Nou ja...
Vinniger terug as wat ons kon gedink het.
Onse angeltjie het besluit om vroeër as oorspronklik beplan uit te kom met 'n 'spesiale uitgawe' - onder meer omdat ons 'n resensie gekry het van 'n boek wat onlangs vrygestel is, en ons gevoel het dié nuus kan nie van julle, onse ywerige lesers, weggehou word nie.
Ons het ook 'n interessante (kultuurhistoriese?) byvoeging deurdat ons van die bydraes in die Ernst van Heerden poësiekompetisie wat jaarliks by Grey High School in Port Elizabeth gehou word, gekry het vir publikasie.
INHOUD
1. Resensies
1.1 Drif. Verhale van menslike drifte
- saamgestel deur Lindeque de Beer (1997)
................................................... deur Martinus A. Bakker1.2 Die reuk van steenkool - S.P. Benjamin (1997)
..............................................................deur M. J. Prins
2. Ernst van Heerden poësiekompetisie
Drif. Verhale van menslike drifte.
- Saamgestel deur Lindeque de Beer.
Hoewel daar inderdaad 'n groot verskeidenheid verhale voorkom in hierdie bundel, wat betref tema en seer beslis ook kwaliteit, vind ek die voorwoord waarvolgens "die ganse toonleer van menslike emosie" behandel word, enigsins vleiend vir die totaal van die versameling. Hiermee bedoel ek dat die emosies in die verhale baie sterk neig in die rigting van die sensuele en ander emosies soos trou, opregte liefde, aan die positiewe kant en verraad, veroudering, jaloesie aan die negatiewe kant, skynbaar nie meer bestaan nie - asof liefde alleen nog 'n fisieke fenomeen is.
Van die ses-en-dertig verhale het nagenoeg dertig die seksuele as hooftema, waarmee geen uitspraak oor die kwaliteit van hierdie besondere verhale gedoen is nie. Van hulle noem ek byvoorbeeld Francois Bloemhof se "Hoe het ek dit met jou", 'n verhaal waarin die skrywer duidelik 'n effek probeer bereik deur te skok met uitdrukkings soos "die arme teef kan dit seker nie help nie", "dit sal enige ou tickle", en dergelike uitdrukkings waarmee die skrywer waarskynlik 'n groep verteenwoordig wat wil bewys dat hulle modern is, dat tradisionele norme totaal verouderd is, die gebruik van suiwer Afrikaans 'n begrip is wat uitgestorwe is en, kortom, inderdaad, die buitestaander 'n geslaagde blik gee in 'n maatskappy wat sedert die middel van die eeu radikaal gewysig is.
"Ego" van Johan Steenkamp is vol van frases soos "welgevormde, slanke dye", "sysagte, warm vel", ensovoort, ensovoort - 'n eindelose aaneenskakeling van wat vroeër cliche's genoem is. Dis onbegryplik dat moderne skrywers nog probeer en skynbaar daarin slaag om indruk te maak met uitdrukkings soos "'n aantreklike jong man", "'n aangename stem", "lang, blonde hare"," "vol borste", volmaakte rondings" ens. in 'n poging om aan te toon dat ons hier te make het met die "goeies" teenoor die "slegtes" wat nie oor hierdie essensiële eienskappe beskik nie. Ander verhale van dieselfde gehalte is Martin Janse se "Fantasie vir twee stemme", Schalk van Riet se "Siklus", Ton Ackerman se "Naghings", Mike Oberholzer se "Nes die wind en die see" en Edel Hoffmann se "Tolrit".
Baie gunstige uitsonderings op hierdie baie stereotipe "stories" wat betref kwaliteit en styl is Barend Toerien se "Die miernes" waarin 'n hoofpersoon voorkom met wie baie lesers hulle kan vereenselwig, waarin karakters voorkom met 'n persoonlikheid, d.w.s. 'n individualiteit wat terselfdertyd ruimte laat vir herkenning van universele menslike eienskappe, volgens my 'n voorwaarde vir 'n verhaal wat ook gewaardeer kan word deur lesers wat nie direk uit is op "cheap thrills" nie. Dieselfde sou ek wil sê van Sonja Widhalm se "Die finale fase", Basil Stols se "Man sonder hart" en Peet Venter se "Saterdag, Sunnyside". Hierdie verhale bevat dieselfde verrassingselement wat so baie van die skrywers in die bundel probeer skep maar sonder die oppervlakkige, "goedkoop" effek wat, jammer genoeg, te veel van die bogenoemde verhale kenmerk. Deon uit "Saterdag, Sunnyside" sowel as Ida uit "Die finale fase" styg as literêre skeppings uit bo die stereotipe helde, skurke, en puur saaie verhaalfigure in te veel van die ander verhale.
