Die hantering van enkele aspekte van die Afrika-kultuur in "Aan die punt van jou arm" deur Engela van Rooyen

INLEIDING

Disclaimer Volgens die samestellers van die bundel kortverhale (KEERPUNT) waarin die teks onder bespreking verskyn, fokus die 26 kortverhale op die " ... wêreld van jongmense op die drumpel van volwassenheid ". Hulle beweer verder dat die tekste " ... net soveel byval by ouer lesers as by jong volwassenes behoort te vind." Hieruit kan dus afgelei word dat hierdie tekste gemik is op of geskik is vir sowel hoërskoolleerlinge as universiteitstudente. Hoe dit ook al sy, die fokus is hier definitief op die jongmens. In die eerste vier kortverhale word vanuit 'n jongmens se perspektief gekyk, anders Buiteblad gestel, die jongmens is die primêre fokalisator : " Die reuk van suurmelk hang swaar in die kombuis. ... Dis nog 'n rede hoekom ek kwaad is vir my ma " (eie klem, p.1); die verteller in die tweede verhaal vertel hoofsaaklik vanuit die ongeveer 25-jarige Helen se perspektief; die derde verhaal open met die volgende sin, " Die naam is George Smith, onderwyser van professie en 'n South African Breweries- ondersteuner deur keuse ! stel ons nuwe wiskunde-onnie homself bekend " (eie klem, p.17); in die vierde verhaal word die primêre fokalisator só beskrywe, " Sizwe voel ongemaklik ... Hy is redelik jonk - vroeg twintig - en pas uit die Universiteit van Fort Hare " (p.24).

Wanneer die Afrika- (vroeër naturel, bantoe en later swart) kultuur in 'n Afrikaanse of ander tot-nog-toe "vreemde" (bv. Engelse) teks betrek word, kan mens nie anders as om skepties teenoor sodanige teks te wees nie. Menige akademikus en literator se verwagte reaksie hierop sal seer sekerlik wees dat dit 'n bevooroordeelde perspektief is en sommige sal dit selfs as rassisties beskou. Dergelike kritici sal daarop wil wys dat Afrikaans, oftewel die Afrikaanse letterkunde, 'n ver end geloop het sedert die dae toe kritici soos Ezekiel Mphahlele dit beskryf het as 'n letterkunde wat die boosheid self uitadem. Mphahlele het destyds o.a. verwys na " the unutterable evil this literature breathes " (aangehaal uit Gerwel, 1985 : p.5).

Literêre tekste (soos enige ander geskrewe teks) word geskryf met die doel om gelees te word. Sodanige lesers kan dan óf diegene wees wat die outeur in gedagte gehad het toe sy/hy die teks geskryf het óf die sg. onbedoelde lesers; eersgenoemde lesers staan bekend as die implisiete- of veronderstelde lesers. Die implisiete leser kan op verskillende maniere in die teks opgeroep word deur o.a. " tekstuele aanwijzingen " (Van Luxemburg et al, 1983 : p.110). In hierdie teks is dit duidelik dat die implisiete leser nie-Xhosasprekend is aangesien daar soms vertalings uit IsiXhosa voorkom, bv., " Abantu abadala ngamaxoki - Die oumense is leuenaars " (p. 76).

In hierdie teks is daar heelwat merkers ("tekstuele aanwijzingen") wat daarop dui dat ons hier met 'n Afrikaanse wêreld te doene het. Die "miscarriage of justice" wat in die hofsaal plaasvind (p.79), plaas die uitbeelding van die Afrika- kultuur in hierdie teks sterk op die voorgrond. Ander Afrikaanse merkers is o.a. die melding dat Zandi op " tradisionele wyse haar mondigwording " gevier het (p.74) ; Eliyasi wat " lank gelede uit die land van die voorvaders moes vlug " en " daarna rioolslote kom grawe (het) hier in Johannesburg " (eie klem, p.75); Oupa wat " nie lobola kan eis nie " (p.75) ; die " pinkie " wat "afgesit is (as) teken van 'n ware Gcaleka " (p.77) ; uitdrukkings uitdrukkings (in vertaling) en beelde/vergelykings wat 'n Afrikaanse atmosfeer skep bv., " En 'n kind wat nie huil nie, sal in die abbavel doodgaan " (p.75) ; Eliyasi het " sy hakskene geabba uit die land uit " (p.77) ; " David se hart slaan soos 'n trom " (p.78).

AFRIKA IN DIE "VREEMDE"

In die meeste Afrikaanse tekste waarin swart karakters figureer word hulle meestal in 'n (vir hulle) "vreemde" milieu geplaas.

Genoemde karakters bevind hulle nie slegs in 'n onvriendelike en intimiderende opset nie, maar word altyd deur die een of ander mag (waaroor hulle gewoonlik geen beheer het nie) gedwing om 'n hopelose en hulpelose bestaan te voer. 'n Klassieke voorbeeld hiervan is F.A. Venter se Swart pelgrim waarin Kolisile, die misplaaste swakkeling, vanuit die staanspoor tot mislukking verdoem is. Dat Kolisile uiteindelik as't ware met sy stert tussen sy bene na die " land " toe sal moet terugkeer is 'n terugkerende motief wat al vroeër gesuggereer word deurdat hy telkens sy nuwe omgewing as die " witman se stad " fokaliseer. Dis is verder veelseggend dat hierdie karakter se naam "tevrede gestel" beteken - die vraag is natuurlik vir wie hy tevrede gestel het ?!

