Poësie

KEER MY

keer my as ek die huil van die wind uit bome wil haal
besweer my as ek jou naam in die weeklikse asdrom gooi
seën my as ek katte skop ter wille van victoria en albert

laat net toe om woorde soos brusselse kant in my keel te hang

haal snags die aalbessie uit my drankasem
spoeg 'n kokkewiet oor leë vlaktes
en laat patryse huis toe kom

maar los die broeiende storm in my siel

was my oë met die monumente van Afrika
sodat hulle padkaarte kan word vir 20 honderd
bakens vir moontlike blinde koloniste

laat my woorde toe om sout soos brakpanne te oes

herrys julle oerouers met wit sangomas
drink jou bier uit suur kalbasse
bring wiegende vroue met kruike na riviere

maar keer die oorlog van Afrika se mans

Des Fourie

Dié gedig het al ver gereis: Marietjie Smith (Welkom se Vista Kampus) het dit oor die water gevat en dit daar in Nederland gaan voorlees.

Dit is ook gepubliseer in Concept in Hilversum, Brugge en Pretoria onder redaksie van Ton Luiting en Roger Wastijn (1995).

Op daardie stadium was dit een jaar na die "Groot Stemmery" wat dalk aanleiding gegee het tot die volgende subtitel: "Vrede sluiten is wegen openen. Thematische verzenbundel over vrede, verdraagzaamheid, en vriendschap."

PA

ek reis met jou oë om Afrika
landoor as die see te rof is
tot by die telende vlieë van Kaïro
oos oor die gewese istmus tot in Israel
waar jou wêreldoorlog
'n vroulike tweeling word
tussen die soetste lemoene

maar gereeld laat keer jy my terug
na suurvye en hondepisbossies
waar voorgeslagte in die strandveld rus
leer my die smaak van volstruistee
voer my jongby teen die steke van geelsug
sodat ek nooit kan vergeet

dat jy met medaljes uit die vreemde
smag na die lokkigheid van aas
soos na jou geboortegrond

Des Fourie

N'Awlins Louisiana Desember 1997

tussen al die paaie lughawe toe lê jou
verveelde dooies bo die grond begraaf
stad onderkant seespieël
trems wys vir ons Afrikane tweevloerhuise
op pakkiesklein grond
my boeke kap teen my kuite
ek dra jou boeke terug na Afrika
swartgestolde kunstenaar op die muur wat afloop na
die Mississippi rivier met sy stoombote
I knew you were a real person
knip jou AfricanAmerican swart oë
ek dra jou boeke terug na Afrika

hotelvrou van die French Quarter dra parfuumlippe
stryk haar wit vel met haar hande oor die tafel plat
don't go there
it's on the wrong side of town
wat sy meen is die swartes van N'Awlins koop en fliek
en loop en lewe en McDonald's daar
my boeke kap teen my kuite
ek dra julle N'Awlins boeke terug na my Afrika
hierdie Deep South N'Awlins afgeremde arm stad met ophefplanne
voodoo N'Awlins black magic alligatorkakebene
seks op straat
I knew you were a real person
ek dra jou boeke vol woorde terug na Afrika

Baie dankie en groete.

Elsabé Kritzinger

Prosa

Desnieteenstaande

Sy vingers volg bewend die grein van die growwe tekstuur. Stefan kan nie eintlik goed teken nie - hy is glad nie kunstig of enigsins kreatief nie, maar hy weet dat hy elke kontoer in volle detail sou kon skets. Dit is immers wat hom aan die gang hou, wat hom van tyd tot tyd laat besef dat alles tóg die moeite werk is.

Hy sug en kyk uit oor die mis wat pligsgetrou oor die ruie bosse oor die oewers aangerol kom. Sy vingers vind die koel rondheid en hy weet as hy teen dieselfde tempo voortgaan, die growwe punt nou enige oomblik onder sy wysvinger sal vorm aanneem.

"Channel", het sy gesê, "Channel all those negative feelings into positive grooves".

Hy voel die ru puntjie sy wysvinger speels krap en draai sy hand effens na die binnekant. Dan begin hy dit weer stadig na agter beweeg, terug op die bekende roete.

"Too much darkness," het die meisie met die bangles en die swaar grimering voortgegaan, "so much heavy feelings that need relief. Don't let it accumulate..."