Verhale waarin die element van verrassing of skok 'n te groot rol speel, is Lukas van Vuuren se "Na twaalf", Vuela Nortje Crosby se "Tussenspel", Engemi Ferreira se "Voetstuk" en Marlena Brouwer se "Wie is jy?" Die laasgenoemde verhaal wemel ook trouens weer van "rosig gepunte borste" en "lenig, gevulde bene". Wie raak nog opgewonde by sulke super afgesaagde beskrywings? Die kasteelromans was vroeër vol daarvan. Ook Riana Scheepers gaan te ver in een rigting en "slaan deur" sonder om die doel (poëtiese prosa?) te bereik.
Rosa Smit moet haar verhaal liewer nie voorlê aan 'n Nederlandssprekende leser of kritikus nie. As 'n mens indruk wil maak met 'n verblyf in die buiteland deur die taal van die betrokke land te gebruik, in hierdie geval Nederlands, moet 'n mens tog sorg dat die taal naastenby korrek gebruik is: "Hoe zijn dit met jou?" is geen Nederlands nie! Dit is meer as irriterend om dit in 'n verhaal aan te tref wat aanspraak maak op literêre kwaliteite. En wat is 'n "vri dokter"?!
Verhale wat goed genoeg is vir publikasie maar nie juis bo die middelmaat uitstyg nie, is Nin Nothling se "Gesondheidsbrood", Gert Basson se "Die wonderwerk", Eben Germishuys se "'n Oukers vir 'n nuwe blaker", en Corlia Fourie se "Geheime".
As 'n buitestaander is 'n mens verwonderd oor die feit dat in nie een van die ses-en-dertig verhale enige verwysing voorkom na die politiek-sosiale veranderinge in Suid-Afrika sedert 1994 nie. Nog steeds as buitestaander kan 'n mens nie help om te wonder of dit 'n geval is van wat in psigologiese terme onderdrukking (Engels denial) genoem word nie. Vanouds gaan mens daarvan uit dat die literatuur, soos kuns in die algemeen, die kultuur verteenwoordig en weerspieël. Dit kan ook nie so wees dat die geweldige kulturele rewolusie geen indruk op Afrikaanssprekendes, meer spesifiek, Afrikaanse skrywers gemaak het nie. Daar kom nouliks in die verhale iets voor van wat 'n mens as eg (Suid) Afrikaans herken, afgesien van 'n paar gegrafiese verwysings soos Sunnyside. Dit is in dieselfde verband merkwaardig dat Mike Oberholzer in sy (geslaagde) verhaal "Oorlog" teruggryp na die Anglo-Boere oorlog! As hy die tema van lafhartigheid sou wou uitbeeld, is daar geen voorbeelde te vind in die huidige samelewing nie? Dit is onaanvaarbaar. Of is die verwysing na so lank gelede juis 'n (onbewuste) hunkering na die "goeie, ou tye"? Nogmaals, en ten slotte as buitestaander: 'n mens wonder hoe die resente ontwikkelings die Afrikaanse denke beïnvloed het. In Drif kry 'n mens beslis geen antwoord op die vraag nie. Dit is nie 'n boek wat jy kan gebruik om 'n beeld te kry van die Afrikaanse element van die Suid-Afrikaanse kultuur nie. (Hoop ek!)
