Scriba sonder agenda
'n Onderhoud met Annelie Botes

deur Philip John

'n Ryk vrou wat oor en oor gekonfronteer word met 'n misdaadverlede wat sy probeer wegsteek, 'n jong vrou Disclaimer wat hunker na 'n man maar as gevolg van die vlek op haar gesig dink sy is minderwaardig en lelik, 'n jong man wat sy oorlogs(grens)ervarings nie kan vergeet nie en moedverlore op pad is na die laaste grens, 'n ou vrou wie se trots en skaamte verhoed dat sy leer lees, 'n kind wat deur "duiweltjies" geteister word: so lyk 'n paar van die karakters wat Annelie Botes na die leser bring in haar nuwe bundel kortverhale, Nawelstring.
Ofskoon hierdie
Nawelstring deur Annelie Botes (2002)

ISBN: 07993 2971 1
sagteband, 176 bladsye

Uitgegee deur Lapa-uitgewers
Posbus 123
Pretoria 0001

karakters - en eintlik al die karakters in die verhale in die bundel - hulle in alledaagse situasies bevind, pols hierdie situasies deurgaans met 'n hoë emosionele lading. Dit is alles emosies wat mense in probleemsituasies laat beland of voor dilemmas plaas: moederliefde wat tot diefstal beweeg, rykdom en 'n vrees vir armoede wat mense hul herkoms laat negeer, herinnerings wat na selfmoord lei, of 'n vrou verhoed om 'n normale seksuele lewe te hê, toewyding aan kuns in konflik met geloof. Elke keer kry die leser 'n karakter wat op 'n emosionele mespunt loop, maar anders as wat die voorstellings hierbo mens kan laat verwag, eindig nie al die situasies katastrofaal nie. Die meerderheid stories in die bundel eindig inderwaarheid op 'n positiewe of ten minste hoopvolle noot. Al kry die leser 'n duidelike beeld van 'n ingewikkelde en soms wrede wêreld, is dit nie 'n wêreld sonder hoop, liefde en uitkoms nie.
Die verhale in Nawelstring is verwerkings van verhale wat almal vroeër in populêre tydskrifte verskyn het. Annelie Botes se standpunt oor tydskrifverhale is heel bekend: "Ek skryf nie volgens 'n sogenaamde "resep" met 'n gelukkige einde in sig nie, maar probeer altyd om iets meer in hierdie verhale reg te kry. Dit is 'n taak en 'n uitdaging wat ek vir myself gestel het - om te probeer om kwaliteit verhale te lewer, verhale wat meer bied as die konvensionele liefdesverhaal met sy smagting en gelukkige einde waarvan daar so baie is". Sy sê dan ook dat sy gelukkig was om 'n baie goeie verhouding te kon opbou met Bennie Fritz wat vir baie jare verhaleredakteur was by tydskrifte soos Die Huisgenoot. Oor hom sê sy: "Bennie was my skryfvader. Saam met Bennie het ek meer geleer as by al my ander publiseerders saam."
Lapa-uitgewers moet gekomplimenteer word vir die professionele manier waarop hierdie verhale na die leser gebring word. Die boek is baie goed versorg en voorspel goed vir hierdie nuwe uitgewersinisiatief.
Vir lesers van Botes se romans sal dit interessant wees om in sommige van die verhale onderwerpe en figure te herken wat in die romans figureer: Marianna in "Nawelstring" wat aan dobbel verslaaf is soos Carla in Trippelsewe, die kritiek op die kerk in "Nagwaak" soos in Raaiselkind en die bruin karakters wat met insig en deernis geteken word, soos Miriam in Raaiselkind.
Dit is egter die uitbeelding van verhoudings wat die leser bybly, die manier waarop mense teen mekaar skaaf en krap, wat mens laat dink aan Oom Johannes se woorde in Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie: "waarg mense is / is altyd mos ongemakke". In "Berig uit 'n ver land" probeer 'n moeder haar oortuiging dat kuns nie 'n goeie loopbaan bied nie, op haar kind afdwing. Haar hardkoppigheid veroorsaak egter dat hy haar alleen agterlaat en na 'n vreemde land vertrek. Ook in "Tuin van die engele" probeer ouers die kreatiwiteit van hul kind beperk, onder meer deur hom van "sissierigheid" te beskuldig. Partykeer is dit nie net mense wat teen mekaar skuur nie, maar ook waardes, soos die gelowigheid van Mieke wat stand moet hou teen die ateïsme van Helmut, haar man met wie sy 'n geleentheidshuwelik aangegaan het in "Dertig silwerstukke". In "Sondes van die vaders" staan die uitbundige jeugdigheid van Susanna teen die verstokte suinigheid van Marthinus, haar man wat twintig jaar ouer as sy is.
Een van die interessantste verhale in die bundel is "Die trap na die solder" waar die kind, Hannetjie, deur "duiweltjies" geteister word op die solder van die huis waar sy en haar aangenome (pleeg)ouers, Thea en Lourens, woon. Die suggestie is dat die kind kan aanvoel dat Lourens haar nie volkome aanvaar nie.
Die konflik en stryd tussen karakters is egter nie blind en doelloos nie, want in die meeste gevalle vind daar op soms magiese, maar altyd menslike maniere, 'n ommekeer plaas: in "Dertig silwerstukke" maak die ateïstiese Helmut 'n skildery met 'n godsdienstige tema as geskenk vir sy gelowige vrou; Marthinus, die suinige boer, en Susanna, sy jong vrou, maak in "Sondes van die vaders" uiteindelik vrede bo-op die damwal op die plaas; en Thea beweeg haar man Lourens op diplomatiese wyse om die trap na die solder toe te messel en tegelykertyd sy aangenome (pleeg) kind te aanvaar.
Nawelstring bied 'n soet-suur le(eservaring, anders as die konvensionele melkskommelprosa in populêre tydskrifte. Die leser word blootgestel aan sterk emosies en subtiel beweeg om te dink oor kontemporêre bestaanskwessies in 'n komplekse land soos Suid-Afrika.

