"' n Man is in die kop geskiet terwyl hy probeer het om geld uit 'n die kluis by 'n privaathuis te steel. 'n Vrou het Dinsdag omstreeks 9:30 nm haar tuin natgespuit toe 'n man wat gewapen was met 'n tuinskêr haar gekonfronteer het. Sy het hom as haar tuinier herken. Die man het haar glo rondgeruk en geld geëis. Sy het gesê dat haar geld in die kluis in haar slaapkamer was. Hy het haar glo na die kamer geneem waar sy hom die sleutels vir die kluis gegee het. Terwyl hy na bewering besig was om die geld uit die kluis te haal, het die vrou haar .34 rewolwer uit haar handsak gehaal en glo drie skote geskiet. Hy is in die kop gewond en het te voet gevlug. ' n Verdagte is sowat 1km van daar deur die honde-eenheid van die polisie in hegtenis geneem en verkeer in 'n ernstige toestand in die hospitaal. Die vrou het beserings aan haar nek en skouers opgedoen. Die kluissleutels en 50 .38 koeëls is steeds soek." |
Sy kry eers lag en word toe kwaad. Dit moet `n simpel ou vrou wees wat in die donker staan en tuin natspuit. En waarom hou sy .38 koeëls aan vir 'n .34 rewolwer? Sy moet seniel wees. Of miskien is die joernalis van sy trollie af: hoe sal hy weet dat 50 koeëls weg is. Die hele berig klink maar flou; dit kan ' n interessante storie wees met veel meer daaragter.
Sy was aangenaam verras dat die kwynende SABC so ' n goeie film soos The Unbearable Lightness of Being gaan vertoon. Sy maak alles klaar, sodat sy net rustig kan geniet, al het sy dit al in die teater gesien. In die aandkoelte dra sy emmers vol afspoelwater op die grasperk uit. Met die droogte en waterbeperkings en 'n swembad wat bygevul moet word, kan sy nie bekostig om die gras nat te spuit nie. Sy haat dit om so te sukkel. Sy haat dit dat sy so verneuk is. Dat sy hier alleen en kaalgestroop op ' n ashoop gestort is, en van die grond af, met niks, haarself weer aan die gang moes kry. Eers fisies ter wille
van oorlewing en daarna emosioneel vir die herwinning van selfrespek. En sy het dit reggekry met haar eie krag en inisiatief, al was dit nie sonder foute nie. Hoe verag sy hom wat dit met sy skynheiligheid en leuens aan haar gedoen het !
Sy gaan met twee emmers water op die agterstoep uit. Haar jong kat sit met gespitste ore na die donker struike en staar, weer besig om die ou kat rond te jaag.
Maar toe sy buk om die emmers leeg te maak, weet sy dat die kat nie besig was om te speel nie: teen die stoeplig kom die lang skaduwees van twee bene na haar toe aan. Eers die gewaarwording van onwerklikheid, toe die lawwe gedagte dat iemand haar ' n poets wil bak. Haar vriende waarsku altyd dat sy onverskillig is; dat sy deure moet sluit en vensters toemaak - nes 'n bang mens. Sy is nie bang nie! Sy wil vry kan beweeg binne haar klein heiligdom.
Nee, dis g' n grap hierdie nie. "Ek kom jou doodmaak. Ek hou jou dop." Oor en oor: "Ek kom jou doodmaak." Waarom is sy so belangrik dat hy haar wil doodmaak?
Sy herken die stem, sien sy gesig vlugtig: grynsend astrant arrogant, soos altyd toe hy meer as twee jaar gelede af en toe vir haar gewerk het. Ook nie eintlik gewerk nie, want hy het meer argumente en nukke gehad as werklus.
Vanaand gaan sy dood; hoe gaan hy dit doen? Toe is hy agter haar, sy stank in haar gesig, sy kloue om haar keel, sy vingers bedrewe om haar gorrel.
Voordat haar asem afgesluit word, kan sy twee-drie keer skreeu: "Help my!" Sy weet nie of dit hoorbaar is nie, haar sintuie funksioneer nie meer behoorlik nie.
Soos sy gebukkend gestaan het, het hulle altwee vooroor geval in die modderwater op die gras, een arm vasgeklem onder haar lyf. Vergeefs probeer sy met haar een hand sy arm wegbeur - sy hande druk net harder om haar gorrel. Langs haar gesig lê ‘n stuk snoeiskêr. Sy kap daarmee oor haar skouer na sy kop, hy gryp dit en smyt dit neer.
Nou is daar geen asem of geluid meer in haar nie. Sy sink weg in totale afwesigheid van bewus wees. So gaan mens dood: geen klokke of goue poorte of selfs ‘n hellevuur nie.
Haar kinders! Soos ‘n warm mes deur botter gaan, word haar lewe van hulle afgesny. Verbasend genoeg, vorm sy woorde, maar sy weet nie of hy haar hoor nie.
"Ek gee jou geld."
"Waar's die geld?"
Hy het gehoor! Sy vingers om haar gorrel verslap.
