Saartjie Baartman
en die Franse Pers

Edward Burke...

Journalism is literature in a hurry
- Matthew Arnold

Die geval van Saartjie Baartman het begryplik genoeg groot aandag in die Suid-Afrikaanse pers geniet. Die simboliese implikasies vir baie Suid-Afrikaners van so ‘n gebeurtenis is al te duidelik, selfs vir die onbetrokke toeskouer. Disclaimer Maar dit was ook interessant om te sien watter soort reaksie hierdie storie in die Franse pers ontlok het. Aangesien Frankryk in hierdie geval die spreekwoordelike verloorders is, is dit des te meer interessant om te sien of hulle nou goeie of slegte verloorders is. Die koerant is tradisioneel een van die groot debat instansies in Frankryk en dus is dit ook ‘n goeie plek om te begin as mens hierdie reaksie wil probeer peil.

Die Franse pers is ook ‘n boeiende plek om te kyk omdat die historiese verbintenis tussen die Franse pers en die ideale van vryheid en republikanisme baie sterk sou moet wees. Mens dink onmiddellik aan bekende hoofde soos die "J’accuse" van Zola en aan die groot filosofiese diskussies wat in die jare sestig in die Franse pers plaasgevind het. En tegelykertyd dink mens ook aan die ideale van die Franse Opstand wat die moderne republikeinse tradisie gevestig het.
Dit is inderdaad juis hierdie republikeinse beginsels wat die voorbeeld van ‘n vrye pers vir baie ander lande gegee het. En dit is dalk een van die grootste triomfe van Frankryk dat dit ‘n land is wat, ondanks sy sterk tradisie van republikeinse nasionalisme, ‘n resultaat is van 'n opstand. Ook dat sy tog ‘n relatief onafhankelike pers ontwikkel het in teenstelling met ander republikeinse bewegings wie se pers miskien minder lojaal is teenoor die vryheidsbeginsels van die republikanisme.
Maar is die Franse (of enige) pers getrou aan dinge soos beginsels? In sy boek Media Semiotics, behandel Jonathan Bignell die kwessie van hoe ‘n bepaalde kode gebruik word om bepaalde boodskappe oor te bring in die media:

News is not just facts, but (consists of) representations produced in language and other signs like photographs ... Connotation shapes the meaning of a news story and connotations can only be perceived when they belong to coded ways of using signs which the reader can recognize.
Omdat die leser van ‘n koerant dus op ‘n manier geprogrammeer is om ‘n koerantverslag op ‘n bepaalde wyse te interpreteer, kan die manier waarop hierdie verslag gelewer word in ‘n grote mate bepaal watter boodskap die leser kry. Kortom, twee koerante kan dieselfde gebeurtenis op twee heel verskillende maniere beskryf na gelang van die gehoor wat hulle wil bereik.
Maar nie alle onderwerpe en gebeure word in alle koerante opgeneem nie. ‘n Onderwerp wat van ‘n minder algemene belang is, sal waarskynlik minder plek in die meer populêre koerante kry as in die meer intellektuele koerante. Bignell beskryf 12 van die mees gebruiklike kriteria waarvolgens koerante besluit of ‘n onderwerp "nuuswaardig" is of nie:
Frekwensie
Die grote/omvang van die gebeure
Ondubbelsinnigheid
Betekenis vir die lesers
Verwagte gebeure
Onverwagte gebeure
Samehang/Kontinuïteit
Hoeveel plek dit gaan beslaan
Verwysing na elite nasies
Verwysing na elite mense
Verwysing na bekende mense
Verwysing na negatiewe gebeure
Hierdie kriteria saam met ander meer geval-spesifieke kriteria is beslissend by die besluit of ‘n artikel hoegenaamd gepubliseer gaan word of nie. Koerante is dus nie soseer blote inligtingsbronne nie. Hulle kies die inligting wat hulle wil oorbring. ‘n Koerant of tydskrif kan kies om besondere feite weer te gee en hulle dan op ‘n sekere manier te presenteer ten einde ‘n bepaalde boodskap aan ‘n bepaalde leser te gee.
Of ‘n artikel ’n plek in ‘n koerant gaan vind, word dus by implikasie ook nog bepaal deur die "verbeelde gehoor" (imagined audience) wat die koerant/tydskrif probeer bereik en, ook omgekeerd, deur die beeld van sigself wat die koerant wil skep. Dit beteken dat elke koerant ‘n bepaalde ideologie aanhang en dat hierdie ideologie uitdrukking vind in die artikels wat gekies word om gepubliseer te word, netsoos in die wyse waarop hierdie artikels gepresenteer word.

