The Whole Shabang
en die gewraakte WOORD
Waldo Müller................
"Hotnot" is 'n woord wat by baie mense 'n intens negatiewe reaksie ontlok
weens sy geskiedenis as rassistiese skeldnaam. Maar die jong lede van The Whole
Shabang ('n Afrikaanse hip-hopgroep van Uitenhage se geskiedkundig bruin buurt
Rosedale)
staar hulle nie blind teen die woord se uitgediende
apartheidskonnotasies nie. Deur rap-musiek wat op selfbemagtigende wyse ‘n
bruin bewussyn artikuleer en bevestig, gee The Whole Shabang die gewraakte
raswoord ‘n nuwe, positiewe waarde.
Die groep is nie die enigste waarin jong bruines hip-hop op hierdie wyse inspan
nie. Dit gebeur reg oor die land. Maar die musiek (en gepaardgaande lirieke)
bly onuitgereik, ondergronds.
In Amerika het die woord "nigger" ook ‘n betekenismetamorfose ondergaan
onder jong Afro-Amerikaners wat dit die afgelope jare deur hip-hop verhef het
tot 'n begrip wat identiteit konsolideer. Hierdie verskynsel is gebore op die
snykant van straatvlak swartbewussyn-filosofie.
In sogenaamde blaxploitation-rolprente en die rap-kultuur is "nigger" sedert
die jare sewentig toenemend herfdefinieer, rewolusionêr teruggegryp van die wit
rassis, om op eie tong iets te word wat swart self- en groepsidentiteit
positief versterk.
In The Whole Shabang se eie woorde: "Ons noem ons musiek hotnot-style om 'n
identiteit daaraan te gee. Dit is nie om iemand af te druk of af te kraak nie.
In hotnot-style deal ons met issues in die coloured gemeenskap, hulle struggles.
"Die kleurlinggemeenskap is confused oor die algemeen. Al die negatiewe dinge
omtrent ons word op TV ge-expose: gangsters en drugs. Jy sien nie positiewe
dinge van die coloureds op TV nie.
"As jy 'n coloured is in Suid-Afrika moet jy draai - na wit toe of na swart
toe om net in te wees. Dis asof jy moet side by iemand. Jy kan nie trots op jou
eie staan as 'n groep met sy eie identiteit nie."
Deur onomwonde na hul Afrikaanse hip-hop as "hotnot-style" te verwys, wil The
Whole Shabang as jong Suid-Afrikaners van gemengde ras self hul post-apartheid
identiteit bepaal. Of dit nou politiek korrek is of nie.
Deur die mees beledigende term denkbaar vir ‘n bruin Suid-Afrikaner te kaap en
die negitiwiteit daarvan te neutraliseer in die nuwe, jeugdige, Afrikaanse hip-
hoptaal van ‘n positiewe bruin bewusssyn, word die woord verlos van die stank
van wit onderdrukking wat so lank daaraan gekleef het en gestroop van die
seermaakvermoë wat dit vir soveel dekades gehad het.
The Whole Shabang praat 'n gemengde Afrikaans wat taalpuriste se hare sal laat
rys. Die groep gebruik bruin sleng waarvan dieselfde puriste nog nooit sou
gehoor het nie - woorde soos "gwai" en frases soos "hy het my gedis".
Hul deninieer rap as street poetry. "Dis 'n way om jou te express, 'n way
waarmee ons comfortable voel."
Sommige van die groeplede het "agter in die yard by die huis" begin rap toe
hulle skaars twaalf jaar oud was. Mettertyd het hulle besef watter ekspressiewe
waarde rap het: "As jy op skool na rap begin luister, dink jy, jislaaik, check
nou daai way wat hulle hulself express - dinge wat jy al lank voel, maar nie
geweet het hoe om te sê nie. Rap is vir ons die perfekte medium van self-
expression."
