Streek en teks IV
Eietydse skrywers uit die Oos-Kaap


VAN OUDTSHOORN NA OXFORD:
ARTHUR NORTJE (1942-1970)

                        	I lie and listen to the rain 
				hours before full dawn brings
                        	forward a further day and winter sun
                        	here in a land where rhythm fails.

Disclaimer Biografies

Arthur Kenneth Nortje is in 1942 in Oudtshoorn gebore. Hy en sy ma verhuis vroeg reeds na Port Elizabeth, waar hy grootword. Tydens sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Patterson in Port Elizabeth oefen die digter-aktivis, Dennis Brutus (sy Engelse onderwyser) 'n sterk vormende, rigtinggewende invloed op hom en veral sy skryfwerk uit. Nortje studeer eers aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en na 'n kort periode as onderwyser aan die Suideinde Hoërskool in Port Elizabeth vertrek hy in 1965 met 'n studiebeurs na Oxford. Later gee hy twee jaar onderwys in Kanada en keer in 1970 weer terug na Oxford vir verdere studie. Teen die einde van dieselfde jaar word hy dood gevind in sy losiesplek as gevolg van 'n oordosis slaappille. Die oorsaak van sy dood bly onduidelik - selfmoord of 'n ongeluk? Na sy dood verskyn twee bundels, Dead Roots en Lonely against the Light, beide in 1973.
Hoewel Arthur Nortje so vroeg dood is, op agt en twintig, het van sy gedigte wyd-versprei in baie bloemlesings verskyn (The Return of the Amasi Bird, Chapman se A Century of South African Poetry, Feinberg se Poets to the People, Van Wyk Smith se Shades of Adamastor, Butler en Mann se A New Book of South African Verse in English, Stephen Gray se The Penguin Book of Southern African Verse.) Weens die onverkrygbaarheid van sy bundels, is dit ongelukkig ook die enigste toegang wat die meeste lesers tot sy oeuvre het - 'n enkele vers hier en daar versprei. In Port Elizabeth se biblioteke soek mens vergeefs na Nortje se digbundels. En tog het Nortje sy kinderdae en jeug in Port Elizabeth deurgebring en skryf hy uitgebreid oor die stad en omgewing. Watter kil kommentaar op die argelose houding van die gemeenskap teenoor sy mense se kulturele produkte, sy letterkunde!
Alles dui daarop dat Nortje, gebore in Oudtshoorn, 'n duidelik Afrikaanse oorsprong gehad het, soos die ander beroemde Suid-Afrikaanse skrywer, Peter Abrahams. Maar omstandighede, die politieke bestel, en veral bevoordeling op grond van ras, het beide genoop om uitsluitlik in Engels te skryf , waarskynlik as 'n daad van verset. (Sy oud-onderwyser, Dennis Brutus, het in die vroeë negentigerjare by 'n eerste terugkeer na Suid-Afrika in Durban ook geweier om Afrikaans te praat.)

Digterlike uitbeelding van kinderdae

In die gedig "Casualty" kry die leser 'n klein flitsbeeld van sy herkoms en kinderdae:

My mother always hung upon the steam
of samp in soldered pots
and pumped the primus stove to drown my questions
(...)

I shall be true eternally towards
my father Jew, who forked the war-time virgins:
I shall die at war with women (...)