"In die ‘safe' in my kamer."
"Goed, gee die geld voor ek jou doodmaak."
"Dis baie geld," lieg sy.
"Gee my die geld voor ek jou doodmaak."
Hulle het opgestaan en voordat hulle by die stoepdeur ingaan, skreeu sy weer om hulp. Haar keer is nou so seer dat die geroep nouliks hoorbaar is. Deur die sitkamer lui die telefoon. As sy hulp kon kry!
As haar plan nie werk nie, sal sy hulp nodig hê of sy sal dood wees. Hy pluk haar weg van die foon en hulle gaan in die gang af terwyl hy herhaal: "Gee my die geld voor ek jou doodmaak!"
Sy wil haar hande was wat so vol modder is, maar hy dwing haar slaapkamer toe. Hy moes haar inderdaad deeglik dopgehou het, want hy weet presies waarheen om te gaan.
Wat 'n aaklige gedagte: waar en wanneer het hy haar beloer? Die indringing in haar privaatheid.
In die kamer haal sy haar truie uit die rak en wys hom die kluis agter in die kas.
"Sluit oop."
"Die sleutel is in my handsak." Dié staan op die bed. Hy laat haar verby gaan om die sak te kry. Hy staan by haar oor die sak gebuk en sy soek tussen beursies en sakdoeke en boekies. As haar plan nou skeefloop . . .
Eindelik.
"Sluit oop," sê hy weer.
"Ek bewe te veel, sluit jy self oop."
Nou steur hy hom nie meer aan haar nie. Al sy konsentrasie is op die oopsluit van die kluis.
Sy moet vinniger wees as hy en sy moet dit geluidloos kan doen. Sy staan 'n tree van hom af vasgekeer tussen die kas en die tafel. Onder in haar handsak kry sy haar rewolwer, haal dit uit die sakkie. Toe het hy die kluis oop, staan met die boksie koeëls in sy hand.
"Is die geld hier in?" vra hy.
Sy antwoord nie. Die rewolwer is in haar hande geklem. Sy moet hard trek want tyd vir oorhaal is daar nie.
Die verligting! Die grootste verligting van haar lewe! Drie skote vuur sy na mekaar en hy hardloop uit die kamer in die gang af en weg in die tuin soos hy gekom het.
Twee gedagtes is nou oorheersend: moet hom nie van agter af skiet terwyl hy weghardloop nie, dan is jy in die moeilikheid; en gee vinnig pad voor hy omdraai en die rewolwer gryp!
Sy hardloop by die voordeur uit en oor die straat na die bure waar die deur nog oop staan.
Iemand vat die rewolwer uit haar hand. Iemand bel die polisie. Daaraan het sy nie eens gedink nie; sy het een bloutjie te veel met hulle geloop om hulle ooit weer te vertrou. Al wat sy wil hê, is iemand om haar te help soek na die vuilgoed sodat sy hom kan doodmaak. Die polisie is die huis vol: vingerafdrukke, foto's, bloedmonsters...
Sy het hom raakgeskiet! Miskien gaan hy dood!
Verklarings en telefoonoproepe.
Die moeilikste is om dit rustig en kalm vir haar kinders te vertel, dit so af te water dat hulle nie te bekommerd raak nie.
'n Dag of twee is daar telefoonoproepe, ook van onbekendes. Sy hoor van ander se ondervindings. Sy sien foto's van martelings: ' n baba wat lewend verbrand is, ' n man met ' n pen deur sy kop waaraan hy opgehang is tot hy eindelik gesterf het, 'n kaalgestroopte ou man op sy rug vasgebind met ' n vuur op sy maag brandgemaak.
Haar angs verminder mettertyd. Sy begin trots voel op wat sy weer eens alleen kon regkry. Maar sy voel omgekrap oor die skending van haar vryheid en privaatheid. Laatnag swem en onder die sterre lê met die soet geur van sering en kamferfoelie om haar is verby. Haar emosies loop saam in een helse, oorweldigende haat. Dit word 'n fisiese ding wat so groei dat dit soms uit haar liggaam wil bars. Sy voed en koester dit dat dit 'n dagdroom word waarin sy haarself met 'n masjiengeweer sien misdadigers afmaai wat ry op ry op haar afstorm en voor haar voete neerslaan, onherkenbaar vol gate geskiet. Maande draal verby sonder nuus oor 'n hofsaak. 'n Polisieman sê die tronke is so chaoties, niemand weet wie binne is of wie ontsnap het nie. En sy weet hy sal terugkom, hy sal sy oog wat sy weggeskiet het, kom wreek. Daarmee moet sy saamleef; hoe lank nog?
Sy lees klaar: dit klink beter as die sinnelose koerantberig, dink sy, dit is beter. Dit is immers wat rêrig gebeur het, met háár gebeur het.
Sy staan op om vensters en deure toe te maak want dit het vinnig donker geword, en sy gaan nog 'n nag tegemoet met die woede en haat in haar vertroetel, en haar rewolwer wat haar getrouste vriend geword het, langs haar.
Magriet Retief
|
|
|