Met die Groot Griep van 1918 het `n wonderwerk ons plaas se mense uitgespaar. Altans, so het my mense geglo. Toe die Griep die Sondagsriviervallei tref, het die groot lusernmiedens op ons plaas skielik aan die brand geslaan en vir dae lank het die smeulende rookwolk oor die plaas gehang - en dis hoekom nie een van Rebelsvlei se mense die Griep gekry het nie; so het die oumense geglo. Die rook moes die kieme doodgemaak het. Niks in die lewe is egter verniet nie en om die balans te herstel, sou Rebelsvlei se mense ook later hul prys moes betaal. Op die omliggende plase het baie van die griep gesterf en `n hele klomp van hierdie plaasmense is op die ou end op Rebelsvlei begrawe in die ou begraafplasie aan die voet van die rant.
Ons woonhuis is later jare deur my pa ongeveer tweehonderd meter vanaf hierdie begraafplaas opgerig en vir my as kind was dit heerlik skrikwekkend om op `n stikdonker nag verbeelde spoke tussen die grafte te gewaar. Ek het meer as tagtig grafte hier getel en my latere sitrusaanplantings versigtig rondom hierdie plek met sy uitgepakte klipgrafte aangelê om nie die ou mense se laaste rusplekke te versteur nie.
Die kinders van Afrika beleef die realiteite van die lewe soms anders as ons met `n westerse lewensuitkyk weens ons verskillende agtergronde en tradisies. Die Sondagsriviervallei was een van die plekke waar die suidwaarts-bewegende Xhosa-stamme teen die Khoi-khoi gebots het. Hieruit het later basterstamme soos die Damasonkwas en die Gonakwas ontstaan en van hul nageslagte bly vandag nog hier rond. Of dit uit hulle eiesoortige tradisies ontstaan het en of dit as gevolg van die begraafplaas was, sal ek nooit weet nie, maar my plaasmense het vas geglo dat daar Toenzella's in ons veld rondloop. Toenzella's is "mense wat dood is, maar nie wil rus nie en bedags en snags ronddwaal en mense vang wat alleen loop," is aan my verduidelik. "Hulle is mense wat gesterf het en begrawe is en dan agterna deur towenaars uit die grafte gehaal is om soos zombies hul vuil werk vir hulle te doen." Hoeveel van my werksmense het nie deur die jare hoog en laag gesweer dat hulle van hierdie Toenzella's al in my veld gesien het nie. Daarom wou niemand ooit alleen in die digte bos na `n verlore bok of skaap gaan soek nie en moes hulle altyd twee-twee loop. Ook die vrouens en kinders het in groepe gaan hout haal. Daar is selfs vertel van mense laer af in die vallei wat hulle dooie kind eendag so raakgeloop het en hoe `n slim toordokter die kind weer reggekry het en dat die kind vandag nog in PE werk.
Reg onderkant my huis loop die groot besproeiingskanaal wat al sedert 1913 die wateraar van die hele vallei is en waaruit deesdae ongeveer vyftienduisend hektaar vrugbare grond besproei word. Of dit nou een van die Toenrzella's was wat nie meer Kirkwood se vreeslike hitte kon vat nie en daarom in die kanaal ingetrek het, sal ons seker nooit weet nie, maar dis `n feit dat die plaasmense glo in `n Watergees wat in die kanaal woon.
Hierdie Watergees het al die jare gelukkig in die kanaal gebly totdat die regering in die 1980's as deel van `n grootskaalse werkskeppingsprojek vir die Ooskaap besluit het om meer as tweehonderd miljoen rand te spandeer om die Oranjerivier-projek te voltooi. `n Nuwe betonkanaal, meer as tweekeer groter as die oue, is langs die oorspronklike een gebou vir grootskaalse nuwe besproeiings-ontwikkeling in die Sondagsvallei en om P. E. van voldoende water vir die toekoems te voorsien.
Om dit te kon doen, moes hulle eers die nuwe kanaal bou, die grond wat uitgegrawe is in geweldige hope opgaar en daarna weer die ou kanaal toegooi, want tydens die bouproses moes die ou kanaal nog steeds water vir besproeiing aan die vallei lewer. Hierdie oortrekkery van die Watergees na die nuwe kanaal moes haar so omgekrap het, dat ou Christina, die ou "toorvrou" van die omgewing reguit verklaar het dat die Watergees gereeld snags roep en dat sy op een of ander manier eers tevrede gestel sal moet word. Daar het nou gereeld slange, bokkies, en selfs `n Koedoe in die kanaal geval en verdrink, maar dit kon haar nie tot ruste bring nie. Tot daardie tragiese nag toe die Watergees haar ware kleure begin wys het.
Joyce was `n Xhosa-vrou uit Bedford se wêreld wat vir die naweek op `n buurplaas kom kuier het. Sy kuier dié Saterdagaand op my plaas by Henry Harmaans en vertrek laat die nag na `n lekker drinkparty terug huistoe. Waar sy links moet draai na die brug toe, draai sy regs en toe sy nie die brug kry nie, besluit sy om kortpad te kies en klim oor die draadheining. Sy het skaars vier treë in die donker gegee toe die aarde meteens onder haar padgee en sy in die twee-en-`n-half meter diep kanaal inval. Gelukkig was dit naweek en die kanaal net half vol. Ek het haar histeriese geskree gehoor en uitgestorm om te gaan kyk wat aangaan. Danile en van die ander manne was reeds daar en het probeer om haar uit te kry, maar dit was `n verskriklike stryd. Sy het teen hulle baklei en gestry asof haar lewe daarvan afhang en heeltyd histeries gegil - so vreeslik dat niemand iets kon uitmaak wat sy sê nie. Dit was kompleet of `n bose gees in haar ingevaar het en ek moet erken dat ek self begin dink het dat dit dalk die Watergees was wat haar ten aIle koste wou hê en teen wie die manne so moes stoei.