Dis weer tyd om te channel, dink hy nou, sy vinger steeds op die bekende koers. En hét ek nie gechannel nie? Almal is vol lof vir my prestasies: Die Cum Laude, die vinnige aanstelling en bevordering, die sprokieshuwelik, die voorbeeldige kind, die motor, die tennisbaan, die verhitte swembad...

Sy duim streel oor die huisie. Aah, die huis, dink hy, die vesting van die hartklop. Die broeiplek vir rein voornemens met die bose voorwendsels wat buite staan en klop.

Hy onthou die boekie wat sy pa vir hom gegee het toe hy in standerd vyf was. Dit was met sy dertiende verjaardag: "WAT ELKE JONG SEUN MOET WEET". "Masturbasie is nie 'n sonde nie", het die winkelreukbladsye gesê, "dit kan dalk net 'n ongesonde invloed op die seksuele ontwikkeling hê." Bladsy ses-en-dertig, tweede paragraaf, links bo.

Die kurwe van sy duim se voorste lit pas mooi in die knoppie, net agter die huisie. Hy klik dit oudergewoonte vorentoe, dan weer terug agtertoe.

"Wat dít betieken", het hy gesê en weer die sigaret by hom gevat, "is dat as djy nou te viel draad trek, djy miskien iendag gaan sukkel om te perform as djy by die ware djakob kom..."

Hy voel nou 'n warm gloed in sy wange opstoot, anders as destyds met hulle gesprek.

"Maar ek smaak vroumense en ek smaak die ware jakob, of ek dink so...", het hy tentatief geantwoord. Hulle vriendskap was pront en opreg. Hy kon homself wees en hulle kon saampraat en saam rook en saam lag.

"Dja, dja...Dis nie ek wat soe sê nie", het Johannes, hulle destydse tuinjong glimlaggend verder gepraat. "Ek interpret maar net vir djou hoe hulle daar skryf".

Hy kyk af na die dun stroompie water wat sy pad geduldig tussen die varings en klippe see se kant toe vind. Die water is baie donker vandag, of is dit altyd so?

Ek smaak nou nog die ware jakob en ek kán perform toe ek by hom gekom het, dink hy nou, maar hoekom voel ek dan nog skuldig? Ek bedoel, dit was tog nie verkeerd nie? Is dit nie juis dié hand wat my die ware jakob leer liefkry het nie?

Is dit verkeerd om nou hier te wees?, wonder hy soos wat hy elke keer wonder wanneer hy hier sit. Hy voel skuldig, maar glo dat dit juis hierdie kuiers is wat vir hom sy swembad, tennisbaan en mikrovliegtuig gegee het. But at what expense? Dis 'n love-hate ding.

Hy kyk na die buitelyne van sy blink volstruisleerskoene, wat afgeëts teen die agtergrond van die kronkelstroompie hang. Sy linkervoet lyk so uitdagend en ongebonde wanneer dit ritmies vorentoe en agtertoe swaai...Lyk my daar's 'n vuil kol op die punt...

Hy't iewers gelees dat vier-en-neëntig persent van alle seuns op die een of ander stadium masturbeer. Hoe kan hulle dan sê dit lei tot abnormale ontwikkeling? Is dit dan nie juis normaal nie? Maar aan die anderkant, hoeveel mense kom op hierdie soort besoeke...?

Sy middelvinger streel vorentoe en agtertoe oor die gladde kurwe. 'n Opgewonde rilling snel deur sy hele lyf.

"Motivering is die sleutel tot sukses", het hy gesê - die man met die yuppiedas en skilpaddopraambril, "die daarstelling van korttermyndoelwitte. Fokus op wat belangrik en dringend is. As jy dit kan uitstryk, sal die toekoms vir homself sorg."

En dis hoekom hy nou hier is. Daardie absurde afhanklikheid om nog 'n korttermyndoelwit te stel. Wat daardie tyd sy toekoms was (nou sy verlede) het wel vir homself gesorg. En die daarstelling van korttermyndoelwitte met behulp van die mees effektiewe motivering het uiteraard tot sukses gelei... Maar hoekom voel hy nog steeds so skuldig? Doen vier-en-neëntig persent van alle suksesvolle mans dit nie maar een of ander tyd nie?

