim word - getrou aan haar papierpulpsentrisme GRIL die Hertogin by die blote gedagte aan rekenaars, lêers, digitale data, hardeskywe, sagteskywe, UUCP, UU-enkodering, ISDN, en al daardie omineuse geprewel wat mens in die teenwoordigheid van masjinosentriese mense hoor. Wanneer iemand per ongeluk enige van hierdie tegniese terme in haar aanwesigheid noem, trek die Hertogin haar gewoonlik vir 'n paar dae in 'n verdonkerde kamer in haar herehuis terug, om haar emosionele ewewig te herwin. Sy wou nie te veel oor hierdie 'probleem' praat nie, behalwe om te sê dat die gedagte aan masjiene, tegnologiese apparate en so aan haar hare laat rys, soos sy verbeel "mens in die teenwoordigheid van die Bose moet voel."

Dié sy van die onderhandelinge moes ons dus baie versigtig hanteer. Rekenaarterminologie kon nie genoem word nie, en ons was genoodsaak om ondergronds te gaan en 'n uitgebreide waagstuk aan te gaan, dit wil sê, ons moes van die normale kommunikasiekanale - die posstelsel - gebruik maak. Naas haar pulpfetisj is die Hertogin ook baie geheg aan haar formidabele versameling Mont Blanc penne - sy kwyl altyd wanneer sy by juweliervertoonvensters verbyloop en sy 'n paar penne uitgestal sien. Samewerking met ons gee haar nou ruim kans om lang tye met haar geliefde penne tussen haar vingers deur te bring.

Ten behoewe van dié wat nog nie met haar kennis gemaak het nie, het die Hertogin ons die een en ander omtrent haarself meegedeel (wat ons natuurlik hoop in die loop van die volgende paar uitgawes aangevul sal word):

"Ek sal nie sê ek is 'n verwarde vrou nie, maar ek moet sê ek voel redelik verskeurd diep binne-in my. Daar is soveel dinge wat my na verskillende kante toe trek. Aan die een kant voel ek so 'n deernis met Afrikaanse mense, maar dan weer... En die poësie wat geskryf - en gepubliseer word.... Maar laat ek nou nie lelik wees nie. Eintlik voel ek, ek het nog nooit werklik gelééf nie. Baie van die dinge wat ek in die verlede gedoen het, voel nou vir my of ek dit gedroom het, of ek in 'n droomwêreld was, of ek in 'n dwaal was, so half aan die slaap. En tog leef mens, tog doen 'n mens dinge. Dis asof alles geoutomatiseer is. Nou is dit anders. Ek vóél dinge, ek wéét ek is betrokke by dinge en wat ek doen, is belangrik. Om half aan die slaap te leef is so gemaklik. Mens gaan winkel toe, lees boeke, luister musiek, mens kuier by mense..... Maar dis eintlik net 'n bietjie té maklik. Mens het skokke en irritasies nodig om mens te herinner dat daar ander mense om mens is. Al die dinge wat mens as gegewes aanvaar het, is nie meer so voor-die-hand-liggend nie.

"Ek was 'n lojale ondersteuner van ons groot party, ek sal nou nie heeltemal sê, 'n vurige een nie, maar ek het gevoel mense kry swaar en moet op die een of ander manier 'gehelp' word. Ek was betrokke by 'n hele klomp fondsinsamelings-inisiatiewe en het selfs op 'n stadium gehelp met die sirkulasie van 'n petisie. Nou is ek nie meer so seker nie. Party dae dink ek, ék is eintlik die een wat hulp nodig het. Al meer dinge wat my raak, wat vir my belangrik is, word geraak deur dinge wat in die land gebeur. Maar dan weer, eintlik is dit verby politiek - ek wil tog nie verval in politieke praatjies nie. Tog is daar sekere, noem dit maar 'beginsels,' wat vir my belangrik is. Ek begin al meer uitvind wat hierdie dinge is - veral wanneer die moontlikheid opflikker dat hierdie dinge nie meer gaan wees nie. En wat in die plek daarvan gaan kom, dit is glad nie vir my duidelik nie. En of ek met hierdie nuwe dinge sal kan identifiseer, dis nog moeiliker vir my om uit te werk...

"Een ding waaroor ek egter baie seker is, is dat die lewe wat ek gehad het, die enigste is wat ek sou wou gehad het. Ten spyte van 'n paar laagtepunte het ek werklik interessante en verskriklik opwindende dinge beleef. Daar was baie gebeurtenisse en mense wat my ontstel en diep seergemaak het. Maar ook die pynlike en ongemaklike is belangrik, en ek sal die herinnerings nie wil prysgee nie.