Dit is interessant om die verhale te vergelyk met publikasies van bekende Vlaamse en Nederlandse skrywers van hierdie tyd, - 'n proses wat selfs onwillekeurig plaasvind - en dan kom name soos Arnon Grunberg, Joost Zwagerman, Monika van Paemel en Kristien Hemmerechts in die gedagte. Uiteraard kom 'n mens dan tot die gevolgtrekking dat daar sterk ooreenkomste bestaan, ook wat betref tema. Die sensuele, en ook seksuele, speel ook in die boeke en verhale van hierdie skrywers 'n belangrike rol. 'n Verskil is tog dat by die Nederlands/Vlaamse skrywers die genoemde elemente minder doel as middel is, meer 'n onderdeel van 'n totaliteit aan filosofieë/ lewenshouding as die toonaangewende deel daarvan. Die genoemde skryfsters is belangrike feministe en dit spreek vanself dat die seksuele 'n rol sal speel, maar nie as tema nie. Die manlike skrywers hierbo is produkte van 'n na-oorlogse, ongeïnspireerde, ongemotiveerde maatskappy. Hulle soek blykbaar hulle genoegdoening in die belewing van seksuele ervarings - begryplik! Maar juis in hierdie soeke verteenwoordig hulle die leegte, die gebrek aan morele ambisie wat die Europese kultuur in groot mate kenmerk. Maar ook hierby is die sensuele nie nie hooftema nie, soos, in nogal baie van die verhale in Drif wel die geval is.
Drif. Verhale van menslike drifte. - saamgestel deur Lindeque de Beer, word deur J.P. van der Walt uitgegee.
Resensie deur Martinus A. Bakker
Dutch Department
Calvin
College
Grand Rapids
VSA
Die reuk van steenkool - S. P. Benjamin (1997)
Met Die reuk van steenkool wen S. P. Benjamin in 1997 die debuutprys in De Kat en Sanlam se derde groot romanwedstryd. Die boek vertel die verhaal van die verhoudinge tussen en krisisse rondom 'n spoorwegwerkersgesin bestaande uit die pa, die ma, 'n seun (die verteller) en sy suster. Die ek- verteller (die seun) het as baba op sy kop geval, as gevolg waarvan hy klaarblyklik soms aan hallusinasies ly. Hierdeur ontstaan iets van die tipiese onbetroubare vertelperspektief van die postmodernisme. Naas die optekening van die gebeure in en om sy ouerhuis, hou die verteller hom in sy kamer besig met skets en teken. Dit is 'n snitverhaal, m.a.w. die verhaal is basies opgebou uit opeenvolgende snitte of min of meer losstaande episodes, eerder as dat dit 'n deurlopende storie oordra wat uit 'n ketting van gebeure bestaan.
Konflik en krisis ontstaan wanneer die ma besluit om saam met 'n vriendin by 'n hoenderslagtery te gaan werk. Die verteller se suster moet die kokery waarneem en probeer dan ook sommer om die hele huishouding oor te neem. Dit is vir die verteller lank reeds duidelik dat sy pa besig is om van sy gesin weg te groei. 'n Volgende krisis ontstaan wanneer die verteller se suster 'n lesbiese verhouding met 'n vriendin aanknoop, iemand wat reeds deur haar (die vriendin se) vader seksueel gemolesteer is. Die verteller is onbedoeld toeskouer wanneer die buurvrou se dogter met 'n Moslem-vriend oor die tou trap. Die pa, wat uiters sinies is oor die politieke verwikkelinge in die land, ontwikkel 'n drankprobleem, wat vererger word wanneer iemand verder op in die straat met brandewyn begin smokkel. Ook die ma begin al meer en meer haar toevlug tot drank te neem. Lizel van Houten, die verteller se suster se vriendin, poseer naak vir hom sodat hy haar kan skets. Wanneer die verteller se pa se suster te sterwe kom, vertrek hy alleen om die begrafnis te gaan bywoon, wat vir die ma 'n onverwagte stukkie bevryding beteken. Die ma betrap haar dogter en die se vriendin terwyl hulle besig is om intiem te verkeer, as gevolg waarvan sy haar (die vriendin) die huis belet en haar dogter onthef van haar pligte as huishoudster. Die pa raak toenemend verwyder van sy gesin. Die buurvrou se dogter skenk in die toilet die lewe aan 'n doodgebore buite-egtelike kind. Nadat sy haar matriek behaal het, ondervind die verteller se suster aanvanklik probleme om werk te kry. Intussen probeer sy desperaat om die toenemende verwydering tussen haar ouers te besweer. In haar vriendskap met die buurvrou, antie Noorie, se dogter vind sy buitengewoon baie geluk. Die pa pleeg selfmoord deur voor 'n aankomende trein te gaan staan. Die verteller korrespendeer met Lizel van Houten, sy suster se gewese vriendin, en 'n brieweliefdesverhouding ontluik tusen hulle. Die verteller se suster verloor albei haar borste as gevolg van borskanker, waardeur haar vriendskap met 'n bankklerk tot 'n einde kom. Sy ma gee haar al meer en meer oor aan drank en dans. Ten slotte raak sy ontslae van haar oorlede man se klere en ander besittings. "Die lewe moet voort!" sê sy terwyl sy snags met die een vreemde man na die ander by die huis opdaag en in haar slaapkamer verdwyn (bl. 131).