(Dead Roots:34-35)
Volgens hierdie digterlike uitbeelding is die moeder arm (sy kook armmanskos, "samp", in gesoldeerde, heelgemaakte potte, op 'n armmansstofie, 'n "primus") en die vader 'n 'womanising" Jood. Met die stoom van die kos en die pompaksie van die stofie het sy moeder sy vrae probeer vermy. Dat sy herkoms problematies is, blyk uit die self-negerende, verbeelde beskrywing van sy eie geboorte:
My devil is the bastard of desires (...)
(...)
The brown lice are buried in old mattresses:
They smothered, feeding sweetly in my highways.
And the rats peeped from hiding when
The scissored bag had spilled me like a wombscrape.
Die woord "bastard" kom obsessief in Nortje se gedigte voor as verwysing na sy eie identiteit. Dat hy daarmee nie net na sy "maternal mixed-blood life" (Dead Roots, 104) as sogenaamde Kleurling van sy ma se kant verwys nie, maar ook letterlik dui op homself as kind van 'n ongehude moeder ('n 'baster-kind'), lyk waarskynlik in die konteks van die gedig . Die beskrywing van die spreker se geboorte in "Casualty" as iets verwant aan 'n aborsie ("a wombscrape"), dui op intense self-haat. Daarby is die toeskouers by hierdie 'oopsny' van die baarmoeder-sak ("the scissored bag") nie verwagtingsvolle, liefdevolle familie nie, maar rotte, die draers van pes en inwoners van armoedige wonings. Dat sy lewe ("my highways") boonop begelei is deur bruin luise in ou matrasse ("brown lice buried in old mattresses") bied 'n beeld van sy vroeëre lewe as sou dit afgespeel het in 'n besonder onvriendelike, onbewoonbare ruimte. (Hoeveel hiervan dramatiese aanskoulikheid van die digterlike verbeelding, en hoeveel weergawe van die werklike lewe is, sal verdere navorsing moet uitwys.)
In kontras daarmee ontsnap hy na Londen, waar hy nie meer "samp" nie maar "scotch egg" ('n Skotse delikatesse) eet en 'n "golden bitter" (Guinness bier) drink in Londen in die lente ("the budding sun of April throbs") terwyl hy van 'n lastige meisie ontsnap ("beyond the moaning distance of a girl"). Die titel van die gedig suggereer dat die spreker sélf die "casualty" is waarna in die titel verwys word. Hy is die 'baarmoederskraapsel', eintlik gedoem tot die dood, wat toevallig bly lewe het, en vanuit die armoede (die rot- en luis-geïnfesteerde ruimtes) van sy kinderdae ontsnap het na 'n romantiese lente-belewing as wêreldburger in Londen.

Port Elizabeth-verse

Merkwaardig veral weens hul onbekendheid is 'n groepie gedigte in Dead Roots uit 1965, spesifiek in en oor Port Elizabeth geskryf : "Absence of love"(p.20), "Windscape" (p.21), "Fading light" (p.22). In "Absence of love" verwys die spreker na die hart as barre grond "where roots have struggled and died". Die sterkste van hierdie groepie vroeë gedigte is egter "Windscape (ek haal slegs die inset en die slot aan):

Air-swept slopes of straining weed
plunge dimly to the dung-dry rocks,
shore cowers under the bilious sky.
The oil-scummed green sea heaves and slides
below my view from concrete heights
in struggle with the lurching wind.
Chopping into the curve the white surge
sprawls among boats in frothing nipples.

(...)
The wild slut howls for rain
to soothe her caked and aching hollows.

Port Elizabeth, 1965
(Dead Roots: 21)
Die stormwind-geteisterde stad word as 'n hoer beskryf , teen die agtergrond van die wilde, vuil see. Opvallend is die ooreekoms in stadsbeelding met Breytenbach se "Tot siens, Kaapstad" (Kouevuur, 1969):
swart ondier met jou rug op 'n hoop: berg
(...)
as jy 'n vrou was sou ek uit oor die geure
van jou pokvel en klotskliere kon wei
lieflike oerhoer
slet flerrie sloerie feeks
maar jy is nie eens 'n moeder nie
jy's 'n selfmoord in aborsie
spuitwonde water tussen kaai en dye van hierdie boot
my kaap, menskaap, kaaplief, hartkaap
(Kouevuur, 23)
Nortje skryf 'n afskeidsgedig voor sy finale vertrek uit Suid-Afrika oor die stad waar hy grootgeword het in die titel reeds getipeer as die "winderige stad". Breytenbach as balling, skryf na 'n vlugtige aandoen by Kaapstad. Nortje neem redelik afstandelik waar (die titel suggereer verwantskap met Gerald Manley Hopkins se "inscapes") sonder klaarblyklike suggestie van aanhanklikheid of geworteldheid. Die enigste teken dat die leser hier met 'n afskeidsvers te make het, word gesuggereer in die tweede laaste strofe:
Hug
walls and walk flat and
anticipate but don't look back
or spit in the sun's pale skimming face.
(Dead Roots: 21; my beklemtoning)
Breytenbach skryf 'n nostalgiese liefdesvers oor verlies van sy geliefde stad "aan boord die S.S. Imperio" op pad weg, terug na Frankryk.