"Miskien sal mense sê, ja, maar ek was bevoordeeld, dat ek eintlik 'n ongewone of uitsonderlike lewe gelei het. Ek is seker daar is baie wat my sal veroordeel, wat sal sê dat van die dinge wat ek gedoen het, waarby ek betrokke was, betaam 'n vrou nie. Maar ek weet nie so mooi nie - ek dink die ou gesegde, "Beproef alles en behou die goeie," bly geldig. Mense is baie maklik geneig om hierdie woorde te wil kwalifiseer. Ek sê altyd, moenie te gou oordeel nie.

Die één ding waarop ek nog altyd kon terugval, is kuns. Daarom lees ek die volgende gedig vir julle. Dit vat my gevoel omtrent die huidige stand van sake baie mooi saam:

new-speak

afrikaner nasionalisme
black economic empowerment
werkreservering
affirmative action
vir volk & vaderland
nation building
driekamerparlement
government of national unity
boipatong-slagting
shell house massacre
ontugwet
termination of pregnancy bill
witskrif/green paper
derde mag/druglords
nie-blankes
previously disadvantaged communities
wynand malan/bantubonke harington holomisa
anneline kriel-kerzner-bacon
nonhlanhla peggy-sue erasmus khumalo
desentralisasiebeleid/reconstruction and development
kommissie van ondersoek
special task team
mej glenda kemp
me lilian arrison
sanksies benadeel die ekonomie
smoking can kill you
hoer/sex worker
kommunis/racist
scope/african black sexations
kakpraat/consult
skoonadministrasie/transparency
broederbond/transformation forum
moreel-krities/hidden, secret agenda
verdedigingsobligasies/zama-zama
eugene de kock/prime evil
afsonderlike ontwikkeling
simunye, we are one
amandla
shosholoza

Lekker, né?

Dié, vir my baie mooi gediggie, kom uit Clinton V. du Plessis se nuutste bundel Tussentydse verslag (1996).
(En wie't gesê daar is nie lewe in die Oos-Kaap nie?)

Lees die resensie oor die bundel hierbo.

HJ


Groen appel

Dis die oggend - seker so elfuur se kant - toe die vrou met haar motor onder ons wildevy stop en ek haar deur die studeerkamer se oop venster hoor vra : " Is dit die Dokter se huis ? "

" Ja , " kom dit van Fillip wat die rooi bakkie staan en was . " Dis sy huis . "

" Is die Dokter hier ? "

" Nee , Dogtir's al lankal spreekkamer toe ; hy's in die anner kar hier weg ."

" Ek sal ongelukkig nie nou soontoe kan ry nie , Mevrou , " sê die vrou - van so om en by die dertig - toe ek uitkom .
" Want sien , my kar se ligte brand nie . Kan ek maar inkom ? "

Ek frons , want dis 'n lieflike helder sonskyndag buite . Dis laat-Februarie en onderaan iedere boom in ons tuin begin Herfs se onderrok gelerig uithang . Buiten aan die immergroen groot wildevy by ons oprit waarin die vinke raserig die klein vruggies sit en vreet . Ons stap nietemin sitkamer toe .

" Mevrou , ek het so sooibrand . Het jy nie miskien iets vir my nie ? "

" Het jy al 'n appel probeer ? "

" 'n Appel ? "

Ek gaan haal 'n groen Granny Smith-appel . Sy skil dit in stilte . " Ek hoop nie ek pla nie , " sê sy nadat sy 'n paar stukkies geëet het .

Wat kan ek sê ? Antwoord toe maar : " Nee wat , glad nie . "

" Jy sien , Mevrou , dis net partykeers dat dit my oorval , soos nou . En na 'n rukkie gaan dit weer weg . "

Huiwerig vra ek : " Maar wat is dit ? "

Sy kyk my ondersoekend aan , voor sy vervat : " Sien , my ma en pa het vreeslik baklei toe ons klein was . Hy't my ma geslaan en allerhande goeters . En ons was baie kinders en die huisie was klein . En as dit so woes gaan dat ons kinders net borde hoor breek , sien , dan sleep ek my matrassie tot voor my ouma se bed en dan lê ek maar sawens so met haar en praat tot dit weer stil word . "

" Pla die sonlig nie ? "

" Ag nee wat , Mevrou . "

Ek staan nietemin op om die gordyn toe te skuif .

" Wil Mevrou nie ook die venster toemaak nie ? Ek kry baie koud . " Van naby sien ek sweet tussen die yl hare op haar voorkop blink .

" Dankie , " sê sy . " Maar toe gebeur dit een nag , sien . En toe ek die volgende oggend wakkerword en by my Ouma inkruip om nog vir n rukkie by haar te lê en lekker warm te word , toe voel ek sy's yskoud . Toe's sy dood , sien . Toe't ek die hele nag so by 'n dooie in die kamer geslaap . "

Die telefoon lui en ek hardloop gou om dit te beantwoord .

