Die skons
Elizabeth de Vos
Die klein Karoodorpie het gegons oor die nuwe dokter en sy aantreklike
vrou. Met groot oë is gekyk na die aflaai van duur meubels, Persiese
tapyte, ... 'n pottebakkerswiel en 'n esel om op te skilder! Wie is die
kunstenaar? So interessant! 'n Sterk rimpeling spoel oor die dorp wat
nou alles wat gebeur, fyn dophou.
Die dokter is seker sowat tien jaar ouer as sy, bespiegel die dorp, want kyk,
sy slape is dan grys. Maar hy is só elegant en het sulke oulike blougrys oë -
ouderdom maak nie saak nie! Mooi bly mooi. Gou waai 'n epidemie van
siektes oor die ou tannies en móét hul hom in sy spreekkamer besoek om
nader kennis te maak. Toe dit blyk dat hy, hoewel so aantreklik, tog baie
professioneel is, verskuif die aandag na haar.
En dit blyk 'n vrugbare teelaarde te wees want is sy dan nou nie onkonvensioneel nie! As sy straat-af ry of loop, gaan al die kantgordyntjies in die vensters op skrefies oop en loer word lekker. Sy doen inkopies (veral by die dorpie se enigste boetiek) met sulke snaakse Boheemse klere aan. En die
kleure! Waar het jy gehoor 'n mens dra pers en oranje saam! Sulke nousluitende broeke met los jurke en flertse wat waai. Kan sy dalk in die andertyd
wees? Of is dit nou maar net die ku...ns wat na buite uitslaan? En haar
voete! .. kaalvoet of met herdersandale of Oosterse blink gedoentes.. !
Sy kom die aandag agter, maar maak of sy die fluistering agter die hande nie
sien nie en gaan rustig met haar lewe aan.
Wanneer hulle Sondae in die kerk inkom en verby loop, volg al die manne se
oë die blonde kop met die bruingebrande bene. Soms moet die vrouens
iesegrimmig aan hul mans stamp voordat hul ophou kyk en wonder oor
verborge heerlikhede.
Stadigaan taan die belangstelling en begin dinge hul gewone gang gaan. Nat kleikruike staan by die dokter se huis in die venster van die ateljee, en soms kan 'n kleurvolle woeste skildery deur die dun gordyn van die studio gesien word. Maar dinge sif stadigaan neer en die lewe word weer normaal.
Tot eendag.... die dag toe sy skons gebak het. Toe gons dit weer met geur
en kleur.
Die Minister van Landbou sou besoek bring aan die dorp en die Burgemeester moet hom onthaal op gasvrye Karoo-manier. Daar word 'n oggendtee en
middagete gereël en almal kry werk. Hare is om skons te maak.
Sy staan die oggend vroeg op, maak 'n draai in haar ateljee en verlustig haar in haar nuutste doek - heerlike goudgeel sonneblomme wat baldadig lag en rondlê op 'n donker greinhouttafel. Sy besef dit word laat. Liewer eers gaan skons bak. Sy trek die geel kombuisgordyntjies toe want die son bak deur die venster en dis klaar al so 'n warm Karoodag. Vinnig meng sy haar beproefde resep (want bak is nie een van haar talente nie!), steek dit in die oond en stel die oondklok.
Sy gaan kamer toe, trek haar groen satyn-pyjamas uit en gaan staan in die
stort. Die lang blonde hare word gewas. Wellustig spoel die louwarm water
oor die aantreklike kurwes.
Toe sy die 'ting' van die oondklok hoor, maak sy vinnig die krane toe, draai 'n
handdoek om haar (sommer die kleintjie want dis die naaste) en hardloop
kombuis toe.
Sy skakel die oond af en net toe sy die oonddeur wil oop maak, hoor sy haar
tuinhekkie oopgaan. AFLEWERING !! In hierdie dorp word vleis en brood en
kruideniersware by jou huis afgelewer. Elke more. En sy het brood bestel.
Vinnig en redelik vervaard, haal sy die skons uit, sit dit op die tafel neer en
draai om. Sy hoor die agterdeur oopgaan. Gelukkig is dit 'n L-vorm kombuis
en is sy nie dadelik sigbaar nie. Haar handdoek val af, maar dis die minste.
Die besemkas onder die trap is die redding!
Sy staan in die skemerdonker kamertjie en hoor hoe die voetstappe nader
kom. Stadig - doelgerig.
Maar hulle stop nie by die tafel om 'n pakkie neer te sit nie!
Nader en nader. Skielik vlieg die deurtjie voor haar oop en staan sy poedelnakend voor die meterman. Sy oë staan stokstyf in sy kop. Hy kan nie glo
wat hy sien nie. Sy probeer met twee hande drie strategiese plekke toehou
slaag nie en sê dan:
"Ag ekskuus, meneer de Wet. Ek het die bakker verwag!"
|