Vroeë dood

As talentvolle jong skrywer sterf die jeugdige Nortje, soos Nat Nakasa (1937-1965), voortydig en in ballingskap. Sy oeuvre, versamel in die twee postume bundels, gee blyke van 'n sterk digterlike talent wat beslis verder sou ontwikkel het as hy langer geleef het. Wat ons nou het, is twee donker-gestemde bundels, gevul met meesal melancholiese verse oor 'n misplaaste banneling vir wie die "ritme gefaal" het.

Sentrale motiewe in oeuvre

Sentrale motiewe in Nortje se gedigte is die dood; vrees, asook alleenheid, melancholie, stilte, isolasie; sy obsessie met sy gemengde, 'baster' afkoms (aanvanklik 'bruin', later toenemend 'swart'), en die ontwortelde staat waarin hy verkeer ("the root of memory expunged", "roots are severed", "roots grip stone soil").
Dead Roots en Lonely against the Light getuig van 'n besondere digterlike talent, hoewel verse dikwels ongelyk in kwaliteit is, en neig tot woord-oordaad of woordrykheid.

Ras- en klasmotiewe

Gedigte soos "Dogsbody halfbreed" ("I, hybrid ( ) being dogsbody") en "All hungers pass away" (beide in Dead Roots) het as tema die bitterheid van die "halfbreed". Dié tema van "die vloekstraf van (...) die donker huid" (soos dit geformuleer is in die vroeër werk van S.V. Petersen) is kenmerkend van 'n periode vóór die radikale wending wat die opkoms van die Black Consciousness-beweging gebring het in die denke oor rasse-vooroordele in Suid- Afrika.
Sy vroeë gedigte, soos "Thumbing a lift" (op agtienjarige ouderdom in Port Elizabeth geskryf, en die eerste gedig in Dead Roots), getuig alreeds van 'n intense gevoel van vervreemding, geassosieer met sy bruin huidskleur:

Cars pass by the thin thing of my brown thumb
(my beklemtoning)
Die frustrasie van sy magteloosheid binne die apartheidstelsel word waarskynlik nêrens meer emosioneel en intens uitgedruk as in hierdie jeugdige vers, gebaseer op praktiese ervaring nie:
I scream in sad fury for movement home.
They ignore me, mama, they and their crazy
Machines, bright machines. Past this wheedling tramp
Cars swish and whizz in dust-whirling frenzy.
(Dead Roots: 1; my beklemtoning)
Die skeiding tussen wit en bruin/swart word in "Thumbing a lift" ook as 'n skeiding tussen ryk en arm gesuggereer. Die rykdom van 'n luukse motor suggereer 'n ander lewensstyl as dié van die "wheedling tramp" :
Cars wish and whizz in dust-whirling frenzy.

To be but a sliver of velocity pillioned,
Exquisitely frozen in foam-rubber pose;
Or dreamily sculptored in lavish freedom,
Trading vague pleasantries, parading poise

Tien jaar later, in die laaste gedig gebundel in Dead Roots, "All hungers pass away", is dit duidelik dat Nortje in Engeland wel 'deurgedring' het tot die ryker klasse met hul "sherry circuit" en "famous viands", maar dat dit hom ook nie bevredig het nie:
Fat hardened in the mouth,
famous viands tasted like ash;
the mornings-after of a sweet escape
ended over bangers and mash.