" Ek hoop nie ek pla nie , " vervolg sy toe ek weer kom sit . " Ek is die kassiere by Avbob , sien . En soms moet ek die die geld gaan bank . Vanoggend weer . Maar nes ek oor die straat stap - daar by Van Riebeeck-plein , dan oorval die vreeslike angs my . Ek word so bang vir die oopte van als ... die groot oopte . "

Sy vat met haar linkerhand agter haar nek . Draai haar kop heen en weer .

" Ja ? "

" Dit smaak my my keel wil toetrek . Ek kan nie asem kry nie . Dan moet ek maar omdraai en terughardloop Avbob toe , sien . "

Haar linkerhand kom van agter haar nek op die stoelreling neer . Sy vat die appel uit haar ander hand .

" Ek sien . "

" Maar dit help ook nie heeltemal nie . Dan sluit ek maar die deure toe en kan loop ek agtertoe in die winkel . Maar , " sy loer op na my , " jy sal nie verstaan nie . "

Sy kou aan die laaste skyfie appel . Kyk dan weer af na haar hande . " Daar agter 'n gordyntjie het ek vir my n pragtige kis staangemaak . Een van die duurstes , " spog sy . " Met sukke goue goeters om ; nie sommer dennehout se gemors nie . Dan loop lê ek in die padded kis en trek die deksel oor my kop , sien . "

Sy kyk op na my en sluk klaar . " Daaruit roer ek nie , al hoor ek iemand druk die klokkie by die voordeur , of al lui die telefoon . Tot ek weer my rustigheid terug het . Eers dan staan ek weer op en gaan sluit die deure oop . Maar soos vanoggend ...nou , nou raak dit by die dag al meer en meer dat ek oor die pleintjie moet stap ... Ek weet nie wat dit is dat die mense nou so aan die doodgaan en kiste koop is nie . Nou lê ek so baie in die kis , sien , lat my baas my wil afdank oor hy dink ek steek lyf weg . Ek ek weet nie wat van my gaan word as ek die werk moet verloor nie , Mevrou ; ek het net st.6 gemaak . "

" Nou wat doen jy dan daar binne in die kis ? " waag ek dit versigtig .

" Dis waar ek weer met my Ouma kan praat en weet sy help dat niks my sal bykom nie , sien . "

" O , " sê ek en bekyk die jong vrou met die hande wat so oor mekaar bly vat noudat die appel opgeëet is .

" Jy sien nou kom ek na jou man toe en hy gee my pille , maar dit help nie heeltemal nie . Nou weet ek ook nie meer mooi wat om nou te doen nie . "

" Het jy hom dit alles al vertel ? "

" Nee , ek is bang hy lag vir my . Dis net dat dit vanoggend baie erg was , Mevrou . Maar haai , weet jy , Mevrou , is jy ook 'n dokter ? "

" Nee , " lag ek . " Hoekom vra jy ? "

" Oor my sooibrand weg is van die groen appel . Rêrig . "

Die voordeurklokkie lui . Sy staan saam met my op . Sê op pad na die deur : " Wie sou nou kon dink die sooibrand kan weggaan sonder rennies of ander pille ? "

" Dis my skoonma wat so daarin glo , " antwoord ek en maak die deur oop ." Ja , Fillip ? "

" Kyk hoe lyk die vrou se kar nou , " staan Fillip daar en brom . " Dis nie my skuld dat die voëls in die wildevy meen die vrou se kar is hulle lewitrie nie ! Wat nou ? Moet ek hom was ? "

deur Anlen Marais.


Takeaway

Die ontvangsdame wou weet watter tipe meisie ek wou bestel.
Doesn't really matter to me, het ek geantwoord.
As long as she's got two tits and a fanny.
That's a fucking good one, sy't hardop gelag.
I'll send Norma over to you. She'll be there in approximately twenty minutes. It will be R1 250 for the night, all inclusive.

Norma Rodriquez was Portugees.

I take it your daddy's selling fish and chips from a corner store, het ek die ys probeer breek. Ek was alreeds op die bed sonder klere.
Norma het uit die badkamer gekom, die handdoek laat val, sy was groot, welgeskape
. Sy het op die bed kom lê, haar bene verleidelik oopgemaak en toe eers geantwoord.
No, my daddy is a baker and I'm selling cake.

Ek het later langs haar wakker geword. Sy't op haar sy gelê en 'n sigaret gerook.
Are you married? wou sy weet.
No, Why? het ek gevra.
You're a good lover, antwoord sy.
You just say that because I'm paying you, het ek teruggekap.
No, I mean it.
They reckon poets and farmers are the best lovers, antwoord ek.