Tydens 'n ontmoeting wat ek met Annelie Botes gehad het voor ek Nawelstring gelees het, was dit juis sulke kwessies wat ook in die gesprek opgekom het, miskien 'n ietsie meer direk.
Eintlik het ek glad nie bedoel dat ons moet praat met die oog op hierdie onderhoud nie. Sy sou net 'n kopie van Nawelstring vir my gee sodat ons later daaroor kon praat. Ek het haar ontmoet vir 'n koppie koffie in 'n winkelsentrum en ons het gaan sit in een van daardie bevryde gebiede wat al skaarser word, waar die nuwe puritanisme nog nie ingedring het nie - 'n hoekie waar mense nog kan rook (ek rook self nie, maar ek vóél vir rokers). Ek het gedink ons gaan net kort gesels. Sy het my egter sommer vinnig vasgepen. Oor die foon het ek wel gesê ek sou ook oor Raaiselkind wou praat wat ek uiteindelik gelees het.

AB: Wat wil jy eerste weet?
OA: Sjoe, nou kom jy onverwags op my af... Wel, wat my eerste getref het omtrent Raaiselkind is die fassinerende struktuur. Hoe kom mens op so 'n struktuur af? Ek dink iemand anders het dit reeds gesê - dis asof die roman soos 'n stuk musiek georkestreer is - die regte instrumentale toetrede op die regte tyd, met die regte lengte en intensiteit.

AB: Jy weet, ek dink nie ek kan anders as om in terugflitse te skryf nie. Dit was nog altyd so - al my vorige romans en baie van die kortverhale ook. Maar dis nie asof dit uitgedink is nie. Ek het baie min - eintlik geen - kennis van al hierdie teorieë en goed nie. Behalwe dat ek 'n onderwyslisensiaat in Klavier het, het ek het nie in die letterkunde verder geleer as matriek nie, en ek wil eintlik ook nie. Ek lees ander skrywers, maar probeer nie soos hulle skryf nie. Ek skryf soos ek praat. Ek soek en krap altyd vir 'n eenvoudiger, bekender woord. Korter sinne. Eintlik is my boeke baie soos ek is - ek raak verskriklik opgewonde, ek huil, lag, ek raak kwaad. Ek voel dinge, en baie keer trek ek my dit aan. Dis sulke dinge wat ek heeltemal spontaan in my werk weergee.
Sy vra my om meer te sê hoe ek die boek ervaar het en ek sê iets oor die manier waarop mens self later begin twyfel of Ingrid, die ma van die outistiese kind, Alexander, nie wél dalk die kind vermoor het nie. Maar dan sê ek ook dat die ontknoping my effens onkant gevang het, dat ek na al die spanning 'n meer dramatiese einde verwag het.
AB: Maar wat dan van die laaste reël? Is dit nie 'n soort knal nie?
OA: Waar Ingrid op Gunter se plaas op die kraalmuur sit en "haar skuld in die kanferbosse ingooi"?

Sy haal die reël korrek aan, "En die waarheid, die volle waarheid, vir die kanferboswind gegee [het] om weg te waai", en ek antwoord, ja, maar wat is hierdie "waarheid"? Ek het aan die einde van die boek nie geweet nie, en ek wou seker glo dat sy nie die kind doodgemaak het nie.