Die Baartman-geval

Die geval van Sarah/Saartjie/Saartje Baartman is van belang insoverre dit ‘n onderwerp is wat vir baie bevolkingsgroepe beide binne en buite Suid Afrika betekenis het. Vir die Franse is dit veral van belang omdat dit die kwessie van kolonialisme aanbetref. Frankryk se koloniale geskiedenis is iets wat vir baie mense nog steeds ‘n heel gevoelige onderwerp is, onder meer omdat baie van Frankryk se gewese kolonies hulle so digby Frankryk bevind: Marokko, Algerië ens, ens. Gekoppel met die feit dat ‘n groot minderheid van die Franse bevolking bestaan uit immigrante uit Frankryk se gewese kolonies, kan mens maklik begryp hoekom die Baartman-geval ‘n besondere waarde het vir die Franse koerant-lesende publiek. Des te meer omdat Saartjie se oorskot nie die enigste is wat in Frankryk se baie musea ‘n tuiste gevind het nie.
As mens dan weer na die aangehaalde punte hierbo kyk, sien jy dat hierdie storie aan baie van daardie stipulasies voldoen, bv.:

Punt 3. Ondubbelsinnigheid - inheemse vrou, slagoffer van kolonialisme;
Punt 4. Betekenisvolle gebeurtenis vir baie lesers - minderheidsgroepe, menseregte groepe;
Punt 7. Kontinuïteit - dit is ‘n storie wat al sedert 1994 (en natuurlik daarvoor) gaande is;
Punt 9. Verwysing na elite nasies en na ‘n negatiewe gebeurtenis - Frankryk en in ‘n sekere mate ook die V.K is hierby betrokke; en
Punt 12. Verwysing na negatiewe gebeure - dit is ‘n storie van iets slegs wat gebeur het.

Vir korante of tydskrifte is dit dus ‘n baie aantreklike storie. Maar dit laat ons nog met die vraag: watter publiek probeer hulle bereik en/of watter boodskap probeer hulle oorbring? Om hierdie vrae te probeer beantwoord, het ek drie van Frankryk se grootste koerante gelees (Le Monde, Libération en Le Figaro) en probeer vasstel wat hulle oor die Baartman geval geskryf het en bowendien om te bepaal hoe hulle dit geskryf het.

Le Monde - die polities korrekte benadering

Wat Frankryk spesifiek betref was dit interessant om te sien welke tydskrifte die polities korrekte benadering van die Baartman geval verkies het en welke dit nie gedoen het nie. Die Franse dagblad Le Monde, ‘n sentrum/linksgesinde koerant, is ‘n interessante voorbeeld. Le Monde is een van Frankryk se twee grootste koerante en word redelik hoog aangeslaan. Sy verslaggewing is meestal ook redelik grondig en onpartydig. Maar met die beriggewing oor Saartjie Baartman se begrafnis was dit egter nie heeltemal die geval nie. Die opskrif van een van die hoofartikels hieroor (Le Monde, 09.08.02) gee reeds die toon van die res van die verslag in hierdie koerant aan:

Victime de deux siècles de colonialisme, Saartje Baartman repose en paix.

[ Slagoffer van twee eeue se kolonialisme, Saartje Baartman rus in vrede ]

En na ‘n inleidende paragraaf oor die begrafnis seremonie, word Saartjie se lewe soos volg beskryf:
Née en 1789, Saartje Baartman était un «spécimen» des particularités morphologiques de son peoples, les Khoïsans, habitants originals de l’Afrique du Sud. La jeune fille avait un postérieur enorme et des organes génitaux protuérants.
[ Gebore in 1789, was Saartje Baartman ‘n exemplaar (specimen) van die morfologiese besonderhede van haar volk, die Khoisan, wat die oospronkelike inwoners van Suid-Afrika was. Die jong meisie had ‘n enorme agterstewe en uitpuilende geslagsorgane. ]
Wat hier opval, is nie alleen dat die storie ‘n element van drama verkry deur te skryf dat die Khoisan die "oorspronkelike inwoners van Suid Afrika was" nie (wat dalk ‘n komende konfrontasie met "nie-oorspronkelike" inwoners suggereer), maar ook dat die byvoeglike naamwoorde wat gebruik word, nie-objektief is ("enorme", "uitpuilende"). Hierdie gevoel van drama en die oordrewe taal skep ‘n beeld van Saartjie, die slagoffer, wat ook versterk word deur die laaste sin van hierdie "biografiese" paragraaf:
Sa «carrière» l’amena ensuite en France, ou elle … finit prostituée et mourut dans la misère avant d’atteindre ses 27 ans.
[ Haar "loopbaan" bring haar vervolgens na Frankryk, waar sy ... die laaste jare van haar lewe as prostituut deurbring en waar sy sterf in die ellende, sonder om die ouderdom van 27 te bereik. ]
Hier sien mens weer dieselfde soort dramatisering van die feite. Deur die woord "loopbaan" tussen aanhalingstekens te skryf, kry hierdie sin ‘n ironiese, byna sarkastiese toon. Die gebruik van die woord "ellende" (la misere) dien ook om die teks ‘n meer dramatiese toon te verleen, alhoewel hierdie bewering deur geen bewys onderskraag word nie.
Die derde paragraaf gaan in die selfde trant voort, beginnend met die sin:
Sa triste histoire ne s’arrêtte pas là.
[ Haar treurige storie eindig nie daar nie. ]
Hierdie sin fungeer as inleiding tot ‘n eweneens emosie-belade paragraaf waarin beskryf word hoe sy na haar dood ontleed en in ‘n museum uitgestal is.
Hoewel Le Monde algemeen erken word as ‘n respektabele koerant, word hier getrag om, al dan nie ‘n tabloid-agtige verslag, wel ‘n meer dramatiese een te lewer as wat ‘n mens by ‘n soortgelyke koerant sou verwag. Die artikel word dus byna ‘n soort roulied vir Saartjie eerder as ‘n objektiewe verslag oor haar lewe.