Sy't weer aan die slaap geraak.
Ek het met die remote control vanaf kanaal na kanaal gespring.

Daar was nêrens iets wat die moeite werd was om na te kyk nie.

deur Clinton V. du Plessis, uit die bundel Kort van draad.

Lees 'n resensie hierbo.


Die Hertogin van Kruisrivier

Kleinboet

DIE HERTOGIN SE BOETIE

Een van die Hertogin se jonger broers - eintlik dié kleinboet: "klêboet" - het nou die dag die trane oor haar wange laat spoel waar sy in die laatmiddag in 'n halfdonker kamer sit en dink het oor die verlede. Sy het die brief van haar kleinbroertjie wat sy die oggend gekry het, by haar gehad. Die min kere wat sy briewe van hom kry, maak sy hulle nie dadelik oop nie, maar hou hulle vir 'n paar dae, troetel hulle. Die gevoel van die papier, verwarm deur haar liggaamshitte, laat haar geborge voel.

Die hertogin en haar jongste broertjie kom baie goed oor die weg; by familiesaamtrekke is hy die een wat met haar skerts en haar laat bloos. Seker omdat hy nie werklik beïndruk is deur haar status nie - sy het vir hom nog altyd die grootsus gebly wat hy goedig kan terg, die een wat huil wanneer die plaaskat klein muisies vang. Die hertogin het 'n baie spesiale plekkie in haar hart vir hom.

Hy het sy voete altyd plat op die aarde gehad - ook letterlik omdat hy in natuurbewaring gaan studeer het. Hy wou naby die natuur wees waarvoor hy van kleins af baie lief was. Hy het toe ook wildbewaarder geword by 'n afgeleë bosboustasie in Natal, op die rand van 'n wildernisgebied. Hy was toegewyd, het sy werk geniet. Toe kom die politieke veranderings in Suid-Afrika en daar is al meer sprake van 'rasionalisering' orals. Die 'finansiële situasie' word 'n al groter drogwoord wat al meer in mense se gesprekke en gedagtes insluip, om daar te lê en saggies te knor.

Hy het die dier gesien rondsluip, maar nooit gedink hy hoef dit te vrees nie. Maar die wiel het gedraai en die meul het gemaal. Op 'n goeie dag daag 'n deputasie van hoofkantoor by die bosboustasie op, belê 'n vergadering en sit hoofbestuur se planne uiteen. En Kleinboet se hart sak tot in die plat punte van sy Grasshoppers. Dit is duidelik dat die dier hóm in die oog het. Op verskillende maniere maak hulle dit vir hom duidelik dat hy sal moet gaan, daar is nie meer plek vir hom nie. Maak nie saak dat hy sy taak al die jare - nou al oor die vyftien jaar lank - met ongevraagde toewyding nakom nie. Dis nie die natuur, of die bewaringsaak wat belangrik is nie, die 'finansiële situasie' praat en daar moet geluister word.

Kleinboet was platgeslaan. Hy het net begin met die loodsing van 'n projek wat maande se beplanning geneem het - samesprekings, vergaderings, reise, planne optrek, navorsing doen. Dié projek sou die ekonomie van die area 'n hupstootjie gee en baie beteken vir die vooruitgang van die mense van die area. En Kleinboet weet dat sonder hom daar niks van dié projek sal kom nie. Die ander mense wat op die stasie werk - die bestuurder inkluis - is gewoon net salaristrekkers. Eers was hy wanhopig, toe kwaad en toe verontwaardig. En toe het hy begin om terug te baklei. Nee, 'n saak bly 'n saak, het hy gedink. In sy agterkop het hy geweet dat sy kanse om te slaag, uiters skraal was. Maar as hy nie probeer nie...

Die brief wat die Hertogin van hom gekry het, het oor hierdie situasie gehandel. Sy het besluit om, as deel van haar samewerking met ons, die brief aan ons te gee om te gebruik, "sodat meer mense kan sien wat in dié land aan die gang is, hoe talent en toewyding gesmoor word deur brute onkunde, vooroordeel en bloot gewone stompsinnigheid."

KLEINBOET SE BRIEF

Ek het nou weke lank drome gehad waarin ek uitgerekte redenasies voer met die owerhede hier. So kwaai dat ek natgesweet en verward in die nag wakker word. Dan sukkel om weer te slaap. En dan gewoon, as ek weer slaap, gaan my geveg met hulle voort. Lakens en kussings en dekens bo van die bed af geslaap. Soos toe ek klein was en koorsdrome gehad het, onthou jy sus? 'n Week terug het ek gedink sake raak onder beheer.