AB: As skrywer weet ek nie altyd álles van my karakters nie. Daar is dinge wat hulle tot in lengte van dae vir my wegsteek. Maar ek dink sy het 'n direkte aandeel aan Alexander se dood gehad. Sekerlik nie doelbewus nie, maar tog. Alles dui daarop, en mens kán van 'n enkele druppel water in jou keel sterf. Dis medies waar. Jou keel kan van die skok van die waterdruppel in 'n spasme toetrek en dan versmoor jy. Dieselfde as wanneer 'n ryskorrel in jou lugpyp sou beland. Dit kon gebeur het terwyl sy hom in die bad probeer inforseer, en hy hom teëgesit het.
OA: Wel, ek weet nog steeds nie. Ek hou daarvan dat dit so vaag en onbeslis bly.
AB: Dis goed so. Elke leser moet die einde van die verhaal indrink soos sy eie lewenswaardes vir hom voorsê. En dit werk natuurlik ook op 'n ander manier.
Annelie Botes het gedebuteer met Trippel sewe in 1995. Hierna het gevolg Ribbokvoete (1995) en Klawervier in 1997 waarvoor sy bekroon is met die ATKV-prys vir gewilde prosa. Sy het ook al talle verhale in tydskrifte geskryf waarvan 'n keuse gebundel is in Die trousseaukis en ander stories (1998) en in Nawelstring (2002), wat hierbo bespreek word.
Wanneer ek genooi word om oor die boek te praat, is daar altyd iemand wat vra: maar hét Ingrid die kind doodgemaak? Ek benader dit dan uit 'n ander hoek, en sal die vraag beantwoord deur 'n ander baie spesifieke vraag te vra: As dit so is dat Ingrid die kind doodgemaak het, of laat sterf het, sou die tragedie hoegenaamd plaasgevind het as die Christengemeenskap hul deel bygedra het om vir Ingrid te help, soos wat hulle volgens die tweede gebod bely hulle wel doen? Ek het baie ernstige bedenkinge oor die praktiese wyse waarop Christene - en ek sluit myself daarby in - hulle geloof uitleef. As daar iemand was wat gesê het, Ingrid, ek kom vir die middag oor, ek kyk na Alexander, dan gaan speel jy tennis; vat die oggend af en gaan winkels toe, gaan jy en Dawid fliek. Maar daar was niemand wat betrokke wou wees nie. Almal het 'n beleid van kwarantyn, giftig, moenie aanraak nie, gehandhaaf. En dis nie dat ek mense kwalik neem nie. Ek weet hoe dit is. Ek het ook 'n vriendin gehad met 'n outistiese kind, en op 'n dag het ek besluit, tot hiertoe en nie verder nie. Mens kan nie 'n koppie tee in vrede drink nie, jy weet nooit wanneer hy dit uit jou hand klap nie. Jy kan nie drie woorde agtermekaar sê sonder 'n helse geskree in jou ore nie. Nee, dis definitief nie maklik of eenvoudig nie. Dit was ook waar dit vir my begin het, en ek het toe begin navorsing doen oor outistiese kinders. In tallose onderhoude met ouers en ander gesinslede, was ek tot in my murg geskok oor hoe eensaam en verstote en mensverlate hierdie mense is. Hulle dra, ongevraagd, aan 'n Kaïnsmerk waaraan hulle niks kan doen nie. Een aand, ná 'n lang gesukkel met 'n oppasser, het ek een só 'n ma vir ete uitgeneem, om haar weg te kry uit die warboel by die huis sodat ons in vrede kon gesels. Sy was onbekend met 'n alledaagse spyskaart, ontsettend onseker van haarself, ek kan amper sê bang. Toe kom dit uit dat dit die eerste maal in elf jaar is dat sy in 'n restaurant eet.
OA: Die kritiek op die kerk, ja, dit word nogal deel van die verhaal van die ma en die kind....
AB: Eintlik het dit eers later bygekom. Ek was al besig om te werk oor outistiese kinders, besig om te dink hoe ek 'n boek daaroor kan maak, toe die kerk-kwessie deel van die boek begin word het. As gewese skriba en kerkorreliste het ek 'n goeie verwysingsraamwerk van die kerk en kerkordelike sake. En binne-in my was daar iets wat gebewe het oor die kerk. Maar kom ons vra eers: Wie is die kerk? Die kerk as sulks is net 'n gebou van stene en sement. Die kerk, die hart van die kerk, is die mense van die kerk. En as jy daardie mense se waardes is een pot gooi en saamkook, moet dit 'n verteerbare bredie wees. 'n Eerlike bredie. Dit is nie veronderstel om jou gal en sooibrand te gee nie. En ongelukkig het sommige van die bestanddele in hierdie bredie aan my maagvliese begin vreet. Waaroor behóórt die kerk eintlik te gaan? Gaan dit oor herders-verering, of oor mag, of oor geld, of oor God? Jy weet, dis iets van klein dorpies - hulle kan nie leef sonder 'n soort aristokrasie nie. Bloubloed-aanbidding. Die dominee, prokureur, dokter, bankbestuurder, skoolhoof en stadsklerk is die blou bloed. En die res van die dorp draf min of meer in absolute gehoorsaamheid agter hierdie klein groepie geleerde mense aan. Dokter het gesê ... dominee reken ... Met goeie rede ook, want dis mense in magsposisies wat kan beskik oor ander mense se lewens. Gaan hulle teë en jy voel dit vinnig aan jou bas. As hierdie bloubloeders hulle waardes weeg en hulle skale regverdig yk, is dit goed. Maar gewoonlik sien hulle in die eerste plek na hul eie belange om en dit kan daartoe lei dat die res van die trop ompad loop in die lewe. As mens na die kommissie-werksaamhede van die N.G. Kerk in die algemeen kyk, raak mens geskok-stil as jy sien watter makabere persentasie van hulle begroting word gewy aan die sake van die koninkryk. Daar is vele gevalle waar 'n gemeente se ringkoppe se beplande begroting per jaar, vir die vier belangrikste kommissies - Sending, Barmhartigheid, Jeug, Gemeentebediening - 'n fraksionele persentasie van die begroting uitmaak. Hierdie kommissies het met die eintlike siel en hart van die kerk te make. Dit ontstel en verwar my. Want as 'n kerkraad willens en wetens daardie ou korsietjie eenkant sit vir God se eintlike koninkryk, hoe verwag hulle moet God sy seën uitdeel? In dieselfde verhouding, of hoe? Ek het begin wonder: Is die kerk nie net 'n magsinstrument nie? Of is die kerk 'n politieke fluit wat 'n heeltemal ander wysie uitblaas as wat met die lippe daarin geblaas word? Of is die kerk 'n geldmaakskema? Of is dit 'n baie slim skuilplek vir die Bose? Jy moet verstaan, ek het as streng Calvinis grootgeword. Niks daarmee verkeerd nie. Maar my eie tien gebooie was vir my 'n maatstaf, van moedersknie af. En skielik het dinge nie meer vir my sin gemaak nie. Een oggend, dit was 'n warm bergwinddag en my gemoed was verfloiing, het ek in die berge gaan stap en verskriklik gehuil. Want op daardie bergwinddag, waar ek op 'n klip gesit het, het ek tot die skuddende besef gekom dat my ankers vol leuens was. Die kerk en die Christendom - soos wat ek nog altyd daarop trots was - kón nie meer my tien gebooie wees nie. Ek wóú nie meer deel wees van iets waarin ek nie meer my rus kon vind nie. Ek het teruggeloop huistoe toe en - figuurlik gesproke - op die stadsplein gaan staan en my sienings en vertwyfelinge uitgeskree aan almal wat wou hoor.
OA: Jy laat my nou nogal regop sit, want ek werk nou aan 'n artikel oor Anna M. Louw se Vos en ek dink dit het ook met 'n bevraagtekening te doen van die konvensionele Afrikaanse benadering tot geloof en spiritualiteit, behalwe dat dit in 'n meer "gekodeerde" vorm gedoen word. En miskien in die vorm van beelde, van 'n storie wat uit beelde bestaan - dat dinge nie uitgespel word nie, maar voor die leser afgebeeld word, en die "boodskap" op hierdie manier laat oorkom. En ek het 'n idee dat hier dalk iets van 'n nuwe ontwikkeling of beweging in die Afrikaanse kultuur lê, waar ons ons heroriënteer en ou verstarde vorme bevraagteken en afwerp.
AB: Laat ek bysê: nie een van die dinge in Raaiselkind wat met die kerk te doen het, is uitgedink, of is "fiksie" nie. Die storie van die basaarbees, die afbrand van die pastoriekombuis, die manier waarop Dawid gejag is, die Nagmaalblokkies wat huis toe geneem word om croutons te maak, en nog vele meer - is alles waarheid. Ongeag wáár en wanneer dit gebeur het - dit het gebeur.
OA: Ek herinner my jy het laasjaar kortliks aan my genoem dat jy baie ongelukkig was oor die hantering van die manuskrip van uitgewerskant af.
AB: Eintlik wil ek jou nie antwoord nie. Weer eens blou bloed ... Die produksieproses van Raaiselkind was iets wat op 'n haar na my rug gebreek het. Ek wil liewers nie daaroor praat nie, want dan is my keel morsaf gesny. Soos dit is, is Nawelstring deur dieselfde uitgewer afgekeur. Miskien verstaan ek net nie genoeg van die uitgewersbedryf nie. Miskien is ek 'n groter bobbejaan as wat ek besef.
'n Dag of wat na ek die onderhoud gevoer het, verskyn 'n "konsepbrief" op Litnet (www.litnet.co.za), saamgestel deur George Weideman en 'n paar ander mense. Dié brief maak dit duidelik dat daar groot ongelukkigheid in Afrikaanse skrywerskringe heers oor die behandeling wat hulle kry van uitgewers. In die brief vra Weideman dat gepubliseerde skrywers kommentaar lewer oor kwessies en vrae wat in die brief genoem word.