Die boek behandel die ou-ou maar altyd aktuele tema van die mens se dikwels desperate soeke na geluk. Hierdie eksistensiële krisis voltrek hom hoofsaaklik binne die mikrokosmos van die gesin en binne die gesinsverhoudinge: man en vrou, broer en suster, ouer en kind. In tema en toonaard herinner die werk aan boeke soos Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen, Triomf van Marlene van Niekerk en Die reuk van appels van Mark Behr (waarop die titel 'n duidelike toespeling is), hoewel dit 'n baie duidelike eie stem het en glad nie as nabootsing van genoemde werke bestempel kan word nie.
Aan die begin verklaar die verteller: "Maar al hang daar soms swaar donderwolke in en ook oor ons huis, dink ek dat die vier van ons gelukkig so saam is" en "Soms dink ek dat ons gelukkiger as ander gesinne is. Maar dit kan ook net my verbeelding wees" (bl. 10). Dat hierdie persepsie inderdaad dalk die resultaat van die mallerige verteller se vrugbare verbeelding kan wees, is gou vir die leser duidelik. Hoewel sy pa nie 'n "wolf" (pedofiel) is nie, is, is hy in werklikheid 'n lydensgestalte: "Dit lyk asof die kepies en slootjies oor my pa se gesig so lê dat hulle die trane wat in my pa se oë hou, weg van ons af moet lei" (p. 24). En reeds lank voor sy pa se selfmoord droom die verteller dat sy ma so reageer nadat sy pa deur "'n groot donker gat" ingesluk is: "Nou is ek ontslae van die fool" (bl. 25). Die vader is 'n manlike chauvinis wat as sodanig sy vrou se geluksoeke erg aan bande lê. Wanneer haar man weg is na sy suster se begrafnis tref sy koorsagtig reëlings vir haar verjaarsdagpartytjie, want, soos die verteller opmerk, "...vanaand wil sy gelukkig wees. Vanaand, in die afwesigheid van haar man, my pa" (bl. 74). Dit lyk dan ook asof hierdie twee mense net saam gelukkig kan wees wanneer hulle "mal" is (bl. 40). Haar ongelukkige huwelik skep so 'n geluksobsessie by die ma dat sy na haar man se dood en die bevryding wat dit meebring dit byna onmoontlik vind om deernis te hê met haar dogter nadat laasgenoemde ontdek het dat sy borskanker het.
Daar is teen hierdie agtergrond iets pateties aan die dogter se verklaring van voorneme: "Ek wil eendag gelukkig wees, Ma...Ek wil nie dieselfde foute as julle maak nie" (bl. 51). Op aangrypende wyse herinner die verteller in sy eie gedagtes sy moeder aan hierdie gesprek nadat sy haar dogter en dié se vriendin betrap het waar hulle besig was om intiem te verkeer: "Onthou jy julle gesprek daar in die kombuis, Ma? Sy wil nie eendag wees soos jy en Pa nou is nie? Sy wil nie deur dieselfde pyn gaan nie; nie dieselfde foute maak nie. Nie in dieselfde gat beland nie. Sy wil eendag gelukkig wees, Ma" (bl. 76).
Maar wat is "geluk" tog? In een van die verteller se drome ervaar hy dit as 'n toestand waarin 'n mens jou medemens nie ken nie maar tog verstaan en waarin tyd nie meer 'n invloed op jou het nie. Andersins vind die personasies telkens een of ander tydelike gelukseilandjie: drank, dans, vriendskap (soos die tussen die verteller se suster en antie Noorie se dogter) en seks. Pateties is veral die driftige wyse waarop die verteller se moeder via drank, dans en seks na geluk soek.