Na seker `n halfuur se gesukkel het ons haar uiteindelik op die wal gehad en toe was dit net so `n gesukkel om haar agter in my stasiewa gelaai te kry. Sy het verwoed gestry en histeries geskree en probeer losruk om weer terug in die kanaal te spring. By die hospitaal het dit `n sterk inspuiting gekos om haar tot bedaring te bring en ek kon terug huis toe gaan met `n ernstige suspisie dat daar tog meer dinge op hemel en aarde is wat ons nie verstaan nie, om nou ou Willem se woorde in Afrikaans oor te sit .
Die volgende oggend sesuur bel die hospitaal. Joyce praat nou meer rasioneel en ons moet gaan kyk of dit waar kan wees. Ek stuur my seun Cornel en hy kom verskrik terug. Ja, haar baba se lykie dryf net hier onderkant die huis in die water. Dis toe nie die Watergees teen wie sy geveg het nie. In haar benewelde toestand wou sy ons laat verstaan dat haar baba op haar rug was en ook saam met haar ingeval het. In die pikdonkerte was ons egter totaal onbewus hiervan en in elk geval seker al te laat om die tragedie te kon voorkom.
So maklik sou ons egter nie loskom nie en die Watergees sou nog haar losprys eis. Henry Harmaans was een van my trekkerbestuurders. Net so ordentlik en oorlams soos hy in die week kon wees, net so moeilik was dit vir hom om oor die naweek van die bottel af weg te bly. Tydens een Kersnaweek terwyl ons by die see uitkamp, "leen" hy my Fiat trekker en ry met hom in die gelukkig halfleë kanaal in. Die Fiat vrek voordat die watcr in sy silinders kan inkom en die water breek die valslag sodat hy en die Fiat uiteindelik darem heelhuids weer daar uitkom. Na `n hewige skrobbering en dreigement dat die Watergees hom gaan vang as hy weer so iets sou aanvang, slaan Henry tydelik `n nuwe blaadjie oor en word selfs `n opgeleide lid van die Kirkwood Kommando.
Een winter-Sondag verdwyn Henry egter net. Hy het die middag by sy broer op `n buurplaas gekuier en is so vieruur die middag redelik blink gedrink daar weg, maar het nooit weer by sy huis uitgekom nie. Die stories en riemtelegramme loop nou wild . Stories word vertel van mense in `n wit Kombi wat rondry en mense oplaai. Dis die tyd van die bittere stryd op Uitenhage tussen die U.D.F. en die sogenaamde Afrikaniste wat lei tot die afsny van tientalle mense se kele en die "necklacing" van ander. Verwytend word geskimp dis oor hy by die Kommando aangesluit het dat hy deur hierdie mense ontvoer is.
`n Ander kom vertel in die grootste geheimhouding dat `n ander man van `n buurplaas `n grief teen Henry had en dat hy hom doodgeslaan en in die bosse langs d.ie pad begrawe het. Ons soek lank daar, maar kry nêrens enige versteurde grond nie. Ons eerste vermoede is natuurlik dat hy in die kanaal geval het, want hy moes op pad terug langs die oop kanaal geloop het. Ongeveer een kilometer laer af is daar egter `n duikpyp in die kanaal en voor die pyp se bek is `n ystersif waardeur geen lyk sou kon gaan nie. Daar is ook geen obstruksies in die betonkanaal waarteen enige lyk sou kon vashaak nie. Daarby loop die water in die kanaal baie sterk en niemand kan eers staande bly teen die sterk stroom nie. Ons volg gedurende die week alle leidrade op maar kry geen teken van Henry nie. Naweke word die kanaal se sluise toegemaak en net so `n meter diep stilstaande water bly oor. Dié Saterdag probeer ek manne bymekaar maak om al met die halfleë kanaal af te loop en met stokke te voel of hulle nie iets kry nie. My mense soek egter almal verskonings. Ek kan agterkom die Watergees lê diep in hul gemoed en hulle is te bang om in haar wêreld te gaan krap. Dit kos my ander mense ten duurste gaan huur om die soektog uit te voer, maar sonder enige resultate. Henry het net totaal verdwyn.
Elf dae na sy verdwyning bel die Polisie my. Henry se lyk het aangedryf gekom en vasgespoel teen `n swaaibruggie oor die kanaal so `n paar honderd meter vanaf sy huis. Die lykskouing is onverbiddelik. Hy is elf dae gelede dood aan verdrinking. Die Watergees het hom elf dae lank op die gladde sementvloer van die kanaal in die sterk stroom vasgehou en eers toe sy tevrede was, het sy hom laat los. Nou sal die Watergees weer tot ruste kom. So sê die plaasmense en wie is ek om met hulle te stry, want miskien kan ons veelgeroemde Westerse beskawing tog nie alles verklaar nie. Miskien is daar in ons moderne wêreld, in die nuwe Suid-Afrika, ook nog plek vir die Toenzella's en die Watergeeste van Afrika.
Stef Delport
Kirkwood
|
|
|