Vrae soos die volgende word gevra:

  • Waarom kan boeke wat nie goed verkoop nie, nie deur die verkope van ander boeke kruisgesubsidieer word nie;
  • Sou dit nie beter wees as daar groter deursigtigheid in die keuringsproses is nie?
  • Stel uitgewers werklik nog in die individuele skrywer belang, of is winsbejag alles?
  • Waarom word kinderboeke afgeskeep?
In die brief word ook kritiese kommentaar gelewer oor kwessies soos die volgende:
  • die grondslag waarop skrywers vergoed word uit verkope;
  • die manier waarop uitgewers kontrakte met skrywers aangaan;
  • die oorskryf van "ontwikkelende" skrywers se tekste deur proeflesers en redakteurs;
  • eise wat aan skrywers gestel word met betrekking tot die bemarking van hul boeke
Sy steek 'n sigaret aan en bestel nog tee. Skielik is haar lyftaal gespanne. Toe die tee kom, trek sy weg en sy práát. Haar ontsteltenis is sigbaar. Maar sy sê vir my dat sy my kop van my lyf af sal skeur as ek één enkele woord daarvan skryf. En ja, ek het my kop vorentoe nodig ... So, dan gaan dit maar na Onse angeltjie se X-files toe... (doen aansoek by die dokumente-sentrum by Stellenbosch of NALN - oor vyf-en-twintig jaar).

