Resensie-artikel |
I
Gesig van die liefde: Ingrid Jonker - Johan van Wyk (1999) |
II
Plath, Jonker en Anne Sexton se poësie het my nog altyd geboei en oor al drie se lewens het ek oor die jare heen gedigte geskrywe. Interne verhuising bevat 'n reeks oor Plath en Jonker lê versprei in vele bundels. Sowel as digter as teoretikus vind ek hierdie digteresse interessante 'toetsgevalle'. Johan van Wyk se doktorale proefskrif van 1986, Die dood, die minnaar en die oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks, had 'n belangrike invloed op my denke.
Hierom dan is Van Wyk se studie onontbeerlik vir ons kritiek. Sy proefskrif - my kopie in los blaaie! - het deur die jare al voosgevat geraak en hierdie leser is in die besonder dankbaar vir die publikasie, weliswaar self uitgegee.
Van Wyk verwys (onnodiglik) selfverminderend na die studie, wat net R30, 00 kos, as 'n boekie, en hy publiseer net die biografiese gedeelte, omdat dit die gewone leserspubliek interesseer. Jonker is inderdaad gekanoniseer (Mandela het immers "Die kind" in die parlement voorgelees) en jong lesers is gaande oor haar digkuns. ('n Mens moet egter nou ook nie die gewone leser se kennis oorskat nie. So het iemand een aand in 'n kroeg vir my gevra:"Wat is nou weer die naam van daardie digteres wat by Drieankerbaai verdrink het? O ja, dit was mos Antjie Krog.")
Persoonlik vind hierdie leser dit jammer dat Van Wyk nie die hele studie gepubliseer het nie. Daar verskyn bittermin teoretiese studies in boekvorm en die miljoene bloedlose artikels in tydskrifte gaan dikwels verlore. Of is net agter subsidie-erkenning aan geskryf.
III
Johan van Wyk noem haar "digter van die miskendes". Hy skryf: "Haar poësie is onopgesmuk. Onder haar gedigte is van die mooiste evokasies van die liefde, van die kinderdae en van die misterie van die dood." In 112 bladsye kry die leser 'n helder blik op haar lewe en minder bekende feite soos die moeder se onstabiele geestestoestand word bekend gemaak. NALN is duidelik geraadpleeg en selfs manuskripte word met vers en kapittel betrek.
Johan van Wyk en die promotor André P. Brink se perspektief word gegee op die figuur-Ingrid Jonker. Daar was egter ook 'n ander Jonker; nes 'n ander Plath. Beide digters was ook bekend vir hul selfsug en bitsigheid. Nou ja, groot digters is nie noodwendig groot, kompassievolle of selflose wesens nie en diegene wat die digter se oeuvre aan die digter as mens gelykstel, kan sigself nogals vasloop.
Na 'n digter se dood - veral as dit tragies was - is die eerste reaksie verikonisering. Die digter word ikon; die gedig reliek en die kritiek bewieroking. Alles is oorsaak en gevolg; omdat en opdat.
Johan van Wyk kyk ook deur hierdie bril na Ingrid Jonker en nou weet die teoretikus dat dit haas onmoontlik is om digterlike kaf van digterlike koring te skei met so 'n invalshoek.
Die studie lees vlot, ofskoon Van Wyk soms moeilik en lomp formuleer. Estetika is nie sy eerste uitgangspunt nie, maar eerder 'n psigoanalitiese cum biografistiese speurtog - wat die Kannemeyers en ander ou snare die piep sal laat kry - word verkies.
Maar gun elke diertjie syn kritiese plesiertjie. Daar is tersaaklike inligting (my studente gaan beslis die boek moet aanskaf vir die kursus "Die teks as wond").
Van Wyk betrek ook my gunstelingteoretikus oor die poësie, Harold Bloom, wanneer hy skryf oor die digter se versugting na ewigheid en onsterflikheid. Daar word ook verwys na haar sosiale gewete.
Sy was duidelik nie 'n besielde skolier nie en haar skooluitslae was uiters swak met 'n G vir Aardrykskunde! Sy is dikwels ook haar netheid en opstandigheid betig. Hier kan 'n mens dink aan die feit dat Emily Dickinson eweneens nooit die tyd tot en met oedipalisasie kon lees nie.
Die invloed van D.J. Opperman word deeglik onder die loep geneem. Sou die gedigte dalk daar anders uitgesien het sonder die mentor se raad? In 'n brief na die verskyning van die eerste bundel, het hy baie besware wat 'n mens laat besef dat hy tog nie werklik as mentor fungeer het nie. Hieroor sou 'n mens beslis meer kon skryf. Waarom nie?
Vir my persoonlik is die fassinerendste gedeelte die verhouding met die pa en sy reaksie met die nuus van haar dood. Hier, en soos die moeder se slopende geestesiekte, lê die sleutel vir vele van Jonker se probleme. Ook dit word nie naastenby genoegsaam ontgin nie, veral gedagtig aan 'n seminale studie soos Eileen Simpson se Poets in Their Youth wat 'n verheldering gee van die redes vir die selfmoord van John Berryman en 'n hele tydgenootlike literatuurtydperk in die VSA vir die leser verduidelik.
Na die lees van hierdie studie begryp 'n mens ook Delmore Schwartz se digkuns en die redes vir sy tragiese dood. Ook word die romantiese agonie van 'n gedig soos "In dreams become responsibilities" glashelder en die vroeë kreatiewe stulping verduidelik.
Die redes vir Jonker se selfmoord was banaal. Onder meer het finansiële probleme 'n rol gespeel en sy sou haar woonstel moes verlaat het teen die einde van die maand. Moontlik kon Johann de Lange se gedig oor Jonker hier geplaas word: want wie het Ingrid Jonker vermoor? Dalk dan eerder wat het haar dood gemaak?
Jonker se afwysing van die kleinlike, bloedskendige Afrikaanse bedryf laat 'n mens ril en wonder hoe sy die nou eers benoude bedryf sou ervaar het?
IV
Miskien het dit haas
Bestel van:
Johan van Wyk R30,00 |
Bibliografie
Alvarez, A. 1979. The Savage God. A Study of Suicide. London: Penguin
Hambidge, Joan. 1995. Interne verhuising. Johannesburg: Perskor.
Hughes, Ted. 1999. The Birthday Letters. London: Penguin.
Malcolm, Janet. 1993. The Silent Woman. London: Papermac.
Plath, Sylvia. 1999 (derde uitgawe). Letters Home. London: Penguin.
Simpson, Eileen. 1982 Poets in Their Youth. London: Picador.
Oor die resensent:
Joan Hambidge is medeprofessor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die UK. Sy is digter, romanskrywer, satirikus en polemikus. Sy is tans besig met 'n uitgebreide studie oor gender en 'n literêre whodunnit, Kopïïs. Sy het ook 'n bundel Lykdigte en 'n roman Skoppensboer pas voltooi.
|
|
|