Die skurfheid, wat nommerpas in sy handpalm lê, het nou sy liggaamstemperatuur bereik. Dis 'n verlenging van sy liggaam. Hy sug weer.

Die mis het nou opgehou inrol en lê net bokant die lowergroen boomtoppe - in afwagting. 'n Loerie vlieg rusteloos tussen die takke van 'n geelhout rond.

"Kyk na my oë", het sy seksieleier gesê. "Kan jy sien ek's mal?", het hy gevra. "Onthou hierdie oë as jy hardloop en jou longe brand van moegheid. Laat dit jou motivering wees om 'n gepoleerde oorlogsmasjien te word, want as jy vou is ek op jou..."

Hy onthou die oë.

Hy skep 'n slag diep asem en dink aan sy onderskeidings, sy huis, sy mikrovliegtuig, sy vrou en kind, sy toekoms. Die asem verlaat sy liggaam in die vorm van 'n stadige sug. Hy dink aan hulle almal: Die bangles, die voortandlose glimlag, die das en die oë... Hulle was almal reg.

Sy hand raak stadig lam. Oudergewoonte. Hy sien ander oë: sy vrou se rustige, vergewende oë, sy kind se onskuldige oë, sy eie sprankelende, lewendige oë... En dan weer sy eie oë, maar dof soos di‚ van 'n vis wat halfdroog op die wal lê en 'n laaste paar stuiptrekkings gee...

Hy wik in belangelose stilte. Die mis begin stadig terugtrek en die skemerson maak plek vir die sterredeken. Dis tyd om te gaan.

Hy sit die warm rewolwer terug in sy baadjiesak. Oudergewoonte onthou hy die man wat hier langs hom kom sit het met sy eerste besoek. "Gaan voort, doen dit", het hy gesê, "ek gaan jou nie keer nie".

Die weekoue stoppelbaard het geproes en nog 'n sluk sjerrie geneem: "Maar as jy dit wel wil doen, doen dit uit oortuiging, daar mag nie plek wees vir twyfel nie. So nie, dink weer".

Korttermyndoelwit, dink hy en begin terugstap na sy motor, die vakansie saam met my familie (ek skuld hulle dit) en miskien nog net een transaksie, miskien kom kuier ek dan vir die laaste keer...

Kobus du Toit

Spreuke en psalms en Arnoldus

Daar het dit nou gebeur - die man teen my muur het beweeg.

Eers net sy pinkie. Ek kyk stip. Dan sy hand en meteens kom staan hy voor my en steek sy hele arm na my uit en sy bolyf bult en hy ruik na Woolies se soap-on-a-rope en ek word meteens verskriklik kwaad - dit spring los uit my hart en dit swelg onderdeur my oksels en dan tussenin sinapse en dendriete en spring oor die medulla oblongata en wat van my serotienvlakke - en ek skree vir hom, ek probeer alles regmaak want ek skree vir hom: "Jy moes hou by die voorgeskrewe feite van die Checkers sak en die moccasins en die bus en die wind wat so waai ...."

Maar hy lag net. "Jy kan mos ook afvallig raak! Moenie elke aand uit Spreuke en Psalms lees nie, wat dan van al die kleinode in die apokriewe boeke van die Bybel? Klim uit die veersak van jou Calvinistiese opvoeding ...... alles wat vir jou gevoer word is nie altyd reg nie, het jy dan nie jou eie verstand en opinie nie?"

Ek knor dikbek. Ek krul my stert. Ek loer na my hondepille in die koperbakkie op die vloer onder die pot rose en wens die rose hel van die tafel af en val met rooswater en al op my hondekorrels dan word dit sag en eetbaar en meer verteerbaar.

Ek klim uit my hondelyf. Ek staan nakend voor hom met 'n lyf soos Demi Moore en die verstand van Salomo en 'n stem soos Celine Dion, die teef wat my so irriteer. Ek steek my arms onderstebo na hom toe uit, met my handpalms na bo sodat my polse teenmekaar lê en ek sien my linkerpols se bloublou are lyk heeltemaal anders geranagskik as my regterpols s'n en nog hoër op pas my elmboë styf teenmekaar en die skerp agterste been- punte van beide elmboë druk diep wigte in my twee sagte borste.