OA: Ek het nie besef dis so erg nie, maar ek raak nou al meer oortuig dat daar iets baie interessants in ons Afrikaanse wêreld aan die gang is - dis asof boeke en letterkunde weer "lewe" kry. Ek weet byvoorbeeld dat die Afrikaanse vertaling van Henk van Woerden se Een mond vol glas deur 'n keurder afgekeur is weens die baie vertaalfoute daarin, maar dit is toe nog steeds gepubliseer, foute en al. En ek het eers gedink dis net deel van die storie dat Piet Haasbroek se Oemkontoe van die nasie deur een van hoofstroom-uitgewers afgekeur is, maar ek het nou uitgevind dat die roman deur ten minste een keurder afgekeur is, en dis hoekom hy toe na Protea-Boekhuis gegaan het. Of dit dié keurder was wat geskryf het dat Oemkontoe van die nasie 'n boek is "wat nie gelees behoort te word nie" (op die flapteks), weet ek nie, maar baie graag sal ek definitief wil weet.
Jammer dat ek nou so aangaan, maar ek het 'n idee dat die situasie van die sewentigerjare van die vorige eeu weer herleef, toe daar sensuurdruk op skrywers was. Nou is daar weer so iets aan die ontwikkel: skrywers kom te voorskyn met outentieke uitbeeldings maar omdat hierdie uitbeeldings nie in die smaak val van sekere mense in magsposisies nie, is sulke uitbeeldings "ongemaklik" en probeer hulle skrywers oorreed om liewers maar nie sulke "ongemaklike" dinge te skryf nie. En die redakteurs en uitgewers - ja, en die dominees en geleerdes, die rolmodelle en die toonaangewers - probeer dit op so 'n manier doen dat dit nie soos sensuur lyk nie, maar dit ís. Dis wat dit is. En wat 'n ironie dat dit nou gedoen word deur mense wat hulleself voordoen as "progressief" en "verlig". En wat die skrywers doen, is belangrik - hulle plaas belangrike onderwerpe en kwessies voor ons, goed waaroor ons moet dink en praat. Met die verskil dat dit nou nie meer gaan oor sensuur en anti-apartheid nie maar oor meer fundamentele dinge - godsdiens, kultuur, die waardes waarvolgens ons leef - ons beskawing, om dit kort te sê.

