Die bybie
"God moet darem baie groot wees," kom sê Ernst - 'n paar jaar gelede - een aand in die
skoolsaal waar ek 'n kleedrepetisie bywoon. "Hoe anders kan Hy die hele wêreld in Sy
hand vashou, soos ons dan sing, Mamma? He's got the whole world in his hand ... he's got the
whole world ..."
Die jaar staan einde se kant toe; hulle is aan't oefen vir 'n Kersprogram. En my Josef
sukkel sawens daar langs Maria by die repetisies met sy hooftooisel wat aanmekaar oor sy
oë
gly. Bo-op die koppe van die Heilige Egpaar staan Fillip ons tuinhulp - soos 'n wafferse
Gabriël die herberg se dak aanmekaar en timmer. En al is die repetisie aan die gang wil
hy - nadat hy 'n keer of wat na die drie groot dose met die blinkpapier om geloer het - opsluit
van daar bo af weet wat Josef dan daai tyd met suffel geld en goud gedoen het wat hy by die
Wyse Manne gekry het. "Dogtir," vra hy my man,
"noudat ek dit dam als vir die eerste keer so van naby sien ... Jy weet: het Josef toe darem vir
hom 'n hys van ..." vra hy en beduie na die bamboes in sy hand," van sink en bloudraad kon
bou ?"
"Dit het mens nou van een wat nooit sy voete in die kerk rus nie," trap Katie, wat netjies vee
waar die kinders die hooibale afsit, hom uit. "En sy hart alewig op loop laat sit agter die afgod
se goud en silwer aan. Hulle moes toe mos vlug, Popaai! Met Hiesus; Egipteland toe! Wat
dink jy kos dit 'n man met 'n vrou en so 'n kleine bybie?"
"Hoor wat jy sê, Katie, maar onthou jou plek is in die kombuis. Mens kan dink dit kon
nie anners nie," antwoord Fillip doodluiters." Sjym - elke janrap en sy maat moes die arme
Josef seker in die oë kom kyk het vir 'n bietjie goud en ... wat nou nog?"
Ek loer na waar my man nog hooi na die krippie toe aandra en grappies met dominee
Janneman maak.
"Hulle wag vir jou, my kind. Toe, gaan nou."
Maar weer vra Ernst, en fermer dié keer: "God moet darem baie groot wees ... Hoe
anders kan Hy dan die hele wêreld in Sy hand vashou, Mamma?"
Voor ek nog kan antwoord, slaan hy die een kant van die handdoek wat sy hooftooisel
uitmaak, van sy gesig af weg en kom nog nader. "Daar is een ding wat ek nie mooi verstaan
nie, nè, Mamma. Jesus en God is mos een, nè!"
Ek knik.
"So Jesus is net so groot soos God? Hoe het hulle dan vir
Jesus in daardie klein krippie van Fillip ingekry?"
Gelukkig roep die Wyse Manne van oorkant die stal hom herberg toe dat die kleedrepetisie
kan voortgaan.
"Moeder Maria moes dan seker maar self 'n plan gemaak het," besluit Ernst vinnig vir
homself." Sy het Jesus se lang arms en bene seker maar mooi opgevou en toegerol dat
niemand dit onder al die doeke en die hooi kon sien uitsteek nie!"
En daarmee gaan neem hy weer sy sitplek ewe sedig in.
Ek het die aand van die opvoering eintlik 'n knop van benoudheid in my keel. En van die
min ventilasie in die saal sweet ek agter in my nek. Maar ek kon geweet het ons
nooitvolprese Heer hou die kersspel in Sy groot Hand vas, al verloop alles toe miskien nie
soos die natuur dit kwansuis vereis en die ou verhaal dit vertel nie.
Moedertjie Maria die sit nog die een oomblik ewe deftig daar aan Josef se sy voor die
leë
krippie, maar toe die skapies begin naderkom en die Wyse Manne in hul pa's se
paseley-pattern kamerjaponne en met die tee-musse wat op die ore stut, vlieg sy op en laat
spaander agter die gordyne in. Onse Josef loer 'n keer of wat die kant toe en daai kant toe of
hy sy ouers soek, maar sien ons duidelik nie in die donkerte in die gehoor raak nie. Toe
besluit hy seker maar dan doen hy die biologiese onmoontlikheid self! Met dié gryp
hy die
pop agter die hooi-baal uit en prop dit in die krippie.
"Ek blame die kind gan niks dat sy weggehardloop het nie," het Fillip te sê waar hy
later die
aand die herberg staan en afbreek. "Sy het natuurlik nie kans gesien om daar in die publiek
voor ammal te baar nie, dis wat!"
Anlen Marais
Despatch