Teen die einde van die roman verklaar Lizel van Houten in 'n brief aan die verteller: "Jy loop nie met jou paradyse te koop nie; jy weet wat dit aan ander kan doen! Jy het 'n gawe van God ontvang, waarlik, jy het. ... Jy het waarna almal daarbuite smag. Eendag moet ons 'n plan maak en weer so wonderlik bymekaar wees!" (bl. 118). In die geselskap van so 'n waansinnige miteskepper soos die verteller hervind die mens weer die paradys. Maar die paradysverlange, as dit eers geaktiveer is, is potensieel gevaarlik en kan die mens ten gronde laat gaan. Daarom is miteskeppers per definisie gevaarlike wesens.
Die paradys neem in Die reuk van steenkool veral die vorm aan van die gesublimeerde en verestetiseerde erotiek. Vroeg in die roman vertel Lizel van Houten dat haar pa pedofilie met haar pleeg: "Die wolf weet van 'n bos waar daar stukkies paradys vergete lê..." (bl. 17). Maar Lizel se perspektief daarop maak dit duidelik dat dit 'n geperverteerde manifestasie van die soeke na die paradys van die erotiek is. Trouens, Lizel verklaar self: "Maar daai slim wolf weet nie hoe dit regtig in die paradys voel nie; daai slim wolf sal ook nooit weet nie" (bl. 18). Op hierdie wyse sensureer die roman enersyds erotiese kontak tussen vader en dogter. Andersyds word die suigkrag daarvan op onthutsende wyse gedemonstreer deur die toneel waar die verteller se suster salf aan haar pa se lyf smeer. Binne die seksdaad ervaar die mens nog iets van 'n verwesenlikte geluksdroom. Nadat antie Noorie se dogter seksueel met haar vriend verkeer het, gloei sy "asof 'n stuk van die middagson in haar lyf afgebreek het" (bl. 31). Dat ook hierdie stukkie aardse paradys egter nie immuun is teen die erosie van die tyd nie word geïmpliseer deur die jukstaponering op bl. 56 - 57 van die erotiese paradys van die vertelhede soos dit bestaan in die verhouding tussen die verteller en Lizel en die wyse waarop dit verlore geraak het tussen sy ouers, hoofsaaklik vanweë die manlike besits- en oorheersingsdrang van sy pa. "Was jy en Pa ook eens so, Ma?" vra die verteller op bl. 65 met verwysing na die wyse waarop die juffrou en meneer destyds op die staptoer eroties verkeer het. "My ma roep nie meer nie. My pa gee ook nie meer om nie," lees ons op bl. 58. Op hierdie bladsy word ook gesuggereer dat die ontnugtering van die ouers die erotiese ervaring van die kind kan belemmer. Op groteske wyse word die verteller se suster se toegang tot hierdie paradys ook afgesny wanneer sy borskanker ontwikkel. In sy verbeeldingsvlugte rondom Lizel ervaar die verteller egter die erotiese steeds as hemelse moment, selfs as 'n soort religie ('n motief wat natuurlik vroeër reeds in die literatuur voorkom, hier te lande o. a. by Andre Brink) . Sê die roman hiermee uiteindelik dat die enigste aardse paradys in die skeppende verbeelding van die kunstenaar-waansinnige te vinde is (soos ons dit reeds vroeër by Etienne Leroux teengekom het)? Veral wat die politieke paradys betref, is daar in hierdie roman 'n uiterste skeptisisme, soos veral verwoord deur die verteller se pa.
Daar is by die personasies van hierdie roman die diep-menslike behoefte aan 'n lewende mite aanwesig. "Wat word van ons, Pa?" vra die verteller op bl. 26, "en waarheen is ons op pad? Wat word van ons? Kan ons werklik sê dat daar ook 'n God oor ons waak? Sê nou iets gebeur vannag hier in ons huis; kan ons dan die hand van God daarin betwyfel? Sal ons daardie hand kan bevestig? Sal ons, Pa?" Hierdie gesin se bestaanskrisis het ook daarmee te doen dat hulle in 'n huis woon waarvandaan "mens nie die see (kan) sien of selfs in die verte hoor dreun nie. Jy kan die see ook nie ruik nie. Nie eens in een van jou mooiste drome nie" (bl. 28). 'n Bestaan dus waarin die toegang tot die kollektiewe onbewuste (soos van oudsher deur die see gesimboliseer) met sy miteskeppende argetipes totaal afgesny is.