AB: Sensuur mag bietjie van 'n sterk woord wees - baie daarvan is bloot onkundigheid. Toe die bladproewe van Raaiselkind by my opdaag, was ek tot in my derms geskok om te sien hoedat daar na hartelus bygeskryf en uitgehaal is. Sonder my toestemming. Bladproewe is feitlik finaal. Hoe kan dit op hierdie aarde moontlik wees dat 'n skrywer nie geken word in veranderinge nie? Ek praat nie van kommas en punte nie. Ek praat van sinne en paragrawe en feitelikhede. En dan was daar dinge wat ek herhaaldelik gepleit het moet verander word, maar wat net so deurgegaan het. Byvoorbeeld die voorblad. Alexander was 'n maer en tingerige seuntjie, en sy fisieke toestand (9-jarige ouderdom, met die gewig van 'n 4-jarige) was een van die heel eerste dinge wat die polisie onraad laat merk het. Daar is hy vandag op die voorblad - kennelik mollig en vlesig. Terwyl ek gepleit het ... Op verskeie geleenthede lê Alexander onder die perd, Lucy, se maag en trommel met sy voete teen haar maag. Onthou, Alexander was 'n klein seuntjie. Op 'n dag het my man so ewe droogweg gesê: Moer, maar dit moes 'n lae perdjie gewees het ... En, ja, dis waar. Dit was 'n tegniese fout. Sulke goed gebeur, ook maar uit onkundigheid of onnadenkendheid aan skrywerskant. Ek het oor en oor gevra dat hulle dit moet regmaak, deur bloot 'n sinsnede by te las ...hy hys hom op sy skouers en ... Maar, nee, dis dwarsdeur anderkant uit met die moerse lae perdjie.
OA: Hoe kategoriseer jy jou skryfwerk?
AB: Ek skryf nie "letterkunde" nie, maar ook nie verstrooiingsliteratuur nie. Ook nie "middelmootletterkunde" nie. Ek skryf sommer net die goeters wat in my hart is; op die manier waarop my hart vir my voorsê. Miskien weet die uitgewers en die resensente nie altyd hoe om dit te hanteer, of waar om dit te kategoriseer nie. Tot vandag toe kry ek dit glad nie reg om myself as 'n "skrywer" te sien nie. Veel eerder 'n storieverteller. Maar ek hou nie daarvan om nonsens te vertel nie. Die skrywer wat die eer moet kry as meester van oorbruggingsliteratuur, is Dalene Matthee. Ek ken Dalene reeds sedert my Uniondale-jare. Toe ek in St. 6 was, het hulle op die dorp ingetrek, en hierdie bankbestuurdersvrou met die blomme-skirts en baie armbande het my eindeloos gefassineer. Ek het aan my ma gekarring tot sy vir my 'n kitaar gekoop het, en só het my kitaarlesse by Dalene begin. Min kitaar gespeel, baie gesels. Joe, sy't baie goed geweet wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Vandag nog is sy my spirituele moeder. As skrywers meng ons glad nie met mekaar in nie, inteendeel, dis asof daar 'n wedersydse respek bestaan vir die privaatheid van ons skryfwêrelde. Die héél belangrikste ding wat Dalene my geleer het, was om nooit 'n lieg aan lesers te verkoop nie. Dikwels hoor mens van skrywers wat 'n skrywersblok het. 'n Vashaakplek wat nie oorkom kan word nie. As so 'n skrywer daardie haakplek ontleed, sal hy/sy meesal agterkom dat dit is omdat daardie deel 'n leuen bevat. Soms 'n leuen wat uit onkunde ontstaan. Hy wil byvoorbeeld iets skryf oor 'n boer wat koring saai. Maar nou weet hy nie watse koring saai en oes jy wanneer nie; ook nie hoe nie. Dan maak hy sommer sy eie dinkgoed op. En intussen laat hy sommer die boer optree soos 'n boer nié sal optree nie. En sy innerlike begin protesteer teen die leuen. Dan noem hy dit 'n skrywersblok. Sodra hy die waarheid gaan uitvind en en sy hart neem, sal die blok vanself verdwyn. Of klink dit te simplisties? Miskien was dit een van my probleme met die produksieproses van Raaiselkind: dat daar implisiet van my verwag was om draaie rondom waarhede te loop. Dit het my slapelose nagte gegee, en my diep-diep ongelukkig gemaak. Juis omdat ek die waarheid opgesoek het; wóú opsoek.
OA: Uit Raaiselkind is dit baie duidelik, die manier waarop jy die kerk uitbeeld, ook die mediese professie. Dat dit nie net 'n storieboek is nie - dit ís dit ook, maar meer... 'n storie met lyf... en hart ...
AB: Ja, die mediese professie. Outisme, soos vele ander gedragsverwante siektes, is 'n baie mistieke toestand. Die mediese wetenskap weet nie werklik wat om daarmee te maak nie. 'n Diagnose kan eers later gemaak word as die kind ouer is en die gedragspatrone al vasgelê is. Voor hierdie tyd trap die dokters maar redelik klei. Wat dit natuurlik nie makliker maak vir die ouers van sulke kinders nie. 'n Kinderspesialis het, toe ek met hom oor 'n geval praat vir my gesê dat hy huiwerig is om dit te sê, maar die waarheid is dat die ma van die kind waaroor ons gepraat het waarskynlik meer weet oor outisme as talle pediaters saamgegooi.
OA: Dan wonder mens, wie is eintlik outisties - die kind, of die kerk, die mediese professie, die "Christelike" gemeenskap, ons lewenswyse....
