‘n Ware woelgat-leier
'n Onderhoud met Christian Martin

Jason Lloyd...........

Die omstrede Khoi/bruin-aktivis en UDM lid van die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer, Christian Martin, is ‘n man wat nie op sy mond geval is nie. Sy omstrede uitlating verlede jaar (2001) dat bruin mense die 2001 sensus moet boikot om hul ontevredenheid te kenne te gee oor politieke status in die land, het hom in die sop laat beland by sy eie party. Jason Lloyd het by hom gaan uitvind hoekom hy die oproep gedoen het.

Deksels!, dié ou is moeilik... Dis nou die selfverklaarde Khoi/bruinregte-aktivis Christian Martin. Toe ons na ‘n halfuur by ‘n eetplek in die rykmansbuurt Disclaimer Somerstrand in die Baai nog nie diens kry nie, is Martin die bliksem in. "Hierdie swak diens gee my ‘n pyn in die a**." En toe woerts!..met vuur en vlam spring die lekkerbekkige Oos-Kaapse UDM-LPW toe op sy agterpote...op pad na die kelnerin.
Ek onthou hoe hy pas kapsie gemaak het teen sommige bruin mense se aanvaarding dat Engels die lingua franca van Suid-Afrika is. "Jirre broer, ek moet vir jou sê ek staan liewer op my kop, maar Afrikaans is my taal en ek sal dit altyd met ‘n passie praat." En daar laat hoor die bruin kelnerinnertjie: "Sir, how may I help you...?" Net daar staan die man op sy regte, dring aan op Afrikaans en die oorblufte kelnerin moet maar bes gee.
Nie ‘n bratjie wat nonsens vat nie, hierdie Christian Martin. Daarvan is sy politieke loopbaan ook ‘n getuigskrif tot dusver.
In 1997 het Martin die ANC verlaat vir die UDM, ‘n omstrede stap wat hy gemotiveer het met "die bruin mense het na 1994 ‘n raw deal by die ANC gekry. Ook die visie van die UDM dat hy ‘n party vir alle mense is, het my gelok."
Maar verlede jaar het Martin behoorlik die jakkals in die hoenderhok gegooi toe hy die oproep gemaak het aan alle bruin mense dat hulle hul ontevredenheid moet wys met die "miskenning" wat hulle in die land kry deur nie aan Sensus 2001 deel te neem nie.
En in die proses toe gee hy die ANC van sy eie medisyne deur hul eie taktiek (wat hy by hulle geleer het) te gebruik dat jy ‘n voertuig moet het om jou boodskap effektief oor te dra. "Op daardie spesifieke tydstip was Sensus 2001 toe die vehicle om my message oor te dra, omdat dit baie important was vir die land," sê Martin.
Sy uitlating het hom in die moeilikheid laat beland by sy eie party. Hy is tydelik geskors - net om die "gewraakte" uitlating later terug te trek omdat, soos hy dit stel: "na intensiewe en breedvoerige raadpleging is ek oortuig dat my beroep op bruin mense om Sensus 2001 te boikot, teen UDM-beleid was en daarom het ek die versoek teruggetrek."
Volgens Martin het hy sleg gevoel oor sy skorsing omdat hy glo dat die UDM ook die belange van die bruin mense moet bevorder.
Hoekom dan die oproep? "Bruin mense is die eerste inheemse volk van Suid-Afrika, maar hulle word ook die grootste onreg aangedoen. Myns insiens was ons meer onderdruk as die swart mense. Ons onderdrukking strek verder terug as 1652. Ons kom deur ‘n koloniale onderdrukking, deur ‘n apartheidsonderdrukking en selfs vandag word ons mense deur die ANC-regering onderdruk."
Sy omstredenheid kan seker verstaan word, veral omdat hy sy politiek in die hitte van apartheid geleer het. Hy het as arm seun in die noordelike woonbuurte van die Baai opgegroei. En as die son sak het hy aan ‘n deur of twee gaan klop vir ‘n stukkie brood - en baie keer was hy weggejaag.