Verlede nag droom ek toe verskriklike dinge. Ek is op pad poskantoor toe met 'n pakkie. In die pakkie is dele van 'n opgekapte lyk. Ek voel ek weet presies wat aangaan, waar die liggaamsdele vandaan kom, wie die lyk opgekap het. Ek is terug op universiteit en my gunsteling dosent staan voor in die klas en praat, die verskriklikste wonde oor sy lyf en gesig. Dit lyk nie of dit hom enigsins pla nie. Ek draai om en kyk na die agterkant van die lesingsaal. Daar staan Rapule se vrou. Met 'n vreeslike uitdrukking op haar gesig. Sy is verkrag. Ek weet nie of ek en my vriende haar verkrag het nie. Maar dit voel so. Dis die tyd net voor Mpo se geboorte. Ek is besig om 'n groot vragmotor te bestuur wat onkeerbaar bo-oor mense ry. Dan is ek weer voor die vragmotor en probeer ek wanhopig wegkom. Ek is in 'n kamer tussen 4 vreemde mans, sulke rugbyspelers. Ons slaap almal op een matras. Hulle is 4 broers. Die grootste broer verkrag sy kleinsussie voor my. Later lê sy en huil saggies en ek kan niks doen nie. Ek rook 'n sigaret. Die buurt se honde gaan woedend aan die blaf. Ek staan op, kyk of die voordeur gesluit is. Ek steek my motorsleutels in die broodblik weg. Ek is bang iemand breek in en steel my motor. Ek weet nie, in hierdie nag, waar my drome eindig en die realiteit begin nie.

Deursigtige drome, ja. Here, watter gemors is in my kop aan die gang? Ek het dekades lank niks gedroom nie. Ek weet nie hoe om 'n ferm hand op myself te hou nie.

Sus, ek vertrou alles gaan nog goed. Toe ek laas iets van hulle gehoor het, het Hendrik gesê dit gaan goed met die nuwe boerdery - hy het toe net begin om 'n nuwe boord te plant. Ja, sy sakke vol geld.... Ek is darem bly hulle het nou nog 'n derde enetjie gekry. Dit gee Marietjie darem iets om te doen, tussen die besigheid deur. Miskien kry ek kans om te gaan kuier, gouer as wat hulle verwag. Ons sal maar moet sien, né.

Jou geliefde broer

Gert

HJ


KOMPETISIE

Daar is twee literêre kompetisievrae ('n prys word vir elkeen toegeken):

1. Letterkundig:

Dié vraag gaan oor 'n bekende digter, Clinton V. du Plessis, wie se nuutste bundel hierbo geresenseer word.

Die vraag: Wat is die titel en verskyningsdatum van Clinton V. du Plessis se debuutbundel?

2. Histories-semanties

Die redakteur kan nie meer onthou hoe daar op die titel vir die tydskrif afgekom is nie. Hy is egter oortuig dat hy tussen Onse angeltjie se honderdeduisende lesers iemand sal kry wat hom weer by die oorspronklike betekenis kan uitbring. (Onse angeltjie se besigheidspan is tans besig om 'n kontrak met CNN te finaliseer. Indien dié transaksie suksesvol beklink word, sal ons die wenantwoord tydens 'n spesiale gleuf uitsaai en sal daar 'n dokumentêre rolprent oor die wenner gemaak word.)

Die vraag is dus: Wat beteken die titel van die tydskrif, Onse angeltjie? Waaraan herinner dit u? Waaraan dink u as u die titel lees?

Soos met die vorige uitgawe kan jy ook van jou kreatiewe werk inskryf (gedigte, kortverhale, foto's, spotprente, comix, resepte - verkieslik in digitale vorm). Dit sal beoordeel word deur Dr. Phfff wat gebruik maak van 'n metode ontwikkel deur Tibetaanse monnikke om die uitings van leerlingheiliges te beoordeel.

'n Vierde prys kan gewen word met raad of 'n resep oor die voorbereiding van die mitiese blou forel. Vir meer besonderhede, kyk HIERONDER.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 30 April 1998 (jammer jy sal so lank moet wag).

Antwoorde moet gestuur word aan: john@getafix.utr.ac.za

Sterkte!


Die punt van die angel

Om te wys dat Onse angeltjie en AMOK 'tande het', soos dit gestel is, plaas ons die volgende verslag wat opgestel is aan die hand van eerstehandse ervaring. Dit kan gesien word as 'n logiese opvolg van sake wat in die eerste uitgawe aangeroer is (in 'n volgende uitgawe sal daar oor Diana - who's dêt? - geskryf word). Indien enigeen belangstel in die projek, 'n bydrae wil maak, of wil deelneem, maak asseblief kontak met die skrywer.