Libération - die onpartydige, onbetrokke benadering

Libération is, soos sy naam reeds laat blyk, ‘n iewat meer linksgesinde koerant as Le Monde, maar word nes Le Monde ook redelik hoog aangeskryf al is dit dalk die kleinste van die drie koerante. Libération (of Libé vir die kenners!) se artikel oor die Baartman-begrafnis was egter veel meer saaklik en toon niks van die drama van Le Monde nie. Dit was miskien veral omdat dit ‘n agentskap artikel was (Agence France Presse). Die informasie wat gepubliseer is, is natuurlik min of meer bepaal deur die gegewens wat deur die agentskap verskaf is. ‘n Vergelyking van die hoof van hierdie artikel (Libération 09.08.02) met die vorige, toon duidelik die verskil tussen die Le Monde se bydrae en hierdie een:

Les restes de la “Vénus hottentote” inhumés en terre Africaine.
[ Die oorskot van die "Hottentot Venus" word in Suid-Afrikaanse bodem begrawe. ]
Hier is daar geen dramatiese byvoeglike naamwoorde of verwysings na Saartjie se "treurige lewe" te bespeur nie. Hier word haar lewe egter tot ‘n lys gebeurtenisse gereduseer, en gelukkig sonder enige emosionele toevoegings van die skrywer van die artikel.
Niettemin was die situasie ‘n bietjie anders toe die Baartman-wet in Februarie ingevoer is. In ‘n artikel (Libération 21.02.02) met die kop:
Les tribulations de la Vénus hottentote.
[ Die tribulasies van die hottentot Venus (la Venus hottentote) ]
word die Baartman-geval op ‘n meer siniese wyse behandel as in die latere artikel. Maar dit beteken nie dat die ernstigheid, of inderdaad die treurigheid, van die storie onderspeel is nie. Hierdie artikel herinner meer aan die tradisionele Franse joernalistiek met minder aandag gevestig op politieke korrektheid.
Na ‘n grondige inleiding oor die Baartman-geval kry mens ‘n opsomming van die gebeure (die skrywer beskryf met ‘n mooi sinisme die debakel van Baartman se "verlore oorskot") wat tot die nuwe wet gelei het. Wat ook opvallend in hierdie artikel is, is dat dit die enige artikel blyk te wees uit die drie koerante wat ek bestudeer het waar daar twyfel geopper word oor die waarheid van baie van wat oor Saartjie gesê word:
Depuis, ministres, deputés et sénateurs «survictimisent» la pauvre femme. Voilà qu’elle fut battue, prostituée de force… Personne n’en sait rien.
[ Sedertdien (sedert About se voorstel) het ministers, afgevaardigdes, en senatore die arme vrou "oorgevictimiseer." (survictimisent)’ En skielik siedaar, mens het haar geslaan en het haar gedwing om prostituut te word ... (In werklikheid) weet niemand enigiets daarvan nie. ]
Libération se verslaggewing was die beste van die drie koerante en was beide insiggewend en krities, sonder om die kern van die storie te verdof met nuttelose en ongegronde opmerkings.