AB: Uiteindelik het Raaiselkind se legkaartstukke netjies bymekaargekom. Die boek gaan oor 'n outistiese kind, maar dis lank nie al waaroor dit gaan nie. Outisme was eintlik 'n soort sneller wat my by al hierdie ander dinge uitgebring het. Noem dit 'n lens. Weet jy hoe lyk die wêreld as jy saam met 'n outistiese kind leef? Ek het sulke kinders rondgeneem. Strand toe, kerk toe; Spar toe. Spur toe. Nie lank nie, of die mense om jou kyk na jou met argwaan en irritasie en opgetrekte neuse. Jy vat die kind oor vakansietyd strand toe, en dis 'n worsteling om hom daar te kry. Want hy rem en skree en trap vas. Mense gaan staan botstil in die straat en vergaap hulle aan jou en die kind. Uiteindelik daar, kry jy 'n plekkie om jou in te wurm tussen die duisende ander strandsambrele. Nie tien minute nie, dan kan jy 'n volleyball-net opslaan op die spasie rondom jou soos wat die mense gevlug het. Want die kind hol en skop en gooi sand en ruk mense se sonbrille af en skiet emmertjies water op ou ooms se koppe uit. Jy vat só 'n kind kerk toe, en as hy onder gebed, of tydens die voorlees van die Wet, skielik begin skree, "Hoerê! Hoerê!", dan gaan daar 'n voelbare rilling deur die kerk. Dan kom kollektetyd en hy klap die bord dat die geld die kerk vol rol. Almal skuif weg; knyp hulle gesangboeke en handsakke vas. Almal bekyk jou asof jy stink. En niemand kom ooit na jou toe en knoop 'n geselsie aan nie, almal sorg dat hulle so ver en so vinnig moontlik padgee. Dis hel, dit kan ek jou waarborg.
OA: Maar dan is alles ook nie kritiek en baklei in die boek nie - van die karakters is sterk en onafhanklike figure.
AB: My gunsteling is Jeremia. Die geldjies wat hy wegrokkel, die eiers wat hy verkoop om domino's te speel in die buurt; sy opregte menswees; sy jakkalsagtige manier van manwees. Jeremia is pragtig. Diepliggend het ek 'n groot respek en waardering vir Jeremia. As kind, op die plaas waar ek grootgeword het, mog ons nie vir die ouer volk (hoekom noem ons dit vandag iets anders as volk? Damn, weer eens kan ek nie 'n leuen leef of skryf nie.) - op hulle name genoem het of gejy en gejou het nie. Ons het hulle "oom" genoem. En as hy grys was, "outa". Vandag is dit vloekwoorde. Maar in my verwysingsraamwerk staan dit helder en onomwonde aangeteken as uitinge van groot respek. Gunter is miskien belangrik omdat hy 'n alternatiewe benadering tot godsdiens, tot die spirituele in die boek verteenwoordig. Dis 'n soort godsdienstigheid wat nie 'n kerk nodig het nie. Party - min - van ons kan so leef. En dié wat dit wel doen, word dikwels uitgekryt as godsverraaiers of New Agers of Boeddhiste of ateïste - weer eens uit onkunde en 'n gebrek aan verdraagsaamheid. Die meeste van ons bly egter 'n behoefte hê aan 'n geloofsgemeenskap van die een of ander aard, soos Ingrid. En al spreek min van ons die gedagte hardop uit, het ons vertwyfelinge oor die opregtheid van daardie geloofsgemeenskap waardeur ons sogenaamd omring word. En Miriam, ja, Miriam is iemand wat wonder bo wonder nie deur die kerk seergemaak word nie. Sy is by uitstek 'n kinderlik-gelowige Jesusmens. Wat ook goed en reg is. Sy sien nie kwaad in die kerk nie, en twyfel ook nie in die integriteit van die kerk nie. Dit moet mens egter nie met die idee agterlaat dat Miriam nie 'n oordeelsvermoë het nie. Sy sien alte duidelik hoedat "... master Dawid gejag word, nogals met die wit predikant aan die voorpunt ..." Maar regdeur bly haar geloof sterk, al begin sy ook twyfel oor die waarheid van wat in die huis gebeur het met Alexander se dood.
OA: Dit bring my, terloops, by 'n ander kwessie in Raaiselkind wat ons nie bespreek het nie en wat ook as 'n soort kritiek van die blanke lewenswyse in Suid-Afrika gesien kan word. Die één karakter wat oorkom as 'n sentrum van stabiliteit in die boek, is Miriam. Wat maak Miriam dan anders as ander mense om Alexander nie te wil verstoot nie, maar hom eerder te verdra?
AB: Ek kies niks en het geen agendas nie, behalwe die waarheid. In my navorsing het ek dit oor en oor gesien: die één mens wat tot die bitter einde by die ma van só 'n kind staan, is die bruin oppaster van die kind. Hoekom? Bruin en swart gemeenskappe het 'n baie groot verdraagsaamheid met alle vorms van gestremdheid. In die jare van toenter, en selfs tot op hierdie uur, is daar in hierdie gemeenskappe 'n gebrek aan kennis en fasiliteite om gestremde mense elders heen te pos, of elders te laat opvoed tot sodanige gestremde se beste voordeel. In stede daarvan akkommodeer hulle so 'n mens in die alledaagse samelewing. Dis ontstellend om in 'n lokasie te gaan kyk hoeveel "swaksinniges" daar rondwandel. Sommer net rondwandel. Wel, iemand moet na hulle kyk en hulle versorg en oppas. En dit is gewoonlik die hele lokasie. Só 'n mens word sonder vrae of vooroordele geabsorbeer en aanvaar as 'n "normaliteit". Bykans elke straat het só iemand. Dis glad nie uitsonderlik nie. Aldus is dit in Miriam se bloed en murg om verdraagsaamheid te hê teenoor Alexander. Sy ken nie iets anders nie. Eendag het ek in 'n lokasie gekom waar 'n erg vertraagde bruin seuntjie teen 'n muur in die son gesit het. Dit was 'n vreeslike warm dag. Oral in die jaart het bondels hondedrolle gelê wat vlieë gelok het. En dié stomme seuntjie het maar net daar gesit terwyl die vlieë oor sy gesiggie rondkruip en by sy neusgate in verdwyn. Maar terwyl ek met die buur-antie gepraat het, het 'n ander kind uit die straat gekom met 'n malva-takkie en langs die sonsittertjie kom staan. Vir hóé lank die vlieë van sy gesig weggewaai met die malva-takkie. En toe vir hom 'n koppietjie van die binnehuis-water gebring. Ek het gehuil, want dáárin het ek iets van die ware God gesien. Dit het vir meer sin uitgemaak as al die kerkraadsvergaderings, altesame, waar ek as skriba die notule moes hou.