______________

Die onderrig van Afrikaans as niemoedertaal in die afgeleë gebiede van die Oos-Kaap:
'n Verslag

Prof. A. Coetser.
Departement Afrikaans
UNITRA

Inleiding

Die afgeleë gebiede van die Oos-Kaap wat in die titel ter sprake is, verwys spesifiek na streke in die voormalige Transkei. Sedert Augustus 1997 het die skrywer die veertien onderwyskolleges in die genoemde gebied besoek om die moderering van eksamens in veral Afrikaans Kommunikasie te hanteer. Die moderering het op die vier algemene taalvaardighede gekonsentreer, naamlik luister, lees, praat en skryf.

Laerskoolsituasie

In die laerskole heers 'n Babelse verwarring. In sommige skole word Afrikaans onderrig van standerd 1 (graad 3) tot standerd 5 (graad 7). In ander skole word 'n jaar of twee - gewoonlik standerd 3 (graad 5) en/of standerd 4 (graad 6) - vir die onderrig van Afrikaans ingeruim. 'n Groot aantal skole akkommodeer Afrikaans op geen manier nie. Wanneer onderwysers na die rede daarvoor uitgevra word, is die standaardantwoord gewoonlik: "Ons skoolhoof hou nie van Afrikaans nie."

Die voor- en afkeure van die skoolhoof in die bepaling van watter vakke (in hierdie geval 'n taal) by sy/haar skool onderrig mag word en watter nie, is 'n praktyk wat sterk bevraagteken kan word. Trouens, die hele praktyk dat 'n skoolhoof die kurrikulum by sy/haar skool outokraties kan bepaal, behoort hersien te word. Ten einde leerlinge gelyke (en gelykwaardige) geleenthede vir die toekoms te bied, behoort 'n meer eenvormige benadering gevolg te word.

Toestande by hoërskole

Hier is die stand van sake nog verwarrender as by laerskole. By sommige hoërskole word Afrikaans in al die standerds (grade) onderrig, ongeag of die leerlinge kennis van Afrikaans in hulle onderskeie laerskole verwerf het of nie. By ander hoërskole word 'n jaar of twee aan die onderrig afgestaan, terwyl sommige hoër skole geen Afrikaansonderrig plaasvind nie. By 'n hele aantal skole word Afrikaans van standerd 8 (graad 10) af tot standerd 10 (graad 12) onderrig - soms as 'n keusevak en soms verpligtend - ongeag of die leerlinge enige vorige blootstelling aan Afri kaans in die laerskool of andersins gehad het.

Die huidige stand van sake by hoërskole blyk uiters onbevredigend te wees. Hoërskoolhoofde het, soos hulle laerskooleweknieë, feitlik alleenmag om te besluit watter vakke (in hierdie geval 'n taal) by die betrokke skool onderrig word en watter nie. Sommige leerlinge wil Afrikaans neem (of hulle ouers wil daardie keuse uitoefen), maar die skoolhoof wil dit nie toelaat nie. Die omgekeerde is egter ook waar: by sommige skole word leerlinge verplig om Afrikaans te neem, terwyl hulle eerder 'n keuse wil uitoefen. Die Oos-Kaapse Onderwysdepartement sal 'n bevredigender bedeling in hiedie verband moet uitwerk.

Onderwyskolleges

Die situasie by die onderskeie onderwyskolleges is in die meeste gevalle begrensingswaardig, om dit sag te stel. By drie onderwyskolleges is moedertaalsprekerdosente beskikbaar om Afrikaans aan studente te onderrig. By hierdie kolleges gaan dit onder omstandighede (waarna later verwys sal word) oor die algemeen goed met die onderrig van Afrikaans.

By die res van die kolleges word Afrikaans deur niemoedertaalsprekers onderrig. Hierdie dosente beskik oor wisselende grade van Afrikaansvaardigheid - van baie goed tot werklik swak. Sommiges kan nie eers korrek groet in Afrikaans nie. By die meeste kolleges is geen sillabusse beskikbaar nie. Die meeste dosente maak in elk geval van geen sillabus of program gebruik nie; anders gestel: onderrig vind op 'n ad hoc-basis plaas, wanneer dit plaasvind.

Hierby aansluitend moet vermeld word dat daar geen uniformiteit bestaan wat betref die aantal periodes wat per week aan verskillende vakke toegestaan word nie. By sommige onderwyskolleges word een periode per week aan Afrikaans toegestaan, terwyl by ander kolleges twee of drie periodes per week die norm is. Dit bring wisselende standaarde teweeg, wat soms teen die aspirant-onderwysers kan tel by aansoeke vir en aanstelling in poste. Vir die onderrig van Xhosa en Engels word sewe of agt periodes per week beskikbaar gestel. Gesien die omstandighede en behoeftes behoort die periodes ten minste gelykop tussen die drie amptelike tale van die Oos-Kaap verdeel te word.