I gave those pleasures up,
the sherry circuit, arms of a bland girl.
Drakensberg lies swathed in gloom,
starvation stalks the farms of the Transvaal.

(Dead Roots: 146)
Die verlore vaderland

Die obsessie met sy vaderland bly soos 'n fantasma in die gesuggereerde bewussynstroom van die spreker sigself na vore dring in gedig na gedig. Hier doem die Drakensberge op uit die niet, maar die assosiasie is donkergestemd: "swathed in gloom". Die plase van die Transvaal roep as troop die assosiasie van verlange na die beste van die vaderland op, soos in die volksliedjie, "Sarie Marais": "Neem my terug na die ou Transvaal". In Nortje se finale gedig word hierdie assosiasie egter ook oorstem deur verwording: "starvation stalks the farms of the Transvaal". En daarom is selfs sy "kopreise" terug na die bekende, om die ander beroemde balling, en generasiegenoot, Breyten Breytenbach se terminologie te gebruik, 'besmet' met bitterheid:

What consolation comes
drops away in bitterness.
Arthur Nortje was soos baie digters in ballingskap steeds geobsedeer met sy land van herkoms soos duidelik blyk in "Native's letter":
Harping on the nettles of his melancholy,
keening on the blue strings of the blood,
he will delve into mythologies perhaps
call up spirits through the night.

Or carry memories apocryphal
of Tshaka, Hendrik Witbooi, Adam Kok,
of the Xhosa nations's dream
as he moonlights in another country

(Dead Roots: 117)
Die assosiasie met die vaderland in die werk van skrywers-in-ballingskap soos Breyten Breytenbach, Barend J. Toerien en Eskia Mphahlele is meesal tweekantig: liefde en verlange na die land, vriende en familie, met afsku vir die politieke bestel. In Nortje se poësie oorheers die verwordings-assosiasies en die gewalgdheid met die armoede, en teen-natuurlike toestand van apartheid, hoewel hy in gedig na gedig terugkeer na die land en assosiasie daarmee. "Native's letter" eindig met 'n soort digterlike testament, weer baie donker gestem, van hoe hy onthou wil word (hierdie obsessie met die dood lank voor die werklike dood, is ook 'n sentrale fokus in die poësie van Ingrid Jonker):
Darksome, whoever dies
in the malaise of my dear land
remember me at swim,
the moving waters spilling through my eyes
:
and let no amnesia
attack at fire hour:
for some of us must storm the castles
some define the happening.
(my beklemtoning)
Die beeld van "the moving waters spilling through my eyes" suggereer 'n waterdood soos verbeeld in The Waste Land (1922) van T.S. Eliot met die refrein-agtige herhaling van die Shakespeareaanse frase "those are pearls that were his eyes". Nortje se uitbeelding van homself as "at swim", en dat hy so onthou wil word, suggereer sowel die waters van die onderbewussyn, as verdrinking. Dit is miskien ook nie toevallig dat water in die vorm van reën ook 'n sentrale beeld in sy laaste gedig, "All hungers pass away", is nie: "I lie and listen to the rain/hours before full dawn brings/forward a further day and winter sun". Die nagtelike gemymer by aanhoor van die reën, suggereer ook 'n half-bewuste staat - alles met intense bewustheid van hoe "ritme faal" in sy land van domisilie.

Politieke motief

In die gedig "Autopsy" (gedateer September 1966 toe Nortje 24 jaar oud was) word Suid-Afrika beskryf as 'n blonde reus wat sy "black stepchildren" uitvomeer as 'onverteerbaar'. Daar is ook sprake van 'n "succubus", 'n vroulike demoon, "who had taught them proudness of tongue". Dis moeilik om in dié vroulike demoon wat trotsheid vir die taal leer, iets anders te lees as 'n verwysing na Afrikaans, die "moeder"-taal. Dié "succubus" drink dan 'n "purgative to justify the wrong" met ander woorde om via die anus ontslae te raak van die "black stepchildren" (Dead Roots:.52).
Hoewel die beeldspraak in "Autopsy" kru is en nie altyd oortuig nie, is dit as 'lykskouing' van politieke ballinge uit Suid-Afrika 'n treffende en ontstellende uitbeelding van die emosionele en psigologiese skade wat apartheid aangerig het:

In the town I've acquired
arrive the broken guerillas, gaunt and cautious,
exit visa in their rifled pockets
and no more making like Marx
for the British Museum in the nineteenth century,
damned: the dark princes, burnt and offered
to the four winds, to the salt-eyed seas. To their earth
unreturnable.
(Dead Roots:52)
Ballingskap

Die tragedie van die vroeë dood van Arthur Nortje herinner aan ander Suid-Afrikaanse digters soos Ingrid Jonker (1934-1965) en Nat Nakasa (1937-1965) wat nie hul volle potensiaal kon bereik nie, omdat die dood hul te vroeg ingehaal het. In die geval van Nakasa en Nortje het die politieke bestel veel met die ongelukkige kwaliteit van hul lewens te doen gehad. Nortje se ballingskap was nie net 'n fisiese ballingskap nie.

Neiging tot psigoanalitiese, outobiografiese lesings

Dead Roots is na Nortje se dood versorg deur Heinemann-uitgewers en vriende van die ontslape digter. Die verse is almal chronologies gerangskik, met "Thumbing a lift" gedateer "South Africa, 1960-61", en met een van sy laaste gedigte, "All hungers pass away" gedateer "Oxford, November 1970". Dié chronologiese ordening lei die leser dus om die bundel as 'n soort joernaal te lees, en 'verlei' die leser waarskynlik ook om psigoanalities te lees, as sou Dead Roots hoofsaaklik die verslag van Nortje se psigiese en emosionele ervarings wees. Veral teen die agtergrond van sy raaiselagtige, onverklaarde dood, is hierdie lesing van die jong, tragiese digterslewe feitlik in die hand gegee. Dat die gedigte ook toenemend aanduidings gee van 'n spreker wat ly aan insomnia, benzedrien-verslawing, alkohol-misbruik en angs-aanvalle neig om lesings van sy gedigte in dié joernaal-opset te reduseer tot psigoanalitiese dokumente.

Studies oor Nortje se poësie

Van die paar bestaande studies oor Nortje se poësie is Chapman se 1979-artikel in English in Africa, "Arthur Nortje: Poet of Exile" nog die indringendste, en mees oorsigtelike, waarin die kritikus die minste verlei word tot slegs psigoanalitiese reduktiewe lees. (Dié artikel is later opgeneem in sy boek, South African English Poetry. A Modern Perspective, 1984). Hy kom tot die volgende slotsom:

It is rare, however, to find any one poem that is entirely successful, and the reader is often left with tantalising fragments. Despite Nortje's insistence on craftsmanship, his own gift of the memorable phrase is as likely to give way to bathos, while the telling image may be overwhelmed by unnecessary epithets and scatological references

(Chapman 1984: 248),

en:
A great deal of Nortje's work is juvenile. Yet, his poetry is intensely interesting and his contribution to South African literature an adventurous one.

(Chapman 1984: 250)

Jacques Berthoud het ook in 1984 oor Nortje geskryf in "Poetry in Exile: The Case of Arthur Nortje". Meer onlangs is daar David Bunn se studie oor Nortje se poësie as 'n internalisering van die afwesige landskap (1996), terwyl Dirk Klopper in "Arthur Nortje and the Unhomely" (1998) as vertrekpunt die verhouding tussen self en gemeenskap neem en Nortje se werk (ook ongepubliseerde materiaal by UNISA) psigoanalities analiseer teen die agtergrond van die verlies van die primordiale objek van die liefde:
Separation from the object of love, and the sense of incompletion, of division and isolation, to which such separation gives rise, is in fact a dominant theme in Nortje's poetry. Sense of personal loss predates Nortje's actual physical exile

(Klopper 1998:167).