Binne hierdie mitelose wereld leef die drang na mitisering as singewing aan 'n andersins sinnelose wêreld egter voort. Soms neem dit die vorm aan van die streotiperende cliche as 'n soort surrogaat: "Sulke tye wil elkeen mos maar met sy eie pyn sit" (bl. 63). Die gemeenplasige "lewenswysheid" moet as lewensrigsnoer dien: " 'n Huis, Myde, het my oorlede ma altyd gesê, 'n huis is soos 'n muil; as jy agterkom dit beteken vir jou niks meer nie, moet jy liewer maar verkoop" (bl. 99). Maar veral die vader is (op tipies patriargale wyse) die bron van hierdie soort "lewenswysheid": "Leer jou land ken; na alles is dit al wat jy oorhet om te doen, al wat jy oorhet om te leer" (bl. 100). Die roman sensureer hierdie banale vorm van die skepping van lewenskodes op krasse wyse wanneer die "wysheidsbron" selfmoord pleeg. Sy basies nihilistiese lewensiening eindig uiteindelik in selfvernietiging. Kort voor sy dood steek hy vir sy kollegas by die werk 'n toespraak af waarin hy poneer: "...as God aan die kant van die verdruktes veg, moet hy mos ook aan die kant van die dronkes veg!" (bl. 102). So maak hy uiteindelik 'n bespotting van 'n bepaalde meesternarratief soos dit onder andere deur Allan Boesak verwoord is. Hoe hardnekkig die behoefte aan die singewende mite egter kan wees, blyk wanneer sy kollegas vertel dat hy in die oomblikke voor sy dood "...sulke klein, byna onsigbare vlerkies gekry het. Hulle sê my pa wou vlieg, en het ook effens in die lug gesweef" (bl. 104). Met ander woorde: Sy selfmoord was so byna-byna 'n hemelvaart. Hierdie mitisering van die vaderfiguur se sterwe word verder gevoer wanneer antie Noorie die hond se gedrag soos volg verklaar: "Sy sê dis my pa se gees wat nog nie oor die werf gaan rus het nie... My pa sal nog kom afskeid neem van die werf en alles wat voorheen aan hom behoort het..." (bl. 110).
Sonder 'n singewende persoonlike mite kan die personasies in hierdie roman nie die lewenskokke hanteer nie. Die verlies van haar borste hanteer die verteller se suster so: "My suster verbeel haar sy is 'n akkedis. Een van God se klein troetelakkedissies. Sy wag op haar nuwe borste om aan te groei soos 'n akkedis se stert" (bl. 114), of ten minste, so interpreteer die verteller dit. En dans laat die verteller se ma "...voel soos 'n engel. Een van God se eie engele" (bl. 119).
Die reuk van steenkool is geskrywe binne 'n Christelike tradisie en sosio- kulturele milieu. Die Christusverhaal leef voort binne die diskoers van die teks, sy dit dan in getransformeerde en getransponeerde gedaante. "My pa is my ma se Jesus-kindjie; 'n engel het hom in haar skoot kom plant, en aan haar opdrag gegee om die kindjie te versorg tot die dag dat hy vir hoër sake opgeroep word. En ons is die eerste van my pa se duisend volgelinge," verklaar die verteller (bl. 13). 'n Mens kan hierdie uitspraak lees as 'n uiting van die feit dat die verteller op sy kop geval het, en dit daarmee aflag. Of 'n mens kan sin in sy waansin lees deur dit te sien as 'n satire op die rol wat die eggenoot en vader soms binne die gesin speel.