Dit is egter die studente se posisie wat my die meeste raak. Hulle wil in die meeste gevalle graag Afrikaans - as keusevak of verpligtend - neem, maar weens die gebrekkige blootstelling aan Afrikaans op skoolvlak (soms die totale afwesigheid daarvan) verloor hulle moed, of hulle ontwikkel selfs 'n vyandige gevoel teenoor die vak. Ek was verbaas om die toegeneëntheid waar te neem toe ek by 'n paar gevalle die groot ooreenkomstes tussen Afrikaans en Xhosa aan die studente uitgewys het en aan die hand van moderne onderrigmetodes met die studente begin gesels het.

AANBEVELINGS

Ek gaan eersdaags met die Oos-Kaapse onderwysamptenare op die hoogste vlak 'n gesprek voer oor die toestand soos hierbo geskets. Die goedkeuring van die Amok-bestuurslede is reeds verkry om hulle steun aan hierdie inisiatief te vermeld. Enkele van die aanbevelings wat die skrywer aan die Oos-Kaapse onderwysamptenare wil voorlê, is:

  1. Die aanstelling van vakadviseurs vir Afrikaans vir die laer- en hoërskole moet die hoogste prioriteit geniet.

  2. 'n Haalbare beleid vir die onderrig van Afrikaans in die laer en hoërskole (en wat die belange van die leerlinge vooropstel) moet uitgewerk en toegepas word.

  3. Sillabusse wat relevant vir onderwyskolleges is, moet uitgewerk word deur mense wat vertroud is met die omstandighede.

  4. Die opgradering van onderwysers en dosente moet volgens 'n gereelde program plaasvind.

As waardering dat u die stuk hierbo gelees het, bied ons u 'n eerste kyk na 'n egte AMOK-kunswerk:

Amoknotule

KOOK EN SPEKSKIET

Die ontwykende blou forel

Na die eerste uitgawe is die redaksie van Onse angeltjie met 'n redelik netelige probleem gekonfronteer - hoe om die kulinêre kragtoer in die eerste uitgawe te ewenaar. Ons inwonende deskundige, Dr. Phfff, het toe 'n aantal van sy geheime kontakte uit die keuken-onderwêreld byeengekry vir 'n kosberaad by 'n onbekende plek. (Onse angeltjie het later vertroulik verneem dat dié byeenkoms plaasgevind het op 'n afgeleë strand iewers op die Wilde Kus waar die delegasie, so is ons vertel, onder andere 'n dolfynkalfie verorber het.) Dr. Phfff het teruggekeer van dié samekoms met die idee dat Onse angeltjie moet probeer om 'n blou forel aan die lesers te bied.

Ek het nie gedink dat dit 'n probleem sou wees nie. Dis 'n projek wat ek maklik in my (redelik strawwe) forelprogram kon inpas. Daar was egter een klein probleempie - Dr. Phfff wou nie sê hoe 'n blou forel voorberei word nie. Ek het 'n boek oor forelhengel, Tom Sutcliffe se My Way With a Trout , asook twee kookboeke, een Frans en een Duits, geraadpleeg. Die aanwysings was vaag en teenstrydig. Duidelik het dit iets te make met asyn en die slymlagie op die vel van 'n forel.

Bewapen op die gewone manier is ek om vyfuur die eerste Saterdagoggend weg na Mabelenidam, veertig kilometer buite Umtata.

Met 6 AFTMA en DT6S sou ek hulle in die pot kry, d.w.s. met 'n nommer 6 stok en 'n dubbelafgespitste (double-taper) lyn van ses grein wat sink (S). Vir die punt van die voorslag gebruik ek 'n gevaarlike dun 4 pond lyn.

Na ses ure, niks. So ook die volgende naweek. Eers die volgende Woensdagmiddag slaan die lyn vas en haal ek 'n mooi reënboog uit die water. Later sit ek onder die denne en wag dat die pot water kook. Benewens die water is daar ook peper, uie, lourierblare en 'n halwe liter asyn in die pot. Toe die water begin kook, plaas ek die forel versigtig daarin. Na omtrent vyftien minute (ek het nie 'n horlosie by my nie), haal ek die forel uit en plaas dit op die bord wat ek saamgebring het.

Forelete
Brekfis (met die KwaMatiwana in die agtergrond)

Die forel het egter nie juis blou vir my gelyk nie. (Dit was wel smaaklik).