Hul liedjies soos "Ander dag, dieselfde storie" bevat 'n mengsel van humor,
sarkasme en politieke verwysings vol ontgogeling. Die snit kom sommer almal by
van Winnie Mandela tot P.W. Botha en bekla die lot van jong werkloses wat hul
tot drank en dwelms wend. Dit lui onder meer: "Skink 'n dop daar en light die
ganja. Dis 'n ander dag, maar dieselfde storie. Ek is fed-up vir die situasie
waarin ek my bevind."
Oor die vloek- en taboe woorde wat in hul musiek opduik, meen die groep: "Daai
is maar net wanneer ons bietjie frustrated is. Die vloekery is nie die boodskap
nie. Mense moet luister na onse woorde en dan sal hulle uitvind. Sommige kere
word die boodskap nie eintlik kop toe gevat as jy nie vloek nie."
Benewens "nigger" en "hotnot" is daar nog groepbenamings waarvan die
tradisionele beledigende betekenis die afgelope jare weggestroop is deur
dieselfde mense wat eens daarmee verkleineer is.
Daar het byvoorbeeld in die redelik onlangse verlede ‘n soortgelyke
betekenisverskuiwing plaasgevind in die gay gemeenskap ten opsigte van die
woord "queer". Vandag is dit glad nie meer die skelwoord wat dit 20 jaar gelede
was nie. Gays het die woord uit die mond van homofobiese straights geneem en
dit hul eie gemaak. ‘n Positiewe, bemagtigende gevoelswaarde is daaraan gegee
en die ou, beledigende aura van "queer" is geneutraliseer. Die woord maak nou
nie meer seer nie; dit maak sterk. ‘n Goeie illustrasie hiervan is Kaapstad se
jaarlikse "Mother City Queer Project", daardie reusagtige viering van gay
identiteit wat duisende partytjiegangers van reg oor die wêreld lok.
‘n Mens kan aanvoer dat ons hier met ‘n breer kulturele verskynsel te doen het;
een waarin woorde wat in die verlede instrumente van diskriminasie en
onderdrukking was, teruggegryp word deur die onderdrukte - wat dit dan op
radikale wyse sy/haar eie maak en dit gebruik om identiteit te bou pleks van af
te breek. Maar dit is ‘n snykant-verskynsel, ‘n cutting-edge phenomenon, want
hierdie tradisionele skelwoorde wat deesdae deur sommige as boustene van ‘n
positiewe identiteit benut word, is in die hoofstroom steeds taboe en geensins
politiek korrek nie.
The Whole Shabang se rewolusionêre hip-hoplirieke en die bruin bewussyn wat dit
verwoord, word ongelukkig steeds net in die omgewing van hul tuisdorp Uitenhage
gehoor. Optreegeleenthede is skaars in die ekonomies gekelde Oos-Kaap en ‘n
platekontrak lyk onwaarskynlik terwyl die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ‘n
worsmasjien is wat hoofsaaklik drie geure bied: kwaito, Amerikaanse R&B en
house compilations.
Die groep het reeds sowat 15 liedjies geskryf, meestal in Afrikaans. Die musiek
se hip-hop ritmes en die "hardcore rap"-aanslag maak The Whole Shabang ook
genietbaar vir mense wat Engels- of Xhosasprekend is - ouens wat nie normaalweg
na Afrikaanse musiek sou geluister het nie.
Vir diegene wat Afrikaans verstaan, is die musiek vol reguit en flymskerp
verwoordings van die lewe en frustrasies van die land se bruin jeug, hier en
nou. Geen doekies word omgedraai nie.
"Die wit mense sê vir ons jy is nie wit nie, jy is swart. Die swart mense sê
jy is nie swart nie, jy is wit. So baie van ons mense weet nie waar staan hulle
nie. Ons mense wil nie in hulself glo nie. The Whole Shabang se musiek wil
hulle confidence gee, hulle laat glo dat hulle iemand is met ‘n eie
identiteit."
U is besoeker nr.:
(vanaf 18 Julie 2000)