Wanneer antie Noorie die verteller se ma om hulp kom vra omdat haar dogter besig is om in die toilet te kraam, storm antie Noorie vooruit "asof sy die enigste een van ons is wat weet waar die ster van Bethlehem skyn", en wanneer hulle by die tragikomiese geboortetoneel aanland, beweeg haar hande "op en af soos een wat vir die eerste keer 'n engel gesien het" (bl. 87). Deur hierdie toespelings word die verhaal van die geboorte van Christus as interteks betrek. Maar let op: Dit is ons mallerige verteller wat die vergelykings trek. Dit is hy wat hierdie banale gebeure op 'n manier mitifiseer en op die manier iets van die Christusverhaal in hierdie mitelose wêreldjie aktiveer. "Dis Kersfees in ons straat... loeiende sirenes verkondig die nuus aan die res van die straat: 'n kind is vir julle gebore, 'n kind is vir julle gebore. 'n Kind, 'n dooie, dooie kind. Vir julle , Suid- Afrika" (bl. 88 - 89). So groei dit uit tot 'n parodie op die Kersgebeure, waardeur die uitsigloosheid en verlorenheid van die personasies des te meer geaksentueer word. Daarom, al speel die verteller se pa die verruklikste weergawe van "Silent night, holy night" wat hy nog gehoor het op sy kitaar, kom die verteller self tot die slotsom: "Hierdie land het sy rug na sy God gedraai!" (bl. 89). Op satiriese wyse word die verteller se suster se patetiese en desperate pogings om haar pa tot hoop op 'n politieke messias te bekeer, gejukstaponeer met 'n refrein uit 'n hallelujaliedjie oor die wederkoms van Christus: "As hy kom, kom hy haal die wat syne is..." (bl. 94). (Let op die funksionele gebruik van die kleinletter "h" hier.) Dis dan ook veelseggend dat hy in sy sterwensoomblikke uitroep: "Red my, red my, red my, red my, red ..." (bl. 103). Van Christus as die reddende Messias het vir iemand soos antie Noorie slegs 'n soort idiosinkratiese folklorisme oorgebly: "...iemand het eenmaal gesê dat Jesus nooit op 'n wolk die wêreld uit is nie; dat Jesus die liggaam van 'n hond binnegevaar het" (bl. 103). Die Jesusverhaal word ondergeskik gemaak aan die persoonlike lewenskodes: "Naas die lewe self, glo my pa, is drank seker die grootste geskenk nog. 'En dink net watter vrolike plek die aarde nie sou gewees het as die jong Jesus nog hier onder rond moes gewandel het nie. Kyk, om jou water sommer in wyn te verander, sit mos nie aan elke man se baadjie en geloof vas nie!" (bl. 3). (Let op die komiese jukstaponering van "baadjie" en "geloof".)
Die verskillende motiewe in die roman is soms op 'n heel vernuftige manier met mekaar vervleg. In hoofstuk 9 word, by wyse van 'n oënskynlik fragmentariese aanbod, drie gebeurtenisse gejukstaponeer: die liefdespel tussen die verteller se ouers toe hulle nog jonk was, die erotiese spel tussen die verteller en Lizel van Houten, en die verteller se suster (as klein meisietjie) se spel met 'n skoenlapper. Die isotopie tusen die eerste twee insidente word geskep deur die motief van die verlore erotiese vervulling. Hierdie motief word weer op subtiele wyse met die Christusmotief verbind deur die meisietjie se gebed dat haar "butterflytjie" se vlerkie gesond sal word, "dat hy ook eendag kan vlieg waarnatoe hy wil" (bl. 58). Die vlinder word reeds in die gesprek tussen die verteller se ouers 'n simbool van die erotiek gemaak. Op Jesus se antwoord dat "Nie almal die Lig sal sien nie" trap die verteller se suster die vlinder dood. Hierdeur word hierdie insident weer gekoppel met die motief van hemel en hel wat elders in die werk figureer. Terselfdertyd is haar gebed hier 'n bedekte vooruitwysing na haar vergeefse smeekbede later dat sy weer borste sal ontwikkel. Die leser moenie deur die oënskynlik dikwels naïewe toonaard van hierdie roman mislei word nie. Dit is 'n verwikkelde en diepsinnige werk wat van die leser vra om kreatief te lees. Maar wees gerus: Dit is glad nie 'n swaarwigtige of "moeilike" teks nie. Ook die "gewone" leser kan heelwat leesplesier daaruit haal.
Van 'n jong skrywer wat met so 'n roman debuteer, kan 'n mens nog veel verwag.
Die reuk van steenkool - S. P. Benjamin (1997), word deur Quellerie uitgegee.
Resensie deur M.J. Prins
Departement Afrikaans
Universiteit van Fort
Hare
Alice
|