"Ek is lief vir jou," sing ek vir hom. Maar dit klink soos blaf.

Hy staan op aandag soos 'n soldaat. Hy wil nie in my oë kyk nie. Nou skree ek vir hom : "Ek is lief vir jou my geliefde generaal, my geliefde Arnoldus!"

Hy klim terug in die papier.

Terug teen my muur.

Elsabé Kritzinger

Die rooi lêer

Wie kan dít nou wees?, wonder ek vererg toe ek die hamerslae aan die voordeur hoor. Kyk die mense dan nie Egoli nie? Ek staan traag uit my leunstoel op en probeer sien of hy haar gaan soen en of hy haar gaan klap voordat ek die TV-kamer verlaat. Dis die enigste tyd wat ek 'n bietjie kans kry om te ontspan van die daaglikse gerondhardlopery.

Ek maak die voordeur oop, maar halfhartig, want ek probeer nog uitwerk hoe dit is dat sy haar hond se naam onthou het ten spyte van die geheueverlies. Dit het in verlede week se Dinsdag-episode gebeur, ek onthou dit nog goed, want die dokter het die verslae geteken en sy kon dan nie eers haar eie verloofde se gesig onthou nie.

Die man, wat in die deur geraam staan, het 'n oop gesig, maar tog is daar iets in sy profiel wat my herinner aan 'n meerkat. Ek wil eers voorstel dat ons na die TV-kamer toe deurbeweeg, maar hy loop my byna onderstebo voordat ek 'n woord te sê kan kry.

"Goeie naand", begin sy helder stem, amper te helder. "Meneer, u kan uself baie gelukkig ag dat u nou by die huis is. Ek het gekom om u te help."

Hy skuur by my verby en begin in die rigting van die TV klanke stap, maar voordat ek bly kon raak stap hy verby tot in die sitkamer. So ver as wat hy stap oorweeg sy oë die terrein. Ek hou hom halfhartig dop, hierdie man wat my huis bekyk soos 'n wolf wat lêplek soek, maar ek aarsel 'n oomblik voor die T.V. Ek wonder hoe lank neem dit 'n mens om van geheueverlies te herstel.

In die sitkamer nooi hy my met 'n vriendelike handgebaar om oorkant hom te gaan sit. Was ons in die T.V.-kamer sou sy voorbarigheid my ontstel het, maar in die heilige sitkamer het hy my effe van balans af. Dis neutrale grond dié, ek kom self nooit hier nie, daarom laat ek maar die situasie sy gang neem.

Hy glimlag (of was dit 'n grynslag?) en sê selfversekerd: "Ek kan sien dat u 'n no-nonsense mens is wat die murg uit die lewe wil suig. Daarom bied ek dit vir u aan."

Hy dra 'n bottelgroen pak klere, 'n modieuse snit, en 'n mostertkleurige hemp waarvan die kraag weerskante vasgeknoop is. Die leer van sy skoene en horlosiebandjie is ewe bruin en ewe blink, asof dit uit een dier gesny is. As dit die kleurskema is wat populêr is, dan is hierdie duidelik 'n ou wat met die trend saambeweeg, so nie is hy 'n onverskrokke individualis. Hoe dit ook al sy, hy blyk in beheer te wees.

Hy maak keel skoon en sy regop skouers kyk stip na my: "Meneer, soos ek gesê het, ek het gekom om u te help. Ek sal nie te veel van u tyd in beslag neem nie, ek kan sien dat u iemand is wat tyd waardevol ag, en dis goed so. Laat my toe om sommer dadelik weg te spring met die administratiewe sy."

Vir 'n oomblik wonder ek of hy nou vir my iets gevra het en of hy dit net bloot gesê het. In my behoefte om egter niks te sê nie, lei ek af dat dit eerder 'n stelling was. Sy woorde is so gepoleer soos sy skoene, dink ek, en soos sy aktetas - blykbaar deel van 'n stel saam met brilraam en horlosiebandjie - dit moes 'n groot dier gewees het.

