Die punt van die angel

Disclaimer Om te wys dat Onse angeltjie en AMOK 'tande het', soos dit gestel is, plaas ons die volgende verslag wat opgestel is aan die hand van eerstehandse ervaring. Dit kan gesien word as 'n logiese opvolg van sake wat in die eerste uitgawe aangeroer is (in 'n volgende uitgawe sal daar oor Diana - who's dêt? - geskryf word). Indien enigeen belangstel in die projek, 'n bydrae wil maak, of wil deelneem, maak asseblief kontak met die skrywer.

______________

Die onderrig van Afrikaans as niemoedertaal in die afgeleë gebiede van die Oos-Kaap:
'n Verslag

Prof. A. Coetser.
Departement Afrikaans
UNITRA

Inleiding

Die afgeleë gebiede van die Oos-Kaap wat in die titel ter sprake is, verwys spesifiek na streke in die voormalige Transkei. Sedert Augustus 1997 het die skrywer die veertien onderwyskolleges in die genoemde gebied besoek om die moderering van eksamens in veral Afrikaans Kommunikasie te hanteer. Die moderering het op die vier algemene taalvaardighede gekonsentreer, naamlik luister, lees, praat en skryf.

Laerskoolsituasie

In die laerskole heers 'n Babelse verwarring. In sommige skole word Afrikaans onderrig van standerd 1 (graad 3) tot standerd 5 (graad 7). In ander skole word 'n jaar of twee - gewoonlik standerd 3 (graad 5) en/of standerd 4 (graad 6) - vir die onderrig van Afrikaans ingeruim. 'n Groot aantal skole akkommodeer Afrikaans op geen manier nie. Wanneer onderwysers na die rede daarvoor uitgevra word, is die standaardantwoord gewoonlik: "Ons skoolhoof hou nie van Afrikaans nie."

Die voor- en afkeure van die skoolhoof in die bepaling van watter vakke (in hierdie geval 'n taal) by sy/haar skool onderrig mag word en watter nie, is 'n praktyk wat sterk bevraagteken kan word. Trouens, die hele praktyk dat 'n skoolhoof die kurrikulum by sy/haar skool outokraties kan bepaal, behoort hersien te word. Ten einde leerlinge gelyke (en gelykwaardige) geleenthede vir die toekoms te bied, behoort 'n meer eenvormige benadering gevolg te word.

Toestande by hoërskole

Hier is die stand van sake nog verwarrender as by laerskole. By sommige hoërskole word Afrikaans in al die standerds (grade) onderrig, ongeag of die leerlinge kennis van Afrikaans in hulle onderskeie laerskole verwerf het of nie. By ander hoërskole word 'n jaar of twee aan die onderrig afgestaan, terwyl sommige hoër skole geen Afrikaansonderrig plaasvind nie. By 'n hele aantal skole word Afrikaans van standerd 8 (graad 10) af tot standerd 10 (graad 12) onderrig - soms as 'n keusevak en soms verpligtend - ongeag of die leerlinge enige vorige blootstelling aan Afri kaans in die laerskool of andersins gehad het.

Die huidige stand van sake by hoërskole blyk uiters onbevredigend te wees. Hoërskoolhoofde het, soos hulle laerskooleweknieë, feitlik alleenmag om te besluit watter vakke (in hierdie geval 'n taal) by die betrokke skool onderrig word en watter nie. Sommige leerlinge wil Afrikaans neem (of hulle ouers wil daardie keuse uitoefen), maar die skoolhoof wil dit nie toelaat nie. Die omgekeerde is egter ook waar: by sommige skole word leerlinge verplig om Afrikaans te neem, terwyl hulle eerder 'n keuse wil uitoefen. Die Oos-Kaapse Onderwysdepartement sal 'n bevredigender bedeling in hiedie verband moet uitwerk.

Onderwyskolleges

Die situasie by die onderskeie onderwyskolleges is in die meeste gevalle begrensingswaardig, om dit sag te stel. By drie onderwyskolleges is moedertaalsprekerdosente beskikbaar om Afrikaans aan studente te onderrig. By hierdie kolleges gaan dit onder omstandighede (waarna later verwys sal word) oor die algemeen goed met die onderrig van Afrikaans.

By die res van die kolleges word Afrikaans deur niemoedertaalsprekers onderrig. Hierdie dosente beskik oor wisselende grade van Afrikaansvaardigheid - van baie goed tot werklik swak. Sommiges kan nie eers korrek groet in Afrikaans nie. By die meeste kolleges is geen sillabusse beskikbaar nie. Die meeste dosente maak in elk geval van geen sillabus of program gebruik nie; anders gestel: onderrig vind op 'n ad hoc-basis plaas, wanneer dit plaasvind.

Hierby aansluitend moet vermeld word dat daar geen uniformiteit bestaan wat betref die aantal periodes wat per week aan verskillende vakke toegestaan word nie. By sommige onderwyskolleges word een periode per week aan Afrikaans toegestaan, terwyl by ander kolleges twee of drie periodes per week die norm is. Dit bring wisselende standaarde teweeg, wat soms teen die aspirant-onderwysers kan tel by aansoeke vir en aanstelling in poste. Vir die onderrig van Xhosa en Engels word sewe of agt periodes per week beskikbaar gestel. Gesien die omstandighede en behoeftes behoort die periodes ten minste gelykop tussen die drie amptelike tale van die Oos-Kaap verdeel te word.

Dit is egter die studente se posisie wat my die meeste raak. Hulle wil in die meeste gevalle graag Afrikaans - as keusevak of verpligtend - neem, maar weens die gebrekkige blootstelling aan Afrikaans op skoolvlak (soms die totale afwesigheid daarvan) verloor hulle moed, of hulle ontwikkel selfs 'n vyandige gevoel teenoor die vak. Ek was verbaas om die toegeneëntheid waar te neem toe ek by 'n paar gevalle die groot ooreenkomstes tussen Afrikaans en Xhosa aan die studente uitgewys het en aan die hand van moderne onderrigmetodes met die studente begin gesels het.

AANBEVELINGS

Ek gaan eersdaags met die Oos-Kaapse onderwysamptenare op die hoogste vlak 'n gesprek voer oor die toestand soos hierbo geskets. Die goedkeuring van die Amok-bestuurslede is reeds verkry om hulle steun aan hierdie inisiatief te vermeld. Enkele van die aanbevelings wat die skrywer aan die Oos-Kaapse onderwysamptenare wil voorlê, is:

  1. Die aanstelling van vakadviseurs vir Afrikaans vir die laer- en hoërskole moet die hoogste prioriteit geniet.

  2. 'n Haalbare beleid vir die onderrig van Afrikaans in die laer en hoërskole (en wat die belange van die leerlinge vooropstel) moet uitgewerk en toegepas word.

  3. Sillabusse wat relevant vir onderwyskolleges is, moet uitgewerk word deur mense wat vertroud is met die omstandighede.

  4. Die opgradering van onderwysers en dosente moet volgens 'n gereelde program plaasvind.

As waardering dat u die stuk hierbo gelees het, bied ons u 'n eerste kyk na 'n egte AMOK-kunswerk:

Amoknotule


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/punt.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]