Die spreekwoordelike spook van Kolisile verskyn in hierdie teks in die gedaante van Eliyasi, Oupa en David wat drie geslagte verteenwoordig - onbeholpe swakkelinge met onoorkombare probleme, enkelinge wat magteloos staan voor 'n onafwendbare nederlaag. Eliyasi moes " lank gelede uit die land van die voorvaders (...) vlug " en hy " en sy seuns het daarna rioolslote kom grawe hier in Johannesburg " (p.75). Al waarvoor Oupa skynbaar nog lewe, is om wraak te neem teen ene Koko Sedubedube wat glo verantwoordelik is vir drie geslagte se ellendes. Volgens Oupa sal " niks ooit (...) regkom voordat Koko Sedubedube se nageslag gestraf is nie " (p.77).

Vanuit 'n manlik-georiënteerde/patriargale oogpunt is die eerste kennismaking met David 'n klinkende skending van sy manlikheid - hy word dus vanuit die staanspoor ontman, gekastreer : " David roer die pap op die rokende primus. Hy is die een wat smôrens alles in die sinkhuis aan die gang kry. Dis die minste wat hy kan doen. Hy bring nie geld in nie. Hy moet teer op die geldjies wat sy suster inbring en op die oumense se pensioen "(eie klem, p.74). David word hier gefokaliseer as 'n swakkeling wat op die "swakker" lede (gesien volgens ingewortelde sosiale norme) van die familie-eenheid teer. Let in hierdie verband veral op die beklemtoonde gedeelte van die laaste aangehaalde sin. Terwyl David in die huis werskaf en oor sy talle probleme tob - hy is boonop die aangewese persoon om wraak te neem wanneer Koko se nageslag gevind sou word - is sy suster Zandi die een wat gaan werk soek en dit blykbaar uiteindelik kry : " Dan sien hy vir Zandi in die straat aankom. Haar kop is haastiger as haar voete, en haar handsak swaai hoog " (p.79).

Vanuit 'n feministiese perspektief beskou is hierdie kortverhaal 'n prysenswaardige uitbeelding van die moderne vrou wat die inisiatief/leiding neem en sukses behaal terwyl die man letterlik in die kombuis bly. Vgl. in hierdie verband die volgende : " David roer die pap op die rokende primus. Hy is die een wat smôrens alles in die sinkhuis aan die gang kry " ... " Dis wasdag en die sinkbadjie staan reg. David weet hy sal moet help " (p.74). Hierdie 'omkering' (gesien vanuit 'n patriargale oogpunt) van rolle kan vanuit 'n feministiese oogpunt beskou gesien word as 'n positiewe verwikkeling beskou word, veral omdat dit 'n swart vrou is wat hier die pas aangee en as broodwinnaar(es ?) fungeer. Wat egter hierdie stap vooruit, nl. die uitbeelding van 'n swart vrou skynbaar in beheer van haar lewe, kan negeer, is die suggestie dat Zandi vroeër 'n pos verloor het omdat die oumense meer waarde geheg het aan tradisionele funksies : " Laas toe daar 'n pos oop was, was sy land toe om op tradisionele wyse haar mondigwording te vier " (p.74). Dit wil voorkom asof die fokalisator dit hier nie juis teen mondigwording het nie, maar daarteen dat dit juis op tradisionele wyse moes geskied. Sou sy miskien die pos gekry het as as die mondigwordingsfunksie volgens Westerse norme (sleutel wat op 21ste verjaardag oorhandig word) plaasgevind het ? Die doel van soortgelyke funksies (inisiasie in man-wees vir jong seuns) in die Afrika-kultuur is miskien onbekend (onbenullig ?) in die Westerse "beskawing", maar van kardinale belang vir die beoefenaars daarvan. Die doel is juis om die geïnisieerde voor te berei op die grootmenslewe en om die pad vorentoe as't ware vir die 'kandidaat' "oop te maak" - veral vir iemand wat op die drumpel van 'n nuwe lewe/pos staan ?

Terwyl Zandi 'n Afrika-naam gegee is, is dit opvallend dat haar broer 'n Westerse (doop- ?) naam het, nl. David. Vanuit 'n funksionele oogpunt beskou pas David se naam hier in die rol wat hy vervul as fokalisator van antitradisionele sentimente. David se fokalisering van die tradisionele mondigwording as synde die " kroon ... op (Zandi se) onderdanigheid van al die jare ", is nie net feitelik onjuis nie maar dui op 'n negatiewe houding jeens tradisionele funksies. David se houding kan maklik toegeskryf word aan die feit dat hy 'n stedeling is en kwansuis 'n meer Westerse lewenstyl sou hê - weereens gebaseer op die valse aanname dat "swart stedelinge" (die sogenaamde "urban black") oor die algemeen antitradisie is.