Toe hy sy aktetas oopmaak en 'n paar lêers daaruit haal, voel ek dis nou tyd om iets te sê of vra. Die laaste ding wat ek nodig het is versekering, ongevraagde sendingsoortuigings of once-in-a-lifetime huishoudelike skoonmaakmiddels, en dit lyk of hy een van die bogenoemde aan my wil afsmeer. Ek maak keel skoon om te keer dat hy alles uitpak, maar hy val my in die rede.

"Ek weet wat u dink", sê hy en glimlag-grynslag. "Korrigeer my as ek verkeerd is: U dink ek is een van daardie glibberige versekeringsagente, of miskien een van daardie getuies wat traktaatjies aan u wil kom afsmeer. Een van daardie mense wat dink hulle weet net wat u nodig het en dan een of ander nuttelose ding hier in u huis kom neerplak en glimlaggend met u geld wegstap. Is ek reg?"

Ek is beïndruk maar wil graag ontken dat ek sulke goed kom oorweeg. My ma het altyd gesê mens moenie ander op hulle baadjie takseer nie en almal verdien 'n kans. Hy gee my egter nie kans om te verduidelik of te ontken nie. Met die vyf leêrs voor hom op die koffietafel skuif hy ietwat terug in die groot stoel sodat hy vir my meer asemhalingsruimte kan gee.

"Nou laat ons sien", begin hy en tel die boonste lêer, die pers een, op. Uit sy sak haal hy 'n balpuntpen en span dit. "Om mee te begin, sal ek vir u 'n paar vrae moet vra, niks te persoonliks nie. Dit sal net 'n oomblik neem."

"Sou u uself beskou as 'n eng mens, wat nog vasgevang is in radikale verkramptheid, of is u 'n vrye denker...? Wag, laat my raai... 'n Man van u kaliber... Hoe kan ek nog so 'n vraag vra? Nou maar goed, 'n vrye denker dan..."

Hy skuif die pers lêer opsy en trek die groen een nader. "U is 'n mens wat glo dat sukses vloei uit harde werk en daarom doen u meer as bloot u deel. U wil graag sien dat u 'n verskil kan maak, maar glo ook dat elke ander individu 'n funksie het om te verrig. Verder wil u graag sien dat u eie, sowel as ander se lewensstandaard verhoog word, maar tog is u nie 'n radikale filantroop nie."

Oorvol selfvertroue skuif hy die groen lêer ook nou opsy. Ek kan nie glo dat hy my so goed opsom nie, dit voel net te goed om waar te wees. Dit is nou dat ek 'n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Ek weet nie soseer wat om te sê nie, maar dit voel net die regte ding om te doen in die normale dinamika van sulke omstandighede.

Hy hou sy hand skielik op om my woorde te keer, maar sy gebaar is nie bedreigend nie. Dis eerder een van akkomodasie, soos iemand wat daarop aandring om die eterekening te betaal. "Asseblief meneer, dis regtig nie nodig dat u verplig voel om iets te sê nie. Soos ek reeds genoem het, ek is hier om dit vir u so maklik moontlik te maak. Ek is goed opgelei en u kan my vertrou. As daar iets is wat u werklik pla, kan ons dit weldra later uitstryk."

Hy leun effens vooroor asof om my gerus te stel. Dan glimlag hy toe ek meer gemaklik in my eie stoel terugsit. Sy oogkontak is lank genoeg om my aandag te behou maar kort genoeg om te keer dat ek ongemaklik voel. Dan gaan hy voort: " Nou maar goed, waar was ons? O ja, soms voel u lewenslustig en ekstrovert, maar meestal glo u dat daar dinge is wat u self wil uitklaar en ander mense nie begrip voor het nie. U is vrydenkend maar nugter."

Hy glimlag beïndruk. "Dis verblydend om te weet daar is nog sulke mense. Ek het 'n neef wat self so 'n persoon is, 'n wonderlike mens..." Hy skuif die blou lêer by die ander verworpenes. Daar waar al die radikales en nougesettes en blas‚ pretensieuses hoort. Daar bly nog net een lêer voor ons lê, die rooi een. Hy tel dit amper statig op. Dan kyk hy in alle erns na my met 'n goed berekende stilte.

"U beskik oor ongebruikte potensiaal en is 'n dinamiese mens, soms krities oor u eie handelinge. Hoewel u 'n vervullende seksuele lewe het, glo u daar is plek vir verbetering, maar u het ook d¡t onder beheer..." Sy woorde bons stadig van die sitkamermure en kitsch beeldjies af.