Onse angeltjie wend hulself dus nou tot ons lesers, met die volgende vraag (kyk ook Hierbo:

Hoe kry mens 'n forel blou?

Die leser wat die beste (of interessantste raad/resep gee, wen 'n boekprys).

Philip John
Umtata


AFSLUITING

Aankondigings

Soveel om te doen, so min tyd (Die Joker, in Superman).

Die dertigste kwadrant van die redakteur se (klein) spinnekopbrein het stadigaan begin registreer dat alles nie pluis is met van die formattering van Onse angeltjie 1(1) nie. Hy het die lêer deurgegaan, hopelik is dié probleem nou uit die weg.

Hy het ook agtergekom dat nie almal rekenaars het met 60 miljoen kleure nie. Hopelik word die 16-kleur probleem mettertyd aangespreek. Bid maar in die tussentyd vir hom.

Inskrywings

Hier het niks nuuts ontwikkel nie. Ons lys groei teen 'n redelike tempo. Inskrywings gee ons 'n idee van hoeveel ernstige lesers ons het.

So, wys jy bestaan en stuur 'n kort e-pos-boodskap aan die sesde agterpoot en kry Onse angeltjie gratis per e-pos (sodat jy dit op jou tyd met jou deurblaai-program kan lees).

Nuus

Noudat Diana nie meer met ons is nie, lyk die vooruitsig op opwindende nuus maar redelik skraal. Miskien sal AMOK tot ons redding kom?

'n Ander gebeurtenis wat die nuus vir 'n tydjie oorheers het, was die moontlike sluiting van die Afrikaanse Departement aan die Universiteit van Natal. AMOK het na konsultering met lede 'n protesbrief aan die universiteitsowerhede gestuur. Prof. Ernst Kotzé het ook in sy private hoedanigheid 'n brief van besorgheid aan die Universiteit van Natal gestuur.

Wat de hel is dit met al die Oos-Kaapse goed?Al wat die Oos-Kaap ooit opgelewer het is die 1820 setlaars - wat moes gebly het waar hulle was, en Steve Biko - wat ook moes gebly het waar hy was, dan het hy dalk nog gelewe. Verder is die site ok
phillip@cyberjack.co.za

AMOK se (informele) dagbestuur het die 31ste Oktober in Oos- Londen vergader en 'n hele aantal sake afgehandel. In dié opsig lyk dit asof AMOK wel ernstig is oor die toekoms.

By die vergadering het die volgende, onder andere, ter sprake gekom:

  • Die deelname van AMOK aan die PANSAT-proses in die Oos-Kaap. Lede is van mening dat AMOK 'n rigtinggewende rol kan speel met betrekking tot die Raad vir Afrikaans.

  • Met betrekking tot die opleiding van vertalers en tolke word daar eerdaags 'n bekendstellingsbrosjure verwag van Prof. Annette Combrink van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Die moontlikheid bestaan dat Theo du Plessis 'n Tolkkursus in die Oos-Kaap kan kom aanbied.

  • Die formalisering van AMOK is besig om aandag te kry.

Bedankings

Onse angeltjie het hierdie keer baie mense om te bedank vir hulle vriendelikheid, hulpvaardigheid en entoesiasme. (Bedankings aan die pretbederwers volg in 'n volgende uitgawe.)

Sonder die volgende mense en instansies sou hierdie uitgawe van Onse angeltjie veel valer en oninteressanter gewees het om aanmekaar te sit:

Ann Torlesse, argivaris by NELM (National English Literary Museum), Grahamstad,
Dr. Melanie Hillebrand, Direkteur van die King George VI Kunsmuseum, Port Elizabeth,
Mandla Matyumza, Navorser by BARD (Bureau for African Research and Development), Universiteit van Transkei, Umtata,
Glen Francis, mediadeskundige by BASS (Bureau for Academic Support Services), Universiteit van Transkei, Umtata,
Luyanda Flatela, stelseladminastrateur, Computing Services, Universiteit van Transkei, Umtata.

Die medewerkers, wel, wat kan mens sê? Dit is wonderlik dat mense nog bereid is om iets verniet te doen. Baie dankie.

Onse angeltjie word uitgegee deur Philip John.

Departement Afrikaans
Universiteit van Transkei
Privaatsak x 1
UNITRA
Umtata

5117

Opinies wat in die blad uitgespreek word, reflekteer nie noodwendig die beleid van die universiteit nie.

Kopiereg: Kopiereg word streng voorbehou en berus by die outeurs.
Enige gebruik van die materiaal in die tydskrif vir kommersiële doeleindes sonder die toestemming van die outeur(s) of die redakteur, word nie toegelaat nie.

Tot volgende keer.

U is besoeker nr.: Hit Counter