Le Figaro - die vive la France-benadering

Le Figaro is naas Le Monde die ander groot (in terme van verspreiding) Franse koerant, maar neig na die regse kant van die politieke spektrum. Omdat dat die twee Presidents de la republique tydens die laaste twintig jaar konserwatiste was, is Le Figaro se verslaggewing meestal minder krities oor die regering. In die Baartman-geval word Figaro se verslaggewing gekenmerk deur die neiging om te vra wat met al die ander lande se oorskotte sal gebeur wat in ander franse musea uitgestal word indien Saartjie teruggegee word? En die antwoord, volgens hulle, blyk te wees dat die Baartman-geval die begin sou wees van ‘n stadige ontrafeling van die kern van alle antropologiese uitstallings in Frankryk. Wat moeilik in hierdie artikel bepaal kan word, is of die koerant vir of teen hierdie "onttakeling" van Frankryk se patrimoine was.
Hierdie twyfel word ontwikkel tot ‘n soort sarkasme ten opsigte van Baartman en die ander buitelandse oorskotte in Franse musea. Die hoof van hul artikel oor die toe pas ingevoerde wet van Februarie (Le Figaro 22.02.02) lui:

Aprés la Vénus hottentote, à qui le tour?
[ Na die hottentot Venus, wie kom nog aan die beurt? ]
Die outeur van die artikel slaan reeds aan die begin van die artikel ‘n ietwat siniese toon aan waar sy Saartjie beskryf as:
… la «Vénus hottentote», dotée d’un postérieur trés volumineux.
[ ...die "hottentot Venus", begaaf met ‘n seer lywige agterste. ]
Hierdeur word die erns van die storie verminder deur die gebruik van ‘n byna komiese toon. Die eerste paragraaf gaan soos volg voort:
Saartjie Baartman, la «Vénus hottentote», a eu les honneurs de deux votes sans contestation au Parlement… En réalité cette loi crée un embarras.
[ Saartjie Baartman, die "hottentot Venus", het die eer gekry van twee stemme sonder teenstryd in die Parlement (om die Februarie wet in te voer) ... In werklikheid skep hierdie wet slegs moeilikheid. ]
En hierna gaan die grootste deel van die verslag oor die verskillende meningsverskille tussen verskeie regeringsdepartmente en museum-bestuurders ens. wat by die Baartman-geval betrokke was. Nicolas About self, die man wat Baartman se geval bepleit het, kry min aandag. Inderwaarheid word die ware punt van die artikel eers duidelik uitgespreek in die eindparagraaf. Want na al die gepraat oor die moeilikhede wat die teruggee van Baartman se oorskot en die moontlike teruggee van ander oorskotte gaan skep - word gesuggereer - dalk is dit nie eers in die belang van Suid-Afrika om Baartman se oorskot terug te kry nie. Ook dat die hele aangeleentheid slegs ‘n geval van ‘n soort amptelike hoogmoed was:
…un porte-parole de la communauté Khoïsan…a déclaré que les “funérailles nationales” de Saartjie Baartman vont donner “un nouvel élan a la lutte de la population khoïsane.” Ce qui ne réjouit pas forcément le gouvernement d’Afrique du Sud, en dépit de sa satisfaction officielle.
[ ’n Woordvoerder van die Khoisan gemeenskap ... het verklaar dat die "nasionale begrafnis" van Saartjie Baartman nuwe élan sal verleen aan die stryd van die Khoisan bevolking. Dit is iets wat die Suid-Afrikaanse regering nie noodwendig sal toejuig nie, selfs ondanks haar amptelike tevredenheid. ]
Die boodskap skyn te wees: Saartjie se oorhandiging aan die Suid Afrikaanse bevolking is vir niemand goed nie. Beter dat haar oorskot maar in Frankryk bly...

Slot

As nie-Suid-Afrikaner, kan mens nie help om te dink dat die Baartman-geval op presies dieselfde manier uitgebuit word soos Saartjie self uitgebuit is nie. Net soos elke ander media-gebeurtenis is haar storie gereduseer tot ‘n stel koue gegewens, simbole wat gebruik kan word om hierdie of daardie doelstelling te ondersteun. Mens hoef maar net hierdie simbole in die regte volgorde sit om watter standpunt ookal te onderskraag. In die bogenoemde artikels, behalwe miskien diegene uit Libération, sien mens verskillende maniere van verslag doen, maar altyd met ‘n arriere pensee wat daaragter skuil. Miskien het Bignell gelyk:

News is not just facts ... Connotation shapes the meaning of a news story.
Soos met alle onderdruktes word Saartjie se geval gebruik om geloofwaardigheid aan allerlei standpunte te verleen: "Ons bepleit haar regte ... Ons staan vir wat reg is."
Maar op die ou end is Saartjie vandag presies net soveel ‘n slagoffer van uitbuiting as wat sy byna twee honderd jaar gelede was toe sy op ‘n skip na Engeland gebondel is. Vive la presse libre!

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/franssb.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]