Hy knik instemmend en slaan die lêer oop. Dan haal hy 'n vorm daaruit en begin met die pen daaroor waai.

"Net gou 'n paar besonderhede," sê hy administratief en skuif sy bril terug tot hoog op sy neus, "ons is amper klaar. Het ek gesê dat hierdie 'n beperkte aanbod is en dat ek baie bly is om dit vir 'n man van vele deugde soos uself aan te bied?"

Hy laat die pen 'n paar merkies oor die lengte van die bladsy maak en bring 'n verandering hier en daar aan. "Ehmm, manlik... 'n baie populêre geslag, soos u kan sien is ek self ook een...". Die pen maak nog 'n merkie. "Bruin hare." Merkie. "Bruin oë." Merkie. "Gemiddelde lengte...baie goed..." Merkie. "Gemiddelde liggaamsbou...aah, baie gebalanseerd..." Merkie. "Nou maar goed...Dis meneer Watson, nie waar nie?"

Hy kyk vinnig op. "Ek hoop nie u gee om nie, ek het so 'n bietjie huiswerk voor die tyd gedoen. Om die proses te versnel, u weet, om al die onnodige smalltalk en nietige voorstellings uit die weg te ruim. Dit kan soms so ongemaklik en langdradig wees..." Skribbel. Merkie. Skribbel-skribbel.

"Om saam te vat: Nie die gemiddelde nege-tot-vyf slaaf nie... 'n vrye denker...maar dinamies en nugter...entoesiasties en hardwerkkend...gebalanseerd...krities."

Ek wil op hierdie stadium vir hom iets vra, terwyl ek die inisiatief het, maar ek weet nie presies wat dit is wat ek wil vra nie. Dit lyk asof hy dit besef, want hy hou weer sy gerusstellende hand ferm op: "Meneer Watson, ek sal al u vrae teen die einde beantwoord. Vergun my net die geleentheid om u besonderhede na te gaan."

Skribbel. Merk. Skribbel. Merk.

Hy wysig een of twee paragrawe en glimlag kopskuddend, ingenome. "U weet meneer, dis regtig verblydend om te sien dat daar nog mense is wat hulle nie laat voorsê nie - mense wat hulself aan die nukke van die noodlot oorlaat nie."

Dan hou hy die vorm na my toe uit: "Teken asseblief hierso".

Ek neem die vorm by hom met seker hande. "Waar?", vra ek nou, tevrede met die feit dat ek eindelik 'n goeie vraag het.

'n Uitstekende vraag van 'n kritiese mens - werklik verblydend..." Hy leun vooroor en beduie na die stippellyn onderaan die bladsy. "Net hier, onder EK, JOHANNES WATSON, BELOWE OM HIERDIE VERPLIGTINGE STIP NA TE KOM EN MY PAAIEMENTE VOOR DIE 25STE VAN ELKE MAAND VIR DIE RES VAN MY LEWE TE BETAAL."

Ek teken die dokument tevrede en hou die pen uit na hom.

"Baie dankie. Soos ek gesê het, 'n uitstekende belegging. Asseblief, hou gerus die pen."

Hy pak die leë lêers saam met die vol rooi een flink terug in sy aktetas en staan op. Met 'n ferm handdruk en gerusstellende klop op my skouer draai hy in die rigting van die voordeur: "Baie dankie vir u tyd. Dis regtig nie nodig om saam te stap nie, ek sal die pad vind."

Ek plak myself in die leunstoel voor die TV neer en kyk vir 'n oomblik na die pen in my hand. Daar is 'n embleem van 'n ketting met drie skakels en die woorde "THE WISE CHOICE" daarop gedruk. Ingedagte druk ek dit in my hemp se bo-sak en wonder hoe mense met geheueverlies onthou hoe om motor te bestuur.

Toe die voordeur toegaan hoor ek Sandra se stem uit die badkamer: "Is daar iemand by die deur, skat?"

Ek sit die afstandbeheer neer en antwoord: "Ek dink nie so nie. Wat eet ons vanaand?"

Kobus du Toit


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/verhaal.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]