OA: Die manier waarop Miriam se taalgebruik weergegee word, dra ook daartoe by dat sy as karakter uitstaan.
AB: Ja, dis goed wat ek van kleins af ingekry het, saam met my moedersmelk. Daarvoor was daar nie werklik "navorsing" nodig nie. Dit kom van my plaasjare op Uniondale af, uit die kombuis, die werf en die huisies teen die nabankwal 'n Resensent het destyds oor Klawervier iets geskryf wat ek as verstommend-onnosel en oningelig sien. Die betrokke resensent het geskryf dat ek die bruin mense 'n swak en geradbraakte Afrikaans laat praat. Dis mos verdomp nie EK wat praat nie! EK kies nie die metafore of sinsordes of grammatika nie. Ek is net die medium wat die realiteite neerskryf soos ek dit hoor. Dieselfde met vloekwoorde. 'n Waardige dame keer my anderdag voor en kats my vuurwarm omdat ek so lelik vloek in Raaiselkind. Nee, sê ek, ek weet nie van een enkele plek in die boek waar ek gevloek het nie. Is, sê sy, daar's 'n klomp moere en donners en bliksems en Jirre's in die boek. O, sê ek gemaak-verbaas, tannie bedoel nou seker Dawid het gevloek, of Evert... Maar dis nogtans vloek, sê sy verontwaardig. Dit het my gekos vir haar 'n koppie tee en 'n skon koop en 'n halfuur lank met haar redeneer oor mense en die tale wat hulle praat, en hoedat my eie moraliteit of sienswyse in der waarheid nie 'n snars daarmee uit te waai het nie. Ek kon haar nie oorreed nie. Maar ons is vredig uitmekaar, omdat ek haar daarop gewys het dat ek immers nêrens p-woorde en f-woorde ingedwing het nie.
OA: Met die verskyning van die boek is daar baie aandag gegee aan die navorsing wat jy by die polisie gedoen het - jy het jou laat "arresteer" en opsluit, en het selfs 'n nag in die selle deurgebring.
AB: Ja, dis nou nie eintlik 'n ervaring wat ek weer sal wil hê nie. Ek sê jou, dis sidderend. Dit is nog iets waaroor enkele lesers beswaar gemaak het - dat die polisie, veral kolonel Herselman, so hardvogtig en wreed uitgebeeld word. Maar dis hoe dit is, en dit kan nie anders nie, jy moet onthou hulle ondersoek 'n moordklag. Moord en Roof se manne werk met dié ergste en hardste gevalle. Beskuldigdes maak selde 'n spontane bekentenis, want dit sou 40 jaar of lewenslank beteken. Beskuldigdes stry en lieg en stry en lieg. Altyd. Gee hulle nou nog boonop 'n lekker sagte stoel en yskaswater en 'n steak en genoeg slaap en 'n smoke-break, en dis neusie verby vir die speurder. En aan die anderkant van die spektrum sit ons, die belastingbetalers, en ons skree justice! justice! Dis by ons 'n uiters hoë prioriteit dat iemand wat 'n 80-jarige vrou of 'n 11-maande oue babatjie verkrag het, sal teregstaan. Moord en Roof se manne het 'n strategie, en dit het niks met polisiebrutaliteit te make nie. Hulle móét die verdagte sielkundig en fisiek afbreek tot op die grond, anders los hulle nie die saak op nie. Dis nie asof hulle wreed en ongevoelig is nie, die teenoorgestelde eerder. En dan sou dit onrealisties wees om te verwag dat polisieselle soos 'n vyfsterhotel moet wees, en dat speurders soos beraders moet optree. Of dat behandeling met onberispelike waardigheid en korrektheid sal geskied. Daar moet ook onthou word dat ons in Raaiselkind te doen het met 'n kind. Onregte teen kinders en vroue is in die parlement afgekondig as prioriteitsmisdaad - wat beteken dat dit volgens wet prioriteitaandag moet kry. Nog te meer in die geval waar Alexander 'n gestremde kind was wat nie vir homself kon veg nie. Kolonel Herselman het net sy werk gedoen soos hy dit moet doen. Die polisie het my oor 'n lang tydperk heen onvoorwaardelik en met groot toewyding en entoesiasme bygestaan met die navorsing. Sonder hulle hulp sou ek dit nie reggekry het om hierdie kant van die verhaal op 'n geloofwaardige wyse uit te beeld nie.

Ek sê vir haar dat dit miskien iets is wat tot die boeiende leeservaring bydra, dat die "tekstuur" van die werklikheid so sterk neerslag kry in die boek, meer as in enige van haar vorige romans. Ons praat nog 'n rukkie, tot my tweede koppie tee leeg is en ek moet gaan. Sy sê sy gaan sit en nog 'n sigaret rook. Terwyl ek deur die klinies-frenetiese steriliteit van die winkelsentrum terugstap na my kar, krioel dit chaoties in my kop van al die vrae en gedagtes....



INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD








Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/botes02.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 30 Junie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]