Die oumense, en dus ook die " land ", word hier negatief uitgebeeld as draers van waardes wat nie in die moderne wêreld pas nie. Oupa se enigste dryfkrag skyn te wees om wraak te neem - boonop is dit 'n uitgemaakte saak dat hy die uitvoering van hierdie barbaarse taak aan sy kleinseun gedelegeer het. Ouma word gereduseer tot 'n niksseggende robot wat geprogrammeer is om slegs die drie-letter woord, ewe, te uit, bv., wanneer Oupa oor iets kla (ook al waartoe hy in staat is) is haar reaksie slegs " êwe " (p.75), en later is dit weer net " êwe " wanneer Oupa bly is dat Peace (onwetend) na sy wraakplanne sal omsien.

In hierdie teks word verder ook op 'n negatiewe manier verwys na 'n belangrike gebeurtenis in die Afrika-kultuur, naamlik, lobola.

Oupa se enigste belangstelling in sy dogter Peace blyk te wees dat sy (deur lobola) vir hom 'n bron van inkomste kan wees. Hy is dus nie soseer begaan oor die feit dat sy met 'n vreemde man bly nie, wat hom bekommer is die feit dat hy nie lobola kan eis nie: " Nou bly daar 'n vreemde man by haar. Sy trou nie met hom nie, wat beteken dat Oupa nie lobola kan eis nie " (p.75). Die miskenning van die werklike waarde van lobola - hier deur die karakterfokalisator David (wat nie onverwags is nie !) - dui verder op 'n totale aanslag op die Afrika-kultuur.

Lobola is nie slegs 'n finansiële transaksie nie, dit is 'n proses waardeur twee families 'n nuwe oorkoepelende familiale verhouding skep. In lobola is dit nie die bruid se pa wat lobola eis nie, die bruidegom se afvaardiging maak 'n voorstel (nie 'n aanbod nie!) van dit wat hulle bereid is om te gee, nie te betaal nie.

SAMEVATTEND

Hierdie kortverhaal is in sekere opsigte 'n prysenswaardige teks omdat dit 'n poging is om die tradisionele Afrikaanse leser (blanke ?) te laat kennis neem van die bestaan en kultuur- gewoontes van die ander sektor van die reënboognasie. Verder word die jong swart vrou hier op 'n positiewe manier uitgebeeld as vol selfvertroue, 'n selfstandige en suksesvolle lid van die familie-eenheid. Die blote bestaan van 'n teks wat bogenoemde aspekte aanspreek is 'n positiewe verwikkeling vir die studie (en lekker-lees aktiwiteit) van die Afrikaanse literêre teks, aangesien dit 'n interessante (anderse !) debat kan inisieer of aanmoedig.

Daar is egter ook fundamentele aspekte wat na die negatiewe neig en wat as sodanig uitgelig en aangespreek moet word.

Die feit dat daar na die twee oumense in die teks as Oupa en Ouma verwys word dui daarop dat hulle as verteenwoordigend beskou moet word, m.a.w., hul persepsies en uitlatings is nie karaktergebonde nie maar verteenwoordig hul ras, geslag en herkoms. Die stereotipering van hierdie mense as synde leuenaars (" abantu abadala ngamaxoki "), dikvellig en dom-astrante produkte van die agterlike " land ", kan beskou word as 'n doelbewuste poging om hulle (en alles wat hulle verteenwoordig) in 'n negatiewe lig te stel - wat heel moontlik negatiewe gevoelens gaan wek by jongmense " op die drumpel van volwassenheid ". In die Afrika- kultuur word oumense (en ouderdom) deur hul ervarings beskou as die bron van inligting en dus gerespekteer. Hierdie teks wil egter die jongmense laat neersien op die oumense wat hier as draers van uitgedateerde kultuurgewoontes uitgebeeld word.

Of mens vandag (aan die einde van die twintigste eeu) Mphahlele se vroeëre opmerkings ernstig moet opneem al dan nie, kan die mag van die geskrewe teks om persepsies/houdings te vorm nie onderskat word nie. Daar is huidiglik - in die pasgebore reënboognasie - 'n sterk begeerte om kennis te neem van die 'ander' se lewenswyse. Is die geskrewe teks (wat elkeen teen eie tempo en gerief kan besigtig) dán nie die ideale bron om inligting te bekom oor die 'ander' se kultuur nie? Indien wel, kan ons dit werklik bekostig om negatiewe stereotipes/verkeerde uitbeeldings te propageer ?

Verwysings

Gerwel, J. 1983. Literatuur en apartheid. Kasselsvlei : Kampen

Rode, L. & Gerwel, J.(samests.) 1995. Keerpunt. Kaapstad: Kwela Boeke

Van Luxemburg, J. et al. 1985. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho

Venter F.A. 1958. Swart pelgrim. Kaapstad: Tafelberg.

Mvula Yoyo
Universiteit van Fort Hare


Copyright:  © 1997; 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/kpunt.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]