Slot

Die poësie van Arthur Nortje kan getipeer word as verwikkeld en modernisties. Die invloed van T.S.Eliot is opvallend in van die vroeëre werk in Dead Roots (vergelyk Eliot se "Preludes" met "Winter: Oxford, 1966"). Gaandeweg ontwikkel hy toenemend egter 'n kru-skatologiese en ek-gerigte idiolek (anders as Eliot met sy 'maskers', 'personae' en depersonifikasie), waarin die nagmerrie van die lydende, neurotiese psige in die laat-twintigste eeuse maatskappy sentraal staan.
Sy latere kunsteorie word verwoord in "Natural sinner":

I have preyed on my emotions like a mantis
(...) how the glut
of worms in meat has forced verse from my bones.
(Dead Roots:137)
Die digter-spreker se gevoelens dien as 'jagveld' vir sy poësie .'n Verwante idee kry ons in D.J. Opperman se kunsteoretiese opstel, "Kuns is boos!"(Wiggelstok, 1959) - die digter is twee-in-een: kunstenaar en mens, en die kunstenaar 'teer' op die mens se ervarings en emosies as ru-materiaal vir sy kuns. Die idee dat die self, die subjek se lyf soos vleis vol maaiers is, en dat hierdie teennatuurlike staat van verrotting van die versiekte liggaam die verse uit sy bene pers, is egter 'n skatologiese beeld wat nader staan aan die tipe beelding in die poësie van Breytenbach en Rimbaud.
Tydgenootlike digters van Nortje in Suid-Afrika was S.V. Petersen, P.J. Philander, Barend J. Toerien, N.P. van Wyk Louw, Adam Small, Dennis Brutus, Breyten Breytenbach, Mafika Gwala, Wilhelm Knobel, Mazisi Kunene en Oswald Mtshali. Hoewel Nortje soos ander bruin digters ook in sy poësie dikwels fokus op die bruinmense as "black stepchildren" (Dead Roots: 52; na die gelykluidende God's Stepchildren, die titel van 'n roman deur Sarah Gertrude Millin), skryf hy 'n geheel ander tipe poësie as Petersen of Philander wat in die grondstemming sterk Calvinisties- en konkreet-gerig is. Sy poësie het ook nie die kollektiewe stem van Small in Kitaar my kruis (1962) nie. Dit is intens persoonlike verse, gerig op die lydende subjek en sy psigiese nagmerrie. In dié opsig is Nortje se werk meer verwant aan die poësie van Ingrid Jonker waar motiewe soos dood, nagmerrie, lyding, afsondering of afgesnydheid van die gemeenskap en die geliefde dikwels sentraal staan. Wat die ek-gerigtheid en die skatologiese, kru beelding betref (vergelyk "the glut of worms in meat has forced verse from my bones") toon Nortje se verse die intiemste verband met die oeuvre van Breytenbach ("julle sal my op so 'n nat dag begrawe/as die sooi rou swart vleis is" heet dit in sy eerste vers, "Bedreiging van die siekes" uit 1964).
Dit is met 'n intense gevoel van verlies dat mens vandag die gedigte van Arthur Nortje lees: gestorwe voor hy sy volle potensiaal kon bereik.

Helize van Vuuren

Bibliografie

Berthoud, Jacques. 1984. Poetry and Exile: The Case of Arthur Nortje. English in Africa 11(1):15-40.
Bunn, David. 1996. "Some Alien Native Land": Arthur Nortje, Literary History, and the Body in Exile. World Literature Today:33-44.
Chapman, Michael. 1984. South African English Poetry. A Modern Perspective. Johannesburg: AD. Donker.
Klopper, Dirk. 1998. Arthur Nortje and the Unhomely. Alternation 5(2):166-176.
Nortje, Arthur. 1973. Lonely against the Light. Grahamstown: New Coin.
Nortje, Arthur. 1973. Dead Roots. London: Heinemann Educational.

***

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/nortje.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]