Sy arm omstandighede het die toe jong Martin nie onder gekry nie. Hy was altyd ‘n dromer en wou altyd die hoogste sport bereik. Iemand wat ‘n groot invloed op sy gelewe gehad het, was sy destydse onderwyser, Andrew Jordaan, broer van die sokker-persoonlikheid, Danny Jordaan. "Hy het altyd gesê ‘n man of ‘n vrou sonder ‘n droom, is ‘n man of ‘n vrou sonder ‘n toekoms. Dit is waaraan ek vashou... tot vandag toe," sê Martin.
Op hoërskool het mense soos wyle Ashley Leppan en Charmaine Williams, vandag ‘n Baaise ANC-raadslid, hom beïnvloed met ANC-politiek. In die tagtigerjare het die politieke gogga hom behoorlik gebyt, toe hy deel van UDF-betogings was teen die instelling van die destydse driekamer-parlement.
Na sy onderwysopleiding by die destydse Dower Onderwys Kollege in die Vriendelike Stad was hy vir nege jaar ‘n onderwyser, voordat hy in Januarie 2000 die jongste lid nòg van die Oos-Kaapse Wetgewer geword het.
Met sy intrap in die wetgewer het hy hom as ‘n vurige debateerder gevestig en ook so ‘n doring in die vlees van die ANC geword. En van toe af is hy gereeld in die nuus as ‘n "politieke-moelikheid-maker". Hy is selfs in Oktober 2000 saam met ‘n groep werknemers van die Oos-Kaapse Onderwysdepartement op ‘n klag van betreding in hegtenis geneem, toe hulle die departement se kantore beset het. Die aanklag is later teen hom teruggetrek.
En toe neem hy dit wraggies ‘n stap verder en stig die Marock Road Plakkerskamp in die Baai...ja, sommer netso.
Hoekom?
"Omdat ek glo die ANC het ons mense belieg toe hulle gesê het dat hulle binne vyfjaar 1 miljoen huise gaan bou. Mense het ‘n dak oor hul kop nodig, daarom het ek die plakkerskamp gestig."
Martin sê dat dit juis hierdie "onregverdigheid" is, wat hom aanspoor om namens bruin mense te praat. "Allan Hendrickse-hulle het ‘n groot gemors aangevang deur ons mense te verkoop, en daarom is hulle slegter af vandag, as voorheen."
Hy is pas aangestel as lid van die UDM-taakspan, onder leiding van dr. Gerhard Koornhof, wat moet kyk na die politieke behoeftes van Afrikaansprekendes. "In die taakspan gaan ek seker maak dat bruin mense se stemme gehoor word, maar ek gaan ook sensitief wees vir die behoeftes van ander groepe," sê Martin.
Maar hoe gemaak om bruin mense deel te maak van die ekonomiese-en politieke hoofstroom? "Geletterheid! Wat maak ‘n slaaf ‘n koning? Wat stel die slaaf op dieselfde vlak as sy eienaar?" En dan kom die antwoord weer: "Geletterheid!, geletterheid!.."
Volgens Martin kan bruin mense nie verwag om in aanmerking te kom vir regstellende aksie nie, as hulle nie goed gekwalifiseerd is nie. En toe deel hy klappe uit: "Maar waar bevind bruin mense hulle? Hulle dobbel, drink, maak kinders en begeer liewer om taxi drivers en taxi gaatjies te wees. Vir my is dit teleurstellend," sê Martin.
En dan noem hy iets belangrik. "Maar, as jy mooi kyk dan lyk dit asof bruin mense apartheid ingestel het, want as dit kom by die uitdeel van posisies is ons heelagter in die ry. Dit is net die swartman en die witman wat die jêm en botter van die nuwe orde geniet. Nie ons nie.
Ek is seker dat mense soos Govan Mbeki en Oliver Tambo (as hulle vandag nog gelewe het) baie in hul noppies sou gewees het oor die toestand van hul mense. Maar as Saartjie Baartman moes lewendig teruggekeer het, sou sy baie geskok gewees het, om haar mense nog so te vind toe sy hulle verlaat het. Dit sou haar hart en siel verskeur het."
Toe ons gesprek eindig en Martin so voor my uitloop, toe lyk hy so van agter af net soos ‘n Allan Boesak van ouds. En as bruin mense in my beskeie mening belangstel, sou ek sê hier is vir julle ‘n ware woelgat-leier.

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/cmartin.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]